Woensdag, 01 April 2020
Die projek word onderneem deur die Diensgroep Navorsing en Toerusting (Sinode van Wes-Kaapland), in oorleg met predikante oor die hele land, om die konsensus wat na vore kom in die krisis te beskryf. Hierdie is die tweede van drie rondtes. Terugvoer is welkom van almal wat wil saam dink en leer in die tyd van afsondering.
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Dat ek in lewe en in sterwe met liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort
Heidelbergse Kategismus, Vraag en Antwoord 1
-
Die omvang van die ontwrigting is ongekend
Ons beleef ʼn unieke ontwrigtende oomblik, van ongekende omvang, in die geskiedenis van die wêreld, maar ook in die kerk.
Die wêreld ná Covid-19 gaan anders wees as die wêreld daarvoor. Hier kom ʼn “nuwe normaal”.
Die toekoms is uiters onvoorspelbaar. Ons word toenemend bewus daarvan dat ons nie in beheer is nie. Dit laat ons broos en afhanklik voel.
Absolute sekerhede en -uitsprake word vervang met brose gewaarwordinge van nuwe insig.
Ons ontwikkel die “deug van onsekerheid”. Ons het nie al die antwoorde nie. Niemand het nie. Maar te midde van die onsekerheid en ons fluktuerende emosies, is ons troos dat die troue God in beheer is.
Calvyn het tydens sy siekte die vlugtelinge in sy gemeente aangemoedig om aan te hou om God te vertrou, ook al was God se gesig in die swaarkrytyd versteek.
Ons leer nou vinnig hoé om te leer en aan te hou leer. Ons word ʼn luisterende en waarderende leergemeenskap.
-
Die gebou is toe, maar die kerk is oop.
In hierdie tyd besef ons dat kerkwees baie meer is as samekomste in geboue. Juis nou het ons nie minder kerk nodig nie, maar meer.
Ons bewussyn van die nood in die gemeenskap is in hierdie tyd besig om te verhoog. Ons eerste bekommernis is nou nie nét die gemeente nie, maar ook die groter gemeenskap. Almal is kwesbaar.
Ons glo in die gemeenskap van die gelowiges.
Ons ervaar ʼn versnellende beweging vanaf ʼn selfgerigte kerk na spontane, diensbare netwerke.
Ook vir die kerk kom hier ʼn “nuwe normaal”.
-
Daar is ʼn behoefte aan geloofwaardige leiers
Ware leiers het geloof in die vermoë van die gemeenskap om met die regte inligting die regte ding te doen.
Stemme wat nou vertrou word, is stemme wat eerlik is oor die krisis sonder om die angs te verhoog. Mense wat die krisis ontken sal nie gevolg word nie. So ook nie die doemprofete en “anxiety-amplifyers” nie.
Dit is merkwaardig om te sien hoe leiers nou saamwerk – iets wat voorheen byna ondenkbaar was.
-
ʼn Tyd soos hierdie vra dieper nadenke oor God
“A crisis do not create our theology, it reveals it” (Esau McCaulley)
Hierdie krisis vra van ons om opnuut oor die Drie-enige God na te dink.
Vrae kom nou al hoe skerper na vore. “Het God die virus gestuur?”; “Hoekom doen God niks daaraan nie?”; “Hoekom sterf juis die kwesbares?”; “Hoe kan ʼn God van liefde so iets toelaat?”; “Wie se skuld is dit alles?”
In plaas van vrae soos “waarom?”, sou ons eerder geloofsonderskeidend kon vra “waarheen is God met ons op pad in die krisis?” Hoe is God daarin teenwoordig dat ons gestop word, tot stilstand gebring word?
Ons vermoë om te leer uit die geloofswysheid wat oor eeue ontwikkel het, gaan nou deurslaggewend wees. Dit is nie die eerste keer dat die wêreld en die kerk deur globale rampe getref word nie. Ons kan uit die foute en die wysheid van die geskiedenis leer.
Die uitgangspunt dat wetenskap en geloof nie teenoor mekaar staan nie, is nou baie belangrik. Wie die wetenskap nou teenoor God stel, gaan groot skade doen. Die wetenskap staan ook in diens van God.
-
Waarop hoop ons?
Christus is ons hoop. Die gekruisigde Here is by ons as ons ly. Die opgestane Here het die dood oorwin. Christus sit aan die regterhand van die Vader. Hy is die Heer en Hy regeer.
Deur ons doop is ons met Christus verenig en het ons nou saam deel van Christus geword (Gal. 3:27).
Selfs al gaan die virus nie wonderbaarlik oornag verdwyn nie (dit is nie in ons hande nie) leef ons met die sekerheid dat ons veilig in die gemeenskap van die Vader, Seun en Gees te midde van die krisis.
Die evangelie van Christus het ʼn unieke, eiesoortige krag. Ons moet nederig in diens van hierdie evangelie bly en nie ons hoop in ander dinge soek nie.
Die evangelie beantwoord nie al ons vrae nie, maar dit gee vir ons die ware hoop.
Die evangelie trek nie ʼn reguit lyn tussen lyding en die straf van God nie.
-
Ontvang God se toekoms
Ons uitdaging is om die gemeenskaplike en persoonlike verlamming en angs wat ons getref het met hierdie hoop te beveg. Waar daar hoop is, is daar lewe.
Dit maak ons angstig dat baie van ons eie planne en drome van ons ontneem is. Dit is egter juis nou die tyd om te fokus op eenvoudige praktyke van die van geloofsoorgawe en mens-wees, in vertroue en afwagting van God se nuwe toekoms wat ook in hierdie tyd gaan inbreek.
Die krisis laat ons ons gedeelde menslikheid, broosheid en interafhanklikheid besef. Koinonia is juis die misterie van ons verbintenis aan mekaar.
Terwyl ons treur oor wat tans aan die gebeur is, en in gebed ons klag aan God bekendmaak, kan ons ons ook oopmaak om God se toekoms te ontvang.
Daar is mooi verhale van ontluikende praktyke wat hoop bring en daar is vroeë tekens van samewerking. Ons sou kon hoop dat dit nie net noodmaatreëls nie, maar deel van die “nuwe normaal” is. Ons herinner ons dat die Koninkryk soms onsigbaar is soos ʼn mosterdsaad (Mat 13:31-32).
-
Die gawe van tegnologie
In minder as ʼn week is tegnologie op vele maniere gebruik om die bediening van gemeentes voort te sit en aan te pas by die omstandighede. Dit is merkwaardig hoe die kerk van dag tot dag hierby aangepas het. Ons het ʼn ontploffing van kreatiwiteit gesien. Dit gebeur nie net in die kerk nie maar in byna elke werkplek.
Tegnologie gee aan ons die geleentheid om soos nog nooit voorheen nie met mekaar te kommunikeer en so by mekaar te leer. Dit mag een van die grootste hulpmiddele wees in die bevegting van die virus.
Ons leer vinnig om nie aan sosiale mediaplatforms in die eerste plek as ʼn bemarkingsmiddel te dink nie, maar as ʼn bedieningshulpmiddel. Tegnologie word gebruik om die gemeente en gemeenskap saam te weef.
Ons moet aan die ander kant, nie die fout maak om te dink dat fisiese kontak en groepe en samesyn en koffie drink, nie een van die belangrikste goed is nie. Terwyl ons die gawe van afsondering ontvang, verlang ons na die tyd wanneer ons weer kan saamwees. Tegnologie vervang nie beliggaamde gemeenskap nie.
-
Solidariteit te midde van isolasie
Almal het reeds begin saamdink oor die verrykende gevolge wat hierdie ramp vir die wêreld en vir ons plaaslike gemeenskappe inhou.
Die slagspreuk is nou: “Bly tuis en hou die kurwe plat”. Ons begin egter reeds dink oor wat ons rol gaan wees indien die kurwe nie plat bly nie.
Meer en meer gemeentes bied hulle geboue aan as plekke van versorging.
Gemeentes kan klein verhale van tekens van deernis en liefde bymekaarmaak om nou en in die toekoms met mekaar te deel.
-
Gebed, eenvoud en herstel
Tekens is reeds daar dat ʼn eenvoudiger, goedkoper leefstyl ʼn herstellende impak op die ekologie het. Die tyd van isolasie is ʼn tyd van restitusie vir die aarde.
Daar is nou in baie mense se lewens meer tyd vir stilte en gebed. Sal dit wees dat ons die waarde hiervan meer as in die verlede besef en nuwe gewoontes aanleer?
Hoe sal hierop gebou word, dat die moment van isolasie ʼn moment van bekering, van transformasie word?