
Op Sondag, 22 Maart 2020, het die deure van NG kerke regoor die land toegestaan terwyl hul predikers vanaf die kansels tot voor die kameras ingeskuiwe het. Te midde van die COVID-19-pandemie en die daaropvolgende oproep tot sosiale afstand, het gemeentes begin soek na nuwe maniere van kerk-wees en kerk-hou. Gemeenteleiers word in hierdie tyd uitgedaag om nuut te besin oor prediking, diakonaat en krisispastoraat. Ingesluit hierin is die herbesinning oor die inhoud van prediking in krisistye soos dié waarin ons ons nou bevind.
In ’n artikel van 28 Maart 2020 getiteld “Handeoplegging in die tyd van Korona” skryf Cas Wepener: “In ʼn tyd waarin fisiese aanraking taboe is, ʼn tyd van angs en onsekerheid… besef ons dat woorde ook sakramente is, maniere waarop ons aan mekaar vat. Nou is ʼn tyd wat vra vir handeopleggings – met woorde.” Hier, op dag 1 van die nasionale kwarantyn van drie weke, kan die kerk dus haarself afvra: Hoe lyk prediking wat raakvat in krisistye? Hoe lyk prediking wat aanraak, regruk, nadertrek of omarm? Hoe lyk prediking wat die hande oplê?
Om hierdie vraag te antwoord, het ons gaan kyk na dít wat reeds op Sondag, 22 Maart in NG gemeentes gepreek is. Alhoewel daar binnekort ‘n artikel sal verskyn wat die strekking en resultate van die navorsing in meer detail sal deurgee, deel ons intussen graag die insigte wat ons tot dusver gekry het.
- Preke wat die COVID-19-pandemie aanspreek, praat op twee vlakke van die ontwrigting wat deur die Coronavirus veroorsaak word. Eerstens, word daar verwys na die ontwrigting wat vrees, angs en onsekerheid veroorsaak. Tweedens, word daar ook gekyk na die meer praktiese, ekonomiese en sosiale ontwrigtinge. So ook word daar verwys na die praktiese ontwrigtinge ten opsigte van kerk-wees en kerk-hou.
- Die predikers maak dit egter duidelik dat hierdie vrees bestry moet word – nie deur maklike antwoorde wat gryp na God se straf vir sonde of die tekens van die eindtye nie. Daar word eerder verwys na God se liefde en almag wat hierdie vrees verdryf, sowel as na die sakramente wat ons hieraan herinner. Die bestryding van vrees lê dus in ons geloof in God.
- Wie God is, speel ’n belangrike rol in prediking oor die tyd van ontwrigting wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak word. In hierdie verband fokus predikers in die besonder op twee aspekte van God: (1) God as die almagtige wat die dood oorwin het en dus enige mag van siekte of dood gebreek het; en (2) God as die immer teenwoordige Immanuel, wat ten spyte van sy eie oomblikke van verlatenheid aan die kruis, altyd by ons is en in hierdie gebeure teenwoordig is.
- Op die meer praktiese vlak, is daar ’n sterk klem op diensbaarheid. Dit behels onder meer ’n oproep tot diensbaarheid wat sentreer rondom die spanning tussen die handhawing van sosiale (of fisiese) afstand en die bevordering van sosiale (of gemeenskaplike) interaksie en verbintenis.
Wat egter in die preke uitstaan, is die wyse waarop elkeen van hierdie elemente met die teologie van Lydenstyd deurweef is en dit is juis hierin waar die kerk dalk die geleentheid het om “raak te vat”. Die preke verwys telkens na:
- Die ontwrigting van die kruisgebeure;
- Jesus se angs, vrees en gevoelens van verlatenheid te midde van hierdie ontwrigting;
- Die kruisgebeure as die teken van God se almag en die opstanding as die bevestiging van God se oorwinning oor die dood;
- Die kruis as teken van God se solidariteit met ons en sy teenwoordigheid in ’n lydende wêreld;
- Die kruis en die nagmaal as tekens van God se liefde en mag wat vrees verdryf;
- Die waarde van afsondering tydens die lydenstyd;
- En die herinnering dat die Messias die pad van lydende diensbaarheid gekies het en ons daardeur roep om ook ons kruis in diensbaarheid op te tel en Hom te volg.
Die wyse waarop die kruisgebeure en Lydenstyd deur die ander temas vervleg is, is ’n herinnering dat die kerk juis in hierdie tyd van die kerkjaar die geleentheid het om ander die hande op te lê deur te wys hoe God self nie sosiale afstand gehou het nie. In die vleeslikheid van die Lydenstyd en Pase kom die tasbaarheid van die Evangelie na vore – ’n tasbaarheid wat in tye van afsondering en kwarantyn skaars is.
Hierdie resultate is maar voorlopig en mettertyd sal ons meer inligting hieroor en riglyne hieruit kan verskaf. Vir nou wonder ons wel oor tekste wat praat oor Petrus wat op ’n afstand gebly het tydens die kruisgebeure, oor die intieme kontak van ’n soen wat verraai, oor die hardhandigheid waarmee Jesus hanteer is, oor Pontius Pilatus wat sy hande was terwyl Jesus se hande met bloed bevlek word, oor die vroue wat nie aan Jesus kon vat na sy opstanding nie, maar ook aan Thomas wat sy hande in die wonde van Jesus kon insteek. Lydenstyd is ’n tyd van afsondering, maar dit is ook ’n tyd van vlees en bloed, van kontak en van God wat nie verwyderd van die mens staan nie, maar Hom te midde van mense se lyding plaas.
Ons is dankbaar vir elke prediker wat die Evangelie vir sy of haar konteks in hierdie tyd met erns besin en wat oor die afstand van kameras hul gemeentes en gemeenskappe die hande oplê.