Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Wat dink jy maak dat iemand belangrik is? As Christene weet ons een mens is nie belangriker as ’n ander nie. Daarom moet ons altyd gereed wees om mekaar te help en te dien. Een voorbeeld wat vandag se teksvers noem, is dat ons moet omgee vir die ouer mense wat dalk nie meer na hulleself kan omsien nie. Só bewys ons respek aan hulle.
Wat beteken dit om nederig te wees?
Hoe kan ons vir ouer mense omgee?
Aktiwiteit
Kontak julle plaaslike tehuis vir bejaardes en hoor hoe julle hulle in hierdie tyd kan ondersteun.
Maak kaartjies vir ouer ooms en tannies in die gemeente wat julle ná die grendeltyd by hulle kan gaan afgee.