Sinode Wes-Kaapland: Eredienste tydens Vlak 3 besluitnemingsproses

Dokument voorberei deur André Agenbach en ander.


Inleidend

Hiermee wil ons hulp gee aan gemeentes vir die wyse waarop hulle deur ‘n geloofsonderskeidende proses besluite kan neem t.o.v. eredienste tydens Vlak 3 van die staat van inperking. Ons bied dit aan as ‘n geloofsonderskeidende proses in vier fases waarmee gemeentes tot spesifieke besluite kan kom. Gemeentes is almal uniek en kan by elkeen van die fases stilstaan met inagname van hulle eie identiteit en omstandighede. Ons maak ook deurlopend aanbevelings t.o.v. bepaalde sake. Let daarop dat hierdie slegs voorstelle is en dat veranderinge van die owerhede se amptelike regulasies t.o.v. die verskillende vlakke van die staat van inperking ‘n invloed op alle besluitneming sal hê.

Aanbidding

Aanbidding in ʼn kerkgebou is nie die enigste uitdrukking van kerkwees nie.  Ons het juis in die tyd van inperking onder vlak 5 en 4 geleer dat ons diakonale werk in ʼn tyd gefloreer het toe die kerkgeboue toe was. Ons fokus hier op aanbidding in kerkgeboue moet dus nie gesien word as ʼn oorbeklemtoning van aanbidding teenoor diakonia nie. Daar moet ook gedink word oor die verskaffing van voedsel in die gemeenskap; die moontlikheid dat die kerkgebou of saal ʼn herberg kan wees vir haweloses en oor die pastorale funksies en maatreëls. Ons nooi leraars uit om na te dink oor die toonaard van die liturgie binne die huidige konteks en tydsgewrig. Watter tipe liturgie sal in ‘n tyd soos dié help om ‘n ontmoetingsruimte tussen die lewende God en die gemeente te wees? Dit is belangrik om te besef dat eredienste in hierdie dae nie sal kan wees soos wat dit vantevore was nie. Nuwe tye en omstandighede vra na nuwe, Gees-geïnspireerde liturgieë en eredienste.

Aanbevelings:

  • Daar word van geen gemeente verwag om nie kerklike byeenkomste en ander geleenthede te hou teen die besluit van die gemeente se leierskap in nie. Elke kerkraad moet self deur prosesse van geloofsonderskeiding hieroor besluit.
  • Die riglyne en inligting wat op 27 Mei 2020 deur die Suid-Afrikaanse Raad Van Kerke (SARK) in ‘n dokument verskaf is, beklemtoon die feit dat kerkrade die bepaalde riglyne kan oorweeg, maar benadruk dit dat elke gemeente verantwoordelik en verantwoordbaar is vir wat plaaslik gedoen word

Fase 1: Reëls

Fase 1 (Reëls) in die geloofsonderskeidingsproses gaan oor: Dít waaroor ons nie beheer het nie, maar waarvan ons seker is.

Hierdie is nie die finale stel reëls nie en sal opgedateer word soos wat die regulasies en vlakke van inperking verander. Dit vorm dus bloot deel van ‘n raamwerk waarbinne bepaalde voorstelle gemaak word – voorstelle waarmee ons die besluitnemingsprosesse in gemeentes wil stimuleer. Die volgende voorstelle word ontleen aan ‘n dokument vanaf die SARK en is nie spesifiek op die NG Kerk van toepassing nie. Dit is egter nuttig om dit in gedagte te hou omdat dit aansluit by die owerheid se amptelike regulasies:

  1. Kerkgeboue moet voorberei word. Voordat kerke en geboue oopgemaak word vir eredienste, moet elke gemeente / plaaslike kerk voorbereid wees. Elke gemeente moet ’n taakspan hê bestaande uit persone met vaardighede en kennis van die bepaalde riglyne.
  2. Terwyl bywoning aangemoedig word, moet gemeentes toesien dat die nodige sosiale afstand tydens byeenkomste gehandhaaf word en moet die grootte van groepe beperk word.
  3. ’n Register van bywoning van elke byeenkoms moet bygehou word.
  4. Skoonmaakmiddels  moet beskikbaar wees vir alle geboue voor en na dienste om fasiliteite deeglik te steriliseer vir ’n volgende byeenkoms. Vloere en banke en stoele moet voor en na byeenkomste afgevee word.
  5. Toilette moet higiënies gehou word:  Verseker voldoende beskikbaarheid van alkohol-gebaseerde handreinigers. Seep-, water- en papierhanddoeke  moet voorsien word. Lopende water en hande was met vloeibare seep moet moontlik wees. Papier handdoeke moet weggegooi word in ’n bak met ’n deksel. As daar ’n tweede of selfs derde diens volg, is alle voorsorgmaatreëls wat vir die voorbereiding op die eerste diens gevolg word, van toepassing
  6. Ingange:  Geen gegroet by die deur nie; getalle sal bepaal word deur sosiale afstandsvereistes volgens die regulasies. Elke persoon se temperatuur sal geneem word en diegene met ’n lesing van 38 grade Celsius en hoër, sal gevra word om terug te keer huis toe. Voorsiening van alkohol-gebaseerde handreinigers by alle ingange. Persone by ingangsportaal sal verantwoordelikheid neem om handreinigers op elkeen te spuit.
  7. Kontaktyd: Verminder die tydsduur van eredienste tot een uur. Laat minstens 30 minute toe voor die volgende diens.
  8. Insameling van dankoffers:  Insameling sal geskied deur toe koeverte wat by die deure in houers geplaas word. Insameling moet geskied wanneer mense uit die kerkgebou beweeg terwyl sosiale afstand gehou word.
  9. Daar mag nie gesing word nie: infeksie is ’n groter moontlikheid as daar gesing word. Instrumentale musiek of solosang kan die tydgleuwe vul waar lofsange gewoonlik gesing word. Geen gesangboeke en Bybels in die banke nie, alle inligting moet elektronies in die erediens deurgegee word.
  10. Daar mag geen samedromming binne en buite die kerk wees nie. Mense wat dienste bywoon mag nie in groepe stap nie.
  11. Roetine vergaderings soos kerkraad en ander vergaderings moet onbepaald uitgestel word.
  12. Sondagskool word tot verdere kennisgewing opgeskort.

Aanbevelings:

  • Ringe kan ondersteunend wees indien spesifieke gemeentes nie die nodige handreinigers en gesigsmaskers kan verskaf nie.
  • Bereken die aantal toegelate persone in die kerk / saal / klaslokale / raadsale op grond van die huidige 2m afstand tussen individue. Dateer op soos nodig.
  • Plaas ‘n kennisgewing by elke deur met die maksimum getal persone vir daardie lokaal. Huidige beperking is 50 met inagneming van die nodige 2m sosiale afstand tussen persone.

Lei Covid-19-helpers op. Hierdie is nie noodwendig die gemeente se taakspan wat by punt 1 genoem word nie, maar vrywilligers wat die volgende pligte sal uitvoer:

a. Neem van Temperatuur.

b. Sproei van handreinigers.

c. Toesighouers wat moet sorg dat die veilige afstandreël nagekom word, en help met moontlik indeling van sitplekke in rye.

d. Toesighouers wat toesig hou oor die getal toegelate deelnemers aan die byeenkoms.

  • Stel die gemeente deur die beskikbare kommunikasie media in kennis oor maatreëls wat geld vir die gemeente, veral rakende kwotas, registrasie indien nodig en ander vereistes, sodat diegene wat opdaag, ingelig opdaag.
  • As kerkbywoning gewoonlik 50 is, kan ‘n diensrooster vir ‘n maand opgestel word en gemeentelede versoek word om slegs een of twee Sondag ‘n maand ‘n plek te bespreek.
  • Indien die weer dit toelaat, oorweeg ‘n opelug-diens waar mense hul eie stoele saambring. Dit geld ook vir klein kerke wat moontlik nie 50 toelaat nie weens die grootte van die gebou.
  • Dokumente vir predikante wat ‘n noodsaaklike diensverskaffer verklaar, sal waarskynlik deur die kerkraad/streeksinode/Algemene sinode uitgereik word, dit sal nog uitgeklaar word.

Fase 2: Onsekerhede waaroor ons nie beheer het nie

Hier kan elke kerkraad en gemeente die sleutelonsekerhede onderskei:
Dít wat buite ons beheer is en waarvan ons nie seker is nie (2.1).
Hierna kan moontlike scenario’s onderskei en geskets word (2.2) met inagname van die reëls (Fase 1), die gemeente se unieke konteks en identiteit, sowél as wat ons by God vanuit die Bybel hoor.

2.1 Sleutel onsekerhede (voorbeelde):

  • Is die persone wat die byeenkoms bywoon draers van die virus of nie?
  • Ons is onseker hoe lank ons sal moet lewe onder die onderskeie vlakke van inperking. Ons kan wel aanvaar dat ons een of ander vlak van inperking sal hê totdat daar ʼn teenmiddel ontdek is en dit beskikbaar is in ons gemeenskappe. Dit kan dus nog ʼn jaar of meer wees wat ons onder een of ander vlak van inperking moet leef.

2.2 Moontlike Scenario’s

Ons moedig gemeentes aan om hierdie scenario’s of kombinasies te oorweeg en aan te vul en met ons te deel. Ons wil gemeentes aanmoedig om hulle eie lokale konteks in ag te neem en op grond daarvan ʼn keuse te maak en nie gemeentes wat ander keuses maak in diskrediet te bring nie.

  1. Geen aanbidding in die kerkgebou nou nie. Die infeksies in ons gemeenskap is te hoog en is besig om te styg – die sg. vas-van-aanbidding opsie t.w.v. die gesondheid van die gemeenskap.
  2. Aanbidding in die kerkgebou beperk tot ʼn liturgiese span: Slegs die liturg, begeleidingsgroep en orrelis. Ook die opneemspan wat dit “stream” op die gereelde erediens tyd – die sg. Taizé opsie.
  3. Aanbidding in die kerkgebou met minder as 50 mense waarvan vooraf vasgestel is dat hulle nie hoe risiko gevalle is nie – bv. lidmate onder 60 wat ingeperk is.
  4. Aanbidding in die kerkgebou met minder as 50 mense sonder enige skandering (screening) vooraf. (Dit sou nie ‘n opsie wees nie)
  5. Aanbidding in die kerkgebou met ʼn onbeperkte aantal mense – nog nie moontlik in vlak 3 van inperking nie.

Hierdie scenario’s kan ook op dieselfde wyse gesien word as die verskillende vlakke van inperking: van baie streng tot minder streng. A is wat onder vlakke 5 en 4 van inperking gebeur. B-D kan geld vir vlak 3 en E waarskynlik eers by vlak 2 of 1.

Aanbevelings:

  • Benut slegs die simbole van die sakramente. Die gebruik van die Nagmaal en die Doop word ontmoedig.
  • Benut die geleentheid om meerdere dienste wat liturgies verskillend ingeklee kan word deur die week te hou.
  • Gemeentes met meerdere lokale kan verskillende dienste gelyktydig aanbied solank as wat dit in lyn is met die regulasies.
  • Begrafnisse en huweliksbevestigings kan plaasvind solank as wat dit in lyn is met die regulasies.
  • Huisbesoek en huiskerk word ontmoedig aangesien dit nie pas binne die raamwerk van die regulasies nie.
  • Daar moet gewaak word teen die teenwoordigheid van persone (ook leraars) met onderliggende siektes.
  • Dit is raadsaam dat persone bo die ouderdom van 60 liefs nie eredienste in hierdie tyd sal bywoon nie.

Fase 3: Opsies

Fase 3 (Opsies) in die geloofsonderskeidingsproses gaan oor:
Dít waaroor ons beheer het, maar waarvan ons nie seker is nie.
Hier genereer ons strategieë of opsies deur die scenario’s wat ons in Fase 2 ontwikkel het te evalueer d.m.v ‘n SWOT-analise (Sterkpunte, swakpunte, geleenthede en bedreigings).

Hier volg ‘n voorbeeld van so ‘n SWOT-analise:

1. Sterkpunte

  • Die meeste gemeentes se kerkgeboue is groot en kan 50 mense met gemak hanteer  – ons het nie die tipiese klaskamer probleem van skole nie.
  • Ons kan aanspraak maak op die dissipline van ons gemeentelede as ʼn getuienis in die gemeenskap.

2. Swakpunte

  • Ons het nie beheer oor die erediensbywoners se leefstyl en moontlike geïnfekteerde status nie

3. Geleenthede

  • Ons kan innoverend planne maak en alternatiewe benut soos die benutting van tegnologie.
  • Ons kan leer uit die geskiedenis van die kerk met pandemies.

4. Bedreigings

  • Kerkgangers se ouderdom maak hulle  kwesbaar.
  • Sommige gelowiges is roekeloos omdat hulle voel God sal hulle teen die virus bewaar.
  • Na 8 weke se inperking is die gemeenskap geneigd om hulle dissipline te verslap.
  • Die sg. “hotspots” van infeksies wat daagliks styg.

Fase 4: Besluite:

Fase 4 (Besluite) in die geloofsonderskeidingsproses gaan oor:
Dít waaroor ons beheer het, sowél as waarvan ons seker is.
Hier neem ons konkrete besluite en kan gebruik maak van die SMART-metode. Hiervolgens moet die besluit spesifiek, meetbaar, bereikbaar (haalbaar), realisties en tydgebonde wees.

Vrae wat hier gevra kan word, om ons te help met ons besluite, is:

  1. Watter scenario’s kies ons?
  2. Van wanneer tot wanneer sal die scenario geld? Of wanneer sal ons die huidige situasie heroorweeg?
  3. Watter meganismes moet ons in plek stel om die scenario volhoubaar te maak?
  4. Wat is die koste implikasies hiervan t.o.v. geld en mense se tyd?