Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Vandag se teksvers herinner ons weer daaraan dat die liggaam baie dele het, wat elk hulle eie doel het. Een deel van die liggaam kan nie alleen funksioneer nie, want dan raak die liggaam siek. Die verskillende dele het mekaar nodig. Ons almal saam is Jesus se liggaam hier op aarde. Dit beteken ons het mekaar ook nodig om Jesus se liggaam, die kerk, gesond te hou.
Aan die begin van grendeltyd moes julle dink hoe ons vir mekaar kan omgee in hierdie tyd. Die tyd het nou aangestap en mense begin nou baie alleen voel. Wat kan julle vandag doen om te help dat die verskillende dele van Jesus se liggaam, sy kerk, gesond bly? Hoe kan ons vir mekaar omgee?
Aktiwiteit
Teken die buitelyne van ’n mens. Versier nou daardie mens met ’n klomp verskillende kleure om jou te help onthou dat ons almal, al is ons verskillend, deel van Jesus se liggaam, die kerk, vorm.
Bou ’n mens van verskillende voorwerpe wat julle in die tuin of die huis kan kry.