Dag 50 – Moenie ’n slagoffer wees nie

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Wolk

 

Heilige God Drie-enig, in hierdie dae vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus – daardie vreemde gebeurtenis wat op die oog af ’n afskeidsgeleentheid was. Ons word daaraan herinner dat die opstanding van Jesus Christus die begin van ’n nuwe werklikheid aangekondig het: U is waarlik die vredevolle Koning wat tot in ewigheid op aarde en in die hemel regeer.

Wys vir ons, Here, hoe ons in hierdie tyd steeds kan glo en verkondig dat U waarlik oor alles en oor almal heers. Verruil ons vrees vir vertroue, Here, sodat ons te midde van al die onsekerheid steeds bouers van u koninkryk hier op aarde kan wees.

Herinner ons dat ons, deur die krag van die Heilige Gees, deel is van die storie wat U aanhou skryf met u skepping.

Vertroos ons met die wete dat U ons nie as weeskinders hier agtergelaat het nie, maar dat u Voorspraak vir ewig by ons is – en dat U inderdaad sal terugkeer (Joh 14:16-18).

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

“Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie” – Deuteronomium 31:8.

Jy is nie ’n slagoffer nie. Jy is iemand wat elke dag ’n lewensgrootte verskil kan maak. Hierdie verskil gebeur as jy kies om nie ’n gevangene van jou emosies, omstandighede, verlede, familie, kerk, werk, buurt, land of wat-ook-al te wees nie. Ja, jy het ’n verlede, of jy dit nou wil weet of nie, en jou verlede gooi elke dag ’n skaduwee, of ’n lig, oor vandag. Jy kan ongelukkig nie maak asof gister of eergister nie ’n uitwerking op jou manier van leef het nie, want dit het. Maar jy kan wel besluit of dit ’n skaduwee of ’n lig sal wees.

Wanneer onwelkome gebeure soos misdaad, mishandeling of ander traumatiese ervarings littekens op ons lewe laat, kan ons maklik in slagoffers van die lewe verander. Dan bly ons in die intensiewe eenheid as ons nie iets daadwerklik hieraan doen nie. Vra my, ek was ook al die slagoffer van ’n motorkaping.

Aanvanklik het ek gedink ek cope goed met hierdie traumatiese ervaring, totdat my vrou en goeie vriende my oortuig het dat ek die situasie nie doeltreffend hanteer nie. Eers toe ek by ’n terapeut uitgekom het, het die greep wat hierdie insident op my daaglikse menswees gehad het van my skouers afgegly. Ek moes kies om nie langer gevange gehou te word deur emosies soos vrees, woede of selfs haat nie. Ek moes kies om oor te begin leef. Ek moes besluit dat ’n nuwe dag vir my aangebreek het. En dit het! Goddank!

Watter dinge hou jou gevange sodat jy die mooiheid van vandag nie ten volle kan geniet nie? Watter vrese en onsekerhede lê jou lam? Kyk dit in die oë. As dit moet, gaan praat met iemand wat jou kan help om vry te kom hiervan. Jy is nie ’n supermens nie. Jy is nie onbreekbaar en onaantasbaar nie. Die lewe gebeur, ook met jou.

My God en veilige Vesting, ek lê my vrese by u voete neer. Gee vir my u vrede sodat ek nie die mooie wat U vandag aan my wil skenk, misloop as gevolg van die verlede wat by my spook of weens my bekommernisse oor die toekoms nie. Amen.

Geloofsvrae

Die afgelope tyd moes ek ’n hele paar teleurstellings te bowe probeer kom. Soveel dinge het net nie uitgewerk soos wat ek gehoop het dit sou nie. Hoe kan ek weer begin hoop – sonder om teleurstelling te verwag?

 

Dis mos presies wat teleurstelling doen, veral herhaalde teleurstellings: Dit stroop jou van hoop. Dit kan selfs meebring dat jy uit die staanspoor negatiewe gevolge verwag wanneer jy iets aanpak.

Jesus ken ons brose mensehart só goed; dis hoekom Hy ons gewaarsku het dat dinge in hierdie wêreld nie altyd vir ons maklik sal verloop nie. Hy vra egter ook dat ons sal moed hou, want Hy het die wêreld reeds oorwin (Joh 16:33). Maar hoe kry ons dit reg? Hoe kan ons moed hou wanneer dit voel asof alles skeefloop? Hier is ’n klompie praktiese maniere om weer hoop te kry: 

– Die belangrikste geveg in tye vol teleurstelling vind in ons denke plaas. Dis noodsaaklik om dan positiewe gedagtes te koester en op mooi dinge te fokus (Fil 4:8). Gaan lees doelbewus stories vol hoop wat jou kan bemoedig.

– Gaan lees weer al die beloftes in God se Woord. Sy beloftes sal nooit leeg na Hom toe terugkeer nie (Jes 55:11). Maak ’n lys van al sy beloftes en sê dit elke dag hardop aan jouself. Dit dien dan ’n tweeledige doel: Jy hoor dit met jou eie ore, en jy sê dit met jou eie mond. Woorde het krag, sê die Spreukedigter (Spr 18:21).

– Maak ’n droombord. Gaan soek prente wat met jou hart praat, wat jou opgewonde maak. Dit kan dinge wees waarvan jy hou of projekte wat jy graag wil aanpak. Plak dit dan op waar jy dit elke dag kan sien. Wanneer jy daarna kyk, dank God vir sy seëninge. En vir die feit dat jy, soos Paulus, daarvan oortuig kan wees dat alles ten goede sal meewerk (Rom 8:28).

– Die Spreukedigter sê uitgestelde hoop maak die hart siek (Spr 13:12). En dan lees ons dat ’n vrolike mens soos goeie medisyne is (Spr 17:22). Omring jou met positiewe mense, en maak genoeg tyd om lekker te lag. Jy sal sommer gou weer ’n gesonde, hoopvolle hart hê.

– Halrika Breytenbach

Liturgie van die Lewe

’n Tyd om dankbaar te wees …

 

In ’n tyd waarin baie mense hulle frustrasies oor wat hulle nie kan kry of koop nie op sosiale media verwoord, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor alles waarvoor ons dankbaar kán wees. Alles wat ons het, alles, kom uit God se hand. Dit is God wat ons seën met die lewe en dan ook met die middele wat die lewe moontlik maak. God seën ons met al die elemente wat die lewe die moeite werd maak, soos verhoudings en die gawe van die natuur. Gebruik hierdie week jou vyf sintuie om jou te help om opnuut bewus te raak van al die gawes en om werklik dankbaar te wees vir dit waarmee God jou seën.

Luister na die voëls in die tuin, na musiek, na die klank van trekkers wat werk op die plaas. Wat hoor jy wat jou met dankbaarheid vul?

Ruik vroegoggend die vars lug, die kos wat julle in julle huis maak. Wees dankbaar dat julle nog kos het om te eet.

Proe die kos wat jy het om te eet. Besef dat God vir jou die geleentheid gee om te werk sodat jy kan eet, sodat jy sy koninkryk kan help bou. 

Raak aan die grond buite in die tuin, in die land of in die boord. Raak aan ’n troeteldier of aan die hand van jou kinders, jou ouers, jou lewensmaat. Hoe voel hierdie seën? Hoe reageer jou hond, kat of perd wanneer jy met liefde en dankbaarheid hulle ore krap?

Sien alles rondom jou raak. Alles wat jy besit, jou kinders, die skoonheid van die streek waar jy woon en werk. Sien hoe God jou te midde van baie moeilike omstandighede steeds seën en vir jou en die wêreld sorg. Dank God!

Skryf alles wat jy hierdie week ervaar het neer. Skryf ’n dankbaarheidsbrief of ’n lofpsalm en sit dit in jou Bybel of deel dit selfs op sosiale media om jouself en ander te herinner waarvoor ons alles werklik dankbaar kan wees. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Soms gebeur daar dinge met ons wat ons gedagtes heeltemal kan vul en oorneem. Dalk het jy ’n bangmaakstorie gekyk en nou dink jy die hele tyd daaraan in die aande. God herinner ons in vandag se teksvers dat Hy altyd by ons is en ons nooit in die steek sal laat nie. Wanneer ons bang is, hoef ons nie bekommerd te wees dat ons alleen is nie, want God is altyd by ons.

– Vertel van ’n keer toe jy baie groot geskrik het of baie bang was.

– Wat het jou na die tyd gehelp om oor die skrik te kom of nie meer bang te wees nie?

Aktiwiteit

 

– As jy ’n “glow in the dark”-speelding of -plakker het, sit dit langs jou bed neer waar jy dit in die nag kan sien. Net soos daardie speelding of plakker die hele tyd daar is en gloei, so is God die hele tyd by jou. 

– Leer Deuteronomium 31:8 uit jou kop. Wanneer jy weer bang is, kan jy dit opsê.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.