Dag 40 – Waterdraers

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Skoen

 

Gebed

Here ons God, ons is reeds ’n hele paar weke bewus daarvan dat ons vryheid van beweging beperk is, en dat ons slegs vir noodsaaklikhede en onder streng omstandighede buite ons tuistes mag wees. Help ons onthou dat ’n beperking op liggaamlike beweging nie beteken ons is beperk in ons dissipelskap nie. Wys vir ons hoe en waar ons steeds kan wandel met die evangelie – die Goeie Nuus vir alle mense.

 Ons bid vir elkeen wat in hierdie tyd noodsaaklike dienste verrig, en vir elke persoon wat die geleentheid het om te kan werk. Ons bid vir elke individu en elke familie wat geraak word deur werkloosheid en ’n verlies aan inkomste. Ons bid vir almal wat onseker voel en bang is oor wat die toekoms inhou.

 Ons bid vir president Cyril Ramaphosa, vir alle ministers en vir regeringsleiers wat moet voor stap in hierdie tyd. Mag U vir hulle krag gee om onder geweldige druk goeie en deurdagte besluite te neem. Seën hulle families en geliefdes wat hulle ondersteun.

 Dankie dat U nie van ons vergeet nie. Dankie dat U ons aanhou troos en bemoedig. Dankie dat U uit chaos en onsekerheid hoop kan skep. 

 Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak – Psalm 1:1-3.

God gee elke dag ons geestelike manna vir ons. Meer as genoeg. Ons het strome lewende water in ons binneste, ja, nié in geseëlde houers nie. Ons ontvang te veel Goddelike goedheid om dit net vir onsself te gebruik. Ons moet hierdie hemelse genade weggee, aangee, verder laat vloei.

Dit help ook nie ons probeer verlede jaar se geestelike kos aangee nie. Geloof is ’n lewende verhouding met God, nie ’n historiese een nie. Dit is hier en nou lewend, anders is dit dood. ’n Mens raak baie gou moeg as jy aanhoudend gister se geloof vandag probeer weggee. Dit gebeur as jy nie tyd maak om elke dag in God se skatkamers deur te bring nie.

Natuurlik kan jy ou en nuwe skatte uit die voorraadkamers van die Here gaan haal. Maar jy moet dit juis vandag daar gaan haal. Jy moes dit reeds vanoggend as deel van jou geestelike manna ontvang het. Jy kan nie uitdeel wat jy nie nuut ontvang het nie. Lewende water is net lewend solank dit aanhou vloei. Sodra dit begin opdam, gaan dit dood.

Die goue leefreël vir ons as Christene is: Gee net weg wat jy vandag by die Here ontvang het. Moenie meer as dit doen nie, anders gaan jy heeltemal te besig wees. Moenie eiehandig die wêreld probeer verander nie. Kyk slegs watter geestelike manna vanoggend by jou lewensdeur neergesit is en deel dit vandag met almal binne hoorafstand, sienafstand en trefafstand. Dan het jy meer as genoeg gedoen. Dan was jy ’n waterdraer vir God.

Here, help my om elke dag by u voete te kom sit om my daaglikse lewende water te ontvang. Laat hierdie lewende water dan vanuit my hart na my naaste stroom. Amen.

Geloofsvrae

Hoe behou ’n mens hoop te midde van al die stukkendheid rondom ons?

 

Pous Franciskus het eenmaal gesê: “In ons almal se lewe is daar groot uitdagings, selfs bitter moeilike tye. Maar dis hoop wat die siel in staat stel om vorentoe te kyk.”  

Geloof kyk agtertoe. Hoop kyk vorentoe. Geloof herinner ons aan die God wat deur eeue heen getrou bly, die Een wat was en wat is. Hoop herinner ons aan wat God, die Een wat sal wees, belowe.

Dis omdat ek glo dat ek hoop. Dis hoop wat my nie my geloof laat verloor nie. 

Ons sou ook kon sê: Op hierdie aardbol loop daar geen mens rond wat nie die pynlike werklikhede van gebrokenheid ervaar nie. En op hierdie planeet leef soveel stukkende mense wat nie hoop ervaar nie. Dít is wat die Grieke met hulle woord agonia (Engels: agony) bedoel het. Uitsigloosheid. Wanneer jy so moeg gestoei is met die lewe, en selfs met God, dat jy jou “in agony” bevind. 

Die ergste agonia waarvan ek nóg gehoor het, is dit wat Jesus in Getsemane beleef het. Hy was so bang vir wat voorgelê het dat Hy, so lees ons, bloed gesweet het. Dalk het die ergste agonia eers ’n dag later gekom, toe Hy uitgeroep het (en ons mag dit maar só vertaal): “Hoekom laat U my in hierdie swaarste oomblikke in die steek! Ek is van alle hoop ontneem!”  

Dit sou natuurlik waar gewees het as die Evangelieskrywers net daar ’n streep onder die storie getrek het. Finito. Hoop is doodgemaak. God het verloor.    

Terug na die pous, wat ook gesê het: Dis ’n feit dat ons almal die een of ander tyd met pyn gekonfronteer word. Saam met vreugde en voorspoed is ook dít deel van menswees. Vir almal. Maar dis agonia dat daar mense is wat sonder hoop leef. Hoop is nie dood nie. Hoop leef.    

Hoe moet jy perspektief behou, vra jy? Deur terug te kyk en God se werk deur die geskiedenis heen raak te sien. En deur vorentoe te kyk.

Salig is hulle wat nie hoop verloor nie. Húlle erf God se beloftes.

– Ronell Bezuidenhout

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Maak jou kaste skoon!

 

Hoekom? Eerstens is dit ’n teken van dankbaarheid vir die oorvloed wat jy ontvang het. Tweedens, om dan vanuit jou oorvloed te deel en ander mense wat in hierdie tyd baie minder het, te help. En, laastens, om te besef dat jy jou lewe kan vereenvoudig. Soos Elizabeth Ann Seton gesê het: “Live simply so that others may simply live.”

Hoe? Begin by jou klerekas. Kyk na alles wat jy het en kies 10 goeie, bruikbare items wat jy self nog gebruik, maar nie meer so gereeld gebruik nie of nie nodig het nie. Skenk dit vir ’n welsynprojek. As jy klaar deur jou klerekas gegaan het, gaan kyk na jou ander kaste. Is daar alledaagse gebruiksartikels wat jy vir ander mense kan gee, goed wat dalk nie in hierdie tyd vir hulle bekostigbaar gaan wees nie? In ons gemeenskap gaan ons al die items wat geskenk word, beskikbaar stel teen ’n donasie van R20 per item. Iets het meer waarde wanneer jy ’n bydrae daarvoor lewer. Ons wil dit wel so bekostigbaar moontlik maak.

Wat wil ons bereik? Ons wil mense help om goeie, bruikbare items teen ’n bekostigbare donasie te kry, terwyl ons self tot ’n dieper besef kom van hoe geseënd ons is. Ons wil die groter gemeenskap betrek deur samewerking tussen die gemeentes, besighede en die plaaslike owerheid te bevorder.

Kyk gerus hierdie video, en pak hierdie week die kaste in jou huis reg.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Het jy al gesien hoe lyk ’n plantjie wat te min water gekry het? Die blare is droog en dit lyk nie soos dit moet lyk nie. Jy kan nie vir ’n plantjie een keer water gee en hoop dat daardie water genoeg sal wees nie. ’n Plantjie kan nie groei as dit nie gereeld versorg en gevoed word nie. Net so kan ons nie in ons verhouding met God groei as ons nie gereeld geestelik gevoed word nie. 

– Op water maniere kan ons geestelik gevoed word?

– Op watter maniere aanbid jy graag vir God?

Aktiwiteit

 

Plant vandag ’n saadjie. Elke keer as jy die saadjie en later die plantjie versorg en voed, onthou om tyd saam met God deur te bring sodat jy ook geestelik versorg kan word.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 
– Watter kleure val jou op, en hoekom? 
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.