Dag 9 – Help mekaar op die regte pad

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

U liefde …
gee ons vergifnis en vryheid
van alles wat ons vasbind
en bind ons aan mekaar
en aan U

U roeping
fluister vir ons
aanmoedigings en geskenke
op ons pad
en trek ons nader aan U –
die bron van alle goedheid
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen.

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Inkleurkryt

 

Ons bid vir kinders wat by ’n crèche of speelskool, in ’n voorbereidingskool of op laerskool is. 

Ons bid dat hulle in hierdie tyd van afsondering by die huis kan speel, kreatief kan wees en nuwe dinge kan leer. 

Ons sê dankie vir die vreugde van lag.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help Romeine 15:14.

Toe Paulus sy brief aan sy medegelowiges in Rome geskryf het, het hy in gedagte gehou dat hy nie die gemeente gestig het nie. Trouens, hy het die gemeente toe nog nie eens besoek nie. Daarom was hy as apostel huiwerig om voorskriftelik teenoor hulle te wees. Tog was hy seker dat hulle as gelowiges, wat deur die Gees van God toegerus is, in staat sou wees was om mekaar op die regte weg te help. 

Dit is belangrik om raak te sien dat Paulus die geestelike welsyn van die gelowiges in Rome nie net aan sekere geestelike leiers, soos hulle leraars en ouderlinge, toevertrou het nie. Die gelowiges moes almal vir mekaar verantwoordelikheid aanvaar. Ons elkeen het die verantwoordelikheid om na ons medegelowiges om te sien; dit is nie net die leraars of geestelike leiers se plig nie. 

Dit is egter nie altyd maklik om ander tereg te wys nie, en dit is nóg moeiliker om die teregwysing van ander te aanvaar. Daarom is dit belangrik dat ons in ’n gees van nederigheid en liefde teenoor mekaar sal optree.

Here, gee aan my die wysheid om ander op ’n liefdevolle manier te vermaan wanneer hulle só leef dat dit nie tot u eer strek nie. Skenk ook aan my ’n leerbare en nederige gesindheid sodat ek die teregwysing van ander sal kan aanvaar. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Wat vat ons saam op die pad?

 

Aan die einde van verlede jaar het ons beplan om so ’n paar dae weg te gaan. My dogter Catherine vra of sy kan help pak. My mond sê ja, maar my hele wese skree: Asseblief nie! Want daar is ’n klomp goed wat nog gedoen moet word voordat ons kan ry en wanneer sy help, help dit nie altyd so baie nie. Ons vorder tot my verbasing eintlik goed, totdat ons haar skoene moet kies wat ingepak moet word. Twee pare is volgens my verstaan genoeg, maar my vyfjarige dogter verklaar: “Pappa, ’n mens kan nooit te veel skoene saamvat nie.”

Ons dra nogal baie dinge saam met ons op ons lewenspad. Van die dinge wat ons saamdra, het waarde en vergemaklik ons reis. Ander is net bagasie. Dinge wat ons spoed breek en keer dat ons vorder. In ons verhouding met God kan dit ook maklik gebeur dat ons ’n klomp idees en gedagtes bymekaarmaak wat die reis moeiliker maak. Ek dink een van die stukke bagasie wat die meeste van ons met ons saamdra, is die idee dat ons nie goed genoeg is vir God nie. Ons dink ons moet meer doen, meer gee, meer en meer en meer, voordat God ons sal aanvaar. My verstaan van God is dat Hy ons kies, nie omdat ons goeie dinge doen nie, maar omdat Hy wil. Hy kies ons, want Hy is lief vir ons. Dit is in werklikheid al wat ons hoef saam te dra op ons lewenspad. Die wet is soos padtekens wat ons help om op die pad te bly saam met die Een wat ons gekies het. 

Hoe kan julle mekaar herinner dat julle elkeen goed genoeg is vir God? Hoe gaan julle mekaar vandag op die regte weg help stap? Vandag gaan dalk nie maklik wees nie, maar ons kan mekaar help om te onthou God is teenwoordig. Julle kan mekaar vandag op die regte weg help.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Dikwels dink ons ’n mens moet iemand belangrik soos ’n skoolhoof, ’n dominee, ’n sendeling of ’n ouderling wees om vir mense van Jesus te kan vertel. Vandag se teks herinner ons dat ons nie as ’n spesiale leier gekies hoef te word om vir mense van God te vertel nie, want God het ons almal as God se spesiale leiers gekies. Enigiemand kan vir ander mense van Jesus vertel.

Waar het jy die eerste keer van Jesus gehoor?

Hoe kan jy vir mense van Jesus vertel?

Aktiwiteit

 

Bou ’n hindernisbaan, maak beurte om mekaar te blinddoek en lei mekaar deur die hindernisbaan. Dit help ons om te onthou dat ons elkeen as ’n leier gekies is.

Maak vir elkeen in die huis ’n medalje waarop staan: “Spesiaal gekies”.

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Gister se getuienisse:

Baie, baie dankie vir die wonderlike kalender. Ons is ’n gesin van vyf met drie dogtertjies van 6, 10 en 12 jaar oud. Hulle bied dit om die beurt vir ons aan en elke dag bring ons as gesin tyd saam deur rondom die temas. Sakkie is net so goed en ons lag heerlik daarvoor!

Dag 7 se boodskap oor gasvryheid het ook vir groot pret gesorg toe ons vra wat die woord gasvry beteken en my dogtertjie van 10 sê: “Pappa is baie gasvry as hy elke dag windjies laat.”

– Claret Walker

Ek en my vrou, Hannelie, bly alleen in die huis (ons kinders is jong volwassenes).

Ons het hierdie kalender deur ons selgroep ontvang. Dit is vir my kosbaar, want ten spyte van dit wat ons nou nie kan geniet nie, het ons dit waaroor ons nou al ons hele beroepslewe fantaseer: ongebonde, ononderbroke, gewone tyd!

Ek was aanvanklik verward (amper paniekerig) oor wat om met al die tyd te maak. Ek het dit aanvanklik ongedissiplineerd, onbepland en ondoeltreffend gebruik, maar ek en my maat het besluit om by die begin te begin: Ons vergryp ons nou aan tyd vir refleksie. Gewoonlik hou ons soggens huisgodsdiens vir ongeveer 10-15 minute. Dan spring ons in ons motors en haas ons werk toe. Nou, met behulp van die kalender, begin ons dag eers na minstens een uur van afsonderlik stil word …

– André Engelbrecht

 

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.