Dag 34 – God skep mense-tyd een dag op ’n slag

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Here, neem my hand en lei my na kronkelpaaie
Laat ek die klippies langs die pad optel en voel
Verskillende vorms, kleure en teksture
Rig my oë op die gras – verganklik maar onvergeetlik
Spits my ore vir die sagte geluid van die wind wat waai
Vul my longe met vars lug
(Stilte)
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Foto van die natuur of selfs van julle tuin

Dink saam oor hoe julle mekaar in hierdie grendeltyd meer bewus kan maak van God se skepping en die wonderwerke wat deel vorm daarvan, wonders wat ons so maklik miskyk. 

Sê vir God dankie vir sy handewerk.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword – 2 Korintiërs 5:17.

Genesis se skeppingsverhale vertel van God se kreatiewe ritme, van sy skeppingspoed. Teen die tempo van een dag op ’n slag het God sy skepping mooi gemaak, geverf, geskilder, beskryf, gevorm en besing.

God is ’n hemelse Kunstenaar wat ses dae lank een dag op ’n slag geskep het. En hoe wonderlik – aan die einde van elke dag het God agteroor gaan sit, na sy wonderlike skepping gekyk en dit geniet. Die groot wonderwerk van die skeppingsverhale is dat God jubel en juig oor sy handewerk, en dit uiteindelik saam met die mens geniet.

God kan ons help om die klein meesterwerke in ons daaglikse lewe raak te sien en ons te help om dit ook te geniet. En hoe wonderlik dat God dit saam met ons geniet! Daar is nie ’n gejaagdheid hieraan gebonde nie; God nooi ons uit om dag vir dag te leef en elke dag ten volle te leef en geniet.

Dit beteken nie ons is lui of met min tevrede nie. Inteendeel, dit gee vir ons die geleentheid om die ongelooflike in die alledaagse raak te sien. Ons kry die geleentheid om regte wonderwerke weer te sien.

Skepper-God, ek jubel en juig saam met U oor die wonder van u skepping. En ek dank U dat U my geskep en herskep het. Amen.

Liturgie van die Lewe

Onthou om jou bed op te maak

 

“Watse dag is dit vandag?” vra ek of my vrou minstens drie keer per dag vir mekaar. Datums is nou baie minder belangrik as wat dit in die voormalige wêreld sou gewees het. Ek het in ’n paar gesprekke hierdie week by mense gehoor dat hulle nou swaar begin trek. Mense hunker na die bekende en ’n meer normale roetine of ritme. Vir sommige mense het hierdie aftelkalender gehelp met roetine in hierdie deurmekaar tyd.

Die formaat van die liturgiese gedagtes vir die lewe gaan egter ’n bietjie verander na volgende week toe. Die idee agter hierdie woorde was om vir mense oomblikke in die dag te gee om vir God in die alledaagse-gewone te beleef. Om nuwe betekenis te heg aan dit wat jy in elk geval sou of moet doen. Daar lê nog ’n lang pad voor voordat ons na ’n “nuwe normaal” sal kan beweeg met ons kinders wat skool toe gaan en kantore wat werknemers terugverwelkom. In die tussentyd moet ons aanhou leef en besef dat hierdie dae, elkeen van hulle, ’n gawe uit God se hand is.

Aan die begin van die grendeltyd het ons die voorstel gemaak dat jy jou bed opmaak. Ons wil jou herinner aan hierdie handeling en jou nooi om te onthou om elke oggend wanneer jy jou bed opmaak, die woorde van Genesis 1:1 te onthou en te bid: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar …” God skep iets uit die niks en maak lewe moontlik. Terwyl jy jou bed opmaak, kan jy vir God vra om jou te help om uit die chaos van hierdie dag en jou gemoed nuwe lewe moontlik te maak.

Sterkte vir jou dag.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

In Genesis lees ons hoe God die aarde geskep het. Van die kleinste mier tot die grootste walvis. Ons lees dat God alles goed gemaak het. ’n Meesterstuk. Tog het God nie daar opgehou nie. Net soos God vir ons elke dag ’n nuwe begin gee om sy skepping te waardeer en Hom te loof en te prys, net so gee God vir ons elke dag ’n nuwe kans om van voor te begin en die slegte dinge wat ons gedoen het, agter ons te laat.

– Wat is jou gunsteling-dinge in die natuur?

– Waarvoor wil jy God vandag loof en prys?

Aktiwiteit

Gaan buitentoe of staan en luister by ’n venster. Hoeveel natuurgeluide kan jy hoor?

Maak ’n kunswerk uit natuurelemente soos blare, stokkies, klippe en sand.

Verbeel jou ...

– Dink na oor elke dag in die skeppingsverhaal. Sou jy die dinge wat God geskep het in ’n ander volgorde wou rangskik? Indien wel, hoe? Sou jy enigiets uit die skepping weglaat?

– Beeld die alledaagse dinge van die skepping (soos gras, blare, visse, miere, voëls) uit, maar as die sentrale tema van jou uitbeelding. Beeld dit uit in enige kunsvorm: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer. 

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

 

Gister se getuienisse:

Baie dankie vir hierdie daaglikse inspirasie. Ek lees dit oggend en aand en luister selfs die slaaptydstorie asof ek weer ’n kind is. Sondae luister ons stiptelik om agtuur na die preek, en daarna werk ek nog ’n stukkie van die afsonderingskalender in. Net vir in geval ek dalk iets gemis het en vir ekstra krag en motivering in hierdie moeilike tyd. Ek verlang na die kerk, maar dankie hiervoor.
– Belinda Coetzee

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.