Dag 27 – Vier saam die nagmaal
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Oggendgebed
Begin jou dag met hierdie gebed.
Die tekens van brood en wyn
herinner ons aan u liefde
u genade
u vergifnis
en dat ons met vreugde kan leef
Ons loof en prys U daarvoor
(Stilte)
Amen
Voorbiddingstasie
Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.
Simbool: Stukkie brood
Here, met ’n stukkie brood en ’n bietjie wyn proe en ruik ons u geskenk van verlossing en genade.
Ons dank U dat ons weet dat ons deur u liefde deel is van ’n familie van gelowiges – en dat dit nog steeds waar is, al kan ons nie nou fisies bymekaar wees nie. Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar – 1 Korintiërs 11:33.
Die duidelikste manier waarop ons as gelowiges vir mekaar en die wêreld kan wys dat ons een familie is, is deur saam die nagmaal te vier. Daarom skryf Paulus aan die gelowiges in Korinte dat hoe hulle as gelowiges saam die nagmaal vier van die uiterste belang is. Hy vra spesifiek dat hulle dit sáám sal doen. Daarom moes hulle vir mekaar wag en nie elkeen die nagmaal vier soos hulle dit gerieflik vind nie.
As lede van God se familie herinner die nagmaal ons eerstens daaraan dat Jesus reeds vir al ons sondes gesterf het. Tweedens verseker dit ons dat Christus in die hede by ons as sy familie teenwoordig is. Deur die nagmaal saam met ander gelowiges te vier getuig ons dat ons almal deur Christus se liefde aan mekaar verbind is. Derdens gee die nagmaal vir ons ’n voorsmaak van die hemel. Die Bybel gebruik telkens die beeld van ’n feesmaal (soos in Ps 23) om ons finale tuiskom by God te beskryf. Die nagmaal getuig daarom van God se betrokkenheid by ons verlede, hede en toekoms. En wanneer ons die nagmaal saam vier, bind dit ons as familie van God saam.
Here, dankie dat ons as u familie saam die brood kan breek en die wyn kan drink om so ons gesamentlike geloof in U te versterk. Amen.
Liturgie van die Lewe
Om saam brood te breek …
Doen moeite met vanaand se aandete. As dit moontlik is, bak vanmiddag brood saam met al die mense in julle huis. Hier is ’n eenvoudige geen-knie-resep:
JAN SE GEEN-KNIE-BROOD
- 7 koppies meel
- 4 koppies lou water
- 1 teelepels sout (5 ml)
- 1 pakkie kitsgis (10 g)
- 2 eetlepels suiker (30 ml)
Meng alles goed saam
Gooi in panne of net een pan vir ’n groot brood.
Laat rys in matige hitte tot panne vol is.
Bak vir +\- een uur by 180 ºC
Resep: Jan Pool, sr
As julle nie self kan bak nie, neem brood of koekies wat julle in die huis het en maak dit die middelpunt van die ete. Jesus het brood gebreek saam met sy dissipels om ons te herinner dat Hy sy lewe vir ons elkeen gegee het. Breek vanaand saam brood om dit te onthou!
Die nagmaal herinner aan die pasga en is ’n ete vir die pad. Wanneer ons saam eet, is dit om vir ons krag te gee vir die pad wat ons saam met Jesus loop. Hierdie ete bind ons nie net aan Jesus nie, dit bind ons ook aan mekaar. Gee vir elkeen om die tafel kans om ’n stukkie brood, wat in die middel van die tafel is, af te breek en te sê waarvoor hulle te midde van die grendeltyd dankbaar is.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Partytjies is lekker. Dit is lekker om fees te vier en saam te kuier. Wanneer ons nagmaal vier, hou ons ook fees, en dit is lekker om fees te vier saam met ander mense. Wanneer ons nagmaal vier, vier ons hierdie dinge: 1. Jesus het vir al ons sondes gesterf. 2. Jesus is nou ook by ons en omdat Jesus by ons is, is ons almal soos ’n familie aan mekaar vasgebind. 3. Die nagmaal gee ons ’n voorsmaak van die hemel.
Wat is vir jou die heel lekkerste van ’n partytjie?
Het jy al die nagmaal gevier? Wat is die lekkerste van die nagmaal vir jou?
Aktiwiteit
Beplan ’n partytjie vir julle huis. Maak uitnodigingskaartjies, versierings en kry iets om te eet en te drink, selfs al is dit net ’n appel en water. Terwyl julle partytjie hou, gesels oor alles waaroor julle dankbaar is.
Vandag is Aardedag. Op Aardedag vier ons die wonderlike skepping en dat ons dit moet op pas. Probeer al julle versierings vir die partytjie uit herwinbare materiaal maak.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie. Wat val jou op? Gesels met die mense in jou huis of met jou vriende oor WhatsApp oor die beeld.
– Deel ’n storie oor ’n onvergeetlike nagmaal wat jy gevier het. Hoe oud was jy? Waar het dit plaasgevind? Wie was daar?
– Dink oor die teksture van die elemente van die nagmaal, die smake en geure, en hoe die elemente lyk.
– Deel hoe die ervaring van nagmaal jou laat voel.
– Skep dan jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer.
Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies
Dankies en getuienisse
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gister se getuienisse:
Baie dankie vir hierdie stukkies. Dit word opreg waardeer. Dit help ons om gefokus te bly op ons hemelse Vader. Ons weet dat Hy in beheer is. Amen.– Elsabé Muller
Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.
Slaaptydstorie
Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.