Dag 52 – Leef sonder spyt

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Wolk

 

Heilige God Drie-enig, in hierdie dae vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus – daardie vreemde gebeurtenis wat op die oog af ’n afskeidsgeleentheid was. Ons word daaraan herinner dat die opstanding van Jesus Christus die begin van ’n nuwe werklikheid aangekondig het: U is waarlik die vredevolle Koning wat tot in ewigheid op aarde en in die hemel regeer.

Wys vir ons, Here, hoe ons in hierdie tyd steeds kan glo en verkondig dat U waarlik oor alles en oor almal heers. Verruil ons vrees vir vertroue, Here, sodat ons te midde van al die onsekerheid steeds bouers van u koninkryk hier op aarde kan wees.

Herinner ons dat ons, deur die krag van die Heilige Gees, deel is van die storie wat U aanhou skryf met u skepping.

Vertroos ons met die wete dat U ons nie as weeskinders hier agtergelaat het nie, maar dat u Voorspraak vir ewig by ons is – en dat U inderdaad sal terugkeer (Joh 14:16-18).

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus – Filippense 3:13-14.

“No regrets!” So sing Mireille Mathieu, ’n Franse sangeres, in een van my gunstelingliedjies. Sy sing oor die lewe sonder spyt of verwyt. Oor die lewe een dag op ’n slag binne God se heilige hand. Te veel van ons leef met onnodige skuldgevoelens. Ons is gedurig aan die snuffel en soek na foute, tekorte en gebreke in ons lewe. Ons skiet aanhoudend tekort in ons eie oë.

As ons elke nuwe dag saam met die Here wil leef, reken ons elke aand werklik af met die dag se foute. Ons krap nie die hele tyd in gister se donker laaie rond nie. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir ons lewenskeuses, foute en oorwinnings wat gister en eergister gebeur het. Maar ons laat nie toe dat dit by ons spook nie. Saam met Paulus in Filippense 3 maak ons ons los van wat agter is en strek ons uit na wat voor is.

Ons leef met ons voet teen vandag se brandstofpedaal. Daarom is daar nie spyt of verwyt in ons harte nie. Ons maak regtig vrede met omstandighede wat ons nie kan verander nie. Ons leef saam met mense wat ons graag anders wou gehad het, maar wat waarskynlik nie gaan verander nie. Ons span ons in en strek ons hande uit, ja, vandag, na die hemelse prys waartoe God ons in Christus Jesus geroep het.

Here, help my om myself los te maak van my spyt en my ten volle in te span vir wat voor my lê sodat ek vandag ten volle kan leef soos U dit wil. Amen.

Geloofsvrae

Wat is dan so “nuut” aan koninkryksmense?

 

Dis ’n goeie vraag, want selfs ons wat Jesus lank reeds ken en liefhet en dien, lyk dikwels nie juis nuut nie. Ons dra steeds die ou klere wat pas by ’n lewe sonder Hom, asof dit ons daaglikse drag is. Met hierdie klere aan ons lyf, verskyn ons in die openbaar. Daar word ons dan herken aan dit wat ons dra.

Talle Bybelskrywers leer ons dat ons nie meer so hoef aan te trek nie. Ons het ’n nuwe lewe, en ons het nuwe klere. Dink maar aan hoe Paulus dit in 2 Korintiërs 5:17 stel: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Dit beteken ons nuutheid strek veel dieper as veldiep. Dis ook allesbehalwe kosmeties van aard.

Hoe lyk hierdie andersheid, hierdie nuutheid presies?

 

Allereers: Ons weet aan wie ons behoort terwyl ons hier ons daaglikse lewe leef. Die Bybel herinner ons gereeld aan dié heerlike waarheid: Julle is duur gekoop. Julle behoort nie meer aan julleself nie; julle behoort aan die Koning. Hy is Heerser oor julle lewe en julle gedrag.

Ons nuwe gedrag gee dan uitdrukking aan ons nuwe identiteit in Christus. As jy meer hieroor wil lees, gaan kyk gerus ook na Filippense 3 en Kolossense 3. In Paulus se brief aan die Galasiërs is daar boonop ’n kernwaarheid oor hierdie nuwe lewe: Ons gedrag word nie meer deur selfsug bepaal nie. Ons kan nie langer vir onsself leef nie, maar moet leef vir Hom wat vir ons gesterf en opgestaan het.

Hieraan sal ons as nuwe mense herken word: Ons dra die “klere” van Jesus se gedrag. Hy, die Here, die Christus.

– Malan Nel

Liturgie van die Lewe

’n Tyd om dankbaar te wees …

 

In ’n tyd waarin baie mense hulle frustrasies oor wat hulle nie kan kry of koop nie op sosiale media verwoord, is dit dalk ’n goeie tyd om te dink oor alles waarvoor ons dankbaar kán wees. Alles wat ons het, alles, kom uit God se hand. Dit is God wat ons seën met die lewe en dan ook met die middele wat die lewe moontlik maak. God seën ons met al die elemente wat die lewe die moeite werd maak, soos verhoudings en die gawe van die natuur. Gebruik hierdie week jou vyf sintuie om jou te help om opnuut bewus te raak van al die gawes en om werklik dankbaar te wees vir dit waarmee God jou seën.

– Luister na die voëls in die tuin, na musiek, na die klank van trekkers wat werk op die plaas. Wat hoor jy wat jou met dankbaarheid vul?

– Ruik vroegoggend die vars lug, die kos wat julle in julle huis maak. Wees dankbaar dat julle nog kos het om te eet.

– Proe die kos wat jy het om te eet. Besef dat God vir jou die geleentheid gee om te werk sodat jy kan eet, sodat jy sy koninkryk kan help bou. 

– Raak aan die grond buite in die tuin, in die land of in die boord. Raak aan ’n troeteldier of aan die hand van jou kinders, jou ouers, jou lewensmaat. Hoe voel hierdie seën? Hoe reageer jou hond, kat of perd wanneer jy met liefde en dankbaarheid hulle ore krap?

– Sien alles rondom jou raak. Alles wat jy besit, jou kinders, die skoonheid van die streek waar jy woon en werk. Sien hoe God jou te midde van baie moeilike omstandighede steeds seën en vir jou en die wêreld sorg. Dank God!

Skryf alles wat jy hierdie week ervaar het neer. Skryf ’n dankbaarheidsbrief of ’n lofpsalm en sit dit in jou Bybel of deel dit selfs op sosiale media om jouself en ander te herinner waarvoor ons alles werklik dankbaar kan wees. 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

As jy in ’n resies hardloop, is daar ’n beginpunt en ’n eindpunt. Die doel is om die eindpunt, die wenstreep, te bereik. Jy kan die eindpunt net bereik as jy vorentoe kyk en vorentoe beweeg. Om die hele tyd terug te kyk, gaan maak dat jy stadiger vorentoe beweeg. 

Jesus herinner ons dat ons elke dag die kans kry om vorentoe te beweeg, om so meer van sy liefde uit te deel. Ons hoef nie aanmekaar bekommerd te wees oor alles wat ons in die verlede verkeerd gedoen het nie, want dit gaan keer dat ons vorentoe beweeg. Ons kan sê ons is jammer en dan weet en glo Jesus het ons reeds vergewe.

Aktiwiteit

 

Vandag hardloop ons resies. Merk ’n afstand af en sê waar die beginpunt en die eindpunt is. Hardloop nou resies op drie verskillende maniere:

1. Probeer die eindpunt bereik, maar kyk die hele tyd om na die beginpunt.

2. Hardloop nou weer na die eindpunt toe, maar kyk kort-kort om na die beginpunt.

3. Hardloop ’n laaste keer, maar kyk hierdie keer net vorentoe.

– Watter manier van hardloop het jou die vinnigste laat hardloop tot by die eindpunt?

– Hoekom hoef ons nie die hele tyd bekommerd te wees oor die dinge wat ons in die verlede gedoen het nie?

– Hoe kan ons die dinge van die verlede agter ons sit en vorentoe kyk?

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.