Dag 29 – Dien mekaar in liefde

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

U het ons vrygemaak en vir ons ’n nuwe lewe gegee
Ons is dankbaar daarvoor en vier dit
Laat ons nie vergeet dat U ons hande oopgemaak het
Om liefde te ontvang en te gee nie
Laat ons ons hande met u koninkryk besig hou
En u wil ons laat lei
(Stilte)
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Sleutel

Jesus Christus, U is ons Verlosser. 

Dankie dat ons kan weet U het ons vrygekoop deur u dood en opstanding. Wys ons hoe ons met hierdie vryheid die lewe ten volle kan leef, op maniere wat u koninkryk dien. Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde – Galasiërs 5:13.
Danksy Jesus se dood en opstanding hoef gelowiges nie meer hulle eie verlossing na te jaag deur die ganse wet soos dit in die Ou Testament opgeteken is, na te kom nie. Hierdie vryheid beteken egter nie dat ons nou wetteloos kan leef nie. Ons moet mekaar eerder in liefde dien, nie om só deur ons dade gered te word nie, maar uit dankbaarheid omdat ons gered is. Waar ons vroeër slawe van die sonde was, mense wat net die verkeerde wou doen, het Jesus ons vrygemaak uit die greep van die sonde. Daarom is ons nou ook vry om volgens God se wil te leef. Ons is nie meer uitgelewer aan ons ou sondige begeertes nie. Ons mag ook nie redeneer dat aangesien al ons sondes reeds vergewe is, dit nie meer saak maak of ons sonde doen of nie. Ons moet altyd dink aan die prys wat Jesus vir ons verlossing betaal het. Ons is duur gekoop. Ons vryheid van die sonde mag daarom nooit vir ons vanselfsprekend wees nie. Ons moet dit eerder aangryp om mekaar in liefde te dien, soos Jesus ons in liefde gedien het. 
Here, dankie dat U my sonde vergewe en my vrygemaak het sodat ek ander in liefde kan dien.  Weerhou my daarvan om hierdie vryheid te misbruik om sonde te doen. Amen.

Liturgie van die Lewe

Vryheid en omgee

 

Wat is die een ding wat jy nou die heel graagste wil doen, maar jy nie mag nie as gevolg van die koronavirus? (Ek sou graag wou gaan hardloop of met my honde gaan stap.) Hoekom dink jy mag jy dit nie doen nie? Omdat ons nie met ’n klomp mense in kontak wil kom, wat dan weer met ander mense in kontak kom, wat dalk mense kan aansteek met hierdie siekte en wat dan weer nog baie ander mense kan siek maak nie. Ons wil graag saamwerk om hierdie siekte te bekamp omdat ons ander mense nie wil seermaak nie.

Jesus het gesterf sodat ons van die sonde vry kan wees. Een verduideliking van wat sonde is, is dat dit alles is wat ons dink, sê en doen wat God, ander mense en ons eie harte seermaak. Ons is vrygemaak om in ’n nuwe verhouding met God, met mekaar en met onsself te leef.

Ons maak in hierdie grendeltyd die opoffering om nie alles te doen wat ons wil doen nie omdat ons vir ander mense omgee. Erken aan mekaar wat julle tans opoffer. Herinner mekaar hoekom ons dit doen. Bid en vra God om julle te help om al julle verhoudings op te pas en te versterk in hierdie baie vreemde tyd. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Is jou hande of voete al speel-speel vasgebind en jy kon nie loskom nie? Later raak dit so erg dat ‘n mens sommer benoud raak, of hoe? Maar gelukkig kan iemand jou dan altyd kom losmaak. Net so het Jesus ons losgemaak van die straf op die sonde. Ons hoef nie meer bang te wees daarvoor nie. Nou kan ons vry leef om op Jesus se liefde te fokus, en nie op die sonde nie.

Hoekom hoef ons nie meer bang te wees vir die straf op die sonde nie?

Ek wonder, beteken dit ons kan nou maar sonde doen? Ons gaan mos nie gestraf word nie. Wat dink jy?

Aktiwiteit

Gebruik ’n rol toiletpapier en bind iemand in hulle huis daarmee vas. Wanneer julle klaar is, tel tot drie en laat die persoon losbreek. Dit help ons om te onthou dat Jesus ons vrygemaak het van die sonde. Tel nou die stukkies geskeurde toiletpapier op en probeer iemand weer met daardie stukkies vasbind. Dit werk nie. Net so kan die sonde ons nie meer vasbind nie. Jesus het ons vrygemaak van die straf op die sonde.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. Wat val jou op? Gesels met die mense in jou huis of met jou vriende oor WhatsApp oor die beeld.

– Dink na oor die 5 tale van die liefde (woorde, dade, geskenke, kwaliteittyd, liggaamlike aanraking). Hoe het mense jou al in liefde gedien?

– Hoe het jy ander al in liefde gedien?

– Skep jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer. 

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

 

Gister se getuienisse:

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.