Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
’n Mens kry verskillende soorte liefde. Daar is romantiese liefde, soos die liefde tussen twee mense wat verlief is op mekaar. Dan is daar die liefde wat ’n mens vir ’n troeteldier het, wat weer heeltemal anders is. Die liefde wat Jesus se volgelinge vir ander mense moet hê, lyk ook heeltemal anders as ander soorte liefde, want ons volg Jesus se voorbeeld van die liefde. Jesus is lief vir ons, maak nie saak wie ons is of wat ons doen nie. Dit is die soort liefde wat ons vir ander mense moet hê
Kan jy nog voorbeelde van verskillende soorte liefde noem?
Paasfees is om die draai. Hoe het Jesus vir ons sy liefde gewys tydens die Paasgebeure?
Aktiwiteit
Leer 1 Petrus 4:8 uit jou kop. Dink bewegings uit om by die vers se woorde te pas.
Kies ’n plekkie in julle huis en bou Jesus se kruistoneel daar. Jy kan in ’n Kinderbybel gaan loer vir idees of vra iemand om jou op die internet te help soek na idees.