Dag 30 – Wees lief vir mekaar

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Die beste manier om U lief te hê
is om ander lief te hê
Laat ons U raaksien in almal wat ons ontmoet
En onthou dat U vir ons sondes gesterf het
En vir hulle s’n
Laat ons hulle liefhê
Soos U hulle liefhet
(Stilte)
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Hartjie


Liefdevolle God, U is die bron van ware liefde en van volkome aanvaarding. 

Deur die krag van die Heilige Gees gebruik U ons as instrumente van u liefde in hierdie wêreld. 

Leer ons hoe om fyn ingestel te wees op die nood van elkeen wat ons naaste is: familie, vriende, kennisse en vreemdelinge. 

Mag ons u hande en voete wees wat die liefde uitdeel wat ons van U ontvang. Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik – 1 Johannes 4:12.

As getuies van God is dit ons taak as gelowiges om nie net oor God te praat nie; ons moet God ook vir mense sigbaar maak in hulle lewe. Al het niemand nog ooit vir God gesien soos Hy werklik is nie, raak sy wese sigbaar wanneer ons mekaar opreg liefhet. God is immers liefde en daarom wys ons vir die wêreld wie God is wanneer ons mekaar liefhet.

Ons gesels nou al 30 dae vanuit die Nuwe Testament oor hoe ons ons liefde prakties teenoor mekaar en ander kan uitleef. Ons moet nederig en vergewensgesind wees. Ons moet mekaar dien en aanspoor om vanuit ons geloof te leef. Ons moet mekaar in ag neem. Deur hoe ons bid en sing, aanbid en dien, moet ons vir die gemeenskap waarvan ons deel is, wys wat dit beteken om deur God se liefde aangeraak te wees. Ons moet ander se nood raaksien en verlig.

Uiteindelik is elke liefdesdaad wat ons doen ’n reaksie op wat Jesus vir ons gedoen het. Wanneer ons dade van liefde vir mekaar en ander doen, verheerlik ons sy Naam. Mag ons dit ook saam doen in die tyd wat voorlê.

Vader, dankie vir u liefde. Dankie dat ons u liefde ontvang sodat ons dit met ander kan deel. Gee dat hulle U in ons liefdesdiens sien en ervaar. Amen. 

Liturgie van die Lewe

Wat, sê ons, is liefde?

 

Hoe lyk liefde vir julle? Anders gestel: Wat, sê julle, is liefde? 

Kry ’n vel papier en skryf neer hoe julle liefde sal beskryf. Hier is ’n paar woorde om te help as julle vashaak: onvoorwaardelik, vergewensgesind, genadig, genesend. En hoe kan julle mekaar help om beter lief te hê? Dink julle daar is ’n goeie voorbeeld wat vir ons wys wat liefde werklik is? Jesus het ’n voorbeeld geleef van hoe liefde lyk. Hoe sal julle Jesus se liefde omskryf? Hoe lyk liefde prakties in die wêreld waarin ons leef? Kyk hoe Jesus opgetree het en doen wat Hy gedoen het. 

In Johannes se eerste brief lees ons: “As dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.” Wat beteken dit vir die manier waarop ons in ons huise leef? Liefde is ’n besluit, ’n keuse wat jy maak. Dit is nie net ’n lekker gevoel in jou maag nie, want dit kan jy ook kry as jy te veel sjokolade geëet het.

Kom ons kies om vandag vir mekaar lief te wees en dit met ons dade duidelik te wys. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Ons hoor gereeld dat God in ons harte woon. Dit is eintlik ’n vreemde beeld, want God het nie ’n huisie in ons harte nie. Hoe woon God dan daar? Dis eintlik baie eenvouding. God se liefde is in ons en só is God deel van ons hele lewe. Omdat God deel is van ons hele lewe, moet alles wat ons doen dit wys. Jesus herinner ons dat liefde ’n doen-woord is.

Die afgelope 30 dae het ons oor liefde en omgee gesels. Ek wonder waarom Jesus ons so baie daaraan herinner om mekaar lief te hê en vir mekaar om te gee. Wat dink jy?

Leer 1 Johannes 4:12 saam met bewegings uit jou kop. 

Aktiwiteit

Skryf ’n klomp liefdesdade wat julle in die laaste paar dae van hierdie grendeltyd kan doen op stukkies papier neer. Sit dit alles saam in ’n houer. Haal elke aand een papiertjie uit en doen daardie liefdesdaad die volgende dag vir mekaar.

Versier ’n spieël in julle huis met ’n klomp hartjies. Jy kan die hartjies uit afvalpapier knip of met ’n witbordkoki op die spieël teken. Elke keer as jy in die spieël kyk, kan jy onthou dat God se liefde in jou is.

Verbeel jou ...

– Hoe lyk jou Godsbeeld? Dit wil sê, wie of wat is God vir jou? Vader, Moeder, Vriend, Onderwyser, Gids, Natuur, See … Wat simboliseer God vir jou?

– Hoe lyk God in ander mense?

– Skep jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer.

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.