Hoofstuk 2
Swerwers met ’n Swerfgenoot
Cas Wepener
Sommige mense is van mening dat die lewe ’n reis is. Hulle is gelukkig om die lewe so te kan beskou, want om die lewe as ’n reis te kan eien, beteken jy sien ’n roete, ’n gekarteerde weg met ’n begin, middel en einde. In die Bybel word die lewe egter dikwels beskryf as ’n swerftog, ’n reis sonder ’n vooraf gegewe roetekaart, ’n tog wat grotendeels onvoorspelbaar is. Gereeld word daar ook van kinders van ’n swerwende Arameër gepraat en van vreemdelinge en bywoners wat alleen maar tydelik besoekers op aarde is. Vanuit ’n mens se eie perspektief sien jy ’n horison. Soms word daarna as ’n verstaanshorison verwys, wat ’n goeie beskrywing is om aan te toon dat my waarneming my tot een horison tussen vele moontlikhede beperk en dat my verstaanshorison dus uiteraard van dié van ander mense verskil. In die letterkunde word soms na ’n God-verteller verwys as die verteller wat alles kan sien, teenoor ’n verteller wat die hele verhaal slegs vanuit haar of sy perspektief waarneem en beskryf en dus nie alles sien nie. Alleen God-vertellers in romans kan die hele verhaal sien en ’n volledige reis eien; die ander karakters sien maar ten dele en het dikwels die belewenis van swerwer-wees. Die lewe as ’n swerftog is dus in groot mate ongekarteer vir die karakter se visie.
Op hierdie swerftog staan sekere sake wel vas: eerstens dat die lewe begin en ook dat dit eindig. Hierdie twee aspekte is twee sake waarvan jy nie regtig vir ander mense kan vertel nie, want jy maak dit nie mee op ’n wyse wat jou toelaat om dit te kan deel nie. Die ander reeds vermelde twee groot oorgange is volwassewording en die vind van ’n maat (of nie). Hierdie deel van die verhaal kan wel vertel word en daarsonder sou die wêreldletterkunde aansienlik armer gewees het, want hoe graag vertel mense nie hul verhaal oor hulle (moeilike/wonderlike) grootwordjare en die vind van liefde (en verlies daarvan) nie. Diegene wat op ’n gekarteerde wyse die reis van hulle lewe aflê en gemaklik elke voorspelbare oorgang maak, woon almal in Hollywood. Die res van ons weet nie watter oorgange ons almal gaan meemaak in ons lewe nie, weet nie watter drumpels van die lewe ons op ons swerftog sal moet oorsteek nie en kyk maar op ’n afstand na diegene wat glad oor die oorgange gaan. Toegegee, ons hoop op ’n maklike puberteit en adolessensie, daarna ’n heerlike romantiese tyd wanneer ons iemand vind en ook dat die res van ons lewe glad sal verloop. En wanneer ons lewe as reis so voor ons ooplê, is dit ook nie te moeilik om God se aanwesigheid in ons lewe raak te sien nie. Dan kan ons instemmend sê God voorsien en God seën en God is goed.
Helaas verloop min mense se lewe so; daar is menige onvoorspelbare drumpels wat hulle moet oorsteek. Adolessensie tref my soos ’n vuishou en veertig jaar later weier ek steeds om ’n skoolreünie by te woon. My eerste huwelikseremonie was baie mooi en romanties, maar met die derde een was ek erg realisties oor alles en het ek meer op die voorwaardekontrak as die blomme in die kerk gefokus. Die geboorte van my kind was vir my, al mag ek dit nie hardop erken nie, ’n ramp. Alles is klinies uitgevoer en ’n heilige oomblik is stapsgewys in die hospitaal vertrap met funksionele mense en masjiene. En ja, op al die kleiner oorgange was ek geensins voorbereid nie: toe Jaco uit die kas geklim het, toe my suster ’n aborsie gekry het, toe my vriende die masjiene wat hulle kind aan die lewe gehou het, laat afskakel het, toe ek sien dat my beste vriend wat al meer as ’n dekade gelede oorlede is, weer op Facebook verjaar en gelukgewens is, natuurlik ook die dag toe ek my werk verloor het, om nie eens te praat van hoe onvoorbereid ek op my aftrede was nie.
Dit is ongekarteerde oorgange en dit is dikwels die oorgange waartydens mense nie noodwendig God se teenwoordigheid beleef nie. Dit is ook die oorgange waarvoor daar bitter min rituele en liturgieë bestaan. Die liturgiese aanbod is dikwels by hierdie lewensoorgange afwesig as gevolg van ’n bejammerenswaardige teologie wat agter alles skuil. Dit is vir die meeste mense maklik om die God wat voorsien te sien in die gebeure wanneer ’n gesonde baba gebore en dan ook gedoop word. En gevolglik word heelwat moeite gedoen met doopdienste en ’n groot viering by die huis na die tyd. Dieselfde kan egter nie gesê word wanneer iemand ’n aborsie gehad het nie. Laasgenoemde word dikwels verswyg en die persoon word (soms) aan haar eie lot oorgelaat om hierdie pad alleen te stap. En oor God se plek in die gebeure word meestal geswyg. Op soortgelyke wyse word God se teenwoordigheid meer geredelik gesien wanneer twee mense mekaar vind en in die eg verbind word as wanneer dieselfde twee besluit om hul huwelik met ’n egskeiding te beëindig.
Hierdie boek werk met God se teenwoordigheid in alle lewensituasies en by alle oorgange in die lewensloop van die mens en wil hierdie oortuigings ook liturgies aanvul met voorbeelde. Dit is oorbodig om te sê dat die publikasie nie iets soos egskeiding of aborsie onnadenkend goedpraat of aanmoedig nie, maar die vrees vir so ’n moontlike misverstand lei té dikwels daartoe dat belangrike sake nie die aandag kry wat dit verdien nie. Grenservarings soos lewensoorgange het baie potensiaal. Die meeste mense wat al die eerste en laaste oorgang in die lewensloop van die mens, te wete geboorte en dood, beleef het, sal saamstem dat daar iets onverklaarbaar in daardie belewenis opgesluit is. ’n Mens sou selfs kon sê dat daar iets misterieus aan die begin en einde van ’n menslike lewe kleef en dat hierdie twee oorgange heelwat potensiaal ten opsigte van ’n godsdienstige belewenis het. Iets daarvan is ook waar van volwassewording en die vind van ’n maat.
Benewens die groot oorgange van nuwe lewe en die einde van ’n lewe bevat alle ander oorgange ook iets van hierdie potensiaal, miskien nie altyd heeltemal so radikaal soos daardie twee belewenisse nie, maar tog wel. Tussen die vier groot asse van geboorte, volwassewording, vind van ’n maat en sterwe, is daar menige kleiner oorgange, oftewel drumpels waaroor ’n mens (moet) tree. Hierdie drumpels het die potensiaal om ’n mens totaal van koers af te gooi, of om die lewe en belewenis van God se teenwoordigheid te laat verdiep.
Dit is daarom belangrik om oor God se teenwoordigheid tydens moeilike oorgange te praat. Die Bybel is deurspek met voorbeelde van oorgange wat mense en groepe gemaak het en waar God se teenwoordigheid in daardie oorgang juis bevestig word. Ons kan hier dink aan die uittog uit Egipte en die oorgang (in die woestyn) op pad na Kanaän. ’n Kerndeel van daardie verhaal is hoe God teenwoordig was tydens ’n moeilike oorgang en oorgangstyd. Dit is ’n voorbeeld van ’n groep wat saam ’n oorgang moes meemaak. Die Bybel is verder vol voorbeelde van lewensoorgange soos geboortes en telkens word die betrokkenheid van God in daardie gebeurtenis en oorgang uitgewys en beklemtoon. ’n Mens sou ’n hele teologie hier kon ontwikkel oor God se betrokkenheid by vreemdelinge en bywoners wat oor die aarde swerf in die algemeen, en in die besonder hoe God teenwoordig is wanneer ons groot en klein oorgange maak. Ons kies hier om kortliks op een oorgangstyd in die Bybel te fokus, naamlik die afskeid van Jesus van sy dissipels soos dit beskryf word in die afskeidsgesprekke in die Evangelie van Johannes (hoofstuk 13 – 17).
Hierdie hoofstukke word gekies omdat dit op ’n baie besondere manier uitwys hoe mense wat oorgange moet maak, beleef dat hulle alleen en uitgelewer is, maar dat God deur sy Gees op ’n besondere wyse in daardie uitdagende tyd by hulle is. Hierdie saak is in die boek Van voor die wieg tot na die graf: Rituele roetemerkers vir die drumpels van die lewe (Bybelkor 2014) in veel meer besonderhede uitgewerk en lesers sal in daardie publikasie ook heelwat bronverwysings na werke oor die afskeidsgesprekke vind.
In Johannes 13 – 17 deel Jesus sy dissipels mee dat Hy weggaan, maar Hy doen dit op ’n besonderse wyse. Uiteraard is die dissipels baie bekommerd wanneer hulle verneem dat Jesus weggaan, aangesien hulle toekoms onseker is sonder Hom in hul midde. Ons het hier dus te make met ’n oorgangstyd wat onsekerheid skep by die dissipels en hulle lewe soos dit was, omvergooi. Jesus doen egter verskeie dinge om ’n moeilike tyd vir die dissipels ’n besonderse en betekenisvolle tyd te maak. Eerstens erken Hy dat dit ’n moeilike en uitdagende oorgangstyd is. Hy ontken dit nie, maar omhels dit en vul dit. Tweedens voer Hy verskeie handelinge saam met hulle uit. Derdens bied Hy vir hulle troos.
Die troos wat Jesus bied, is dat Hy hulle meedeel hulle sal nie alleen agterbly nie. Hy gaan weg, maar dit is tot die dissipels se voordeel dat Jesus weggaan, want die Heilige Gees, die Parakleet, die Trooster, sal by hulle wees. Vir gelowiges, leer Jesus die dissipels, is ’n (moeilike en slegte) oorgangstyd en die tyd daarna nie ’n leë tyd waarin hulle sonder God uitgelewer is nie, al voel dit dalk vir hulle so. Inteendeel, dit is ’n tyd waarin God die Trooster, ongeag hoe hulle voel, by hulle is. Enkele bekende frases uit hierdie hoofstukke beklemtoon hierdie waarheid: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie” (14:18); “Wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (v 26); “Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur” (16:7). Hierdie beloftes, ’n mens kan byna sê hierdie pastoraat, word verder vergesel van handelinge, soos dat hulle saam aan tafel eet, dat hulle voete deur Hom gewas word, en dat Hy vir hulle bid. En die handelinge is ingebed in ’n groter pastorale saamwees – Jesus is by hulle, stap saam met hulle, praat met hulle, bied troos veranker in beloftes oor die Heilige Gees en voer rituele uit; met ander woorde, Hy skram nie weg van ’n moeilike oorgangstyd nie, maar vat dit en vul dit.
Die meeste oorgange wat in hierdie boek bespreek word, is oorgange wat in meerdere of mindere mate ’n gevoel van ontreddering by mense bring. Dit is oorgange waartydens diegene wat dit beleef ook iets van die dissipels se ontsteltenis beleef. Hierdie tekste van Johannes en vele ander gedeeltes in die Bybel bied egter troos vir hulle en dikwels word die troos beseël met rituele handelinge. Ons lees selde in die Bybel dat wanneer mense ’n krisis beleef, iemand op ’n preekstoel klim en vanuit die hoogte vir hulle begin preek. Inteendeel, ons sien veel eerder die modus van die pad saamstap, soos Jesus hier saam met die dissipels in die afskeidsgesprekke eet en stap. Ook elders, soos in Lukas 24 op pad na Emmaus, stap Hy saam met die ontnugterde Kleopas en sy medereisiger, bied vir hulle trooswoorde aan en koppel dit aan ’n rituele handeling, soos die breking van die brood. Ons laat dit hier en bied ter aansluiting by hierdie gedagtes ’n geloofsbelydenis wat ook in Daar is meer (2017) opgeneem is en iets van hierdie inhoud opsom:
Ons glo in God, die almagtige Ouer,
die God van Rebekka en Jakob,
en van elke Leviet en vreemdeling,
van elke pelgrim en swerwer op aarde.
Ons glo in Jesus Christus die eniggebore Seun, ons Here,
wie se liggaam soos ’n saadkorrel in die grond geplant
en opgewek is as eersteling van dié wat gesterf het.
Dít is die Here saam met wie ons in ons doop begrawe is
om saam met Hom te wees in die opstanding.
Ons glo in die Heilige Gees wat as eerste vrug vir ons gegee is,
die voorsmaak van wat vir ons in die toekoms wag.
God is ons Reisgenoot wat ons in die voorspoedtye
van ons lewe herinner …
dat ons kinders van swerwende Arameërs is;
en op aarde self ook vreemdelinge en bywoners,
tydelike besoekers op pad na die eendag waarheen ons hoop reik.
God is ons Reisgenoot wat ons in die moeilike tye
van ons lewe herinner …
dat ons al so dikwels deur die driwwe van die lewe gedra is;
en ten spyte van wat ons tans beleef,
omvou die Gees van Christus ons op hierdie oomblik
soos ’n dooprok.
Amen
’n Besonderse lied wat iets hiervan verwoord, is Huub Oosterhuis se “Op mijn levenslange reizen” wat geskoei is op 1 Konings 19:4-8. (Gaan lees gerus die woorde op die internet.) Anders as die geloofsbelydenis hierbo, gebruik Oosterhuis die beeld van die reis; die reis wat hy beskryf, is ’n ongekarteerde reis, maar ’n reis wat nie alleen afgelê word nie, al voel dit dalk soms so.
Hierdie skets met vier konsentriese sirkels verbeeld hoe ons oorgangsrituele en ander rituele as deel van ’n veel groter liturgiese geheel sien.
Die doop as sakrament is ’n simbool van die feit dat die gedoopte se swerftog in die God van Abraham, Isak en Jakob gewortel is. Deur die water van die doop kry die persoon deel aan God se beloftes. Hierna word hy/sy op die tog gereeld by die tafel (nagmaal) en deur die Woord versterk. By die groot oorgange in die lewe is liturgiese rituele soos ’n huweliksdiens en belydenis van geloof byna soos relings om aan vas te hou. Dit is hier waar oorgangsrituele ook geplaas kan word. ’n Viering, hetsy dit van ’n nuwe fase of die afskeid van ’n vorige fase is, kan nie los van die doop, nagmaal of die Woord gesien word nie. Dit vorm ’n integrale deel van ’n groter web van liturgiese rituele en moet daarin veranker word. Oorgangsrituele moet dit ook duidelik maak dat dit binne ’n groter liturgiese geheel pas.
Bostaande sirkel en die voorafgaande paragrawe kommunikeer iets van die onderliggende teologiese oortuigings waarmee daar in Ongekaart gewerk word en dikwels word daar in die individuele bydraes ook hierop teruggekom. Dit is nie altyd prakties moontlik nie, maar daar kan byna so ver gegaan word as om te sê elk van die oorgangsrituele by die ongekarteerde oorgange in hierdie boek by die doopvont kan begin met die nagmaalstafel vlakby, want elke oorgangsritueel in hierdie boek is geënt op die beloftes wat die sakrament verbeeld. Hierdie teologie benodig ook ’n spesifieke soort kerk-wees wat deurdrenk is van die deug van gasvryheid en dit is dan ook die tema wat in die volgende hoofstuk behandel word.
Geraadpleegde bronne
Grimes, R 2000. Deeply into the bone: Re-inventing rites of passage. Los Angeles: University of California Press. Menken-Bekius, C 1998. Rituelen in het individuele pastoraat: Een praktishtheologisch onderzoek. Kampen: Kok.
Turner, VW 1967. The forest of symbols: Aspects of Ndembu ritual. Ithaca, NY: Cornell University Press. Lees spesifiek die hoofstuk “Betwixt and between: the liminal period in rites de passage”, 93-111.
Van Gennep, A 1960. The Rites of Passage. Chicago: University of Chicago
Press. Van Niekerk, A 2017. Die dood en die sin van die lewe. Kaapstad: Tafelberg. Wepener, C 2004. Van vas tot fees: ’n Ritueel-liturgiese verkenning van
versoeningsrituele in verskillende Suid-Afrikaanse kultuurkontekste.
DTh-tesis, Stellenbosch. Wepener, C 2006. Ritual route markers for reconciliation: Insights from a South African exploration. Studia Liturgica 36/2: 173-184. Wepener, C 2014. Van voor die wieg tot na die graf: Rituele roetemerkers vir die drumpels van die lewe. Wellington: Bybelkor. Wepener, C & Bothe-Smith, S 2017. Daar is meer: ’n Bronboek vir roetemerkers by lewensoorgange. Wellington: Bybelkor.
Hoofstuk 18
Ses voet diep in die kuberruimte
Nicolaas Matthee
Inleiding
Die realiteit en konteks wat deur die internet onthul word, is ’n uiters komplekse maar opwindende spasie, ’n spasie waar ons liturgiese verbeelding op ’n verskeidenheid maniere uitgedaag word. Een van hierdie maniere waarop hierdie konteks ons uitdaag, is met die oorgang van die lewe na die dood. Vir millennia lank was die oorgang tussen lewe en dood die einde. Met ander woorde, wanneer ’n persoon gesterf het, was dit die einde van sy of haar bestaan op aarde. Maar in die 21ste eeu leef ’n persoon se identiteit ná sy of haar dood in baie gevalle nog in die digitale ruimtes van die internet voort. In die wêreld van algoritmes, van kunsmatige intelligensie en virtuele realiteit, is ons fisiese tasbaarheid maar net een van die maniere waarop ons bestaan. Scott praat van die moderne mens as ’n (vier)dimensionele mens, met ander woorde, digitale media en die internet het ’n ekstra dimensie by ons lewe gevoeg, een waarin die oorgang van die lewe na die dood nie so duidelik geskied soos dit in die fisiese dimensie gebeur nie. Die realiteit en konteks van die kuberruimte is reeds uiters belangrik juis omdat ’n groot deel van ons lewe nou in hierdie dimensie geskied. Byna al ons kommunikasie geskied deur middel van die kuberruimte op plekke soos gmail, WhatsApp en Facebook. Verder is dit ook ’n plek waar mense uitdrukking gee aan hul ervarings. Wanneer hulle die Here se goedheid ervaar, word dit dikwels ’n Facebookof WhatsApp-status of ’n foto op Instagram.
In hierdie bydrae word daar nie ’n uitgewerkte liturgie voorsien nie. Daar word eerder raamwerke voorgestel waarbinne die liturg die lewensverhale van dié wat rou, kan saamweef. Hedtke en Winslade verwys na hierdie proses as die “crafting of grief”. Die doel van hierdie gedeelte is dan eerder om die leser se liturgiese verbeelding te sensitiseer ten opsigte van moontlikhede.
Die res van hierdie bydrae geskied in twee dele. Die eerste is ’n bewusmaking van ’n paar praktiese riglyne rondom die realiteit van die dood en die kuberidentiteit van die oorledene. In die tweede gedeelte word daar twee raamwerke voorgehou om liturge en voorgangers te help om die moontlikhede van ritueel-liturgiese spasies nuut te verbeel.
Praktiese riglyne
Die drie V’s van ’n aanlyn profiel
Oor die algemeen het ons ’n goeie verstaan van wat ons opsies is in terme van die fisiese liggaam van die oorledene. Die fisiese liggaam (of die doodskis as simbool) het ’n baie spesifieke plek in ons begrafnisliturgieë, maar ons kan nie dieselfde sê oor die “digitale liggaam” van die oorledene nie. As ’n inleiding tot ’n uiters komplekse gesprek, kyk ons daarom na die drie V’s van die aanlyn profiel as riglyne:
- Verwydering van die aanlyn profiel: Die eerste moontlikheid is die verwydering van ’n aanlyn profiel. Dit kan ’n wye verskeidenheid profiele wees (Facebook, Instagram, LinkedIn, gmail). Die verwydering van die profiel kan deel vorm van die fisiese begrafnisliturgie, maar dit sal waarskynlik beter wees as ’n rituele handeling wat later na die begrafnisliturgie geskied. Die rede hiervoor is dat Facebook en ander soortgelyke profiele dikwels gebruik word om belangrike inligting ná iemand se dood te kommunikeer. Verder is dit ook waarheen mense gaan om te rou en hulle persoonlike verhale van hartseer of verlange uitdruk.
- Verandering van die aanlyn profiel: ’n Tweede opsie is om die profiel op ’n rituele wyse te verander. Bloot as ’n praktiese reëling is baie min mense bewus van die feit dat ’n Facebook-profiel en sommige van die ander sosialemediaprofiele die opsie bied om ge-“memorialise” te word. Dit behels dat die profiel in sekere mate gevries word. Sodoende kan die oorledene geen nuwe “vriende” bykry nie, ander mense op Facebook word nie in kennis gestel van die oorledene se verjaarsdag nie en die oorledene se profiel word nie gebruik in bemarking nie. Om ’n profiel te “memorialise” kan as deel van die fisiese begrafnisliturgie gedoen word wanneer daar op ’n simboliese wyse afskeid geneem word van die oorledene. ’n Geleentheid kan geskep word waar die oorledene se profiel op ’n projektorskerm ge-“memorialise” word.
- Verskuiwing van die aanlyn profiel: ’n Derde moontlikheid is om die persoon se kuberidentiteit te verskuif na ’n kuberbegraafplaas. Kuberbegraafplase kan baie vorms aanneem, maar beskik amper almal oor die funksionaliteit om virtuele kerse te brand en virtuele blomme te plaas, ’n boodskap te los en nog vele ander soortgelyke interaksies. Facebook en Instagram dien ook in baie opsigte as kuberbegraafplase wanneer die eienaar van die profiel sterf. Daar word dikwels boodskappe gelos, foto’s geplaas en ’n verskeidenheid emoji’s en ander media gebruik.
Met hierdie basiese verstaan van die moontlikheid van ’n kuberliturgie of ’n kuberingeligte liturgie word daar vervolgens twee raamwerke bespreek om die liturg of voorganger se verbeelding te help uitbrei vir wat moontlik deel van die liturgie van die toekoms kan wees.
Raamwerk: Skep ’n kuberbegraafplaas
Liturgie in die kuberruimte verskil van liturgie in die fisiese dimensie in dié sin dat dit (vir tyd en wyl) nie die fisiese werklikheid repliseer nie. Daarom sal tradisionele liturgie (vir tyd en wyl) in die meerderheid van gevalle nie relevant wees in die kuberruimte nie. In hierdie konteks verander die liturg se rol na ’n ruimteskepper. Mense wat behoort aan generasie Y en Z (dus tussen die ouderdom van 1-37) en wat ook as “digital natives” bekendstaan, bestee volgens onlangse marknavorsing van Common Sense Media reeds tussen 6 tot 9 uur per dag in hierdie kuberspasies. Verder het Matthee bevind dat mense van alle ouderdomme reeds ritueel-liturgiese interaksie het in die kuberruimte, ongeag of daar bewustelik spasie daarvoor geskep word deur ’n liturg of voorganger.
Tans is ons bevoorreg genoeg om platforms soos WordPress en Wix en selfs Facebook te hê wat dit aansienlik makliker maak om ’n webtuiste op die been te kry. ’n Kuberbegraafplaas het ’n wye verskeidenheid moontlike vorms, maar vir die doeleindes van hierdie bydrae sal dit sin maak om ’n kuberbegraafplaas te vergelyk met die konsep van ’n gedenktuin of gedenkmuur wat reeds by sommige gemeentes gevind kan word. In baie van die gevalle wat bestudeer is in die werk van Matthee is die ritueelliturgiese interaksie in die kuberruimte baie dieselfde as die tipe interaksie
wat ’n mens sou kon vind by ’n gedenkmuur of gedenktuin. Daar is ’n paar fundamentele verskille waarvan die twee belangrikstes hier bespreek word:
- ’n Kuberbegraafplaas is baie meer toeganklik as ’n gedenktuin of gedenkmuur. In die konteks van die kuberruimte is ’n besoek aan die liturgiese ruimte net die klik van ’n knoppie op ’n rekenaar, tablet of selfoon ver, terwyl ’n fisiese ruimte geliefdes wat ver bly in baie gevalle van hierdie geleentheid ontneem.
- ’n Kuberbegraafplaas is ’n privaat openbare spasie. Met ander woorde, die ritueel-liturgiese interaksie het ’n intieme karakter maar kan waargeneem word (en aan deelgeneem word) deur die betrokke gemeenskap.
Raamwerk 1 voel waarskynlik vir die meeste mense absoluut onmoontlik, en dit is te verstane as ons in ag neem dat baie gemeentes ver agter is met hulle verstaan én implementering van tegnologie. Hierdie proses kan so kompleks wees soos die skep van ’n nuwe webtuiste en ’n kuberbegraafplaas, of so eenvoudig soos om ’n Instagram-profiel te skep vir die gemeente waar foto’s opgelaai word van dié wat gesterf het. Die gemeenskap kan dan die foto’s “like” of daarop kommentaar lewer. Die realiteit is dus steeds dat die samelewing tans beskik oor ’n vierde dimensie (die digitale dimensie) wat liturge en gemeentes nie moet ignoreer nie.
Raamwerk: Kuberbegraafplase as liturgiese bron
Die tweede raamwerk verstaan die kuberruimte en spesifiek spasies soos dié van Facebook, Instagram en YouTube as liturgiese bronne. Tussen die dood en begrafnisliturgie van ’n persoon is daar duisende interaksies in die kuberruimte oor (of met) die persoon. Daar is al baie geskryf oor begrafnisliturgieë in die fisiese dimensie; dus is die poging nie om hierdie liturgieë te herontwerp nie, maar eerder om liturge en voorgangers bewus te maak van die bronne wat beskikbaar is om die reeds bestaande liturgieë te verryk.
In hierdie opsig is veral Facebook waardevol (indien die oorledene dit gebruik het) om die volgende redes:
- Die manier waarop die oorledenes onthou word op hulle Facebookblad deur geliefdes en vriende, bied aan die liturg of voorganger waardevolle materiaal om die begrafnisliturgie te verryk. Die manier waarop mense oor en van die oorledene praat in die kommentaar en ander plasings op die blad, help die liturg of voorganger om die verhaal van die oorledene beter te verstaan, wat waardevol kan wees in die begrafnisliturgie self.
- Daar word dikwels foto’s, liedjies en ander media geplaas wat goedskiks gebruik kan word in die fisiese begrafnisliturgie. Deur gebruik te maak van die interaksie wat reeds in die kuberruimte aan die gang is, kan die fisiese begrafnisliturgie verryk word om so kontekstueel moontlik te wees.
Dit is baie belangrik om wel die toestemming van die naasbestaandes te vra indien die Facebook- of ander sosialemediaprofiele gebruik word. Oor die algemeen gebruik mense sosiale media met die idee dat dit ’n private spasie is al is dit vir die openbaar beskikbaar. Die gebruik daarvan kan dus ongelukkigheid tot gevolg hê.
Geraadpleegde bronne
Common Sense Media 2015. The Common Sense Census: Media Use By Tweens and Teens, beskikbaar by https://www.commonsensemedia. org/sites/default/files/uploads/research/cs_mediacensusinfographic_ d4.pdf
Hedtke, L & Winslade, J 2017. The Crafting of Grief: Constructing Aesthetic Response to Loss. New York: Routledge.
Matthee, FJN 2018. Cyber Cemeteries as a Challenge to Traditional Reformed Thanatological Liturgical Praxis. PhD-tesis, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.
Scott, L 2015. The Four-Dimensional Human: Ways of Being in the Digital World. Kindle Edition. London: William Heinemann.
Verdere bronne wat aanbeveel word
Berger, T 2018. @Worship: Liturgical Practices in Digital Worlds. New York: Routledge.
Böntert, S 2012. Liturgical Migrations into Cyberspace: Theological reflections, in Teresa Berger (ed), Liturgy in Migration: From the Upper Room to Cyberspace. Collegeville, Minnesota: Liturgical Press.
Jacobsen, MH 2017. Postmortal Society: Towards A Sociology of Immortality. New York: Routledge.
Sofka, CJ, Cupit, IN & Gilbert, KR 2012. Dying, Death and Grief in an Online Universe: For Counselors and Educators. New York: Springer Publishing Company.