Dag 51 – God vergeet; hoekom onthou jy?
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gebed vir die week
Begin jou dag met hierdie gebed.
Simbool: Wolk
Heilige God Drie-enig, in hierdie dae vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus – daardie vreemde gebeurtenis wat op die oog af ’n afskeidsgeleentheid was. Ons word daaraan herinner dat die opstanding van Jesus Christus die begin van ’n nuwe werklikheid aangekondig het: U is waarlik die vredevolle Koning wat tot in ewigheid op aarde en in die hemel regeer.
Wys vir ons, Here, hoe ons in hierdie tyd steeds kan glo en verkondig dat U waarlik oor alles en oor almal heers. Verruil ons vrees vir vertroue, Here, sodat ons te midde van al die onsekerheid steeds bouers van u koninkryk hier op aarde kan wees.
Herinner ons dat ons, deur die krag van die Heilige Gees, deel is van die storie wat U aanhou skryf met u skepping.
Vertroos ons met die wete dat U ons nie as weeskinders hier agtergelaat het nie, maar dat u Voorspraak vir ewig by ons is – en dat U inderdaad sal terugkeer (Joh 14:16-18).
Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ’n Hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is – Prediker 9:4.
Jy skuld jouself vandag. Soos Prediker 9 sê, ’n lewende hond is beter as ’n dooie leeu. Nou ja, jy ook. Jy leef! Jy is hier. Al het jy dalk jou werk verloor of ernstig siek geword, God het gekies dat jy vandag steeds leef.
Jou waarde het nie skielik afgeneem omdat die geld in jou sak verdwyn of jou gesondheid dramaties verander het nie. Of omdat ’n maatskappy jou dienste te beëindig of jou huwelik of ’n kosbare vriendskap op die rotse geloop het nie. Jy is nie vandag ’n mislukking omdat hierdie dinge gebeur het nie. Nie eens al die verkeerde dinge wat jy gedoen of die skewe paadjies wat jy gister gekies het, kan vandag teen jou tel as jy in die Here se hand leef en sy vergifnis ken nie.
Jy leef vanuit die genade van God. Jy is kosbaar in God se oë. Gister se foute en gebreke is minstens ’n nagreis ver agter jou. Saam met gister wat verby is, is gister se seer, swaar, verkeerde besluite, struikeling en pyn ook verby. God het gekies om oor en voor met jou te begin. Hoekom dan weier om sy genade te ontvang? Hoekom weier dat God jou opnuut met sy liefde en deernis omvou? Hoekom vasklou aan bitterheid of selfbejammering?
Moenie die leuens glo dat jou waarde net in geldterme gemeet kan word nie, of dalk net aan die nut wat jy vir ander het nie. Jy is so kosbaar dat God jou nie oorgeslaan het toe Hy vanoggend aan al sy geliefdes hier op aarde brood uitgedeel het nie. Ook is jy nie afgeskeep toe nog ’n porsie nuwe lewe deur die Gees oor sy kerk uitgegiet is nie. God het besluit om jou flou gister te vergeet; hoekom hou jy dit dan nog lewend? Moenie toelaat dat vals verhale oor gister en eergister jou gevange hou nie. Ontsnap uit jou selfopgelegde vonnis. Raak vry. Leef vandag!
Dankie, Here, dat U vandag as geskenk aan my gegee het. Help my om gister se mislukkings, seer en spyt aan u voete neer te sit sodat ek nou, vandag, vry kan leef. Amen.
Geloofsvrae
Hoe leef ons die daagliksheid van die lewe in die lig van die hoop van die evangelie?
Ons memoriseer nie meer woorde nie. Nie eens telefoonnommers nie. Ons en ons kinders weet alles is reeds iewers op ’n skerm waar dit vir ons bewaar word.
Deesdae se kinders ken waarskynlik min, indien enige, liedjies en gedigte uit hulle kop. As ek by die ouetehuis in ons gemeente biduur hou, vertel ek graag aan die ouer mense daar hoe geseënd hulle is. Want die meeste van hulle kan láng gedeeltes uit die Psalms en ander Bybelboeke opsê. Dis ’n skat vir wanneer jy die dag nie meer kan lees nie of bedlêend is.
Daar is iets universeel aan ’n lied en ’n gedig. Jacques Lussereyan beskryf dit treffend in sy boek Against the pollution of the I. Hy was maar 19 jaar oud toe hy, as ’n lid van die Franse weerstandsbeweging teen die Nazi’s, gevange geneem en na die konsentrasiekamp by Buchenwald geneem is. In daardie stadium was hy reeds 12 jaar lank blind. Die boek gaan juis oor wat sy blindheid hom oor sy innerlike “ek” geleer het.
Hy vertel van die wanhoop en vrees in die konsentrasiekamp. Dié plek waar almal nie dieselfde taal gepraat het nie, maar waar hulle toe ontdek het hoe poësie hulle hoop en lewe gee. Hy vertel hoe mans vir mekaar gedigte opgesê en só weer lewe gebring het. Hy skryf: “I learned that poetry is an act, an incantation, a kiss of peace, a medicine. I learned that poetry is one of the rare, very rare things in the world which can prevail over cold and hatred.”
Dan beskryf hy hoe hy besef het dat ongelukkigheid na ons toe kom omdat ons dink ons is die middelpunt van die wêreld. Omdat ons dan dink ons ly alleen.
Die wêreld se groot digters herinner ons aan alles wat ons met ons medemens deel, ook ons gebrokenheid en angs. Dis wat die Bybelse Psalms onder meer ook doen. Die bekende Henri Nouwen het geskryf: “The more personal, the more universal.” Dis hoekom die klag en lied, en die vrees en vreugde van die eeue oue Psalmboek vandag nog tot ons spreek.
Kom ons memoriseer tog ’n klompie gedigte en ’n paar psalms vir daardie koue dae in ons lewe. En dan gee ons dit as ’n geskenk aan ander …
– Lisel Joubert
Liturgie van die Lewe
’n Tyd om dankbaar te wees …
In ’n tyd waarin baie mense hulle frustrasies oor wat hulle nie kan kry of koop nie op sosiale media verwoord, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor alles waarvoor ons dankbaar kán wees. Alles wat ons het, alles, kom uit God se hand. Dit is God wat ons seën met die lewe en dan ook met die middele wat die lewe moontlik maak. God seën ons met al die elemente wat die lewe die moeite werd maak, soos verhoudings en die gawe van die natuur. Gebruik hierdie week jou vyf sintuie om jou te help om opnuut bewus te raak van al die gawes en om werklik dankbaar te wees vir dit waarmee God jou seën.
– Luister na die voëls in die tuin, na musiek, na die klank van trekkers wat werk op die plaas. Wat hoor jy wat jou met dankbaarheid vul?
– Ruik vroegoggend die vars lug, die kos wat julle in julle huis maak. Wees dankbaar dat julle nog kos het om te eet.
– Proe die kos wat jy het om te eet. Besef dat God vir jou die geleentheid gee om te werk sodat jy kan eet, sodat jy sy koninkryk kan help bou.
– Raak aan die grond buite in die tuin, in die land of in die boord. Raak aan ’n troeteldier of aan die hand van jou kinders, jou ouers, jou lewensmaat. Hoe voel hierdie seën? Hoe reageer jou hond, kat of perd wanneer jy met liefde en dankbaarheid hulle ore krap?
– Sien alles rondom jou raak. Alles wat jy besit, jou kinders, die skoonheid van die streek waar jy woon en werk. Sien hoe God jou te midde van baie moeilike omstandighede steeds seën en vir jou en die wêreld sorg. Dank God!
Skryf alles wat jy hierdie week ervaar het neer. Skryf ’n dankbaarheidsbrief of ’n lofpsalm en sit dit in jou Bybel of deel dit selfs op sosiale media om jouself en ander te herinner waarvoor ons alles werklik dankbaar kan wees.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Hoop is nogal ’n vreemde woord. Ons weet wat dit beteken, maar ons sukkel om dit te verduidelik. Vandag se teksvers herinner ons dat hoop beteken daar is nog tyd om dinge te doen, maak nie saak wat gister gebeur het of wat mense van jou sê of hoeveel keer jy iets nie reggekry het nie. Solank jy nog asemhaal, is elke dag ’n nuwe geleentheid om voluit vir God te leef.
– Het jy al gevoel of jy alle hoop verloor het? Wat het gebeur?
– Hoe kan ons vir iemand verduidelik wat hoop beteken?
Aktiwiteit
Maak ’n plakkaat waarop staan: “Voluit vir God!” Plak jou plakkaat iewers op waar jy dit elke dag, sommer heel eerste ding in die oggend, sal sien. Elke keer as jy dit sien, kan jy onthou: Omdat ek nog asemhaal, leef ek met hoop.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie.
– Wat sien jy alles raak?
– Watter kleure val jou op, en hoekom?
– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers?
Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie.
Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek.
Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies
Getuienisse
Slaaptydstorie
Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories.
Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.