Dag 45 – Trek jou feesklere aan

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Notaboek

 

Gebed

Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.

 Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.

Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.

Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef. 

Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie – Prediker 9:7-8.

Gelowiges weet dat God vol vreugde is. Saam met die psalmdigter verheug hulle hulle oor elke nuwe dag wat die Here gemaak het. Hulle is daaglikse vreugdeskeppers en -uitdelers. Hulle wag nie vir ’n amptelike vakansiedag op ’n kalender voordat hulle begin feesvier nie. Hulle skep en beleef elke dag hulle eie lewensfeeste.

In Prediker 9 lees ons ons moet elke dag wit klere dra en ons hare met olie versorg. Mense in die Bybelse tyd was baie arm. Hulle het meestal net een of twee stelle gewone klere gehad en ’n ekstra stel wit klere wat hulle feesdrag was. Wanneer mense hulle feesklere aangehad het, het almal geweet ’n buitengewone geleentheid vind iewers plaas.

Die Prediker se raad is dat mense nie net op feesdae wit klere moet dra nie, maar elke dag. Ons moenie vir ander wag om ’n fees te laat aanbreek nie; ons moet dit self laat gebeur. Ons klere moet dit wys. Ons leefstyl ook.

So ook die feit dat ons olie op ons hare uitgiet. In die Bybelse tyd het mense gewoonlik ’n bietjie duur olie op hulle gaste se koppe uitgegooi wanneer hulle vir ’n feesmaal opgedaag het. Die Prediker sê ons moet dit ook gereeld vir onsself doen. Ander moet die feesvreugde gedurig aan ons kan ruik.

Jesus se volgelinge kies doelbewus om vandag met vreugde te vul, al is vandag nie noodwendig lekker nie. Die Here se mense kies vir feesklere en vir lekkerruikolie. Hulle kies, soos Paulus, om lofliedere in die tronk te sing. Hulle leefpassie is oorweldigend. Hulle straal in elke situasie hoop, krag en lewe uit.

Here, dankie vir alles waarmee U my vandag seën. Help my om elke dag my vreugde in U te vind en om daarmee selfs meer aansteeklik te wees as enige virus, sodat die hele wêreld soos Paulus lofliedere sal sing, selfs al voel ons ons is in die tronk. 

Geloofsvrae

Een van my goeie vriendinne is die afgelope tyd baie negatief oor alles. Wanneer ons saam gekuier het, voel ek sommer uitgeput en goor. Hoe kan ek dit hanteer?

 

As dit is hoe jy julle gesprekke beleef, is die pluspunt dat jy nog nie saam met haar negatiewe praatjies maak of wil maak nie. Negatiwiteit het ’n manier om aansteeklik te wees, en ons wil hierdie situasie beredder voordat dit daardie punt bereik.

Dis ’n ingewikkelde situasie, veral omdat jy sê dat julle goeie vriende is. ’n Mens wil nie graag ’n goeie vriendin verloor of jou rug sommer net vir iemand draai nie. Maar terselfdertyd wil jy daarteen waak om in dieselfde groef as sy te verval. Die Spreukedigter maan ons nie verniet om versigtig te wees saam met wie ons ons tyd deurbring nie (Spr 13:20).

Hier is ’n klompie praktiese wenke:

– Het jy al die moed gehad om haar tydens ’n gesprek oor hierdie negatiwiteit te konfronteer? Een van die toetse van ware vriendskap is eerlikheid. Ons swye oor iets wat pla, help nie die ander persoon om te groei nie. As jy haar sagkens daarop wys dat ander mense haar as negatief ervaar, bewys jy haar dalk ’n groot guns. Soms beland ’n mens in ’n slegte gewoonte, jy word daarin vasgevang, en jy besef dit nie. Totdat jy daarop gewys word (Gal 6:1).

– Dalk het sy ’n traumatiese ervaring beleef wat haar negatief en selfs bitter maak. Indien jy van so iets bewus is, is dit belangrik dat jy haar aanmoedig om met ’n geestelike berader of ’n sielkundige te gaan praat. ’n Wond aan jou siel is soms die oorsaak van groot bitterheid, en dit kan tot sulke negatiwiteit aanleiding gee. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Luk 6:45).

– Vra die Heilige Gees om jou met wysheid in hierdie situasie te lei. As jy dit biddend aanpak, sal jy wysheid vind (Jak 1:5).

– Dis ook belangrik om jou eie hart te beskerm, al wil jy haar help (Spr 4:23). ’n Snoeiproses is telkens deel van die verskillende seisoene in ons lewe. Maar indien jy daaraan dink om die vriendskap behou, maak dan seker dat jy gesonde grense stel en handhaaf.

– Halrika Breytenbach 

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …

 

Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie. 

Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys. 

Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling … 

Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.

Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.

Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom. 

Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.

Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Dikwels het ’n mens ’n gunsteling-uitrusting. Dalk is daar van jou klere wat vir jou baie mooi is en wat jy graag aantrek na spesiale geleenthede toe. God nooi ons uit om elke dag ’n spesiale geleentheid te maak en fees te vier. Ons gaan dalk nie elke dag ons spogklere aantrek nie, maar gelukkig het ons nie spogklere nodig om fees te vier nie.

– Op watter maniere kan ons feesvier?

– Hoekom dink jy wil God hê dat ons elke dag sal feesvier?

Aktiwiteit

 

Nooi almal in julle huis uit vir ’n spesiale ete vanaand. Vra hoe jy kan help om die kos te maak, dek die tafel mooi en vra almal om mooi aan te trek. Hou fees en onthou dat God ons lewe met vreugde vul.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.