Dag 5 – Moenie op mekaar afgunstig wees nie
Oggendgebed
Begin jou dag met hierdie gebed.
Gee wysheid aan almal in leierskapposisies. Gee aan hulle ’n luisterende oor. Vergewe hulle en ons wanneer ons nie u wil doen nie. Genees die aarde en almal wat daarop woon. Vernuwe ons harte, ons denke en ons gees vir ’n nuwe tydperk en ’n nuwe heilige gemeenskap met U, met ander en met u hele skepping. En bring ons almal tot ’n vreugdevolle opstanding. (Stilte) Laat u wil geskied. Amen.
Voorbiddingstasie
Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.
Simbool: ’n Koekie
Ons bid vir oupas en oumas en vir bejaardes – ook vir almal wat broos en siek is. Gee dat hulle sal weet ons het hulle nie vergeet nie.
Ons sê dankie vir die wysheid en ervaring van almal wat ouer as ons is en by wie ons kan leer.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie – Galasiërs 5:26.
Daar is min dinge so toksies soos afguns en verwaandheid vir ons lewe saam as God se familie.
Jare gelede was daar ’n rolprent oor Mozart met die naam Amadeus. Hierdie rolprent is ’n gedramatiseerde weergawe van sy lewe en word vertel vanuit die oogpunt van ’n tydgenoot van Mozart met die naam Salieri. In die rolprent word Salieri uitgebeeld as ’n verbitterde ou man as gevolg van sy jare lange afguns op Mozart se talent. Die tragiese waarheid is dat Salieri self ’n uiters begaafde komponis was. Hy was egter nie so begaafd soos Mozart nie. Dit was Salieri se begeerte om beter as Mozart te wees, en nie net talentvol nie, wat sy obsessie met Mozart aangedryf het. In die rolprent vernietig hierdie obsessie albei komponiste se lewe.
As ons nie vrede maak met die talente wat ons uit genade ontvang het nie, as ons ons nie daarop toespits om die beste te wees wat ons kan nie, maar eerder beter as ander wil wees, loop ons gevaar om ons altyd met ander te vergelyk. En dit is dié konstante vergelyking met ander wat ons óf verwaand maak deurdat ons dink ons is beter as ander óf afgunstig op die talente van ander. Albei ingesteldhede maak ’n opregte saamleef met ander gelowiges byna onmoontlik.
Here, weerhou my daarvan om afgunstig op ander te wees. Leer my om dankbaar te wees vir al die gawes wat ek van U ontvang het. Amen.
Sakkie se sepie
Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee.
Liturgie van die Lewe
Dankbaar vir wat ek nou het …
Een van die gevaarlikste dinge wat ons in hierdie wêreld kan doen, is om onsself met ander mense te vergelyk. Want dit lei ons juis om te doen wat vandag se vers sê ons nie moet doen nie: Julle moenie op mekaar afgunstig wees nie. Die beste medisyne vir die gewoonte om jouself met ander te vergelyk is om dankbaar te wees vir wat jy het. As jy fokus op die gawes wat jy het, sal jy nie heeltyd kyk na wat die mense rondom jou het en dan wens dat jy dit ook gehad het nie.
Daarom gaan ons vandag fokus op die klein en eenvoudige gawes wat God vir ons gegee het, gawes wat ons dalk nie eens meer raaksien nie.
Stap saam met almal in jou huis kombuis toe. Draai die kraan oop. Ons dink dit is ’n gegewe, iets wat net daar moet wees. Water uit ’n kraan. Op die meeste plekke in Suid-Afrika kan jy nog die water uit jou huis se krane drink. As julle in ’n dorp bly waar julle nog hierdie voorreg het, neem ’n glas en maak dit vol water. Drink die water. Besef julle hoe groot die voorreg is om dit te kan doen? Volgens Wateraid.org het 1 uit elke 10 mense op aarde nie skoon water naby die huis nie. Die getal mense wat nie skoon water in hulle huise het nie, is veel hoër. Dit is ’n voorreg om dit te hê.
Stap saam met die mense in jou huis en neem foto’s met julle selfone van al die gawes in en om julle huis wat julle dalk nie eens meer raaksien nie. Sit ’n paar oomblikke opsy om vir God dankie te sê vir hierdie voorregte. Vra God om julle oë oop te maak vir al die mense op aarde wat nie hierdie voorregte het nie. Ons moenie verwaand wees nie, want alles wat ons kry en het, is gawes uit God se hand.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————————
Het jy al gehoor iemand sê: “Jy moenie so met jou neus in die lug loop nie”? Wat beteken dit? Niemand loop mos met hulle neuse in die lug nie! Dalk help vandag se Bybelvers ons om dit beter te verstaan. Dit sê ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of afgunstig wees nie. Kortom, dit beteken ons moenie dink ons is beter as ander mense nie. Ons moet ook nie jaloers wees op ander nie.
•Die teenoorgestelde van jaloers is dankbaar. Waarvoor is jy vandag alles dankbaar?
•Hoekom moet ons nie met ons neuse in die lug loop nie?
Aktiwiteit
•Maak ’n lys van dinge waarvoor jy dankbaar is. As jy wil, gebruik die woord dankbaar en vind iets wat met elke letter van hierdie woord begin waarvoor jy dankbaar is.
•Kyk hoe ver jy kan loop met ’n boek wat op jou kop gebalanseer is terwyl jou neus in die lug is. Begin nou van voor af en kyk hoe ver jy kan loop met ’n boek wat op jou kop gebalanseer is met jou neus nie in die lug nie.
Kreatiewe gebed
INSTRUKSIES
• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.
WENKE
• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk
Dankies en getuienisse
Gister se getuienisse:
My getuienis van God se sorg en goedheid: Terwyl ek my wonde lek oor dit wat van my weggeneem word gedurende die inperking, wil ek liewers my fokus plaas op die miljoene mense in ons land wat honger, bang en alleen is – nie in fancy huise nie, maar in sinkhuise of selfs sonder heenkome
– Jaco Swart.
Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.
Slaaptydstorie
Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.