Dag 47 – Buite-die-boot-geloof

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Notaboek

 

Gebed

Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.

 Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.

Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.

Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef. 

Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” – Matteus 14:29-31.

Hoeveel maal word geestelik intelligente mense wat drome droom en vergesigte sien se entoesiasme en visie deur pessimiste rondom hulle gesteel! Moenie jou ore aan hierdie pessimisme uitleen nie. As Moses na al die doemprofete op pad na die Beloofde Land geluister het, sou die Israeliete in die woestynsand weggesyfer het. Martin Luther sou nooit teen die kerk van sy dag opgestaan en die Reformasie aan die gang gesit het nie. Moeder Teresa sou nooit vrou-alleen by Kolkata ingestap het om die armes se lot ingrypend te verander nie. En jy? Luister jy na die pessimiste, of na die Gees se roepstem in jou hart? 

Ons is soms oorversigtig uit vrees vir foute maak, maar om foute te maak is menslik en boonop kan ons daaruit leer. Hierdie vrees moet ons nie lamlê nie. Oorversigtigheid was die aanvaarde wysheid toe alles in die samelewing relatief staties was. Vandag se wêreld is blitsvinnig. Ons het gelowiges nodig soos dié wat Malcolm Gladwell in sy boek Blink beskryf, gelowiges wat oombliklik en intuïtief die regte geestelike besluite kan neem en kreatief op hulle voete kan dink; passievolle God-dieners met leeuemoed wat nie bang is om die status quo omver te werp nie. Radikaal? Ja, maar die alternatief is veel erger: stagnasie en dood! 

Jesusvolgelinge skrik nie vir uitdagings nie, al bewe hulle. Hulle leef in die geloof dat God hulle soms uitdaag om uit die boot te klim en saam met Jesus op die water te wandel. As hulle sink, weet hulle ten minste dat Jesus daar sal wees om hulle te red. Maar hulle kan nie nee sê vir die kans van ’n leeftyd om saam met Jesus op die water te stap bloot omdat hulle bang is om vandag se geestelike uitdagings in die oë te kyk nie. Hulle is doeners. Hulle vingerafdrukke is op elke dag te sien, vingerafdrukke met die kruis van Christus daarop ingegraveer.

Jesus, help my om uit die boot, my gemaksone, te klim. Ek wil graag ’n passievolle lewe saam met U op die water leef. Maak my ’n doener wat na u stem luister, eerder as na die pessimiste daar buite. Amen.

Geloofsvrae

Hierdie tyd is regtig moeilik vir my; daar is vele uitdagings. Ek probeer positief bly en my hoop op die Here behou, maar ek sukkel om die lewe met my ou vrolikheid aan te pak. Hoe kan ek weer vreugde vind?


Ook ons wat in ’n verhouding met Jesus Christus is, vind die “moeilike tye” uitdagend. Ons lewe bevat nie waarborge teen uitdagings nie. Ons het wel die wonderlike versekering uit die Woord dat ons nie alleen in die moeilike tye is nie. Én dat God altyd alles vir ons ten goede sal laat meewerk.

Dalk help hierdie brokkies raad ook:

– As dinge moeilik gaan, raak dit ons verhoudings. Klop aan by jou kerk vir hulp, of vir ’n verwysing na ’n geestelike berader, wanneer jy hiermee sukkel. Om bloot oor hierdie dinge te praat, sal jou las reeds ligter maak.

– Prys en dank God. Die Woord leer ons dat ons op dié manier in God se teenwoordigheid kan ingaan (Ps 100:4). As dit vir jou moeilik is om dit te doen, luister lofprysingsmusiek in jou motor of by jou werkplek. As jy jou weer kom kry, sing jy lekker in jou kop saam – al wil jou hart dalk nog nie. Dit sal nie lank wees voordat jou hart die boodskap kry nie!

– God gee vreugde in droefheid se plek (Jes 61:3). Hy belowe vir ons feesklere. Trek dit soggens simbolies aan.

– Hier is ’n kragtige wapen uit die Woord in hierdie tyd: Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal jou krag wees (Neh 8:10).

– Lag genoeg! Kan jy nog vir jouself lag en die humor in slegte situasies raaksien? Lees ook sommer ’n paar lawwe grappies, of kyk na iets wat snaaks is. ’n Vrolike mens is tog soos goeie medisyne (Spr 17:22).

– Halrika Breytenbach

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …

 

Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie. 

Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys. 

Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling … 

Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.

Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.

Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom. 

Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.

Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Moes jy al iets doen wat jou laat bewe het van bangheid? Dink net hoe Petrus moes gevoel het toe Jesus hom roep om saam met Hom op die water te loop. Soms staan ons voor groot uitdagings wat ons bang maak. Gelukkig hoef ons nie bang te wees dat die uitdaging ons gaan onderkry nie, want Jesus is altyd aan ons kant, reg om ons te help. Hy gaan dalk nie sy hand uitsteek soos wat Hy vir Petrus gedoen het nie, maar Jesus sal ons help op die manier wat vir ons die beste sal wees.

– Op watter verskillende maniere kan Jesus ons help? Hier is een voorbeeld: Hy gee vir ons goeie raad in Bybelverse.

– Is daar ’n uitdaging voor jou wat jou baie bang maak? Gesels met Jesus daaroor.

Aktiwiteit

 

As dit nog lekker warm by julle is, en julle het ’n swembad, kyk hoe ver jy op die water kan loop.

Maak ’n bootjie uit herwinbare items in die huis. Kyk hoe lank jou bootjie op die water kan dryf. As jy wil, kan jy selfs kyk hoeveel klippies jy in die bootjie kan laai voordat dit sink.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.