Blitsnavorsing: Gemeentes en Covid-19

Dinsdag, 24 Maart 2020

Die projek word onderneem deur die Diensgroep Navorsing en Toerusting (Sinode van Wes-Kaapland), in oorleg met predikante oor die hele land. Die navorsing kyk watter konsensus na vore kom in die krisis. Ons beoog ʼn paar rondtes en wil telkens die bevindinge plaas op Bybel-Media se nuwe platform, www.kieskerk.com . Terugvoer is welkom van almal wat wil saam dink en leer in die tyd van afsondering.

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Dat ek in lewe en in sterwe met liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort
Heidelbergse Kategismus, Vraag en Antwoord 1

1.1. Die omvang van die ontwrigting is ongekend

Ons beleef moontlik die mees ontwrigtende oomblik tot nóg toe in die kerk.
Ons is bewus van ons broosheid.
Die wêreld ná Covid-19 gaan anders wees as die wêreld daarvoor. Hier kom ʼn “nuwe normaal”.
Absolute sekerhede en “van bo-af”-uitsprake “van bo-af” word vervang met brose gewaarwordinge van nuwe insig.
Ons ontwikkel die “deug van onsekerheid”. Ons het nie al die antwoorde nie. Niemand het nie. En dit is okay.
Ons leer vinnig hoé om te leer en aan te hou leer. Ons word ʼn luisterende en waarderende leergemeenskap.

1.2. Die gebou is toe, maar die kerk is oop.

In hierdie tyd besef ons dat kerkwees baie meer is as samekomste in geboue. Juis nou het ons nie minder kerk nodig nie, maar meer.
Ons eerste bekommernis is nou nié die gemeente nie, maar die hele gemeenskap. Ons arms gaan oop na die wêreld rondom ons.
Ons ervaar ʼn versnellende beweging vanaf ʼn selfgerigte kerk na diensbare netwerke.
Die korona-krisis ontbloot die nutteloosheid van ʼn fokus op “ons mense”. ʼn Humanitêre krisis gaan nie gekeer word deur slegs op gemeentelede se welwees te konsentreer nie.

1.3. Mense volg geloofwaardige leiers

President Ramaphosa het in die afgelope dae gesê hy glo in die mense. Hy het Abraham Lincoln aangehaal, wat sou sê “if given the truth, the people can be depended upon to meet any national crisis”.
Stemme wat nou vertrou gaan word, is stemme wat eerlik is oor die krisis sonder om die angs te verhoog. Daar sal nou na sulke stemme geluister word.
Doemprofete en “anxiety-amplifyers” sal, net soos diegene wat die krisis ontken, nie die toets van hierdie tyd deurstaan nie.
Ware leiers het geloof in die vermoë van die gemeenskap om met die regte inligting die regte ding te doen.
Dit is merkwaardig om te sien hoe leiers nou saamwerk – iets wat voorheen byna ondenkbaar was.

1.4. ʼn Tyd soos hierdie vra dieper nadenke oor God

“A crisis do not create our theology, it reveals it” (Esau McCaulley)
Hierdie krisis is ʼn geleentheid om goed en diep oor God na te dink.
Vrae gaan nou al hoe skerper na vore kom. “Het God die virus gestuur?”; “Hoekom doen God niks daaraan nie?”; “Hoekom sterf juis die kwesbares?”; “Hoe kan ʼn God van liefde so iets toelaat?”; “Wie se skuld is dit alles?”
In plaas van vrae soos “waarom?”, sou ons eerder kon vra “waarheen is God met ons op pad in die krisis?”
Ons vermoë om te leer uit die geloofswysheid wat oor eeue ontwikkel het, gaan nou deurslaggewend wees. Dit is nie die eerste keer dat die wêreld en die kerk deur globale rampe getref word nie. Ons kan uit die foute en die wysheid van die geskiedenis leer.
Die gereformeerde uitgangspunt dat wetenskap en geloof nie teenoor mekaar staan nie, is nou baie belangrik. Wie die wetenskap nou teenoor God stel, gaan groot skade doen. Die wetenskap is ʼn geskenk van God.

1.5. Waarop hoop ons?

Ons hoop is nie dat die virus oornag gaan verdwyn nie. Die situasie gaan eers versleg voordat dit beter gaan. Omdat ons leef met die sekerheid dat ons veilig is by God te midde van die krisis, kan ons dit aanvaar.
Christus is ons hoop. Die gekruisigde Here is by ons as ons ly. Die opgestane Here het die dood oorwin.
Ons enigste troos is dat ons in lewe en in sterwe nie aan onsself nie, maar aan ons Verlosser, Jesus Christus, behoort (HK, Vr & Antw 1).
Ons hoop is in die goeie nuus van die evangelie. Die evangelie van Christus het ʼn unieke, eiesoortige krag. Ons moet nederig in diens van hierdie evangelie bly.
Die evangelie beantwoord nie al ons vrae nie, maar dit gee vir ons die ware hoop.
Die evangelie trek nie ʼn reguit lyn tussen lyding en die straf van God nie.

1.6. Sien die moontlikhede raak

Ons uitdaging is om die gemeenskaplike en persoonlike verlamming en angs wat ons getref het met hierdie hoop te beveg. Waar daar hoop is, is daar lewe.
Die krisis laat ons ons gedeelde menslikheid en interafhanklikheid besef.
In hierdie tyd kan ons begin droom en uiting gee aan ʼn geloofsgemeenskap wat leef met eenvoudige waardes van geloof en mens-wees. Koinonia is juis die misterie van ons verbintenis aan mekaar.
Ons het ʼn besondere geleentheid tot samewerking. Politici, besigheidslui, gemeenskapsleiers en plaaslike kerke kan hande vat. Hier is ʼn ontluikende visie van ʼn herstelde gemeenskap wat die verdelingslyne van die verlede oorsteek. Ons kontak bejaardes, help mekaar met noodsaaklike vervoer, hou mense in diens wat nie nou mag werk nie, banke gee “skuldvakansies” en gemeenskappe ontvang gratis data.

1.7. Die gawe van tegnologie

In minder as ʼn week is tegnologie op vele maniere gebruik om die bediening van gemeentes voort te sit en aan te pas by die omstandighede. Dit is merkwaardig hoe die kerk van dag tot dag hierby aangepas het. Ons het ʼn ontploffing van kreatiwiteit gesien.
Tegnologie gee aan ons die geleentheid om soos nog nooit voorheen nie met mekaar te kommunikeer. Dit mag een van die grootste hulpmiddele wees in die bevegting van die virus.
Ons leer vinnig om nie aan sosiale mediaplatforms in die eerste plek as ʼn bemarkingsmiddel te dink nie, maar as ʼn bedieningshulpmiddel. Tegnologie word gebruik om die gemeente en gemeenskap saam te weef.

1.8. Solidariteit te midde van isolasie

Almal het reeds begin saamdink oor die verrykende gevolge wat hierdie ramp vir die wêreld inhou. Dieselfde kreatiwiteit en innovasie waarmee ons eredienste en liturgie kon herbedink in ʼn week, moet nou ingespan word om te dink en te beplan hoe ons diensbaar kan wees in ons gemeenskappe.
Kerke en kerksale is leeg – hoe kan dit as sentra van afsondering vir bejaardes en kwesbare persone ingerig word? Hoe kan ons oor kerkgrense hande vat? Hoe kan ons met ander plaaslike organisasies hande vat?
Die slagspreuk is nou: “Bly tuis en hou die kurwe plat”. Dit mag wees dat ons ná die tyd van isolasie sal moet uitgaan om hulp te verleen.

1.9. Eenvoud en herstel

Tekens is reeds daar dat ʼn eenvoudiger, goedkoper leefstyl ʼn herstellende impak op die ekologie het. Die 21 dae van isolasie is ʼn tyd van restitusie vir die aarde.
Daar is nou in baie mense se lewens meer tyd vir stilte en gebed. Sal dit wees dat ons die waarde hiervan meer as in die verlede besef en nuwe gewoontes aanleer? Dit neem 21 dae om ʼn goeie gewoonte in te oefen.

Ten slotte

Vele het die afgelope dae kennis geneem van Martin Luther se reaksie op die “Swart Dood”, wat 60% van Europa se bevolking uitgeroei het:“I shall ask God mercifully to protect us.

Then I shall fumigate, help purify the air, administer medicine and take it.
I shall avoid places and persons where my presence is not needed in order not to become contaminated and thus perchance inflict and pollute others and so cause their death as a result of my negligence.
If God should wish to take me, he will surely find me and I have done what he has expected of me and so I am not responsible for either my own death or the death of others.
If my neighbor needs me however I shall not avoid place or person but will go freely as stated above.
See this is such a God-fearing faith because it is neither brash nor foolhardy and does not tempt God.”
The Annotated Luther, Volume 4: Pastoral Writings