Dag 44 – Kan die wederkoms se datum verander?

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Notaboek

 

Gebed

Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.

 Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.

Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.

Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef. 

Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer – 2 Petrus 3:9.

Is jou sitplekgordel vas? Hier volg “skokkende” nuus: So belangrik is die “verkeerde mense” in God se oë dat Hy selfs bereid is om die wederkoms se datum te verskuif om hulle te red. Ja, jy het reg gelees. Of dink jy Petrus maak grappies as hy presies dit in 2 Petrus 3 sê? Natuurlik nie! Petrus sê hier vir die spotters, wat lag vir die Christene omdat die wederkoms nog nie aangebreek het nie, dat God juis om húlle onthalwe wag met hierdie groot dag.

God het niemand vir die hel geskep nie. Daarom talm Hy om vir oulaas terug te keer as Regter, want Hy wil hê sy hemelse feessaal moet nog voller en die doderyk nog leër word. Praat van mensgeoriënteerde tydsbestuur! God stel nie die wederkoms af nie, net uit. Hy wag nog ’n rukkie langer, want sy gunstelingmense, verlorenes, is nog nie tuis by Hom waar hulle hoort nie.

Aan die ander kant sê God in 2 Petrus 3:11-12, ewe verrassend, dat ons die wederkoms kan verhaas. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik, beteken letterlik om die wederkoms vinniger nader te bring. Gelowiges wat die goeie nuus elke dag deur hulle dade en woorde uitdra, maak ’n lewende verskil.

God sal op presies die regte tydstip as Regter en Redder opdaag. Hy sal glad nie laat wees vir sy finale afspraak met die wêreld nie. Ons hoef egter nie ons koppe te breek oor die presiese dag nie. God werk nie met ’n abstrakte terugkeerdatum nie. God is sedert die skepping en Jesus se herskepping dinamies, dag vir dag, met mense onderweg na sy groot dag. Mense is die hemelse horlosie!

Here ons Redder, dankie dat u tydsbestuur so mensgerig en geduldig is, ook wat die wederkoms betref. Gebruik my in u reddende werk op aarde. Amen.

Geloofsvrae

Wat beteken Jesus se lyding vir óns lyding?

 

Die antwoord wat op hierdie vraag gegee word, is gewoonlik iets soos die volgende: Jesus het met sy lyding ook in ons lyding ingekruip. Só help Hy ons om ons pyn en seer en swaar te dra en te verdra. En dis die waarheid. Jesus het vlees geword, ook in ons lyding. Hy het ook onder óns vel kom ly.

Daar is wel ook ’n ander dimensie aan dié waarheid: In ons navolging van Jesus leer ons nie net by Hom hoe om ons lyding te verwerk nie; ons word ook opgeroep om ons lyding te aanvaar.

Om Jesus te volg, is ook om ons met sy saak te vereenselwig. En juis dan, so lyk dit volgens die Bybel en in die geskiedenis, is dit nie moontlik om aan lyding te ontsnap nie. Hierdie soort “ontsnapping” is slegs moontlik binne die onbekostigbare luuksheid van ’n oppervlakkige volkskerk.

Dis dan dat ons begin reken dat dit jou gewild maak as jy jou met Jesus se saak vereenselwig. Maar Hy sê tog: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou” (Luk 9:23-24).

Wanneer ons verstaan wie Jesus is, en ons dit waag om dit sê, kom staan ons eie kruis ook voor ons: om onsself te verloën. Om te sê: Ek ken nie meer my eie belange nie en ek sal dit nie meer dien nie. Ek volg nou Jesus se voorbeeld, sy manier van lewe: om ander hoër as myself te ag (2 Kor 5:11-21). Ter wille van Hom sal ek alles verduur wat na my kant toe kom.

Neem hier tog net die volgende in ag: Om na aanleiding van jou soms fanatiese ontaktvolheid te “ly”, is nié gelyk aan Jesus se lyding nie. Dis nié wat Hy bedoel het toe Hy aan sy volgelinge gesê het om elke dag hulle kruis op te neem nie.

Weet wel ook: Diegene wat hulle met Hom en sy soort optrede vereenselwig, spring nie die daaglikse “kruis opneem” vry nie. Ons bely immers ook: “Ek glo in Hom wat gekruisig is.”

– Malan Nel

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …

 

Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie. 

Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys. 

Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling … 

Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.

Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.

Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom. 

Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.

Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

In die Bybel lees ons dat Jesus eendag sal terugkom en al sy kinders sal kom haal. Dalk het jy al gewonder wanneer dit gaan wees. Niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons kan vir seker weet dat Jesus ons almal eendag gaan kom haal.

– Het jy al vir iemand van Jesus vertel? Vertel daarvan.

– Wat kan ons alles doen sodat meer mense van Jesus se liefde hoor?

Aktiwiteit

 

Dink aan 10 dinge in jou lewe wat jou herinner dat Jesus vir jou en almal op aarde lief is. Dink ’n handgebaar vir elke voorbeeld uit.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.