Dag 17 – Bid vir mekaar

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Here, die opstanding van u Seun
het aan ons nuwe lewe en nuwe hoop gegee.
Help ons om soos nuwe mense te leef,
voor U en teenoor mekaar,
en vanuit hierdie lewe en hoop 
wat U aan ons geskenk het.
(Silte)
Laat u wil geskied.
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Blikkieskos


Ons bid vir almal wat haweloos is en wat van skuilings afhanklik is vir ’n plek om te slaap en iets om te eet. 

Ons sê dankie vir personeel en vrywilligers wat kwesbare mense voorsien van kos om te eet en ’n veilige plek om te bly, waar hulle beskermd voel.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking – Jakobus 5:16.

Jakobus roep ons as gelowiges op om op ’n baie besonderse manier saam te leef as lede van God se geloofsfamilie. Hy vra dat ons mekaar só moet kan vertrou dat ons ons sondes eerlik teenoor mekaar kan bely. Dit is nie altyd maklik nie. Ons eerste instink is immers om eerder te swyg oor ons sondes omdat ons dikwels ervaar dat mense ons wegstoot wanneer ons ons sondes teenoor hulle bely.

Jakobus beskryf egter hier ’n situasie waarin die onbelyde sondes van sommige gelowiges teenoor ander lede van sy gemeente hulle liggaamlik siek gemaak het. Al manier om volledig genees te kon word, was om dié sondes te bely. Anders sou voortdurende skuldgevoelens hulle net nóg sieker gemaak het.

In reaksie op die belydenis van medegelowiges vra Jakobus dat ons mekaar in so mate sal vergewe dat ons selfs sal bid vir die genesing van die mense wat teenoor ons oortree het. Só word ons gebede nie net versoeke om ons eie belange nie, maar ook om dié van ander. Om só saam te bid is om afstand te doen van vergelding en getuig van ’n diep vergifnis vir ander.  Jakobus gee ons ook die versekering dat dit ’n kragtige uitwerking sal hê.

Vader, skenk aan my die genade om die mense wat teen my gesondig het te vergewe. Lei my ook om my oortredings teenoor ander te bely en vergewe al my skuld. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Opstandingsondag

“Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom” – Markus 16:2.
Staan vroeg op, terwyl dit nog donker is. Neem almal in die huis na ’n plek op die erf of in die woonstel waar julle die son kan sien opkom. Lees saam die verhaal soos Markus dit opgeteken het in Markus 16:1-8. Maak iets warms om te drink soos koffie, tee of sop. Gesels saam oor wat Jesus se opstanding vandag vir julle beteken. Om saam die son te sien opkom, herinner ons daaraan dat God vir ons nuwe lewe gee.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Jesus het vir ons sondes gesterf sodat ons nie meer bang hoef te wees vir die straf op die sonde nie. Dit beteken nie ons kan nou meer sondes doen nie, maar dat ons eerlik en openlik ons sondes kan bely, want Jesus het reeds die straf in ons plek gedra. Wanneer ons eerlik oor ons sondes met God gesels, help dit ons om daaroor te dink en dit nie weer te doen nie.

Hoekom moet ons oor ons sondes bid?

Wat beteken die woord sonde vir jou?

Aktiwiteit

Bid terwyl jy jou hande was: Duim: Alle mediese personeel. Wysvinger: Polisie, veiligheidsdienste, en so meer. Middelste vinger: Die regering en die president. Ringvinger: Mense wat reeds die virus opgedoen het. Pinkie: Jou gesin. Handpalm: Hoe kan jy diensbaar wees? Wanneer jy jou hande afspoel: Gesels met God oor jou sondes.

Vandag vier ons Paassondag. Jesus leef! Hy het opgestaan. Verander julle kruis- en graftoneel sodat die graf oop is. 

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.