Dag 49 – Slaap elke nag in die Here se arms

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Notaboek

 

Gebed

Here God, Skepper van die heelal, ons bevind ons steeds in ’n tussenintyd. Ons besef al meer dat die lewe voor Covid-19 nooit weer sal wees nie; terselfdertyd weet ons nie hoe die lewe saam met en moontlik na Covid-19 sal lyk nie. Dit voel of ’n pause-knoppie gedruk is, terwyl ons steeds op die een of ander manier moet aanhou leef en ’n stukkie normaliteit en roetine moet probeer handhaaf.

 Sommige van ons het groot drome en planne gehad vir hierdie jaar en vir die onmiddellike toekoms, Here, en dit is swaar om te weet dat dit vir eers uitgestel of aangepas moet word. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, troues, familiebyeenkomste, kuiers saam met vriende, besoeke aan oupas en oumas is tans nie moontlik nie. Ons verlang na hulle vir wie ons lief is, vir wie ons so graag ’n drukkie wil gee, vir wie ons wil vashou en verseker dat ons omgee en nie van hulle vergeet het nie.

Oor hulle wat siek en in hospitale is, is ons bekommerd, Here. En dit is rouseer om in hierdie dae ’n geliefde te moet afstaan aan die dood, en nie omring te kan wees deur ’n omgee-gemeenskap nie. Ons harte is vol emosies, Here. Die onsekerheid maak ons soms opstandig, moeg, hartseer, kwaad en moedeloos.

Mag U, wat die groot Vertrooster is, ons herinner dat U naby aan elk van u kinders is, dat ons deur u Heilige Gees lewe inasem, en daardeur ook u troos ons eie kan maak. Wys vir ons dat en hoe ons steeds mag droom, steeds mag vashou aan die wete dat daar weer ’n tyd sal aanbreek wanneer ons gemeenskap met mekaar sal beleef. 

Help ons, Here, om uit te reik na elkeen wat alleen voel in hierdie tyd. Mag ons verteenwoordigers wees van U, die lewende Here, wat deur onbeperkte genade omgee en liefhet, bo ons verstand.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie – Efesiërs 4:26.

Ons moet elke dag voluit leef, maar ons moet elke dag ook voluit rus. Ons is nie werkslawe nie, beslis ook nie leef-slawe nie. Net soos ons manier van leef, moet ons manier van slaap ook ’n getuienis wees van ons lewe wat elke dag in die Here se hand is.

Die lewe gebeur nie net wanneer ons wakker is nie, maar ook in ons slaap. Dan is ons nie skielik vir ’n paar uur uit aksie of afwesig nie. Ons moet seker maak dat ons elke aand gelowig, in God se arms, gaan slaap. Daar rus ons regtig. Daar is ons veilig. As ons elke aand eers ons probleme aan die Here voete neersit en in ruil daarvoor sy rus ontvang, slaap ons goed. Dan kry ons nuwe krag om bedags oop-oë deur ons drome te leef.

Sluit elke dag behoorlik af voordat jy gaan slaap. Wees bly dat vandag ook God se spesiale geskenk aan jou was. Sluit dit dankbaar af sonder dat jy dink jy het outomaties enige reg op môre. Moenie los drade aan die einde van vandag laat rondlê nie.

Moet ook nooit met woede gaan slaap nie. So sê Paulus in Efesiërs 4. Woede mag nooit in jou siel agterbly as die son aan die einde van die dag oor jou sak nie. Praat dit uit as dit moet. Verwyder dit uit jou gedagtes.

Wees vry wanneer jy jou oë toemaak. En wees bly oor elke vandag wat die Here aan jou gee. Dis genade, verniet, onverdiend. Hier aan die einde van nog ’n genade-dag skenk die Here jou ’n heerlike nagrus.

Dankie, Here, vir die geskenk van rus. Help my om al my woede, frustrasie en angs elke aand by u voete neer te lê sodat ek elke oggend verfris sal voel en die nuwe dag met oop hande as ’n geskenk van U kan ontvang. Amen.

Geloofsvrae

Ek dien die Here, maar ek voel die laaste tyd so ver van Hom af. Dit voel asof Hy my nie antwoord nie. Of dalk is dit ek wat Hom nie kan hoor nie. Wat kan ek doen?

Weet dit maar: Jy is nie alleen nie. Die meeste gelowiges tref hierdie soort slaggate op hulle geloofspad: Ek voel ver van God af; ek is oortuig dat Hy my nie hoor nie; ek wonder of God van my vergeet het.

Die Bybelse geloofshelde het dikwels só gevoel. Die psalmdigters, ook Dawid, roep gereeld na God en vra waarom Hy hulle dan nie hoor nie. Hoekom Hy nie ingryp nie. Hulle vertel vir Hom hoe ander mense hulle spot en sê: “Waar is jou God dan nou?”

In tye soos hierdie is dit belangrik om die volgende te onthou:

– God verander nie, ten spyte van hoe jy voel. Lees weer in die Bybel wat God vir ons oor Homself sê.

– Kies die waarheid bo jou gevoelens. As jy toelaat dat jou gevoelens deur omstandighede bepaal word, sal jy die hele tyd in ’n geloofstryd gewikkel wees. Die waarheid is dat God bemoeienis met ons maak, en dat Hy na ons luister.

– Prys en dank God sonder ophou. Só beleef jy sy teenwoordigheid. Terselfdertyd hou dit jou fokus op Hom, op sy eer en heerlikheid, en nié op jou gevoelens nie.

– Weet wie jy is. God sê jy is die appel van sy oog en dat Hy sing en dans oor jou. Jy is sy erfgenaam en niks kan jou uit sy hand ruk nie. Lees weer Sagaria 2:8, Sefanja 3:17, Romeine 8:17 en Johannes 10:28.

– Onderwerp jou gedagtes doelbewus aan die Here (Jes 26:3; 2 Kor 10:5).

– Sorg vir voldoende stiltetyd. Maak seker jy skep genoeg tyd om sommer net op jou hemelse Vader se skoot te kan sit. Al hoor jy Hom nie dadelik nie, sal sy alomteenwoordigheid jou met vrede en vreugde vul.

 – Halrika Breytenbach

Liturgie van die Lewe

Hierdie week: Dink anders oor jou selfoonlaaier …

 

Ek bel my vrou nie baie nie. Nie omdat ek nie wil nie. Ek hoef nie. My kantoor en haar kantoor is 10 treë van mekaar af, in ons huis. Ons kry mekaar sommer in die gang as ons met mekaar wil praat. Sy verwag dus nie dat ek haar gaan bel nie. Maar so een keer in drie weke moet sy stad toe gaan vir vergaderings. Dan bel ek haar graag … As haar selfoon se battery nie pap is nie. 

Dit het in die laaste klompie jare dikwels gebeur dat sy my laat weet het haar foon is amper pap en dat ek haar nou moet bel, anders gaan ek haar nie in die hande kry nie. Ek het haar al baie gespot oor dié pap selfoon en dan verwys na die verhaal wat Jesus vertel het van die 10 diensmeisies met hulle lampies. “Jou lampie is al weer leeg …” is ’n uitdrukking in ons huis wat na ’n pap selfoon verwys. 

Maar wat was Jesus se bedoeling regtig met hierdie gelykenis wat Hy vertel het? Hier is ’n poging tot ’n moderne vertelling … 

Stel jou voor jy het ’n tienermeisie in die huis. Sy en haar hoërskoolliefde is uitmekaargeruk deur die monster wat Lockdown genoem word. Die boyfriend bly op die rand van die Karoo en hulle het nie eintlik selfoonontvangs daar nie. Hy laat weet per SMS of posduif dat hy haar later die dag gaan bel. Sy sal sorg dat haar foon gelaai is. Sy sal dalk sommer ’n powerbank en ’n kragopwekker ook reël, net om seker te maak haar foon is reg vir hierdie oproep. Dit word laat en naderhand raak sy aan die slaap, maar toe daai oproep om 00:15 deurkom, is sy wakker en haar foon is gelaai en die vreugde in die huis is groot, want sy kon met haar geliefde praat.

Die punt van hierdie verhaal is dat ons met verwagting en hoop behoort te wag.

Ons moet tans ook met hoop en verwagting wag sodat ons reg sal wees vir dit wat sal volg. Dit is dieselfde soort wag wat Jesus se gelykenis van ons as gelowiges vra. Hierdie Covid-19-tyd kan ’n baie gepaste metafoor wees om ons te help dink oor die groot gebeurtenis waarvoor gelowiges wag: die wederkoms en die voleinding van die tyd. Ons moet regmaak vir wanneer dié nuwe tyd sal kom, al weet ons nie wanneer dit gaan wees nie. Ons moet ook só leef dat ons gereed is wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom. 

Wat doen ons om gereed te wees? Ons lewe die opdrag van die Bybel uit. Ons lewe in liefde teenoor ander en onsself. Ons sorg vir ander mense. Ons help om dit wat stukkend is heel te maak. Ons oefen om te lief te hê in ons eie huise.

Skep hierdie week ’n nuwe gewoonte wanneer jy jou selfoon inprop om dit te laai. Herinner jouself aan die gelykenis van die 10 meisies wat Jesus vertel het en vra of jy vandag leef met hoop en verwagting vir die nuwe tyd wat kom. Die tyd ná Covid-19 én die tyd van God se volledige nuwe wêreld. Laai jou foon, maak jou lampie vol, want die wonderlike dag gaan aanbreek wanneer die oproep gaan deurkom.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Wanneer jy kwaad word, voel dit soms of jy soos ’n ballon opblaas. As ’n ballon te groot opgeblaas word, bars dit. As ons baie kwaad word, voel dit ook of ons wil bars. En as ’n ballon bars, spat die stukkies oral rond en dan is dit ’n groot gemors. Dit is glad nie verkeerd om kwaad te raak nie, maar ons moet versigtig wees om nie soos ’n ballon te bars en dan ’n groot gemors aan te vang deur lelik op te tree nie. 

– Kan jy beskryf wat in jou gebeur wanneer jy kwaad word?

– Hoekom moet ons versigtig wees om nie te “bars” wanneer ons kwaad word nie?

Aktiwiteit

 

As jy vandag voel jy wil kwaad word, verbeel jou jy is ’n ballon wat opgeblaas word. Haal dan diep asem en blaas die lug daarna stadig uit, soos ’n ballon wat afblaas. Terwyl jy jou asem uitblaas, verbeel jou al die kwaad word sommer ook uitgeblaas.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.