Dag 39 – Tweede kanse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Skoen

 

Gebed

Here ons God, ons is reeds ’n hele paar weke bewus daarvan dat ons vryheid van beweging beperk is, en dat ons slegs vir noodsaaklikhede en onder streng omstandighede buite ons tuistes mag wees. Help ons onthou dat ’n beperking op liggaamlike beweging nie beteken ons is beperk in ons dissipelskap nie. Wys vir ons hoe en waar ons steeds kan wandel met die evangelie – die Goeie Nuus vir alle mense.

 Ons bid vir elkeen wat in hierdie tyd noodsaaklike dienste verrig, en vir elke persoon wat die geleentheid het om te kan werk. Ons bid vir elke individu en elke familie wat geraak word deur werkloosheid en ’n verlies aan inkomste. Ons bid vir almal wat onseker voel en bang is oor wat die toekoms inhou.

 Ons bid vir president Cyril Ramaphosa, vir alle ministers en vir regeringsleiers wat moet voor stap in hierdie tyd. Mag U vir hulle krag gee om onder geweldige druk goeie en deurdagte besluite te neem. Seën hulle families en geliefdes wat hulle ondersteun.

 Dankie dat U nie van ons vergeet nie. Dankie dat U ons aanhou troos en bemoedig. Dankie dat U uit chaos en onsekerheid hoop kan skep. 

 Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: ‘Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap’” – Lukas 13:6-9.

Die Here begin elke dag nuut. Hy hou nie gister en eergister se mislukkings teen ons nie. Hy vee dit uit, vergeet dit, verwyder dit permanent uit die hemelse registers. Só is God, vergeetagtig wanneer dit by sy kinders se foute kom. Ons moet dit net aan sy voete neersit en dit daar los.

En dan moet ons ons tweede kans uit God se hande aanvaar. Ons kán verander, nie uit eie krag nie, maar omdat God self ons verander. En Hy doen dit een dag op ’n slag. Vandag is daarom ’n uiters belangrike dag in God se hernuwingsprogram.

Die gelykenis van die vyeboom leer ons dat ons nie vanself kan vrug dra nie. Maar die vyeboom, óns, kan wel sorg dat ons op die regte plek staan – in die wingerd! Daar in die wingerd is ’n hemelse Tuinier, Jesus Christus. Hy spesialiseer in onvrugbare vyebome. Hy dra hemelse bemesting en water aan vir elke onvrugbare boompie in sy wingerd wat ’n seisoen van grasie van die hemelse Eienaar ontvang het.

Wees dan vandag daar in die wingerd. Dan word elke ontmoeting, elke wagtyd, elke “toevalligheid”, elke mens wat jou pad kruis ’n hemelse geleentheid. Moenie die hemelse wingerd vandag misloop nie. Moenie vandag se tweede kans misloop omdat jy op die verkeerde plek is nie. Vandag is die dag om op die maat van hemelse musiek te begin dans.

Dankie, Vader, dat U die God van tweede kanse is. Ek weet dat ek nie uit eie krag kan verander nie, maar net deur u krag. Help my om in die wingerd te bly onder die sorg van die hemelse Tuinier, Jesus Christus. Amen.

Geloofsvrae

Ek het nou die ouderdom bereik waar ek volgens my planne en drome reeds sekere mylpale moes bereik het. Maar ek het nie. Boonop voel dit asof almal om my is waar hulle wou wees. Ek moet veg teen moed opgee, teen die gevoel dat ek my gesin en myself teleurstel. Hoe staan ek weer op?

 

Dit is waar dat die meeste jongmense met sterre in die oë groot planne vir die toekoms beraam. Sommige stel selfs vyf- of tien- of twintigjaarplanne saam. Daar is dié vir wie hierdie planne haarfyn uitwerk. Maar vir baie – dalk die meeste – is dit nie beskore nie.

Hier is ’n klompie dinge om te oorweeg wanneer jy op jou pad terugkyk. Dalk sorg dit vir nuwe perspektief vir die pad vorentoe:

Waaraan meet jy sukses? Indien jou mikpunte of mylpale materialisties van aard is – ’n droomhuis; die bopunt van die korporatiewe leer; die aantal grade wat jy verwerf het; watter motor jy het – kan jy weet dat daar niks hiermee verkeerd is nie. Mits jy terselfdertyd perspektief behou en seëninge soos goeie gesondheid, gekoesterde familiebande en kosbare vriendskappe ook hierby inreken. Laasgenoemde is onvervangbaar. Ons meet dikwels sukses verkeerdelik aan wat ons met ons oë kan sien. (Gaan lees gerus Jesus se perspektief in Matt 6:33.)

Dis menslik om raak te sien wat jou vriende in die lewe bereik, en om jou dan met hulle te vergelyk. Om opreg bly te wees wanneer ander sukses behaal, is een van die groot sleutels om sukses in jou eie lewe te herken. Vier jou vriende se mylpale, en onthou dat almal se lewenseisoene van mekaar verskil. (Lees Paulus se woorde in Fil 2:4.)

God het ’n spesiale plan vir jou lewe. Wanneer ons sy aangesig soek en sy plan vir ons lewe begin nastreef, begin al die legkaartstukkies inmekaarpas. Luister wat die Heilige Gees vir jou sê. (Lees Jes 30:21 en Jer 33:3.)

Ouer word hoef jou nie te kwel nie. Gaan kyk gerus weer hoeveel Bybelse helde eers op ’n rype ouderdom sukses gesmaak het. As jy boonop ’n bietjie wyer gaan lees, sal jy verras wees met hoeveel bekende mense eers ná vyftig hul potensiaal verwesenlik het. Dan boonop ná vele mislukkings.

– Halrika Breytenbach

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Maak jou kas skoon!

 

Hoekom? Eerstens is dit ’n teken van dankbaarheid vir die oorvloed wat jy ontvang het. Tweedens, om dan vanuit jou oorvloed te deel en ander mense wat in hierdie tyd baie minder het, te help. En, laastens, om te besef dat jy jou lewe kan vereenvoudig. Soos Elizabeth Ann Seton gesê het: “Live simply so that others may simply live.”

Hoe? Begin by jou klerekas. Kyk na alles wat jy het en kies 10 goeie, bruikbare items wat jy self nog gebruik, maar nie meer so gereeld gebruik nie of nie nodig het nie. Skenk dit vir ’n welsynprojek. As jy klaar deur jou klerekas gegaan het, gaan kyk na jou ander kaste. Is daar alledaagse gebruiksartikels wat jy vir ander mense kan gee, goed wat dalk nie in hierdie tyd vir hulle bekostigbaar gaan wees nie? In ons gemeenskap gaan ons al die items wat geskenk word, beskikbaar stel teen ’n donasie van R20 per item. Iets het meer waarde wanneer jy ’n bydrae daarvoor lewer. Ons wil dit wel so bekostigbaar moontlik maak.

Wat wil ons bereik? Ons wil mense help om goeie, bruikbare items teen ’n bekostigbare donasie te kry, terwyl ons self tot ’n dieper besef kom van hoe geseënd ons is. Ons wil die groter gemeenskap betrek deur samewerking tussen die gemeentes, besighede en die plaaslike owerheid te bevorder.

Kyk gerus hierdie video, en pak hierdie week die kaste in jou huis reg.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Soms wens ’n mens jy kan iets oor doen, of beter doen, ’n tweede kans kry. Ongelukkig gebeur dit baie selde in die lewe dat jy iets oor kan doen. Gelukkig werk God nie so nie. God hou die dinge wat ons in die verlede gedoen het nie teen ons nie. God gee vir ons soveel kanse soos wat ons nodig het om iets reg te kry. Ons hoef net aan te hou probeer.

– Vertel ’n storie van ’n keer toe jy gewens het jy kon ’n tweede kans kry.

– Hoekom dink jy gee God vir ons die kans om weer en weer te probeer totdat ons iets regkry?

Aktiwiteit

 

Probeer vandag iets uitdagend doen wat jy nog altyd wou doen, maar nog nooit kon regkry nie, soos om te hoelahoep of ’n bottel met water in te “flip” totdat dit regop land.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 
– Watter kleure val jou op, en hoekom? 
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.