Dag 33 – Begin by die regte gister as jy vandag voluit wil leef

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Here, ons het ’n kleurvolle en vol geskiedenis
Maar dit het alles begin by die kruis
Laat ons elke dag die gebeure van die kruis onthou
En laat dit ons rigting gee vir elke dag
Laat dit elke oomblik van ons dag vul
En vir ons ewige vrede gee
(Stilte)
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Papierkroon

Wat beteken dit vir jou om te deel in God se heerlikheid? 

Dink en bid saam oor wat dit beteken om ’n erfgenaam van God en mede-erfgenaam van Christus te wees.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid – Romeine 8:17.

Jesus is die hoogtepunt, die keerpunt, die fokuspunt, die kruispunt van alles wat God gister kant en klaar gedoen het om die wêreld permanent anders te maak. Alles het daar by die kruis en die oop graf nuut geword.

As ons na enige gister wil kyk om besluite te neem vir vandag en môre, is die gister van die kruis die beste een om by te begin.

Baie van ons is slagoffers van slegte gisters en eergisters. Mishandeling, misdaad, trauma, dood – daar is soveel redes om te huil wanneer ons oor ons skouer kyk. Maar die goeie nuus is dat Jesus gister reeds herskryf en ons toekoms heeltemal verander het. Jesus het sy vingerafdrukke op al ons gisters en eergisters afgedruk, en dit het die hele gevoel van hierdie gisters en eergisters verander. Ons geskiedenis begin nie meer by die seer nie, maar by die kruis.

Deur elke dag ons fokus te plaas op die kruis en wat dit vir ons hele lewe beteken, kan ons vandag met meer vryheid en vreugde leef. Dit vat nie die seer en trauma weg nie, maar plaas dit in ’n nuwe perspektief. Een wat ons herinner dat Jesus ons liefhet en dat ons erfgename saam met Christus is. Dit maak alles nuut en gee dit ’n nuwe geur!

Jesus Christus, dankie dat U my aangeraak en my gisters verander het sodat my vandag en my môre ’n nuwe geur kan hê. Amen.

Liturgie van die Lewe

Was jou hande van gister om môre gesond te wees

Ons hande word vuil van die lewe. Of dit nou van handearbeid of die moontlikheid van kieme is wat ons en die mense rondom ons kan siek maak, dit is nodig dat ons ons hande gereeld sal was. Daar is in hierdie tyd van COVID-19 baie klem op hierdie belangrike gewoonte geplaas. Om die beste kans te staan om die virus se verspreiding te bekamp, is die voorstel gemaak dat ons ’n bekende liedjie soos “Happy birthday” sing terwyl ons ons hande was, om so seker te maak ons was ons hande minstens 20 sekondes lank.

Ek wil hierdie voorstel so effens aanpas. Pleks van “Happy birthday” sing, kan ons die Ons Vader-gebed opsê terwyl ons ons hande was. God, ons Vader. Wat is, wat was en wat kom.

In ons alledaagse lewe versamel ons bagasie, dinge wat ons saam met ons dra, dinge wat ’n klad op ons laat of ’n vlek wat wys waar ons seergekry het, of seergemaak het. God kan hierdie seer en stukkend afwas, want Hy was getrou en Hy bly getrou. Wanneer jy vandag jou hande was, sê die Ons Vader hardop terwyl jy dit doen, en was jou hande skoon van alles wat dit in die verlede vuil gemaak het sodat jy vandag en môre gesond kan wees.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Om iets by iemand te erf is baie spesiaal. Wanneer jy iets erf, beteken dit die persoon wat vir jou iets wou gee of agterlaat, het spesiaal aan jou gedink. Gewoonlik is daar ’n lys wat aandui wie wat erf en die mense op daardie lys word erfgename genoem. God het ons, sy kinders, so lief, dat God ons elkeen ’n erfgenaam gemaak het. En wat het ons geërf? God het aan ons sy koninkryk gegee.

– Het jy al iets by iemand geërf? 
– Wat beteken dit om ’n erfgenaam te wees?
– Hoekom dink jy is ons God se erfgename?

Aktiwiteit

Vra vir iemand in jou huis om vir jou iets te wys wat hulle geërf het en vir jou die storie daarvan te vertel.

Maak vir jouself ’n kroon uit afvalpapier. Versier dit mooi en skryf die volgende woorde daarop: “Ek is God se erfgenaam.”

Verbeel jou ...

– Dink aan die gebeure aan die kruis. Watter simbole behalwe die kruis kom in jou gedagtes op? Miskien ’n duif, ’n olyftakkie, die ichtus-teken, die voorhangsel wat skeur. Gee jou verbeelding vrye teuels.

– Hoe help hierdie simbool om aan jou dag (en selfs jou lewe) betekenis te gee?

– Illustreer jou ideale dag of tyd saam met God deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer. 

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.