Dag 26 – Moenie kwaad vir kwaad vergeld nie
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Oggendgebed
Begin jou dag met hierdie gebed.
Here, gee ons wysheid in oomblikke van rusie
Neem ons woorde en maak hulle opbouend
Neem ons hande en hou hulle oop om te ontvang maar ook om te gee
Laat ons mekaar altyd met U oë sien
(Stilte)
Amen
Voorbiddingstasie
Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.
Simbool: Veer
Heilige Gees, maak ons instrumente van u vrede. Help ons om respekvol met mekaar om te gaan, om aandagtig te luister, en om met sagte woorde te antwoord. Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense – 1 Tessalonisense 5:15.
Ons as gelowiges moenie net daarvan afsien om ander in gelyke maat terug te betaal as hulle ons kwaad aangedoen het nie. Ons moet ook sorg dat niemand anders ’n ander mens só vergeld nie. Gelowiges moet verder nie net hulle eie belange bevorder nie, maar eerder dié van alle ander mense, ook dié wat nie deel van die kerk is nie.
Dit is baie duidelik uit Paulus se woorde dat Christene hulle nie net met hulle eie sake kan en mag besig hou nie. Die belange van ons land en vasteland, met al sy inwoners, is ook ons belange. Ons word spesifiek geroep om die spiraal van geweld – waar kwaad met nog meer kwaad vergeld word – met liefde en genade te verbreek.
Die enigste rede waarom ander gelowiges ons sal toelaat om ’n aktiewe rol in hulle lewe te speel, is dat hulle ervaar dat ons nie ons eie belange eerste stel nie, maar hulle s’n. Daarom moet ons daadwerklik op die belange van ons hele gemeenskap fokus.
Here, lei ons om ander se belange bo ons eie te stel. Gee ook aan ons die geleentheid om die toename van kwaad en geweld in ons wêreld teen te werk. Amen.
Liturgie van die Lewe
Wie wen in ons verhouding?
Die antwoord op hierdie laaste vraag is dat dit verhoudings vernietig. As jy iets vir iemand anders doen net omdat jy iets terugverwag, of as jy op ’n lelike manier terugantwoord, “want sy was eerste ongeskik met my,” leef jy in ’n wêreld waar kwaad vir kwaad vergeld word. In hierdie soort verhoudings word geen goeie dade onvoorwaardelik gedoen nie.
Neem ’n stuk papier en skryf hierdie opskrif groot bo-aan: Familie Scorecard. Gee vir elkeen in die huis kans om die stuk papier een keer middeldeur te skeur. Afhangende van die getal mense in julle huis kan hierdie vel papier redelik flenters wees as julle klaar is. Die punt wat julle maak, is: In hierdie huis hou ons nie telling nie! Ons werk eerder vir die belange van al die mense wat hierdie ruimte met mekaar deel.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Wanneer iemand ons kwaad maak of seermaak, wil ons partykeer ook iets aan hulle doen om hulle terug te kry. As gelowiges vra Jesus vir ons om anders op te tree. Ons moet altyd deur ons dade vir mense herinner dat Jesus in beheer van ons lewe is. Dit gaan gebeur dat mense jou kwaad maak of seermaak, of dalk maak jy iemand anders kwaad of seer. Hoe ons daarop reageer, moet wys dat Jesus in ons leef.
Hoekom dink jy wil Jesus hê moet ons nie ander op ’n soortgelyke manier terugkry vir wat hulle aan ons gedoen het nie?
Wat kan ons doen as iemand ons kwaad maak of seergemaak het?
Aktiwiteit
Teken ’n paar emoji’s op papier. Vra gerus vir iemand wat ’n selfoon het om vir jou voorbeelde van emoji’s te wys. Teken sommer ’n groot verskeidenheid. As jy klaar is, knip hulle uit en sit hulle in ’n houer. Wanneer iemand jou in die volgende paar dae kwaad maak of hartseer maak, soek die emoji wat pas by wat jy voel. Soek dan ’n vriendelike of liefdevolle emoji wat jy vir die persoon kan gee in plaas daarvan om hom of haar terug te kry.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie. Wat val jou op? Gesels met die mense in jou huis of met jou vriende oor WhatsApp oor die beeld.
– Wat sou jy in die figuurtjies se hande wou sit?
– Hoe skakel hierdie illustrasie in by vandag se teks, en hoe nie?
– Skep jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer.
Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies
Dankies en getuienisse
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gister se getuienisse:
Die dagstukkies is my en my twee kinders se bymekaarkomtyd. Dankie vir die groot genade wat julle elke dag vir ons gee. Dis kosbaar en vir ons gestuur op die regte tyd.
– Sandra Kotze
Ek hoop u gaan voort met die Bybelstudie. Ek het dit regtig geniet! Dit was my hoogtepunt elke dag in hierdie lockdown.
– Marlize Raath
Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.
Slaaptydstorie
Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.