Dag 36 – Wat dan van môre?

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit? Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Skoen

Gebed

Here ons God, ons is reeds ’n hele paar weke bewus daarvan dat ons vryheid van beweging beperk is, en dat ons slegs vir noodsaaklikhede en onder streng omstandighede buite ons tuistes mag wees. Help ons onthou dat ’n beperking op liggaamlike beweging nie beteken ons is beperk in ons dissipelskap nie. Wys vir ons hoe en waar ons steeds kan wandel met die evangelie – die Goeie Nuus vir alle mense.

 Ons bid vir elkeen wat in hierdie tyd noodsaaklike dienste verrig, en vir elke persoon wat die geleentheid het om te kan werk. Ons bid vir elke individu en elke familie wat geraak word deur werkloosheid en ’n verlies aan inkomste. Ons bid vir almal wat onseker voel en bang is oor wat die toekoms inhou.

 Ons bid vir president Cyril Ramaphosa, vir alle ministers en vir regeringsleiers wat moet voor stap in hierdie tyd. Mag U vir hulle krag gee om onder geweldige druk goeie en deurdagte besluite te neem. Seën hulle families en geliefdes wat hulle ondersteun.

 Dankie dat U nie van ons vergeet nie. Dankie dat U ons aanhou troos en bemoedig. Dankie dat U uit chaos en onsekerheid hoop kan skep. 

 Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd – Spreuke 6:6-8.

Beteken al hierdie gepraat oor die belangrikheid van vandag dat ek glad nie met my oog op môre mag leef nie? Moet ek ophou beplan vir die toekoms? Moet ek onverantwoordelik raak met my geld en al my annuïteite kanselleer? Hoegenaamd nie. Natuurlik moet ek vir die dag van môre beplan. Ek moet dit ook verantwoordelik en goed doen.

Die Spreukeboek roep ons op om by die miere te gaan leer. Hulle werk hard en spaar reeds in die somer kos op vir die koue wintermaande. Nee, jy durf nie die toekoms ignoreer nie. Jy moet ’n deel van jou geld vir die wintermaande wegbêre. Jy moet dié naby aan jou se belange op die hart dra in jou finansiële beplanning. Die toekoms lê immers nog voor, as God wil.

Daar is egter meer as genoeg goeie, verantwoordelike stemme rondom jou wat jou op die regte maniere na die toekoms toe kan begelei. Ongelukkig is daar veels te min stemme wat jou terugruk na die werklikhede van vandag toe.

Helaas, vandag is die enigste tydsone waarin jy die volgende 24 uur van jou lewe gaan deurbring. Moenie dat dit deur jou vingers val nie. Koester dit en beleef dit voordat jy jou visier op môre instel.

Ewige Here, help my om vir môre te voorsien sonder om van vandag te steel sodat ek u geskenk van die hede ten volle kan beleef. Amen.

Geloofsvrae

Ons hoop hierdie vrae en antwoorde oor geloof en die lewe help jou op jou geloofspad vorentoe.

Wat is die verskil tussen optimisme en hoop?

Sommige mense is van nature optimisties. Vir hulle is die spreekwoordelike glas altyd halfvol. Ander is meer skepties en geneig tot ’n meer pessimistiese uitkyk op die lewe. Populêre denke moedig ons aan om meer positief te wees en positief te leef. Sulke positiewe denke kan maklik met hoop verwar word. Volgens hierdie denkwyse is optimisme en hoop dieselfde ding. Dis egter nie waar nie.

In sy boek To Heal a Fractured World: The Ethics of Responsibility skryf Jonathan Sacks dat optimiste glo die wêreld word ’n beter plek. Maar dat hoopvolle mense glo hulle kan saam met ander die wêreld ’n beter plek maak.

Mense wat onlangs hulle werk verloor het en nie baie optimisties is oor die moontlikheid van werk in die nabye toekoms nie, kan steeds met hoop leef. Hoop kry vatplek aan jou binneste, ten spyte van die slegte situasie waarin jy jou bevind. Hoop hou vas aan iets groters, diepers en baie ouer. Of, beter gesê, hoop hou vas aan Iemand groter, dieper en baie ouer. Hoop sien die onsigbare teenwoordigheid van die troue God in die slegte situasie raak.

Hoop draai nie doekies om nie. Hoop gooi nie ’n “goed-voel-sousie” oor ’n stukkende storie nie. Dis wat mense dikwels doen deur positief te probeer bly te midde van slegte omstandighede. Hoop wens niks weg nie, en dis waarom hoop vereis dat jy moed hou. Om te hoop, is om die gebrokenheid van die wêreld in die oë te kyk, moue op te rol en met die heelmaakwerk te begin.

Hoop kyk ook ver verby die heelmaak van hierdie lewe, en daarom kan iemand wat op sterwe lê ’n hoopvolle mens wees. Op daardie oomblik sal optimisme steeds soek en bid vir ’n wonderkuur, terwyl pessimisme sal sê die skrif is aan die muur. Hoop sal hierop antwoord: “My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek aan Jesus Christus behoort.”

– Fourie Rossouw

Liturgie van die Lewe

Maak jou kas skoon!

 

Hoekom? Eerstens is dit ’n teken van dankbaarheid vir die oorvloed wat jy ontvang het. Tweedens, om dan vanuit jou oorvloed te deel en ander mense wat in hierdie tyd baie minder het, te help. En, laastens, om te besef dat jy jou lewe kan vereenvoudig. Soos Elizabeth Ann Seton gesê het: “Live simply so that others may simply live.”

Hoe? Begin by jou klerekas. Kyk na alles wat jy het en kies 10 goeie, bruikbare items wat jy self nog gebruik, maar nie meer so gereeld gebruik nie of nie nodig het nie. Skenk dit vir ’n welsynprojek. As jy klaar deur jou klerekas gegaan het, gaan kyk na jou ander kaste. Is daar alledaagse gebruiksartikels wat jy vir ander mense kan gee, goed wat dalk nie in hierdie tyd vir hulle bekostigbaar gaan wees nie? In ons gemeenskap gaan ons al die items wat geskenk word, beskikbaar stel teen ’n donasie van R20 per item. Iets het meer waarde wanneer jy ’n bydrae daarvoor lewer. Ons wil dit wel so bekostigbaar moontlik maak.

Wat wil ons bereik? Ons wil mense help om goeie, bruikbare items teen ’n bekostigbare donasie te kry, terwyl ons self tot ’n dieper besef kom van hoe geseënd ons is. Ons wil die groter gemeenskap betrek deur samewerking tussen die gemeentes, besighede en die plaaslike owerheid te bevorder.

Kyk gerus hierdie video, en pak hierdie week die kaste in jou huis reg.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

God herinner ons telkens in die Bybel dat ons voluit vir vandag moet leef, en tog herinner God ons ook daaraan dat ons nie van die toekoms moet vergeet nie. Ons hoef egter nie bekommerd te wees oor die toekoms nie; daarom kan ons voluit vir vandag leef met die wete: Daar is ook nog ’n môre.

– Noem een ding wat jy vandag gedoen het wat vir jou baie lekker was.

– Waarna sien jy uit om in die toekoms te doen?

Aktiwiteit

 
– Gaan soek ’n paar miere in julle tuin of huis. Hou hulle ’n rukkie dop. Wat doen hulle alles?

– Kry drie houers wat min of meer dieselfde lyk sodat jy drie spaarbussies daarvan kan maak. Versier die drie spaarbussies vrolik en merk elkeen met een van hierdie woorde: SPAAR, SPANDEER en OFFERGAWE. Wanneer jy nou ’n geldjie kry, verdeel dit tussen jou drie spaarbussies. Jou spandeer-bussie se geld is om nou uit te gee. Jou spaar-bussie se geld is vir die toekoms. Jou offergawe-bussie se geld kan jy vir die kerk gaan gee.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 
– Watter kleure val jou op, en hoekom? 
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.