God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep – Genesis 1:27.
Dit voel vir soveel mense onmoontlik om stadiger te lewe. Hoe gaan ek deur my hele to-do-lysie kom? Hoe gaan ek by al my afsprake uitkom? Daar is net hopeloos te min ure in die dag!
Maar het God nie vir ons 24 uur elke dag gegee juis omdat dit genoeg is nie? God is nie bekend daarvoor om te veel of te min te voorsien nie.
Die wêreld waarin ons leef, het vir ons die duidelike boodskap gegee dat ons net soveel werd is as wat ons kan doen of gee. Dus, hoe meer ons kan doen, hoe meer waarde het ons. Tog is dit glad nie hoe God ons sien nie. Inteendeel, ons waarde het niks met ons te doen nie, maar eerder met die Een wat ons geskep het. Vir God gaan dit oor gehalte en nie hoeveelheid nie.
Een-dag-op-’n-slag-spoed is nie niksdoen-spoed nie. Mense wat vir vandag saam met God leef, is nie noodwendig stadig nie. Nee, hulle het maar net opgehou om haastig te wees. Hulle gejaagdheid het plek gemaak vir rustigheid; hulle bekommerde gesigsuitdrukkings is vervang met vreugde.
Deur ons spoed te verander van al-die-dae-op-een-slag na een-dag-op-’n-slag ontvang ons ’n wonderlike lewe van gehalte. Ons leer om die huidige oomblik te geniet en nie net te werk na die volgende een toe nie. Ons het tyd om God in gewone oomblikke raak te sien en om dag vir dag saam met God te wandel. Ons het tyd om ’n gehalteverhouding met God te hê.
Here, maak my rustig sodat ek ’n lewe van gehalte sal leef, en nie net sal jaag nie. Ek wil dit doen sodat ek U in die gewone kan raaksien. Amen.