Dag
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gebed vir die week
Begin jou dag met hierdie gebed.
Simbool: Notaboek
Gebed
Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.
Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.
Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.
Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef.
Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.
Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak … Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry … Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie” – Lukas 15:1-7.
God hou veral van sondaars, goddeloses, dooies en magteloses (Rom 5). Al wat godsdienstiges vir sondaars kan doen, is om hulle op die ou end met klippe dood te gooi. Maar om vir die verkeerde mense om te gee, dié vir wie Jesus sy lewe kom aflê het, dít is ’n heeltemal ander storie. Jesus bring die meeste van sy tyd deur op die oop see waar sondestorms woed. Hy het die name en adresse van al die drenkelinge, én die reddingstoue om hulle te red. Dit is sy passie, sy gunstelingwerk. Jesus se lewe draai om verlore skape, verlore munte, verlore kinders – hiervoor laat staan God net mooi alles.
In die hemelse daaglikse beplanning is daar net een vraag op die almagtige God se tafel: “Sal mense vandag hierdeur op die regte maniere aangeraak en verander word?”
Ek wonder hoeveel van die godsdienstige aktiwiteite waarmee ons ons besig hou, word deur hierdie vraag bepaal. Daar is soveel ander “prioriteite” op ons agendas. Geestelik intelligente mense belyn egter hulle prioriteite met dié van die hemel. Hulle diepste vraag (veral met dagbeplanning) is ook: “Sal mense se lewe tot eer van God hierdeur aangeraak en verander word?”
As ons oor die nodige geestelike intelligensie beskik, stel ons ons dagprogram én ons afsprake volgens God se manier van tydsbestuur op. Dan verskuif die klem in ons lewe drasties vanaf geld, persoonlike sukses en voorspoed na God se gunstelingmense. Dalk vra dit dat ons vandag sal bedank uit ’n paar komitees wat lankal van God se agenda vergeet het, sodat ons God se stukkende mense kan begin dien en hulle veilig kan oortel tot in sy wingerd.
Here, leer my om my dagboek volgens u prioriteite en tydsbestuur in te rig. Gee vir my u hart vir die “verkeerde” mense en die bewussyn dat ek een van hulle is. Amen.
Geloofsvrae
Is ek ’n sondaar, of is ek nie?
“Hoekom sê jy dit is nie reg om te bid dat ek ’n sondaar is nie?” wou ’n ouderling jare gelede by my weet. Dit was na my preek waarin ek verduidelik het dat die Nuwe Testament nooit na Christene as sondaars verwys nie. En dat ons ook nie só moet bid nie.
“Ek stem glad nie met jou saam nie,” het hy driftig gesê. “Want ék is ’n sondaar.” Waarop ek by hom wou weet: “Vertel my dan watter groot sondes jy so aanhoudend doen dat dit al deel van jou identiteit geword het om jouself as ’n sondaar te beskryf.”
Hy het nie geantwoord nie, en ek het gevra: “Hoe kan ek jou help om hiermee te breek sodat jy op die regte manier oor jouself as ’n gelowige kan begin dink?”
“Maar dis hoe ek in die kerk grootgeword het,” was sy verweer. “Almal het so gebid en gesê dat hulle groot sondaars is.” Toe antwoord ek hom: “Die feit dat jy só grootgeword het, beteken nie jy hoef só oud te word nie!”
En toe verduidelik ek dat die woord sondaar (in Grieks hamartōlos) 47 keer in die Nuwe Testament voorkom, maar dat dit nooit vir gelowiges gebruik word nie. Sondaars is mense wat verlore is. Dis mense wat soek geraak het en nou op die goeie Herder se radarskerm is.
Paulus skryf juis in Romeine 5:8 dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Die term sondaar is ’n status-aanduiding in die Nuwe Testament, en nie allereers ’n etiese term nie. In teologiese taal gesê: Dis ’n soteriologiese woord. Dit dui op mense wat nie in God glo nie.
Maar sodra God se hemelse genade sulke mense omgedop het, verander hulle status op die daad na “kinders van God”, soos 1 Johannes 3:1 dit verduidelik.
Ja, Christene doen nog sonde, maar ons is nie sondaars nie. Dis nie ons identiteit nie. Daarom lê ons nie in ons sondes rond nie. Ons bely dit en laat staan dit. Ons is kinders van God.
– Stephan Joubert
Liturgie van die Lewe
Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …
Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie.
Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys.
Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling …
Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.
Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.
Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom.
Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.
Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Het jy dalk ’n gunsteling-speelding? Wat sou jy doen as jou gunsteling-speelding in die huis wegraak? Gewoonlik sal jy alles los en jou speelding gaan soek, of hoe? Jy gaan dit nie net los en daarvan vergeet nie. Jy sal soek totdat jy dit kry. Dit is presies wat die Here met ons doen.
Die Here is baie lief vir elke mens op aarde, maak nie saak wie ons is of wat ons gedoen het nie. Soms gebeur dit dat mense wegdwaal van God se liefde. God los dan nie daardie mense omdat daar nog baie ander is wat vir God lief is nie. Nee, God sal daardie een mens gaan soek en roep en hom of haar herinner dat God vir almal ewe lief is.
– Hoe kan jy ander mense herinner dat God ook vir hulle lief is?
– Wat help jou om te onthou dat God vir jou lief is?
Aktiwiteit
Speel soek-soek. Kies ’n paar dinge wat jy kan gaan wegsteek. Maak ’n lys van hierdie items en steek dit dan in ’n vertrek weg. Vra nou iemand in jou huis om al die items te soek. Gee vir hom of haar die lys van dinge wat jy weggesteek het. Kyk op jou horlosie hoe lank dit die persoon kos om al die items te vind. As hy of sy alles gekry het, kan julle rolle omruil sodat jy nou weer na die items moet soek.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie.
– Wat sien jy alles raak?
– Watter kleure val jou op, en hoekom?
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers?
Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie.
Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek.
Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies
Getuienisse
Slaaptydstorie
Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories.
Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.