Hoekom ‘n huiskerk?
Ons weet dat kerk-wees baie meer is as bloot inligting deel; dit gaan oor mense wat
mekaar ondersteun, bystaan en versorg. Die maatreëls wat deur die regering in plek
gesit is, ten die doel om die omvang van die Covid-19 virus te beperk, vra dat mense
nie bymekaar kom om normale eredienste te hou nie.
Ons kan egter op ander manier bymekaar kom om kerk te wees en huiskerke is een
van hierdie maniere. Gebruik die onderstaande liturgie as huishouding of kleingroep
en hou saam huiskerk in ‘n veilige, afgesonderde ruimte.
Paar praktiese wenke om ingedagte te hou met Covid-19 huiskerk:
- Die hele wêreld is op hol oor die Covid-19 virus en dit voel of groot dele van
ons daaglikse lewe op ys geplaas is. Om roetine te behou, reël jul huiskerk
byeenkoms vir dieselfde tyd as wanneer julle normale eredienste op ‘n
Sondag sou plaasvind. - Voor die huiskerk begin, laat almal teenwoordig hulle hande deeglik was.
- Vind ‘n spasie in die huis waar almal gemaklik kan sit en deelneem, en waar
die onderbrekings min gaan wees, sodat julle as groep gefokusd kan saam
wees. - Indien nodig, skakel die radio/televisie af, sit selfone op stil en haal sommer
die huisfoon van die mikkie af. - Die huiskerk is so geskryf dat jonk en oud daaraan kan deelneem. Pas dit
gerus aan om by die persone teenwoordig te pas. - Kry een persoon om die huiskerk te fasiliteer en almal nooi om saam deel te
neem. - Die opset van ‘n huiskerk mag vir baie mense, veral die jongspan, vreemd en
ongemaklik wees. Verduidelik aan jou huiskerk waarom julle só bymekaar
kom en wat die doel is. Herinner almal dat ons weet dat kerk-wees baie meer
is as bloot inligting deel; dit gaan oor mense wat mekaar ondersteun, bystaan
en versorg en vir die volgende paar weke gaan ons dit in hierdie spasie doen.1 Samuel 16:1-13: God kies die onwaarskynlikes
Verwelkoming
Verwelkom almal by julle huiskerk
Deel hoe dit met almal gaan. Is daar dalk enige mylpale wat gevier kan word soos
verjaarsdae of huweliksherdinkings?
Lydenstyd gedagte
Ons is in die vyfde Lydingsweek. Sit ‘n kers in die spasie waar julle verkeer so dat
almal dit kan sien. Indien julle wil, kan julle die kers versier met dorings, spykers en
‘n kruis om ons te herinner aan Jesus se lyding voor Paasfees.
Lydenstyd is ‘n seisoen van 46 dae waarin die kerk die lyding van Christus in
herinnering roep en daarop reageer in voorbereiding op die Paasfees. Hierdie tyd is
‘n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed, Bybelstudie en diensbaarheid –
selfs meer as normaalweg. Dit is ‘n tyd van soeke na God.
Baie Christene kies om in Lydenstyd vir 40 dae te vas. (40 dae, want daar word nie
op Sondae gevas nie, want ons vier elke Sondag Jesus se opstanding.)
Vas is om jouself te ontneem/ontsê van jou normale gebruike, om sodoende
doelbewus na God te draai in gebed. Elke keer as mens dan ongemak beleef, word
dit as ‘n geleentheid gebruik om doelbewus op God te fokus.
Steek die kers aan, en nooi almal om vir ‘n paar minute in stilgebed hulle harte aan
die Here oop te maak.
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat in liefde na jou kyk. Kyk terug oor jou
week en sien die geskenke, seëninge en gawes (wees spesifiek) wat God in hierdie
week vir jou gegee het en sê vir Hom dankie.
Voorganger bid ’n vrye gebed waarin gevra word dat die Here ons deur sy Woord sal
help om duidelik te sien wie ons is en wie Hy is.
Sing gerus ‘n paar liedere saam.
Vra vir voorstelle uit die groep en sing net lekker saam as julle nie begeleiding
het nie.
Sing saam met ‘n CD.
Vind liedere is op Youtube wat julle saam kan sing.
Paar voorstelle van liedere:
Lied 214 Here, ons sal U loof (vers 1,2+3)
Lied 553 Ek is bly ek ken vir Jesus
Lied 188 Kom dank nou almal God (vers 1+3)
Flam 107 Die Borrelliedjie (vers 1+2)
Inleidende gedagtes
Laat almal deel wie hulle as ‘n held beskou.
Wat is die redes daarvoor?
Die antwoorde sal waarskynlik daarop dui dat voorkoms en ander uiterlike
maatstawwe ’n groot rol speel in hulle keuses.
Noem ’n voorbeeld van iemand wat ’n held was waar voorkoms nie saak
gemaak het nie, maar wel karakter.
Verduidelik dat vandag se teks ons uitdaag om anders na mense te kyk.
Skriflesing: 1 Samuel 16:1-13
Nooi almal om in hulle Bybels saam te volg.
Lees die Skrifgedeelte rustig deur.
Voel vry om die teksgedeelte ook in ‘n ander vertaling te lees.
As daar baie klein kinders in die groep is, herhaal die verhaal op ‘n storie
manier. Gebruik selfs ‘n kinderbybel as inspirasie.
Paar gedagtes oor die teks:
Hierdie gebeure speel af in die tyd van Koning Saul as koning van Israel. Die Here
en die profeet Samuel is egter hartseer oor Saul. Hy het ontaard in ‘n tragiese
karakter. In Samuel 15 sê God dat Hy jammer is dat Hy Saul koning gemaak het.
In hierdie tyd stuur die Here vir Samuel om ‘n nuwe koning te gaan salf. Wanneer
Samuel bang is om hierdie opdrag uit te voer, omdat hy bang is Saul – wat nog
koning is – sal dalk uitvind dat hy ‘n nuwe koning gaan salf, verbloem die Here die
werklike rede vir Samuel se besoek aan Isai.
Wanneer Eliab opdaag, is Samuel oortuig daarvan dat hierdie oudste seun van Isai
die verkose koning moet wees. Iemand skryf oor Eliab: “He’s got future written all
over him.”
Vinnig kom ons egter agter dat die Here nie na dieselfde eienskappe as mense kyk
nie. Die Here kyk dieper as die oppervlak – anders as mense se eerste indruk. Die
Here kyk na die innerlike – dalk wil Hy wil onder andere weet hoe ons saam met
mense kan huil en bid. Hy wil weet of ons ‘n passie het vir geregtigheid en ‘n hart vir
verdwaaldes. Om hierdie rede vra die Here van Samuel om nog nie met sy soektog
vir ‘n koning onder Isai se seuns op te hou nie.
Uiteindelik kom al Isai se seuns wat op daardie oomblik tuis is voor Samuel verskyn,
maar nie een van hulle word deur die Here aangewys as die een wat deur Samuel
as koning gesalf moet word nie. Daar is ‘n hele paar seuns wat Samuel as goeie
kandidate beskou (op grond van hoe hulle lyk).
Uiteindelik moet Samuel egter vir Isai vra of hy nie nog ‘n seun het nie. Isai
antwoord: “Daar is die jongste.” Hy gee nog nie eers die seun se naam nie, so
onwaarskynlik en onbelangrik word hierdie seun geag. Uiteindelik word hy tog
geroep. Wanneer hy (ons ken steeds nie sy naam nie) opdaag, ruik hy waarskynlik
nie goed nie en is hy waarskynlik ook vuil omdat hy pas uit die veld kom waar hy sy
pa se skape oppas.
Wanneer hierdie seun voor Samuel verskyn, hoor hy by die Here dat dít die seun is
wat hy tot die koning van Israel moet salf – ongeag hoe hy lyk, of hy nou vuil is of
nie. Dit is nie die uiterlike wat die Here beïndruk nie, maar Dawid se hart wat vir die
Here wys dat hy ‘n koning is. Hiervoor moet Samuel nie op sy menslike logika
vertrou nie, maar op die wysheid en leiding van die Here.
Uiteindelik sal ons leer dat daar beduidende verskille tussen Saul en Dawid is. Saul
het indrukwekkend gelyk, maar het as koning uiteindelik nie beïndruk nie. God is
veel meer geïnteresseerd in die nuwe koning se hart en karakter – wat God liefhet
en dien.
Dawid word uiteindelik Israel se mees besondere koning.
God herinner ons dat Hy die onwaarskynlikes kies, roep en stuur. Hoe daag God jou
uit om anders na ander mense te kyk of selfs net anders na jou eie gestuurdheid te
kyk?
Bespreking
Tydens die bespreking, gebruik dit as ‘n geleentheid om saam te gesels en nie
noodwendig te breek nie.
Plaas jouself in Samuel se skoene, hoe sou jy voel oor hierdie opdrag?
Was Samuel se vrese geregverdig?
Wat is die kriteria wat God gebruik om mense kies?
Hoe daag dit jou uit oor die manier hoe jy na ander kyk?
Hoe daag God jou uit oor die manier hoe jy na jouself kyk?
Watter vooropgestelde idees het jy dalk oor mense (of iemand spesifieks)?
Wat beteken vers 7 vir jou?
Voorbidding
Maak ‘n lys van mense vir wie julle spesifiek in hierdie tyd voorbidding kan doen. Bid
saam dat die Here julle veilig en verantwoordelik diensbaar sal maak.
Gebedsstasie:
Gebedsstasies kan gebruik vir persoonlike gebed en ‘n tyd van afsondering.
Benodighede: ‘n Spieël
Kyk in ‘n spieël. Wat is die dinge van jouself wat jy raaksien, wat ander mense
ook sien bv. jou hare, neus ens.
Maak nou jou oë toe en kyk metafories in ‘n spieël. Wat is die dinge van
jouself wat ander mense nie raak sien nie, maar wat God wel sien.
Maak nou weer jou oë oop.
Doen nou dieselfde oefening, maar fokus op jou medemens. Jy kan aan
iemand spesifiek dink, of net aan mense oor die algemeen.
Kyk in die spieël, wat is die dinge van ander mense wat jy raaksien?
Maak nou jou oë toe en dink weer aan daardie persoon. Wat is die dinge van
daardie persoon wat jy dalk nie mag raaksien nie.
Bid 1 Samuel 16:7 tot die Here en vra dat God jou gedagtes oor só sal rig.
Uitsending
Tydens die uitsending tyd kan julle dit oorweeg om tyd in te ruim om of vir julle
plaaslike gemeente ‘n dankoffer te EFT of dankoffers opsy te sit. In hierdie tyd gaan
jou plaaslike gemeente se offergawes ongelooflik afneem, maar die werk en roeping
van die gemeente gaan nie ophou nie. Hierdie is juis ‘n tyd om meer vrygewig as ooit
te wees en te belê in die roeping van jou gemeente.
Gesels met die groep oor hoe julle in hierdie Covid-19 tydperk kan afstand doen oor
julle vooropgestelde idees oor ander en na hulle kan uitreik. Na wie toe stuur die
Here julle in hierdie tyd?
Maak kontak met hierdie persoon deur middel van ‘n oproep, WhatApp of Facebook
boodskap.
Sluit af met die lied: Die Here is my Herder
Seën
Spreek die seën saam uit en gebruik gerus die handgebare om so ook die jongspan
in te nooi. Lees elke keer die reël en herhaal dit dan saam:
(Sterk arms voor jou uit)
Die Here is VOOR ons om jou pad gelyk te maak.
(Strek arms langs jou uit)
Die Here is LANGS ons om jou in Sy arms toe te vou.
(Wys met duime na agter toe oor jou skouers)
Die Here is AGTER ons om die aanvalle van die Bose af te slaan.
(Strek arms na onder)
Die Here is ONDER ons om jou te dra as jy mag val.
(Waai arms in klein sirkels langs jou)
Die Here is RONDOM ons om jou te beskerm.
(Strek arms na bo)
Die Here is BOKANT ons om jou te seën.
(Hou albei hande op jou bors)
Die Here is BINNE-IN ons om ons te lei met Sy Heilige Gees.
(Neem mekaar se hande)
Die drie-enige God is BY ons – van nou af tot in ewigheid.
Amen.
As julle in julle normale eredienste afsluit met die gebruiklike “Amen-lied”, sing dit
gerus saam.
Aktiwiteite vir die jongspan
om die res van die dag te doen wat by die teksgedeelte aansluit:
Kyk “How to train your dragon”. Hiccup is ‘n jong Viking, die hoofman se seun, maar
hy stel heeltyd teleur. Hy is nie groot genoeg nie en hy hou nie daarvan om te baklei
nie. Maar wanneer hy een van die drake wat die dorpie terroriseer, mak maak, sien
almal dat hy die leier is wat hulle benodig. God kyk nie na hoe ons buite lyk nie,
maar aan die binnekant. God sien die hart, soos die OAV sê.
Maak ‘n bril uit afval materiaal wat in die huis rondlê. God kyk nie na hoe ons buite
lyk nie, maar aan die binnekant. God sien die hart, soos die OAV sê.