Hoofstuk 5
ONTDEK DIE EIE-AARD VAN GEREFORMEERDE EREDIENS
Dirkie Smit
Wat is die eie-aard van gereformeerde erediens? Wat is onverhandelbaar aan gereformeerde erediens en aanbidding, só karakteristiek gereformeerd, só wesenlik, só eiendomlik en sentraal, dat as dít verwaarloos sou word of sou verdwyn die erediens se gereformeerde karakter oor daarmee verlore sou wees?, só word deesdae dikwels gevra.
Dis wel nie altyd duidelik of die vraag in erns gestel word nie. Trouens, dis opsigtelik die geval dat baie mense wat die vraag graag vra dikwels eintlik al klaar van mening is dat hulle oor die antwoord op hulle eie vraag beskik.
Baie mense stel die vraag bloot retories, omdat hulle by voorbaat al sekere aspekte van die erediens en liturgie wil behou en bewaar – en meen dat hulle argumente of pleidooie sterker sal klink en meer oortuigend mag werk indien hulle kan aantoon dat dit om eiendomlike gereformeerde aspekte handel. Dít en dát in die erediens durf dus nooit verander word nie, want dis oer-gereformeerd.
Ander stel die vraag eweneens retories, dog omdat hulle by voorbaat al van sekere aspekte van die erediens en liturgie waaraan hulle gewoond is afstand wil doen en ontslae wil raak in ruil vir allerlei vernuwende vorme en praktyke. Ook húlle meen dat hulle argumente en pleidooie sterker sal klink en meer oortuigend mag werk indien hulle kan aantoon dat dit handel om tipies gereformeerde aspekte, wat vir seker tog vandag allerweë en deur almal as oudmodies en agterhaal beskou sal word, as iets negatiefs en onaanvaarbaar. Vandag-se-sogenaamde-moderne-mense sal immers tog nie langer dáárvoor kans sien nie! Om van die postmoderne gees van ons tyd nie eens te praat nie! Veral die sogenaamde jeug-van-vandag word maklik en meermale ingespan as kroongetuies vir dié nuwe behoeftes en style van aanbidding, wat tog sal wil weg met alles eiendomlik gereformeerd!
Dis hieruit duidelik dat die vraag na die eie aard van gereformeerde aanbidding en erediens nie so ‘n eenvoudige óf altyd so ‘n onskuldige vraag is nie. Dis ‘n vraag gelaai met bewuste en onbewuste voorveronderstellinge en aannames – en dalk selfs met bewuste en onbewuste agendas en belange. Dit mag gevolglik dalk help om te begin deur oor die vraag self na te dink – nog vóór ‘n mens oor moontlike antwoorde begin praat!
Sekere maniere om die vraag te stel verberg naamlik miskien reeds sekere voorveronderstellinge en dalk selfs ook sekere misverstande. Indien ‘n mens dié veronderstellinge sou kon raaksien en dalk moontlike misverstande by voorbaat uit die weg kon ruim word die moontlikhede dalk sterker om te beweeg in die rigting van meer produktiewe nadenke en gesprek oor die antwoorde op die vraag – en word nuwe ontdekkings oor die eie-aard van gereformeerde erediens dalk inderdaad moontlik.
-
Gereformeerd?
Dis dalk raadsaam om nié te begin met die veronderstelling dat die vorm van die erediens waarmee ons bekend is reeds gereformeerd is nie. Dis hoe baie mense inderdaad dink. Omdat ons só geleer aanbid het, omdat ons só gewoond is – en omdat ons immers gereformeerd genoem word, is ons maniere van aanbid tog seker die norm vir wat gereformeerde erediens en aanbidding is en behoort te wees?
Dis egter ‘n misleidende aanname, want dit is dalk glad nie gewaarborg dat dit waarin ons opgegroei het en dit waaraan ons gewoond geraak het noodwendig in alle opsigte so gereformeerd is nie. Trouens, indien ons van hierdie soort vanselfsprekende veronderstelling sou uitgaan, is die primêre vraag waarin ons rondom die inrigting van die erediens en veral rondom enige moontlike vernuwing van die erediens en liturgie geïnteresseerd is dikwels net die vraag wat onverhandelbaar is aan wat ons reeds doen. Anders gestel, die vraag wat ons gedagtes lei, word dan baie maklik bloot die vraag wat tog tot elke prys dalk nié behoort te verander nie, maar moet bly presies soos ons daaraan gewoond is.
Indien ons egter eerder sou begryp dat baie van dit waaraan ons dalk so diep gewoond geraak het oor baie jare heen dalk nié so deel van die gereformeerde tradisie is as wat ons dalk mag dink nie, dog dalk die resultaat mag wees van ander historiese, sosiale en kulturele invloede wat oor jare heen die kerk gestempel en help vorm het, dan verander ons vraag dalk ingrypend.
Wat ons beskou as gereformeerd is dalk nié so gereformeerd nie – ongeag of ons passievol daarvóór of passievol daartéén is. Die vraag na die eie-aard van gereformeerde aanbidding sou dus ook van die begin af só gehoor kon word dat dit vra welke radikale en onverhandelbare vernuwing dalk nodig mag wees ten einde ons erediens méér outentiek deel van die gereformeerde tradisie te máák as wat dit dalk tans reeds is – en dis tog duidelik dat ‘n mens dan heeltemal anders na die saak sal kyk.
Dus, gereformeerd moenie sommer by voorbaat al gelykgestel word met dit wat ons alreeds doen en met hoe ons alreeds aanbid nie. As ons eerlik, oop en self-krities wil vra na die eie-aard van gereformeerde erediens, moet ons ten minste in beginsel reken met die moontlikheid dat dit waarmee ons so vertroud geraak het dalk nié in alle opsigte gereformeerd is nie, en straks vernuwing nodig mag hê om inderdaad meer getrou en outentiek gereformeerd te wees.
-
Enkelvoud?
Dit lei egter dadelik tot ‘n tweede voorveronderstelling en moontlike misverstande. Dis immers nie so eenvoudig om sommer van erediens in die gereformeerde tradisie in die enkelvoud te praat nie. Bestaan daar inderdaad so iets? En het dit ooit in die geskiedenis bestaan? Waar sou ‘n mens byvoorbeeld dit gaan soek, bekyk, bestudeer? Waar sou ‘n mens die normatiewe voorbeelde vind van karakteristieke gereformeerde aanbidding?
Ons behoort hierdie vraag nie alte gou en alte gemaklik te beantwoord nie, want die gereformeerde erediens is histories beskou ‘n meer komplekse verskynsel en sy normatiewe gestaltes meer omstrede as wat ons sommer so maklik mag dink. Trouens, nie net wat aanbidding en liturgie betref nie, maar ook in ‘n breër sin is die gereformeerde tradisie naamlik veel ryker en meer kompleks as wat baie van ons dikwels mag vermoed.
Praat ons byvoorbeeld van die 16e-eeuse oorspronge van gereformeerde liturgie by Bucer? Of by Oecolampadius en Zwingli? Dalk by Bullinger? Of Calvyn? Miskien by John Knox? Praat ons van die gestaltes wat die erediens aangeneem het in Strassburg of Basel? Of dalk in Zürich? Of kyk ons na Genève? Of dink ons Edinburgh was die norm? Of praat ons dalk eerder van effens latere gestaltes, van die 17e-eeuse invloede van die Skotse Presbiteriane? Of selfs die Engelse Puriteine? Of dalk nog later van die sware stempels van die piëtisme? Of selfs die rasionalisme? Of romantisisme? In Skotland was die groot denkers en kulturele gestaltes van die moderne tyd immers gereformeerde Presbiteriane, met aanbidding en al? En so was Schleiermacher, en sy wyd geroemde en invloedryke preke en aanbidding vol gevoel en innerlikheid? Of voel ons miskien aangetrokke tot die verskeidenheid van 19de-eeuse en 20ste-eeuse ontwikkelinge in die gereformeerde wêrelde in Amerika? Of op die Europese vasteland – soos byvoorbeeld in Nederland? Of dalk in Hongarye, Roemenië of Lippe? Dalk miskien in talle streke van die sogenaamde Derde Wêreld, waar die gereformeerde teenwoordigheid immers wyd en ver en diep loop?
Kortom, wáár vind ons dus “die gereformeerde tradisie” en sy onverhandelbare karakter met sy normatiewe vorme en style van aanbidding? Hoe breed of hoe eng definieer ons dié tradisie en beskryf ons dié eie-aard?
Moet ons dalk eerder moedeloos die hande in die lug gooi en begin sê dat daar eintlik geen sodanige tradisie is nie, geen gereformeerde aard en karakteristieke styl nie, geen kenmerkende oortuigings en gemeenskaplikheid nie, geen gereformeerde identiteit en teenwoordigheid nie, geen gereformeerde kultus en liturgie nie – sodat enigiets moontlik is en alles van nou af aanvaarbaar en legitiem? Is enigiets nog inderdaad gereformeerd, onopgeefbaar en nastreefbaar, normatief en nodig?
Dis duidelik dat ons die kompleksiteit en die ryke veelvoud van die tradisie nie só moet oordryf dat ons die kenmerkende en die gemeenskaplike daarvan, die tipiese eie-aard en die onderskeidende nie langer kan raaksien nie. Van die gereformeerde wêreld geld immers ook wat die bekende Friedrich Wilhelm Graf onlangs in sy gesaghebbende studie Protestantismus. Geschichte und Gegenwart (2006) met betrekking tot die hele Reformasie getoon het, te wete dat die komplekse aard daarvan nié tot die relatiwistiese sogenaamd post-moderne gevolgtrekkings durf lei dat daar géén eie-aard herkenbaar is nie, inteendeel. Tegelykertyd moet ons egter nie alte vanselfsprekend en naïef van gereformeerdheid-in-die-enkelvoud praat en daarmee eintlik maar net meen – dalk uit onkunde en gebrek aan historiese besef en kulturele sensitiwiteit – dat ons eie manier van doen en aanbid die enigste tipies gereformeerde manier sou wees nie.
-
Eksklusief?
Daarmee is ons egter by ‘n derde moontlike voorveronderstelling wat weer eens by voorbaat al tot misverstande sou kon lei. Indien ons naamlik sou wou soek na ‘n gereformeerde tradisie, ‘n gereformeerde identiteit, ‘n eie gereformeerde aard en daarmee saam ook ‘n eiesoortige gereformeerde manier van aanbid en erediens beoefen wat ten alles koste ánders sou wees as ander Christelike tradisies, duidelik eiesoortig in die sin van eksklusief, uitsluitend, iets wat ‘n mens nét by gereformeerdes aantref – sou ons vir seker op ‘n dwaalspoor wees. Ongelukkig dink baie mense presies so. Van meet af aan dink ons dan gereformeerd kan slegs wees wat oorbly as ons eers alles afgetrek het wat ander óók is en doen. Só het gereformeerdes egter van aanvang af hoegenaamd nie hulleself ooit verstaan nie, inteendeel!
Histories gesproke is byna die teenoorgestelde eerder die geval. Gereformeerdes – Calvyn is hiervan ‘n goeie voorbeeld – het hulleself beskou as integraal deel van die één kerk, die universele, algemene, katolieke, Christelike kerk. Hulle wou nie afgesonder wees, eenkant, anders, met hulle eie kenmerkende praktyke nie. Hulle wou nie ‘n kerk wees met ‘n spesifieke naam nie, nie nóg ‘n kerk, naas ander kerke, met hulle eie maniere van doen, insluitende aanbid nie. Hulle wou eerder probeer om die katolieke kerk sélf te vernuwe en te heilig, en as integrale, wesenlike deel daarvan ook die aanbidding van die één kerk van hulle tyd te vernuwe en te heilig, en om wat hulle beskou het as wanpraktyke wat geleidelik deur eeue heen ontwikkel het en misstande wat histories gegroei het uit die erediens te verwyder.
Volgens hulle eie self-verstaan wou die gereformeerde tradisie op hulle mees outentieke eintlik nooit ’n eie liturgiese tradisie naas andere vorm nie, maar bloot aanbid “volgens die Skrifte”, waarmee hulle bedoel het, soos wat alle Christene behoort te aanbid, in getrouheid aan die evangelie. Hulle wou dus eintlik algemeen Christelik wees in hulle liturgie en aanbidding, getrou aan wat soms beskryf word as die sogenaamde “klassieke patrone” van die vroeë kerk en die ekumene. Die gereformeerde geloof wou die katolieke kerk reformeer, nié hulself verselfstandig as ’n onderskeie en herkenbare groep vir altyd nie.
Indien die vraag na die eie-aard van die gereformeerde erediens dus vandag deur sommige mense gehoor en beskou sou word as ’n oproep tot eksklusiwiteit, as die soeke na die eie aard van gereformeerde erediens wat óns vorm van aanbidding tot elke prys sou kon onderskei van ánder style van Christelike aanbidding, sou dit ironies genoeg eweneens op ’n fundamentele misverstand juis van die eie-aard van gereformeerdheid berus.
Indien hierdie vraag daarby boonop ooit gehoor en opgevat sou word as ’n oproep tot onveranderlikheid, tot verset teen enige moontlike vernuwing in die naam van wat sogenaamd onverhandelbaar en onveranderlik sou wees, sou dit eweneens op ’n fundamentele misverstand berus, omdat juis die gereformeerde patos tog die prinsipiële en diepe bereidheid tot vernuwing was en bly, die passie tot reformasie, in steeds nuwe en groter gehoorsaamheid aan die Woord.
-
Essensialisties?
Hierdie diep gereformeerde patos vir voortdurende self-kritiek en vernuwing indien die Woord dit van ons sou vereis – wat later met die Latynse spreuk ecclesia reformata semper reformanda verwoord sou word – maak weer ons oë oop vir ‘n vierde voorveronderstelling waarmee baie mense vandag te werk gaan, maar wat eweneens tot allerlei ingrypende en verreikende misverstande aanleiding mag gee.
Indien ons vraag na die eie-aard van gereformeerde aanbidding naamlik essensialisties bedoel sou wees, dit wil sê as vraag na die ewige en onveranderlike “essensie” van gereformeerde liturgie, asof dit ‘n a-historiese en a-kontekstuele aangeleentheid sou wees, iets wat altyd en ewig en oral presies dieselfde moet lyk, asof daar tydlose elemente is wat tesame die essensie van wat die gereformeerde erediens behoort te wees uitmaak, is ons naamlik eweneens op ‘n gevaarlike spoor.
Indien ons op soek is na iets wat nooit kan verander nie, iets wat as ‘t ware altyd weer beskerm moet word, getrou bewaak moet word, deur alle eeue en deur alle tye, altyd dieselfde elemente of komponente wat steeds onverhandelbaar gekoester moet word, sou ons immers die diepste aard van gereformeerd-wees eweneens fundamenteel misverstaan en selfs verloën.
Indien enigiets, was en is die gereformeerde tradisie juis nooit essensialisties nie! Niks behalwe die lewende Woord van God bly nie! – nie menslike gesag nie, nie kerklike vergaderings en hulle besluite nie, nie menslike dogmas en uitsprake en opvattinge en beskouinge nie, en sekerlik nié kerklike vorme en praktyke en gewoontes nie, om van musiek en liedere en gebede en style en musiekinstrumente en kleding en simboliek en kuns nie eens te praat nie, nét die lewende Woord van die Sprekende God. Dís gereformeerd – en omdat dit só is, kan ons nooit oor iets beskik waarvan ons op essensialistiese wyse kan sê dat dit die finale gestalte is wat die gereformeerde erediens oral en altyd behoort aan te neem nie.
Die gereformeerde tradisie is deur en deur histories en kontekstueel bepaal. Ecclesia reformata semper reformanda secundum verbum Dei bely juis dat die aspekte wat onverhandelbaar is telkens weer histories en kontekstueel, byna profeties, onderskei moet word, deur die gesamentlike lees van die tekens van die tye, deur die gelowiges tesame, in hulle eie tye en omstandighede en situasies.
Die uitdagings en verleidings kan nou van hiér kom en dan weer van dáár. Nou kan dit dié element wees wat op die spel staan en dan kan dit weer dáárdie element wees wat bedreig word. Daarom is onderskeidingsvermoë nodig, gesamentlike gesprek en soeke in die lig van die gees van die tyd, om telkens weer opnuut te vra: Wat is nóú die tendense en die keuses waarvoor ons staan? Ten beste beteken die vraag na die eie-aard van gereformeerde erediens dus: Wat behoort vandág, nóú, vir óns onverhandelbaar te wees aan die gereformeerde erediens, gegee die tydsgees en suigkrag waarmee óns vandag moet reken? Môre, of elders, kan dit weer ánder aspekte wees – wat vandag dalk vir ons as vanselfsprekend mag geld.
-
Liturgiese praktyke?
Waarskynlik die belangrikste misverstand wat agter die vraag in dié vorm sou kon skuil, sou egter die – vyfde, en laaste – voorveronderstelling wees dat die gereformeerde erediens bestaan uit ’n sekere aantal formele aspekte, elemente, oomblikke, praktyke, of liturgiese handelinge.
Dit sou neerkom op ’n soort meganiese, kwantitatiewe siening van die gereformeerde erediens – so lank hierdie onverhandelbare handelinge wel nog uitgevoer word, en dalk nog op spesifieke maniere, is dit getroue gereformeerde aanbidding, en waar dié onverhandelbare handelinge nie meer aanwesig is nie, of nie meer op spesifieke maniere uitgevoer word nie, daar is die gereformeerde aard van die erediens outomaties prysgegee. Só ’n meganiese en kwantitatiewe siening van die erediens skuil waarskynlik inderdaad agter talle van die hedendaagse sogenaamde “worship wars” wat oraloor gevoer word en gemeentes en kerke so diep verdeel – maar dit is ’n baie bedenklike en problematiese manier om te dink oor wat op die spel is.
Dit gaan (in hierdie vraag) naamlik nié om die vraag mag-ons-dit of mag-ons-nie-dat-nie. Dit gaan (in hierdie vraag) nié om watter kleredrag of watter musiekinstrumente of die gebruik van welke tegnologie en PowerPoint en simbole en kerse en kuns, of watter formele en uiterlike saak ook al nie. Ons kan dié blote uiterlikhede alles verander óf hulle dalk nie verander nie – maar ons beter nie uit óf ons veranderinge óf ons nié-veranderinge aflei dat ons daardeur noodwendig al iets ernstigs liturgies gedoen het nie. Dit volg glad nie vanself nie. Dié soort veranderinge kan vir seker nie die soort vernuwing wees waaroor ons behóórt na te dink en te praat nie – alhoewel dit ongelukkig is wat die meeste mense inderdaad doen en al wat in die meeste gemeentes en kerke onder liturgiese vernuwing bespreek word!
Sedert die tye van Aristoteles weet ons immers al dat die verhouding tussen praktyke (deur die eeue het filosowe, opvoeders en moraaldenkers eerder graag gepraat van dissiplines of van handelinge) en hulle invloed op ons – hulle vorming, hulle neerslag of effek in ons lewe, op ons mens-wees, op ons geaardheid, ons karakter, ons persoonlikheid, ons identiteit (weer eens het die filosowe en opvoeders met groot sorg en insig onderskei tussen al hierdie aspekte) ingewikkeld is, kortom, dat die verhouding tussen ons gewoonte-handelinge en gebruike aan die een kant en ons habitus, ons houding of ons karakter wat deur dié gebruike gevorm en bevorder word aan die ander kant, uiters kompleks is. Hoe word ons immers regtig die soort mense wat ons is? Waar kom ons eie oortuigings, geaardheid en karakter vandaan? Watter rol speel ons voorbeelde en rolmodelle, die sogenaamd significant others in ons lewens, om die sosioloog Peter Berger se bekende term te gebruik? En watter rol speel die gewoontes en gebruike waarmee ons grootgemaak is, insluitende kultiese, rituele en liturgiese handelinge in dié proses van vorming wie ons regtig is?
Vir seker verloop dié soort prosesse nie outomaties en meganies nie. Van die totaal-effek van die erediens en die afsonderlike komponente van die erediens (liturgiese handelinge, dissiplines, praktyke) geld presies dieselfde. Ook gereformeerd-wees het te make met die habitus, met die karakter wat onder die erediens-handelinge verborge en geïmpliseer lê en daardeur opgeroep en versterk word, veel meer as net met die blote handelinge self.
Dís die baie ingewikkelde saak waaroor ons behoort na te dink as ons praat van vernuwing in die erediens. Nie bloot watter soort klere dra ons nie – maar wat is die diepe, onbewuste en dalk langtermyn-invloed van die klere wat ons dra, of nie dra nie, of wil dra, of nie meer wil dra nie? Nie bloot watter liedere ons sing en watter instrumente ons speel nie, maar wat die boodskap is wat ons oordra, die effek wat nagestreef word, die invloed wat uitgeoefen word, die langtermyn-gevolge wat nagelaat word, die stemming wat geskep word, die assosiasies wat meegebring word, die gevoel wat gegenereer word? Nie bloot of daar nog ‘n kansel is of eerder ‘n verhoog met ‘n band nie, maar wat die effek van dié soort liturgiese verandering is, wat ons wil bevorder en wat ons nie langer wil bevorder nie, watter soort boodskap ons daarmee wil oordra en watter soort boodskap ons wil vermy? Wat gebeur – byvoorbeeld – met ‘n gemeente se selfverstaan en langtermyn-identiteit as die kansel uit die liturgiese ruimte verwyder word en vervang word deur – sê maar – ‘n nagmaalsaltaar? Of deur die mikrofone en luidsprekers van ‘n orkes? Of deur rondstap-plek vir ‘n wandelende orator, vermaaklike televisiestyl?
Daarby kan dit maklik wees dat die blote meganiese herhaling van wat vroeër een soort effek gehad het dit later juis nie meer het nie – omdat dit nie langer so verstaan of beleef word nie, omdat dit roetine geword het, omdat die kommunikatiewe krag daarvan verlore gegaan het, en vanweë talle ander redes. Omgekeerd kan dit gevolglik goed moontlik wees dat ánder handelinge nodig word, gewysigde dissiplines of praktyke, om steeds dieselfde effek te bereik wat vroeër dalk langs ander weë bereik is. Kortom, die eintlike kommunikatiewe gebeure in die erediens lê verskuil onder en agter die blote formele elemente.
-
Gereformeerde erediens?
Die voorafgaande opmerkings dui reeds daarop dat die onverhandelbare van die gereformeerde erediens nie in blote formele liturgiese handelinge geleë is – soos wat die vraag na die eie-aard dalk by die eerste aanhoor misverstaan sou kon word nie – maar op ’n dieper vlak gesoek moet word, maar op watter vlak?
Wat wil die gereformeerde erediens – indien dit moontlik is om van so iets te praat – ten diepste werklik dien, bereik, meebring, bewerkstellig? Wat lê ágter die liturgiese handelinge, sodat dit soms nodig is om nuwe betekenis te probeer gee aan roetine-handelinge en soms dalk om nuwe handelinge te introduseer?
Is dit moontlik om dié diepste bedoelinge en veronderstellinge van die gereformeerde erediens effens te probeer verwoord – ten einde te kan vra of dit steeds genoegsaam gedien word deur óf die oorgelewerde liturgiese praktyke óf voorgestelde vernuwings volgens die gees van die tyd? Uiteindelik is dit die punt waar die onderlinge gesprek oor die diepste bedoelinge van die erediens in die gereformeerde tradisie – en daarom oor die onverhandelbare daarvan – dalk behoort aan te vang.
Miskien kan drie breë opmerkings die rigting aandui waarop die eie-aard van gereformeerde aanbidding gesoek sou kon word, dalk tog wel met die verrassing van nuwe ontdekking daaraan verbonde.
Eerstens – oor die aard van Gods teenwoordigheid
Dit gaan in die erediens om die teenwoordigheid van God by ons, om die belewenis van Gods lewende aanwesigheid. Die vraag hoe dit gebeur – of eerder: hoe ons dink en glo dat dit gebeur – is dié kritiese vraag rondom die erediens. Dis geen wonder dat die debatte rondom die werklike teenwoordigheid van Christus, rondom die praesentia realis, tydens die Hervorming dié eintlike kritiese punt van verdeling sou word nie. Dáár loop die meninge en die geeste inderdaad uiteen – deur die eeue en tot vandag toe nog. Vir die gereformeerde lewensgevoel is “die lewende God en sy Christus” (Calvyn) by ons aanwesig nié in die kerk self nie, en nié in ons eie subjektiewe gevoelens nie, maar deur die Heilige Gees, wat deur die beloftes van die gepredikte Woord, verseël deur die sakramente, geloof in ons harte werk. Dié diepe oortuiging kenmerk die gereformeerde geloof en tradisie meer as enigiets anders.
Aan die een kant beteken dit dat God nie direk, meganies, gewaarborg, instrumentalisties, outomaties, fisies aanwesig is in enigiets nie, nóg in die kerk, die ampsdraers en hulle handelinge, insluitende hulle liturgiese handelinge, nóg in die Bybelboek self, nóg in die gereformeerde tradisie, belydenisskrifte, kerkordes, of historiese figure. Finitum non capax infiniti, die eindige kan die oneindige nie bevat nie, God is méér as waaroor ons beskik, die lewende Christus is groter en buite ons werklikheid (verwoord in die bekende stelreël van die tipies gereformeerde extra calvinisticum), slegs die Heilige Gees skenk en bemiddel die heil en die teenwoordigheid van God aan ons.
Aan die ander kant beteken dit dat ons nie dié teenwoordigheid ontvang deur ons innerlike gemoedstemminge, ons subjektiwiteit, ons ervarings, gevoelens of stemminge nie, en dat ons dié teenwoordigheid ook nie na willekeur kan bemiddel of manipuleer deur byvoorbeeld atmosfeer of stemming te probeer skep nie. Vir die natuurlike religieusiteit of sogenaamde menslike spiritualiteit, die menslike behoefte aan en openheid vir transendensie, was dit altyd en bly dit steeds ’n ingrypende en aanloklike moontlikheid.
Vandag bied dit oraloor fundamentele uitdagings aan die gereformeerde erediens en aanbidding. Deur simbole en simboliese handelinge, deur kuns en deur musiek, deur appèl op emosie, op strewes, op vrese, en talle meer, probeer liturge op verbeeldingryke wyses sodanige atmosfeer skep dat mense sal voel dat hulle God beleef – van meesleurende lofprysinge tot die uitbundige ekstase van geklank en gedruis, van die simboliek van kerse, lig en choreografie tot die intimiteit van stilte en mistieke bepeinsing word aangewend om die gepaste stemming en belewenis te probeer skep. Liturgiese kreatiwiteit word byna tot geestelike industrie.
In die Christelike geskiedenis is dit alles niks nuuts nie, inteendeel, maar tog oefen dit vandag dramatiese krag uit, gegee ons ongekende tegnologiese moontlikhede, saam met die spirituele aard van ons tyd – deur die Amerikaanse liturg Don Saliers aangrypend beskryf as ‘n tydsgees van geheueverlies-en-oordaad, maar deur ander geleerdes ook beskryf as ‘n nuwe ikonografiese tydvak, ‘n historiese periode waarin die visuele weer vanselfsprekende voorrang geniet bo die gehoor. Vir die gereformeerde oortuigings aangaande die praesentia realis skuil hiér egter waarskynlik belangrike uitdagings om oor na te dink.
Tesame beteken dit dat ons nie willekeurig nuwe simbole of simboliese handelinge kan skep – byvoorbeeld op die antropologiese veronderstelling dat die mens ’n simboliese dier is – wat ons dan vir mense verduidelik en waardeur ons dan verwag dat hulle religieus gevoed moet word nie. Ons is afhanklik van die genademiddele wat die Drie-enige God ons gegéé het, wat Christus ingestel het, waaraan die Heilige Gees deur beloftes verbind is, volgens die Skrifte. Vir die gereformeerde tradisie is dit ’n grondoortuiging – en een wat vandag allerweë op ongeloof en skepsis stuit, ook binne die kerk en by baie predikante en liturge. Uit talle vorme van liturgiese vernuwing vandag kan slegs maar afgelei word dat mense hulle vertroue in hierdie eie-aard van die gereformeerde vroomheid en aanbidding verloor het, en meen dat dit op ander antropologiese veronderstellinge vandag anders gedoen behoort te word.
Tweedens – oor die aard van die teenwoordige God
Wie is dié God wat só teenwoordig is by ons? Waarskynlik behoort hieroor die langste nagedink en gepraat te word. Vanuit gereformeerde perspektief is dit die eintlike tema wat deur die vraag na die eie-aard opgeroep word – in welke mate beïnvloed en wysig liturgiese vernuwinge ons Godsbeeld, en is dit trou of ontrou aan die Bybelse Godsverkondiging?
Bekende sleutelwoorde uit die tradisie kan dalk as herinneringe dien aan waaroor dié gesprek behoort te gaan: die troue Verbondsgod; die lewende Drie-enige God, Vader, Seun en Gees; die Fontein van alle genade en goedheid en die passende dankbaarheid; die Heilige, wat eerbied, ontsag en respek toekom en roep tot lewens van dankbare gehoorsaamheid en heiligheid; die unio mystica met Christus; die troostende, vernuwende en heiligende werk van die Heilige Gees, wat ontbloting van ons diepe skuld en nood insluit; die roeping tot die lewe met mekaar, in gemeenskap, in geregtigheid en trou; die roeping tot ’n volle openbare lewe in gehoorsaamheid aan die Woord – en talle meer.
Dis sonder meer duidelik dat hierdie soort Godsbeeld deur sekere soort liturgieë en sekere soorte aanbiddingstyle gedien en bevorder word, maar deur ander weerspreek, ondergrawe en selfs verloën word. Nie alles wat in die wêreld van godsdiens en geloof deur die eeue op die mark was, het hiérdie God verkondig en van dié God getuig nie, en nie alles wat vandag in ons wêreld op die mark van godsdiens, geloof en spiritualiteit, selfs kerk-wees, aangebied word doen dit nie.
Daar is bekende, gewilde en suksesvolle strominge in spiritualiteit en inderdaad binne die Christelike tradisie en geloofsgemeenskap wat ‘n ander soort Godsbeeld verkondig, ‘n ander styl van geestelike lewe aanbied, ander ideale van sukses en lewensvervulling verheerlik, ander drome voorhou en ander weë daartoe aandien – só was dit altyd binne die Christelike kerk en só is dit vandag nog. Die erediens, die kultus en die gemeenskaplike samekoms van die gemeente is by uitstek die oord waar hierdie stryd homself afspeel, om die onderskeiding van die geeste.
Só was dit al in die Ou Testamentiese tye, maar vir seker ook in die Nuwe Testament, só was dit in die geskiedenis van die kerk en ook weer in die tyd van die Reformasie. Só is dit weer eens vandag in ons wêreld, alhoewel onder ingrypend nuwe omstandighede, omdat byvoorbeeld die logika van die mark – met sy ingeboude waardes van selfvervulling, kompetisie, persoonlike sukses, bevrediging of die vrye soeke na meer aantreklike alternatiewe – soos ook die heerskappy van die openbare media – met sý ingeboude waardes van ontspanning, gerief, genot, oombliklikheid, oppervlakkigheid en vryblywende onbetrokkenheid – nuwe uitdagings stel aan die geestelike onderskeidingsvermoë van die Christelike kerk en geloof.
Die vraag na die eie-aard van die gereformeerde aanbidding is nié die oppervlakkige en bloot formele vrae na watter formele praktyke tot elke prys behou behoort te word of watter formele praktyke ons tot elke prys behoort te verander ten einde tred te hou met die behoeftes en suksesse van die tydsgees en die tegnologie nie, maar dis die dieper vraag na geestelike onderskeidingsvermoë, na watter soort Godsbeeld deur die erediens en sy fasette en gebruike verkondig word – hetsy die erediens waaraan ons so gerieflik gewoond geraak het óf die erediens waarna ons dalk intens verlang en hunker.
Derdens – oor die aanbidding van dié teenwoordige God
Hoe aanbid ons dié lewende Drie-enige Verbondsgod na behore? Die gereformeerde tradisie – in al sy meervoudige, komplekse, histories-veranderlike, steeds-vernuwende gestaltes, soos nou reeds uitvoerig duidelik geword het – wil in die vormgewing van die erediens “volgens die Woord” optree.
Dit beteken uiteraard geen soeke na letterlike en volledige voorskrifte vir die inkleding van die erediens êrens in die Skrifte nie. Daarvoor is die tradisie te hermeneuties sensitief en te bewus van die wisselende ontwikkelingsgang van die Godsvolk se aanbidding deur die Ou en Nuwe Testament en te bewus van die (onsistematiese, nievoorskriftelike) aard van die Bybelse geskrifte en genres.
Die aansluiting by die Bybelse stof ten einde te probeer peil hoe die erediens in die hede konkreet behoort uit te sien was dus ook vir die gereformeerde tradisie altyd breedweg en kompleks, en nooit simplisties en alte direk nie. Ons kry nie in die Bybel êrens ‘n presiese voorskrif of resep vir hoe dit vandag nog gedoen behoort te word nie. In my boekie Neem, lees! word die verhaal ook vertel van hoe sensitief en versigtig die gereformeerde tradisie altyd met die Woord probeer omgaan het, onder die vaste oortuiging dat die lewende God deur dié Woord lewend met die kerk bly praat.
So vind Bucer byvoorbeeld in Hand 2:42 vier sleutelelemente van die erediens, wat hy en talle ander gereformeerdes saam met en na hom dan meer breedvoerig sou uitwerk, onder andere met behulp van ánder Skrifgedeeltes, naamlik:
die prediking en lering (uitgelê in ’n omvattende sin, met die klem op Skrifuitleg en kategese, dus: opbou en lering van die gelowiges as profete, priesters en konings);
die gemeenskap (koinonia, veral uitgelê as barmhartigheid, as daadwerklike deling van gawes en besit);
die breek van die brood (uitgelê as die sentrale rol van doop en nagmaal in die erediens en in die alledaagse geloofslewe);
en die gebede (in ’n ryke en omvattende sin uitgelê, as een van dié karakteristieke van die gereformeerde aanbidding en lewe)
Oor al vier hierdie sleutelaspekte – Woord; gemeenskap; genademiddele; gebed – sou die gesprek eintlik behoort te gaan. Die vraag is telkens deur die eeue en plekke of en hoe dié elemente steeds genoegsaam tot hulle reg kom deur alle kulturele en historiese veranderinge en vernuwinge rondom die erediens in gereformeerde kerke. Al vier roep om gesprek in groot besonderhede. Al vier berus op fundamentele oortuigings oor sowel die aard van God se teenwoordigheid by ons as die aard van die God wat so teenwoordig is.
Indien ‘n mens hierdie sieninge van Bucer as leidraad sou neem, waaier die oorspronklike vraag na die eie-aard van gereformeerde aanbidding dus uit in vier meer konkrete vrae, waarop antwoorde in elke nuwe tydsgewrig en sosiaal-historiese situasie inderdaad saam gesoek sou kon word.
Eerstens, kom die sentrale rol van die Woord (so ryk en kompleks soos verstaan in die gereformeerde geloof, teologie, belydenisse en tradisie, insluitende wet en evangelie) tot sy reg in ons eredienste?
Vervolgens, kom die aard van die gemeente as plaaslike gestalte van die katolieke kerk (insluitende die onderlinge praktiese belewenis van gemeenskap, hartlikheid, gasvryheid, onderlinge sorg, en veral die daadwerklike sorg vir al diegene in nood, ook in die burgerlike gemeenskap) tot sy reg in en rondom die eredienste?
Daarby, kom die sleutelrol van doop en nagmaal (as sigbare Woord van God, as seël en verseëling, bron van troos en sekerheid, as grondslag van die daaglikse Christelike lewe) tot sy reg in die erediens?
Uiteindelik, kom die ryke gebedslewe waartoe ons geroep word (insluitend lofprysing, dank, voorbidding, skuldbelydenis, verootmoediging, toewyding) tot sy reg in die erediens?
Kortom, dis waarskynlik dié soort vrae – wat net deur onderlinge gesprek en geestelike onderskeiding beantwoord kan word, elke keer weer opnuut deur die gange van die geskiedenis, elke keer weer deur die gemeente en die gemeentes tesame, in eerlike self-ondersoek en sensitief vir die suigkrag van die tydsgees en die spiritualiteite in die lug – wat tereg skuil agter die oorspronklike vraag.
-
Erediens en geloof
Op hierdie punt behoort die onderlinge gesprek dus dalk te kan begin, oor wat werklik onverhandelbaar is rondom die erediens in die gereformeerde tradisie. Wat vas staan, is dat juis die erediens in die hart van die gereformeerde lewe staan. Daar sonder is daar eenvoudig geen gereformeerde tradisie, geloof en lewe meer oor nie – en ook dít is alreeds dalk anders as vir sommige ander Christelike tradisies.
Die gereformeerde Hervorming was ’n hervorming van die erediens. Die gereformeerde belydenisskrifte is feitlik altyd opgevolg deur gereformeerde kerkordes, pogings om die belydenis te beliggaam, en dié ordes was vir eeue eintlik niks anders nie as pogings om die gemeentelike lewe in en rondom die erediens te reël. Vanaf Calvyn se dae in Genève was dit al die geval.
Ook vir die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika geld dit byvoorbeeld vandag nog dat die gemeentelike erediens die hart van alle gestaltes en werksaamhede van die kerk vorm. Worship provides a barometer of our theology and faith, skryf die gereformeerde teoloë Hart & Muether tereg in hul studie With reverence and awe (2002). Dis waarom die lex orandi (die reël vir ons gebed; die manier waarop ons bid) van sulke sleutelbelang is vir die lex credendi (die reël vir ons geloof; die manier waarop ons glo) en vir die lex (con)vivendi (die reël vir ons lewe; die manier waarop ons saam-lewe).
In die gereformeerde tradisie vervul die erediens dié vormende rol – en as ander veronderstellinge, ander geloofsoortuigings, ander Godsvoorstellinge, ander religieuse ervaringe, ander spirituele elemente, ander stemminge, ander atmosfeer in die eredienste gaan heers, oor ’n tydperk heen, sal dit sonder enige twyfel die gereformeerde geloof en lewe, tradisie en teologie fundamenteel verander.
Indien ons egter hierdie sleutelrol van die erediens opnuut sou kon raaksien en daarmee saam die wonderbare beloftes aangaande Gods teenwoordigheid deur Woord en Gees, die verrassende aard van dié teenwoordige God en die rykdom van seëninge verborge in prediking, gemeenskap, genademiddele en gebed, mag dit dalk inderdaad vir baie gelowiges, gemeentes en dalk selfs liturge soos ‘n heerlike ontdekking wees van ou én nuwe skatte.
Literatuur
Old, H 2002. Worship. Reformed according to Scripture. Louisville: Westminster John Knox.
Van Ruler, AA 1971.Waarom zou ik naar de kerk gaan? Nijkerk: Callenbach.
Wainwright, G & Tucker, KBW (eds) 2005. The Oxford History of Christian Worship. Oxford: OUP
White, J F 1989. Protestant worship. Louisville: Westminster John Knox.
Wolterstortorff, N 1992. The Reformed liturgy, in D McKim (ed), Major themes in the Reformed Tradition. Grand Rapids: Eerdmans, 273-304.