Om mekaar lief te hê

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

‘n Gebed vir Christene tydens afsondering

Here Jesus Christus, Seun van God,

soos U een is met die Vader en die Heilige Gees,

is U ook een met ons elkeen.

Ons bely en verkondig nou ons diep en volkome eenheid met U. 

(Stilte)

Laat u wil geskied.

Amen.

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Pleister

Instruksies:

  • Skep ‘n gebedstasie waar jy elke dag ‘n kers kan aansteek as jy bid. 
  • Plaas die simbool van die dag langs die kers om jou te herinner vir wie jy vandag kan bid.

Ons bid vir dokters, verpleegsters, hospitaalpersoneel en paramedici wat sorg vir mense wat met die koronavirus geïnfekteer is en in klinieke en hospitale oor die wêreld heen opgeneem is. Ons sê dankie vir almal wat opgelei is en die kennis en vaardighede het om siek mense in hierdie tyd van ’n pandemie te versorg.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God – 1 Johannes 4:7.

Daar is ’n ou legende oor iemand wat die hemel en die hel besoek het. In die hemel én in die hel was daar tafels wat met allerlei heerlike kossoorte gedek was. Die probleem was egter, op albei plekke was die enigste beskikbare eetgerei lepels wat langer as ’n mens se arm was. Gevolglik kon niemand die self kos in hulle monde kry om daarvan te geniet nie. Die besoeker het egter opgemerk dat almal in die hemel versadig was, maar in die hel was almal uitgeteer. Waarom? Omdat almal om die tafels in die hemel mekaar gevoer het.

Dié legende verwoord een van die wesenskenmerke van die Christelike lewe: Ons leef nie ter wille van onsself nie. Ons leef ook nie net ter wille van ander nie. Ons kan ander immers dien sonder om in ’n ware verhouding met hulle te staan. Die wesenskenmerk van die Christelike geloof is dat ons in ’n opregte liefdesverhouding met mekaar leef. En hierdie verhouding impliseer die vermoë om liefde te kan gee én liefde te kan ontvang.

In die volgende paar dae gaan ons elke dag by ’n ander aspek van dié wederkerigheid van ons geloofslewe stilstaan deur die verskillende mekaar-opdragte in die Nuwe Testament saam te lees.

Vader, leer my om ander in liefde te dien. Help my ook om die liefde van ander te aanvaar. Amen.

Sakkie se sepie

Kyk hierdie video saam met jou kinders. 

Liturgie van die Lewe

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

In hierdie tyd van groot onsekerheid is daar een ding wat ons verseker weet: Vir die volgende 21 dae gaan ons baie tyd saam met ons huismense deurbring. Dit gee ons dalk die tyd om ’n paar nuwe huisgewoontes te skep en op hierdie manier vir God in die gewone te sien en te ervaar. Tish Harrison Warren skryf: “We are shaped every day, whether we know it or not, by practices – rituals and liturgies that make us who we are. We receive these practices – which are often rote – not only from the church or the Scriptures, but from the culture … The question is, What kind of Christian is our liturgy forming us to be?” Deur nuwe gebruike of gewoontes te vestig (wat Harrison Warren ’n liturgie vir die lewe noem) kan ons moontlik ons verhouding met God en ons medemens versterk.

Die tyd in kwarantyn gaan vir jou en jou huis baie geleenthede gee om saam te eet. Etenstyd kan werklik hemels wees … of bitter onaangenaam. Deur hierdie soort doodgewone handelings nuut te benader, kan jy en jou huismense mekaar dien met julle teenwoordigheid en ondersteuning en só uitdrukking gee aan Jesus se opdrag om mekaar lief te hê.

Daar is ’n Afrikaanse uitdrukking wat sê: “Die tong is langer as die arm.” Wat dit wil sê, is dat dit makliker is om iemand te vra om iets vir jou aan te gee as om jou hand ver uit te strek en dit self te probeer kry. Begin hierdie 21 dae se kwarantyn dan saam om tafel. Sit so ver moontlik van mekaar af, afhangende van die grootte van die tafel. Sit alles wat julle wil eet in klein bordjies, versprei oor die hele tafel, sodat jy vir die ander by jou moet vra om jou te help om die eetgoed in die hande te kry om só jou eetgoed op jou bord bymekaar te sit. Vra dan vir mekaar hoe julle mekaar in hierdie tyd van kwarantyn kan help. Wat het jy in hierdie tyd nodig van die mense met wie jy jou leefarea deel? Skryf hierdie versoeke neer en sit dit teen die yskas op.

Ons gaan mekaar nodig hê om hierdie tyd te oorleef. Kom ons erken ons afhanklikheid van God en van mekaar.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienstegebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender #saamkerk

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God  1 Johannes 4:7.

God se storie met die mens begin by liefde. Deur die hele Bybel lees ons hoe lief God ons het. Liefde is amper soos God se kenteken, want soos ons in die vers hierbo lees, kom liefde van God af. Jesus stuur ons, sy verteenwoordigers, nou ook uit om ander mense lief te hê.

  • Wat beteken liefde vir jou?
  • Hoe kan jy ander mense liefhê in hierdie tyd van afsondering? 

Aktiwiteit

  • Teken ’n reënboog of druk die aangehegte prentjie van ’n reënboog uit en kleur dit in. As jy klaar is, plak jou reënboogprentjie in ’n venster in julle huis op sodat mense die reënboog van die straat af sal kan sien. 

Die reënboog is ’n kenteken van God se belofte en ’n teken van hoop aan ons. (Waar in die Bybel lees ons van ’n reënboog?) Oor die wêreld heen plak mense nou in die Covid-19tydperk prentjies van reënboë in hulle huise se vensters op sodat almal wat dit sien, kan onthou dat ons lief is vir mekaar en aan mekaar dink in hierdie tyd. 

  • As jy lus is vir nog ’n aktiwiteit, ontwerp ’n kenteken (wapen) vir julle huis, amper soos jou skool se wapen. Nooi almal in die huis om te help. Sorg dat die opdrag “ons moet mekaar liefhê” iewers op julle wapen sigbaar is om julle te herinner dat liefde God se kenteken is.

Gebruik die voorbiddingstasie om saam te bid.

Kreatiewe gebed

Kleur in en dink na. (Instruksies onder die prent beskikbaar)

Die mense vir wie elief is

Dit is die mense aan wie jy in hierdie tyd baie dink. Dit is die mense wat vir jou lief is en wat vir jou baie beteken, of mense wat nou jou liefde en gebede nodig het. 

INSTRUKSIES

  • Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie dinge kan werk. 
  • Kleur die prent in. 
  • Dink na oor die mense aan wie jy in hierdie tyd baie dink. Skryf hulle name neer op die oop spasies in hierdie prent, soos die groot sirkels, die vlaggies en sommige van die groot blare. As daar te veel name is, skryf meer as een naam in ’n oop spasie neer, of sommer net waar jy ’n plekkie op die prent kry. 

WENKE

  • Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op. 
  • Jy kan eers die mense se name neerskryf of eers die prent inkleur, nes jy verkies.
  • Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die spasies waar jy die name kan neerskryf eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur. 
  • Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
  • Wanneer jy die prent klaar ingekleur en die mense se name neergeskryf het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur, om jou te herinner aan hierdie mense terwyl ons nou ’n tyd van isolasie ingaan. 

Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Leonard Cohen, die legendariese Kanadese digter en musikant, skryf in sy lied “Anthem” (1992):

There is a crack, a crack in everything

That’s how the light gets in.

Cohen verduidelik in ’n uitsonderlike onderhoud dat niks perfek is nie. Nie jou verhoudings nie, nie jou werk nie, nie jou liefde vir God of jou liefde vir jou familie of of jou liefde vir jou land nie. Niks nie. “Die lewe is onvolmaak.”

Meer nog, daar is ’n kraak in alles. “Maar dit is hoe die lig inkom, en dit is waar die opstanding is.”

In donker tye is dit belangrik dat ons vir mekaar sal wys waar die Lig deurbreek. Waar die opstanding plaasvind. Waar God te midde van angstigheid en onsekerheid aan die beweeg is.

Ons nooi jou nou om notas ‘n ‘n joernaal te maak oor alles waarvoor jy dankbaar is vandag.
Dalk wil jy ook jou getuienis van God se sorg en goedheid vir ons te stuur.

Ons sal dit op die volgende dag se bladsy plaas as ’n getuienis van God se goedheid in hierdie tyd van onseker afwagting.

Stories are verbal acts of hospitality.

Eugene Peterson 

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensburg.