Dag 16 – Spoor mekaar aan
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Oggendgebed
Begin jou dag met hierdie gebed.
Hemelse Vader,
ons sê dankie vir hierdie pragtige dag.
Ons bid dat U ons en ons geliefdes sal seën,
en almal wat hierdie gebed lees.
Net een aanraking van u liefde verander elke dag, Here.
Laat ons kanale van u liefde na ander wees.
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen
Voorbiddingstasie
Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.
Simbool: Sopbakkie
Ons bid vir almal wat siek is, in hospitale en by die huis.
Mag hulle God se genesingskrag ervaar.
Ons sê dankie vir almal wat besig is om gesond te word van siektes en beserings.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie – Hebreërs 3:13As medegelowiges dra ons ’n gesamentlike verantwoordelikheid vir mekaar se geestelike versorging en groei. Die roeping om mekaar aan te spoor om nie sonde te doen nie, geld vir die Hebreërsskrywer immers vir alle gelowiges, nie net vir geestelike leiers nie. In hierdie tyd van afsondering lees ons verskillende mekaar-tekste in die Nuwe Testament om te kan verstaan hoe ons hierdie gedeelde verantwoordelikheid vir mekaar se geestelike groei prakties kan uitleef. Ons is soos rivierklippe wat deur die water teen mekaar geskuur word sodat ons rond en glad word. Een klip kan nie op sy eie só omvorm word nie. Ons medegelowiges is die instrument waardeur God ons geestelik wil vorm. Ons roeping is daarom om mekaar nie te vergruis nie, maar om saam met mekaar gevorm te word. Dit kan egter gebeur dat ons moeg raak om gedurig in ons interaksie met ander gelowiges geestelik geskaaf te word. Die versoeking is dan groot om ons te onttrek van ander gelowiges en die samekomste waar hulle teenwoordig is. Vir die skrywer van Hebreërs kom so ’n gesindheid neer op geestelike selfmoord deurdat dit ’n keuse vir geestelike stagnasie is. Laat ons daarom nie moeg word om mekaar nou, en hierna, geestelik aan te moedig en te versterk nie.
Here, dankie vir elke gelowige wat meestelike groei bevorder. Lei my om ander by te staan in hulle geestelike roeping. Amen.
Sakkie se sepie
Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee.
Liturgie van die Lewe
Stil Saterdag
“Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ’n klip voor die ingang van die graf gerol” – Markus 16:46.
Dit is stil Saterdag. Jesus is in die graf. Alles het tot stilstand gekom. Die dissipels se verwagtings lê aan skerwe. Wat leef tans in jou gemoed? Beplan om ’n uur iewers stil te word. Kry ’n plek in die huis of in die tuin waar jy werklik doodse stilte kan ervaar. As julle kinders nog klein is, sal ouers beurte moet maak. Skep geleentheid met aandete om julle stilwordervarings met mekaar te deel. Het jy ’n verwagting van Jesus se opstanding?
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Het jy al ooit wakker geword en gedink: “Sjoe! Ek is so dankbaar dat daar nog ’n vandag is”? Die vraag is egter, wat maak ons met hierdie “vandag”? Vandag se teks herinner ons dat daar elke dag nuwe geleenthede is om mekaar aan te spoor en mekaar te help groei in ons geloof.
Wat beteken dit om in geloof te groei?
Hoe het ander mense jou al gehelp om nader aan Jesus te kom?
Aktiwiteit
Sit ’n paar oomblikke stil en noem alles wat julle buite (of binne) die huis kan hoor. Sê sommer net vir God dankie vir “vandag” en dat julle mekaar het om julle in julle geloof te help groei.
Werk verder aan julle kruistoneel. Vandag staan bekend as Stil Saterdag, die dag toe Jesus in die graf was. Verander julle toneel om Jesus se graf voor te stel. Versier dit met groen blare om julle herinner dat ons mekaar moet help groei in ons geloof.
Kreatiewe gebed
INSTRUKSIES
• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.
WENKE
• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk
Dankies en getuienisse
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.
Slaaptydstorie
Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.