Dag 4

Dag 4 – Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Ons bring nederig voor U die kwesbaarstes, die siekes en die eensames.
Ons bring nederig voor U almal in die gesondheidsdienste.
Ons bring nederig voor U die mediese navorsers, veral dié wat werk aan ’n teenmiddel vir hierdie virus.
Ons bring nederig voor U almal wat verantwoordelik is vir ons daaglikse behoeftes.
Ons bring nederig voor U ook onsself. 
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen.

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Pen

 

Ons bid vir onderwysers en dosente wat beplanning doen vir die res van die jaar. Ons sê dankie vir so baie mense in ons land wat wil aanhou om studente te onderrig op die heel beste moontlike manier, ten spyte van die uitdagings.

handwriting

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld  Romeine 12:9-10.
Alles wat waardevol is, kan vervals word. Ook die liefde. Daarom versoek Paulus die gelowiges in Rome dat hulle liefde vir mekaar opreg moet wees. Hulle liefde mag letterlik nie hipokrities wees nie. ’n Hipokritos was ’n Griekse akteur wat ’n masker gedra het om sy ware identiteit te verberg terwyl hy toneel gespeel het.  Ons liefde vir mekaar mag nie net toneelspel wees nie. Ons liefde vir mekaar moet eg wees. Volgens die woorde wat Paulus in vers 10 gebruik, moet ons liefde ’n familie-liefde wees. Dit moet wees soos die liefde tussen broers en susters, en tussen ouers en hulle kinders. Die Nuwe Lewende Vertaling vertaal dit soos volg: “As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester.”  Vir Paulus is die liefde wat daar tussen familielede is, tussen mense wat werklik vir mekaar omgee, egte liefde. Dit is ’n liefde sonder eiebelang of afguns. ’n Ouer is immers nie jaloers op sy of haar kind se sukses nie, maar eerder trots daarop.  In die kerk, ons geloofsfamilie, word ons liefde vir mekaar sigbaar wanneer ons aan mekaar eerbied betoon en wanneer ons doen wat reg is. 
Here, help my om ander mense altyd te respekteer en om opregte liefde aan hulle te betoon. Dankie vir my geloofsfamilie wat my deur hulle liefde koester. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Vat en los

“Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld”. – Romeine 12:9-10

Die skole moes môre weer begin! Maar nou is ons eers by dag vier van 21 dae van tuis bly… Dit is maklik om aan alles te dink wat ons in hierdie tyd verloor het. Ons kan dink aan alles wat nou al moes gebeur het by die skool. Aan al die sport geleenthede wat afgestel is, dalk aan ’n verjaarsdagpartytjie wat jy nie meer kon hou nie. Daar is selfs mense wat hulle troues moes uitstel! Dit maklik om te dink aan alles wat ons verloor het, maar dalk kan ons dink aan al die goeie dinge wat uit hierdie tyd duidelik geword en wat God vir ons as ’n gawe gegee het! Sit saam met die mense in jou huis en maak twee kolomme. Skryf aan die bo-kant van die een: Laat los en skryf bo die ander: Hou vas!

In hierdie tyd is daar goed wat ons verloor en wat ons hartseer maak. Sê vir mekaar wat het jou hartseer gemaak?. Erken teenoor mekaar wanneer julle mekaar seergemaak het (Ons het gister daaroor gepraat dat ons mekaar moet vergewe). Ons erken hierdie geleenthede en dinge wat ons in hierdie tyd verloor het. As ons nou begin met die tweede kolom dan kan ons vir mekaar sê: Wat het ons in hierdie tyd bygekry? Wat het jy van jouself en van familie geleer? Wat was vir jou positief en is jy dankbaar voor?

Gaan haal jou werktas/skoolsak. Maak dit skoon van die ou papiere en gemorsies wat jy dalk al van vergeet het. As jou tas al klaar skoon is, kry papiere of briewe wat nie meer van toepassing is nadat ons lewens so baie verander het nie. Soos jy dit uithaal/optel en dit opfrommel, kan ons vir God vra om te laat gaan en nie aan dit vas te hou wat sleg is nie. Dink dan aan iets waaraan jy wil vashou wat in hierdie kwarantyn tyd gebeur het. Ons gesin het gister ’n klein groetetuintjie gemaak. Ons het ’n foto geneem van hoe ons saam in die tuin gewerk het. Ek gaan die foto print en dit in my werksak sit, sodat wanneer ek weer werk toe gaan en kan dink aan al die ekstra tyd wat ek saam met my huis mense kon spandeer.

 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! 21 Dae van afsondering. 21 Dae waar ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net uitgaan vir die nodigtste dinge soos kos of mediese behandeling. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die daaglikse dinge wat normaalweg gebeur soos skool, sport of eredienste toe gaan, gebeur mos nou nie meer nie, en dit kan mens deurmekaar maak en sommer ook net verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies is hier om ons te help om steeds elke dag tyd saam met Jesus te spandeer op ’n kreatiewe en lekker manier. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huishouding. Vra een van die volwassenes in die huis om sommer elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel, sodat almal dit saam met jou kan geniet en te merk met ’n #afsonderingskalender

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld – Romeine 12:9-10.

 Hoe baiekeer het jy al vir iemand gesê: “Jy skuld my”? Of dalk het iemand dit al vir jou gesê. Die Bybelvers hierbo gaan egter oor ’n ander soort skuld. Daar is ’n soort skuld wat ons moet terugbetaal soos wanneer ons iets by iemand geleen het, of ons belasting aan die regering. Ons wat vir Jesus volg, het egter nog ’n skuld om te betaal, en dit is liefdeskuld. Dit is gelukkig nie ’n moeilike skuld wat ons baie geld kos nie. Al wat dit van ons vra, is dat ons vir almal rondom ons sal lief wees: vir mense wat ons goed ken, maar ook vir die mense wat ons dalk nie so goed ken nie of van wie ons dalk nie hou nie.

In watter soort skuld was jy al by ander mense?

Wat beteken “medemens”?

Aktiwiteit

 

Gebruik stokkies, blare of klippies wat in julle tuin rondlê (moenie iets afbreek of uittrek nie) en bou op verskillende plekke in julle tuin ’n hartjie-simbool. Jy kan selfs iemand in jou huis nooi om al die hartjies te gaan soek wanneer jy dit klaar gebou het. Los die hartjies vir die volgende paar dae in julle tuin om jou te help onthou dat ons mekaar moet liefhê.

As julle nie ’n tuin het nie:

Maak hartjies uit afvalpapier wat in julle huis is. Versier die hartjies mooi en steek dit op verskillende plekke in julle huis weg. Jy kan dan iemand in jou huis nooi om al die hartjies te gaan soek wanneer jy dit klaar weggesteek het. Los die hartjies op hulle plekke vir die volgende paar dae om jou te help onthou dat ons mekaar moet liefhê

Gebruik die voorbiddingstasie om saam te bid.

Kreatiewe gebed

Kleur in en dink na. (Instruksies onder die prent beskikbaar)

 

INSTRUKSIES

•Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie dinge kan werk. 

•Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

•Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op. 

•Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur. 

•Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.

•Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur. 

Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Gister se getuienisse:

Die Here is vir my beter as enige iets op aarde. Is dit vir julle mense óók so?

Willem Serdyn – 7jr

Wat ‘n geleentheid…. ?
Wat ‘n ingryping….?
Wat ‘n krisis…?
Hoe ondenkbaar!

O God, wees ons mensdom genadig!
Dit wat jy sien is genade

Maar in my hart leef daar
Bekommernis oor more en veral oormore
Seer vir mense se nood
Trane vir mense wat ek nie ken nie

Maar ek is so opgewonde
Want ek weet
Hy maak skoon en nuut
Hy laat groei en bring nuwe lewe

Maar my beker loop oor van dankbaarheid
Dat ek kaste vol goed het wat reggepak kan word
Tyd saam met geliefdes, tyd vir vol maak
Tyd vir orde

Mag U wil geskied
Mag U Koninkryk kom
Wat ‘n geleentheid, Wat ‘n ingryping!
Dankie vir U Genade…

Susan Blomerus

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.