Dag

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit? Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Skoen

Gebed

Here ons God, ons is reeds ’n hele paar weke bewus daarvan dat ons vryheid van beweging beperk is, en dat ons slegs vir noodsaaklikhede en onder streng omstandighede buite ons tuistes mag wees. Help ons onthou dat ’n beperking op liggaamlike beweging nie beteken ons is beperk in ons dissipelskap nie. Wys vir ons hoe en waar ons steeds kan wandel met die evangelie – die Goeie Nuus vir alle mense.

 Ons bid vir elkeen wat in hierdie tyd noodsaaklike dienste verrig, en vir elke persoon wat die geleentheid het om te kan werk. Ons bid vir elke individu en elke familie wat geraak word deur werkloosheid en ’n verlies aan inkomste. Ons bid vir almal wat onseker voel en bang is oor wat die toekoms inhou.

 Ons bid vir president Cyril Ramaphosa, vir alle ministers en vir regeringsleiers wat moet voor stap in hierdie tyd. Mag U vir hulle krag gee om onder geweldige druk goeie en deurdagte besluite te neem. Seën hulle families en geliefdes wat hulle ondersteun.

 Dankie dat U nie van ons vergeet nie. Dankie dat U ons aanhou troos en bemoedig. Dankie dat U uit chaos en onsekerheid hoop kan skep. 

 Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot – Klaagliedere 3:21-23.

Klaagliedere is ’n Bybelboek propvol klagtes. Dit is geskryf kort nadat ’n klompie ballinge teruggekeer het na die puin van Jerusalem wat in die jaar 586 vC deur die Babiloniërs verwoes is. Hierdie boek verwoord die terugkerende ballinge se skok en afgryse oor die vernietiging en hooploosheid wat hulle daar in Jerusalem inwag.

God se ongelukkigheid oor Jerusalem se oortredings word gereeld in Klaagliedere beskryf. In desperaatheid het Hy sy eens geliefde stad weggestoot en in die donkerte alleen gelaat. Die skrywer van Klaagliedere weet dat bekering die enigste manier is om die brug Godwaarts te herstel (3:39-42). En tussendeur, terwyl hy sy mense se pyn verwoord, breek ’n helder ligstraal tog in 3:21-38 deur.

Ten spyte van al die vernedering en mishandeling wat die mense van Jerusalem deurgemaak het, hulle nogtans nie vergaan het nie. Dit alles is net aan die liefde van die Here te danke. Daarom kan die skrywer steeds bly hoop, want te midde van al die onreg van hierdie lewe word God se liefde telkens weer sigbaar. God se ontferming hou nooit op nie.

God sien raak as sy kinders voor Hom neerbuig en hulle verootmoedig (3:29). God sien stukkende harte altyd raak. Klaagliedere 3:21-23 is hemelse musiek te midde van haglike omstandighede! Dit beteken net een ding: God sing weer vir sy swaarkry-kinders. Soos God gesing het toe Hy geskep het, sing God nou wanneer Hy sy mense nuut maak. God deel sagte salf uit. Hy droog seerkrytrane met genesende woorde af. God se trou is elke oggend nuut. Hy begin elke dag van voor af. Ook op geestelike vlak. God maak ons daagliks splinternuut.

Hemelse Vader, help my om te midde van donker omstandighede steeds u ligstrale raak te sien. Dankie dat U my elke dag nuut maak en dat daar geen einde aan u ontferming is nie. Amen.

Geloofsvrae

Hoe gemaak as jy net nagmerries droom?

“Ek droom darem nog … Maar dis oor die algemeen net ’n spul nagmerries.” Só sê iemand hier in die koronatyd. Dalk voel ons almal so.

Op verskillende maniere ly ons almal groot verliese in hierdie dae. Ons gesondheid, ons inkomste, ons drome vir die toekoms, ons fisiese kontak met mekaar – dis alles onder groot druk. Hoe droom ’n mens nog goeie drome in so ’n tyd?

Daar is maar een raad: Skuif jou kop doelbewus in die regte koers. Jy laat nie toe dat jou denke verstrengel raak in al die goor “wat asse” nie. Jy bou nie gedurig hooplose scenario’s oor die toekoms en leef dit dan uit in jou gedagtes nie. Ook leen jy nie jou ore uit aan elke stukkie ellendige nuus nie. Dit alles gaan tot gevolg hê dat jy spoedig ’n nagmerrie-dromer word.

Hoe bly jou kop oop en gesond in hierdie dae? Hier is praktiese raad uit die Bybel:

Volg 2 Korintiërs 10:4-5 se pad deur onwelkome gedagtes dadelik hok te slaan. Negatiewe, donker gedagtes steel die hoop wat in jou hart leef. Al wat jy met sulke gedagtes kan doen, is om dit alle toegang tot jou kop te verbied.

Doen Kolossense 3:2 deur jou blik gedurig te verskuif. Leer ’n “geloof-kyk” aan. Rig jou oog op Christus. Doen dit doelbewus. Maak ’n daaglikse kopskuif en ’n lewenskuif na die Here toe. Só wen vars, nuwe lewe ook in jou lewe.

Om jou gedagtes elke dag Godwaarts te verskuif, is om jou lewe te leef op die maat van ander musiek, hemelse musiek. Dit het tot gevolg dat nuwe drome vanself in jou hart begin vorm aanneem.

Jy sien dan opnuut die Heer se goedheid in en om jou raak. Jy kry ’n hele klomp nuwe redes om met hoop te leef. Jy sien hoop waar ander hooploos-blind is. Jy hoor die Woord van die Here waar almal kleingelowig-doof is. Jy beleef nuwe lewe waar almal muwwerig op die maat van bitterheid voortstrompel.

Jy begin om die hemele óóp te sien, presies soos Jesus in Johannes 1 beloof het met sy dissipels sal gebeur.

Kortom: Skuif jou kop, dan skuif jou drome en die res van jou lewe agterna.

– Stephan Joubert

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Maak jou kas skoon!

 

Hoekom? Eerstens is dit ’n teken van dankbaarheid vir die oorvloed wat jy ontvang het. Tweedens, om dan vanuit jou oorvloed te deel en ander mense wat in hierdie tyd baie minder het, te help. En, laastens, om te besef dat jy jou lewe kan vereenvoudig. Soos Elizabeth Ann Seton gesê het: “Live simply so that others may simply live.”

Hoe? Begin by jou klerekas. Kyk na alles wat jy het en kies 10 goeie, bruikbare items wat jy self nog gebruik, maar nie meer so gereeld gebruik nie of nie nodig het nie. Skenk dit vir ’n welsynprojek. As jy klaar deur jou klerekas gegaan het, gaan kyk na jou ander kaste. Is daar alledaagse gebruiksartikels wat jy vir ander mense kan gee, goed wat dalk nie in hierdie tyd vir hulle bekostigbaar gaan wees nie? In ons gemeenskap gaan ons al die items wat geskenk word, beskikbaar stel teen ’n donasie van R20 per item. Iets het meer waarde wanneer jy ’n bydrae daarvoor lewer. Ons wil dit wel so bekostigbaar moontlik maak.

Wat wil ons bereik? Ons wil mense help om goeie, bruikbare items teen ’n bekostigbare donasie te kry, terwyl ons self tot ’n dieper besef kom van hoe geseënd ons is. Ons wil die groter gemeenskap betrek deur samewerking tussen die gemeentes, besighede en die plaaslike owerheid te bevorder. 

Kyk gerus hierdie video, en pak hierdie week die kaste in jou huis reg.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Mense hou daarvan om dinge te meet, partykeer om te weet hoe lank of hoe groot iets is, en ander kere om te probeer uitvind hoe lank dit gaan duur. Soms hou ons daarvan om dinge te kies wat die grootste is, soos ’n stukkie sjokoladekoek. Ander kere wil ons die kleinste opsie kies, soos wanneer ons take in die huis moet doen. So meet ons eintlik die hele dag lank verskillende dinge, al besef ons nie altyd nie. 

Een ding wat ons nooit hoef te meet nie, is hoe lief God ons het. God het ons oneindig lief. Sy liefde vir ons sal nooit ophou nie, maak nie saak wat ons doen nie.

– Wat beteken die woord oneindig?

– Hoe sal jy vir iemand verduidelik dat God ons oneindig liefhet?

Aktiwiteit

– Kry ’n paar dinge waarmee jy voorwerpe kan meet, soos ’n liniaal, ’n maatband, ’n horlosie of ’n koppie wat milliliters kan afmeet. Meet dan ’n paar dinge, soos hoe groot almal in die huis se voete is, of hoeveel melk jy oor jou pap gooi, of hoe lank jy jou asem kan ophou. Wat kan jy nog meet? God het ons meer en langer lief as al hierdie mates bymekaargetel. 

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie

Kyk na hierdie week se illustrasie. Wat val jou op? Gesels met die mense in jou huis of met jou vriende oor WhatsApp oor die beeld.

– Let op na die dinge wat jy raaksien, maar ook na die dinge wat nie in die prentjie teenwoordig is nie en wat jy graag sou wou bysit. Wat is daardie dinge? 

– Hoe skakel hierdie illustrasie in by vandag se teks, en hoe nie? 

– Skep jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer.

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies 

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.