Dag 8 – Praat onder mekaar die waarheid

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Here, gee vandag aan ons 
die wysheid om te doen wat reg is.
In enige situasie waarin ons is, 
vra ons dat U vir ons die wysheid sal gee 
om die beste besluite te neem oor wat ons sal doen en sê.
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen.

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Flits

 
Ons bid vir die polisie, sekerheidspersoneel en die weermag wat seker maak ons is veilig en beskerm in ons gemeenskappe. 

Ons sê dankie vir almal wat bereid is om gevaar te trotseer sodat ander landsburgers veilig kan voel.
 

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam – Efesiërs 4:25.

En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek, want ons is lede van dieselfde liggaam – Kolossense 3:9.

Daar is min dinge wat so gevaarlik is vir verhoudings soos leuens. Dit veroorsaak konflik en ondermyn die wedersydse vertroue tussen gelowiges. Waar almal vir mekaar leuens vertel, is dit eenvoudig onmoontlik om gesonde verhoudings in stand te hou. Dikwels kos dit net een leuen om ’n jare lange verhouding te vernietig.

Paulus sê ons as God se familie moet altyd die waarheid met mekaar praat omdat ons saam die liggaam van Christus vorm. Wie leuens vertel, benadeel nie net die ander persoon nie, maar uiteindelik ook hulleself. Wat deur die maag opgeneem en versprei word, beïnvloed immers die hele liggaam en uiteindelik ook weer die maag as deel van dié liggaam. 

Die waarheid self kan egter ook soms misbruik word om ander af te breek eerder as op te bou.  Daarom maak Paulus dit baie duidelik dat die waarheid altyd op ’n liefdevolle manier gepraat moet word. Hy skryf in Efesiërs 4:15: “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.” Ons motief om iets met ander te deel moet altyd wees om hulle in liefde op te bou en nie af te breek nie.

Here, leer ons om die waarheid lief te hê en om in liefde altyd die waarheid met mekaar te praat. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Eerlike handewas?

 

Hoe voel jy wanneer jy uitvind iemand het vir jou gelieg? Kan jy verwoord hoe jy voel wanneer jy vir iemand anders ’n leuen vertel het? Wanneer mense nie met mekaar die waarheid praat nie, kry verhoudings seer. Dit het die gevolg dat mense mekaar nie meer vertrou nie; vertroue word gesteel. 

Ons sê maklik die waarheid maak ’n mens vry. As jy vir iemand iets gesê het wat nie waar is nie, kan dit help om die verhouding te herstel as jy met die waarheid vorendag kom. Om die waarheid te praat keer dan eintlik dat wantroue en agterdog in ons verhoudings intree. As ons ’n relevante metafoor kan gebruik: Om nie die waarheid te praat nie, versprei wantroue soos ’n kiem of virus wat verhoudings kan siek maak. Om die waarheid te praat en te erken wanneer ons oneerlik was met ander mense is dan soos om ons hande te was. Ons was op die oomblik ons hande so baie omdat ons bewus is van die virus wat maklik oorgedra kan word wanneer ons aan ons gesigte of ander besmette oppervlakke geraak het. 

Elke keer wanneer ons nou ons hande in ons huise was, kan ons onsself daaraan herinner dat die waarheid ons help om ons verhoudings gesond te hou. Kom ons lê die valsheid af wat ons verhoudings in ons huis (en met ander mense) kan siek maak. Lê valsheid af, elke keer wanneer jy jou hande was! 

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Het jy al ’n klippie in die water gegooi en gesien hoe die water uitkring rondom die plek waar die klippie die water tref? Dit word ’n rimpeleffek genoem. Baie dinge in die lewe werk met ’n rimpeleffek. Jy doen een ding, maar daardie een ding laat ’n hele paar ander dinge ook gebeur. Paulus sê ons as God se familie moet altyd die waarheid met mekaar praat omdat ons saam die liggaam van Christus vorm. As ons ’n leuen vertel, is dit nie net sleg vir die een vir wie ons jok nie, maar uiteindelik ook vir onsself. Ons leuens het ’n rimpeleffek.

Gooi ’n klippie in ’n bak water en kyk hoe die rimpeleffek lyk. Wat beteken rimpeleffek?

Hoekom kan leuens ’n rimpeleffek hê?

Aktiwiteit

 

Gaan tel ’n paar klippies in julle tuin op en versier dit. Skryf die woorde: “Ek staan op vir die waarheid” op die klippies en sit dit iewers neer waar julle dit elke dag sal kan sien.

Speel die speletjie “Twee waarhede en ’n leuen”. Dit werk so: Almal kry ’n beurt om te praat. Wanneer dit jou beurt is, moet jy twee stellings maak wat waar en een wat nie waar is nie. Die res van die groep moet dan raai watter stelling nie waar is nie.

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Gister se getuienisse:

Baie dankie vir die boodskap! Ons sien uit na volgende aktiwiteit!

– Hannelie Keogh

Ek en my seuntjie doen elke dag se stukkie en geniet dit baie. Hy hou veral van Sakkie se sepie. Ons is dankbaar dat God ons beskerm en vir ons sorg.

– Hanneke Botha

Baie dankie vir die wonderlike aftelkalender. My ouers is bejaardes en my pa het ’n effense gehoorprobleem. As ek nog soggens lê, kom maak hy my wakker, want hy kan nie wag vir elke dag se boodskap nie. Ons verhouding met mekaar en met God word sterker by die dag. Ons besef die waarde van stilte en samesyn. Dit sal goed wees as so iets permanent kan wees. Die Here seën u.

– Yvonne Kotze

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.