Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Die paar dae nadat Jesus uit die graf opgestaan het, was ’n vreemde tyd. Mense het nie lekker verstaan wat gebeur het nie. Maar een ding is seker: Jesus leef! Hy het opgestaan! En ons loof en prys Hom! Wanneer ons Jesus saam loof en prys, maak ons Jesus se Naam groot en ons help mekaar om sterk te bly in ons geloof, want ons herinner mekaar aan wie Jesus is.
Wat is jou gunsteling Jesusliedjie en hoekom?
Aan watter woorde kan jy dink om te beskryf wie Jesus is en wat Hy vir jou doen?
Aktiwiteit
Kyk of julle ’n paar musiekinstrumente kan maak om Jesus mee te loof en prys.
Gebruik daardie instrumente en sing ’n paar liedjies saam om Jesus te loof en prys.