Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Dis glad nie lekker om moedeloos te voel nie. Alles is dan sommer sleg en dit voel vir jou of niks uitwerk nie. Al wat dan soms nodig is, is dat iemand jou met woorde aanmoedig om aan te hou en weer te probeer. Ons taak as gelowiges is om mekaar moed in te praat wanneer dinge vir moeilik begin raak.
Wat help jou as jy moedeloos voel?
Wat is goeie woorde wat jy kan gebruik om mense moed in te praat?
Aktiwiteit
Maak ’n kreet of rympie op, soos wat ’n mens by atletiek sal sing, wat ander mense se moed sal versterk.
Maak ’n plakkaat met 1 Tessalonisense 5:11 se eerste woorde daarop: “Praat mekaar moed in en versterk mekaar.”