Dag 59 – Vreugde is ’n ernstige saak

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Gebed vir die week

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Simbool: Duif

 

Gees van God, met Pinkster vier ons die besonderse uitstorting van u teenwoordigheid in die wêreld: ’n geleentheid wat ons die geboorte van die kerk noem. Deur hierdie lewensveranderende gebeurtenis het U dit moontlik gemaak vir elkeen wat glo om dit te kan bely en om te kan vertel dat Jesus die Here is.

Ons bely dat ons dikwels nalaat om die werk van die Heilige Gees raak te sien of te erken, en dat ons ons soms doelbewus daarteen verset. Ons wil ons eie leiding volg, eerder as om op u leiding te vertrou. Ons maak ons eie planne, eerder as om u planne uit te voer. Ons verkies die bekende van gerief, eerder as om ons oor te gee aan die avontuur van u aanmoediging.

Wys vir ons, genadige God, waar ons beter kan luister, meer kan raaksien, versigtiger kan aanvoel – sodat ons kan leef in die ritme van die Gees se asemhaling. Waai ons na waar U wil, o Here, sodat ons getrou sal wees aan die roeping om te vertel: daardie vertel wat die Goeie Nuus plant oral waar ons gaan, sodat elke tong uiteindelik sal bely dat U die Koning van die skepping is.

Amen.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap – 1 Petrus 1:8-9.

Kies jy om elke dag in vreugde te leef? CS Lewis het gesê: “Joy is the serious business of heaven.”

Ja, lewens moet aangeraak word. Armes moet kos kry. Eensames moet bygestaan word. Trane moet afgedroog word. Die evangelie moet verkondig word. Dinge en mense moet verander. Maar Jesus self is vandag hier. Daarom is vandag die dag! Hy is die Eregas. Laat staan eers alles en geniet vandag voluit saam met Hom. Hý is die Lewe, nie jou drome oor sukses, ’n beter werk, meer besittings, luukser vakansies of groter invloed nie. Maak vandag jou spesiale dag om saam met Jesus te wandel. En geniet dit. Moenie te veel dink aan wat jy wil sê of vra tydens hierdie ontmoeting met Hom nie. Nee, loop net ’n slag sorgvry saam met die Here, onbepland en vreugdevol.

Dis goed en reg om groot drome te droom en goeie planne te beraam oor hoe jy die wêreld vir God wil verander. Maar die belangrikste van alles is om vandag in die teenwoordigheid van jou Here te wees en dit net te geniet.

Om daar te wees waar Hy is, is meer as genoeg. Dis die lewe self. Los dan eers al jou planne eenkant. Daag net op. Geniet Jesus se spesiale feesmaal saam met jou in jou klein hoekie van die wêreld. Verheug jou oor sy teenwoordigheid. Sing ’n vreugdelied voor Hom. Dans vrolik. Wees oordadig bly. Laat dit uitbundig oor jou lippe borrel, al weet niemand anders daarvan nie. Vul jou huis, jou werkplek met ’n stukkie persoonlike vreugde omdat Jesus spesiaal by jou kom kuier het. Vandag.

Here, help my om vandag sorgvry en vreugdevol in u teenwoordigheid te leef sodat ek op u ritme kan dans en u vreugde na my naaste kan laat oorspoel. Amen.

Geloofsvrae

Hoe moet ek oor die sabbat dink? Kan ek nie maar hieroor ontspan nie?


Ontspan, ja! Dis juis die sabbat se doel.

Ons moeilikheid met die sabbat het met die woord “gewydheid” begin. Die kerk se jare lange denke oor die sabbat het nie juis ruimte vir die werkwoord “ontspan” gehad nie. En “gewyd” het heel dikwels saam met “ernstig” uit die nagmaalbeker gedrink. Die sabbatdag was dus ’n dag vir ernstige dinge.

Daar was regtig nie eens ’n gedagte aan iets lekkers nie. Speel en plesier en vrolikheid het nie by dié dag gehoort nie. Jy sou in elk geval nie sommer hoor dat daar oor die waarde van ontspanning gepreek word nie. Die blote gedagte dat ’n vakansieoord of ’n berghut of ’n strandhuis broodnodige sabbatsrus kon huisves, was volksvreemd.

Ek onthou hoe die sabbatdag destyds dié dag vir ’n goeie pak slae was. Wanneer ek en my broer op ’n snikhete Somersondag, terwyl ons ouers geslaap het, skelmpies in die swembad gaan duik het, was daar ’n goeie kans dat ons boude later daardie aand sou brand.

Só was dit ook menige kind se sabbatdag-belewenis. Dalk voor kerk, dikwels net daarna. Vir sommige sommer met die uitgaanslag op die kerk se trappies. Of, as jy gelukkig was, agter Pa se kar, waar daar minder oë was …

Dankie tog, dan, vir die hedendaagse herontdekking van wat dit beteken om ’n gewyde lewe te leef. Dit het meer met heilsaamheid as rigiditeit te doen. Om heilig te leef, is om helend te leef. Die belangrike rol wat rus (die sabbat) in die helingsproses speel, kan nie oorskat word nie.

Die sabbat is, ironies genoeg, veel nader aan ontspanning as aan godsdienstige inspanning. Buite en binne die kerk is rus tans ’n gonswoord – want om te rus, is om te bid. Om te bid, is om te ontspan. Om te ontspan, is om te speel. En om te speel, is om weer soos ’n kind te leef. En dalk, net dalk, weer só te kan glo.

Fourie Rossouw

Liturgie van die Lewe

’n Nuwe gewoonte om jou dag af te sluit

Vestig gerus hierdie nuwe gewoonte om jou dag mee af te sluit:

– Dink ’n oomblik na oor God se goedheid deur die loop van die dag. Hoe het die Here vir jou vandag hemelse manna gegee? Watter daaglikse brood was op jou spyskaart? Het jy vandag dalk meer as net brood geëet? Hoe het die Here voorsien in jou en jou dierbares se behoeftes? Waar het jy oral God se hand in vandag raakgesien? Op watter maniere het God jou van voor af nuut gemaak? Watter impak het jou doen en late op ander gehad? Hoe is ander se lewe verander omdat God jou vandag juis naby aan hulle neergesit het?

– Sê vir die Here dankie vir vandag en vir sy brood en manna. Gee aan Hom die eer vir vandag, vir elke stukkie oorvloed en vir elke tekort. Wees ryk voor God vanaand, al is jy brandarm. Wees arm voor God vanaand, al is jy ryk. Wees klein, maar oordadig in jou dankbaarheid. Jubel en juig oor alles wat vandag in jou, met jou, rondom jou en met ander gebeur het wat God se eer nog meer weerkaats.

– Sê jammer vir elke vermorste kans, elke verswygde woord wat God sou verheerlik het, elke verbeurde geleentheid om te dien en vir ander om te gee. Sê jammer vir enige stukkie selfsug of eersug. Aanvaar God se vergifnis en maak daardie boeke vir oulaas toe. Moenie met skuldgevoelens of onafgehandelde negatiewe emosies gaan slaap nie. 

– Vra vir hemelse manna vir die nag wat voorlê. Bid die Heer se goedheid en sorg af oor jouself, jou dierbares en die mense rondom jou en ver van jou af.  

Lekker slaap!

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Het jy al die woord ooggetuie gehoor? Kom ons breek die woord op: oog – ’n mens kyk en sien met jou oë; getuie –  iemand wat iets met hulle eie oë sien gebeur het. 

Petrus was ’n ooggetuie van Jesus se lewe op aarde. Hy het Jesus gesien en geken en daarom kon hy baie dinge oor Jesus in die Bybel neerskryf. Nie een van ons het al vir Jesus gesien nie; dalk in Kinderbybelprentjies, ja, maar nie soos Petrus vir Jesus gesien het nie. Gelukkig is dit nie nodig dat ons vir Jesus sien nie, want ons het twee dinge wat ons help om Jesus beter te leer ken: (1) ooggetuies wat vir ons baie waarhede in die Bybel neergeskryf het, en (2) die Heilige Gees wat ons elke dag lei en in ons harte woon. So is Jesus en sy liefde elke dag deel van ons lewe.

– Jy kan ook ’n ooggetuie van Jesus se liefde wees. Waar en hoe sien jy Jesus se liefde elke dag raak?

Aktiwiteit

Maak vir jou ’n spesiale borsspeld van karton en ’n hakspeld. Skryf die woorde “Jesus se ooggetuie” op die stukkie karton en versier dit mooi. Dra dit dan met trots.

Verbeel jou ...

Kyk na vandag se illustrasie. 

– Wat sien jy alles raak? 

– Watter kleure val jou op, en hoekom? 

– Sien jy enige ooreenkomste tussen die illustrasie en vandag se vers? 

Nou is dit jou beurt! Gebruik vandag se vers as inspirasie vir ’n illustrasie van jou eie. 

Gebruik enige medium: teken, verf, dans, digkuns, ’n foto, ’n kortverhaal of musiek. 

Deel dit gerus met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Getuienisse

Slaaptydstorie

Ons is binnekort terug met nog Slaaptydstories. 

Ongelukkig verg dit baie tyd om die stories op te neem. Wees dus asseblief geduldig met ons. En hou hierdie ruimte dop vir die volgende slaaptydstorie vir die jongspan.