Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Dit is maklik om mense lief te hê wat ook vir jou lief is, maar Jesus vra van ons om nie net die mense lief te hê wat ons liefhet nie. Jesus vra dat ons wat in Hom glo, lief sal wees vir almal wat ons pad kruis.
Wat is die gebod oor die liefde wat Jesus vir ons gegee het?
Vertel van ’n keer toe iemand aan jou liefde gewys en jy dit glad nie verwag het nie.
Aktiwiteit
Teken ’n groot hart. Versier dit nou met woorde, teken prentjies daarin of knip prente uit tydskrifte wat liefde beskryf.
Gebruik jou liggaam en kyk op hoeveel verskillende maniere jy ’n hartjie kan vorm. Gebruik byvoorbeeld jou duime en wysvingers om ’n hartjie te maak. Kan jy dit op nog 5 ander maniere doen?