Neem asseblief kennis dat hierdie diens vanaf 16 Oktober 2020 verander. Indien jy die Aftelkalender en Inspirasiekalender geniet het, moedig ons jou aan om oor te skakel na Boodskap vir Vandag, ons daaglikse oordenkingsdiens. Jy kan inteken op die e-posdiens deur https://bvv.bybelmedia.org.za/ te besoek, of laai die Boodskap vir Vandag-app via PlayStore op jou foon af.
Vrydag 16 Oktober 2020
Die ryk dwaas
Toe sê Hy [Jesus] vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie” (Lukas 12:15-21).
In 1 Timoteus 6:17 hoor ons die waarskuwing: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God.” Paulus sê rykdom, geld en besittings het die potensiaal om ons te verlei om ons vertroue eerder daarop te stel as op God. Dit is presies waarteen Jesus in Lukas 12:15 waarsku: Pasop vir elke vorm van gierigheid, want jou lewe is nie afhanklik van die oorvloed van jou besittings nie.
Telkens in die Lukasevangelie sien ons hoe rykdom en besittings in die pad van mense gestaan het om Jesus Christus te volg (Luk 18:18-25; 14:25-33; 14:18-19). In Lukas 18:18-25 lees ons dat die ryk jongman voldoen aan al die vereistes wat die wet bepaal. Wanneer die Here vir hom sê: “Gaan verkoop jou goed en kom hier en volg My,” stap hy hartseer weg.
Wanneer Jesus in Lukas 14:33 oor dissipelskap praat, sê Hy nie een van ons kan sy dissipel wees as ons nie bereid is om van al ons besittings afstand te doen nie. Ons kan die Here nie volg as ons besittings belangriker is as Hy nie. Ook Lukas 14:18-19 maak dit duidelik dat mense se besittings, die grond en die osse wat hulle gekoop het, hulle die fees van die Messias laat misloop.
Die heel hartseerste gelykenis is sekerlik die een van die ryk dwaas. Kyk na sy prioriteite. Dié man het by homself gedink (sonder om God se raad te vra): Wat moet ek doen? Ek het nie genoeg plek om my oes op te gaar nie. Toe besluit hy: Ek sal my skure afbreek en groter bou sodat ek al my graan kan opgaar. Wat sê hierdie ryk dwaas? Wat ek het, is myne. Ek besluit hoe ek dit gebruik. Hy gee geen erkenning aan die God wat hom ryk gemaak en sy koring laat groei het nie. Sy nuwe skure sou sy “probleem” oplos.
Dit lyk na goeie beplanning. Dié man maak voorsiening vir die maer jare. Maar is dit regtig so? Die Ou Testament help ons om beter te verstaan wat hier gebeur: Mense vervloek iemand wat weier om koring te verkoop (Spr 11:26), want hulle gaar hulle koring op totdat al die ander koring op is. En dan verkoop hulle hulle koring teen ’n onbetaalbaar hoë prys. Só besteel hulle die armes.
Tereg het Moeder Teresa gesê: “Wanneer ’n arm mens van honger doodgaan, is dit nie omdat God nie vir daardie persoon gesorg het nie. Dit is omdat ons nie instrumente in die hande van God was om vir die arme ’n stukkie brood te gee nie.”
Liewe Vader, gee my ’n hart vol omgee vir my medemens sodat my eerste prioriteit nie sal wees om myself te verryk en na “my brood” te soek nie, maar dat ek sal bid en my sal beywer vir “óns daaglikse brood”. Ek wil my talente, gawes en goeie beplanning gebruik in diens van U en u koninkryk, en nie om groter skure vir myself te bou nie. Amen.
“So moet die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is.” – Matteus 5:16
Wanneer ons ons liggies voor ander mense laat skyn, sien hulle dat ons vir Jesus lief is en leef soos Hy van ons vra. Hulle sal dan ook sy kinders wil wees en só leef dat ander mense van hulle hou. Wanneer mense vir jou vra hoekom jy altyd so gelukkig is, kan jy vir hulle sê: “Omdat Jesus vir my lief is en wil hê ek moet ʼn liggie vir ander mense wees, is ek gelukkig.” Dan kan hulle ook vir Jesus leer ken.
Kom ons gaan wees die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld sodat almal vir Jesus lief kan raak.
Jesus, help my om u voorbeeld te volg en my liggie elke dag te laat skyn vir U. Help my ook om sout te wees en die lewe vir ander mense lekkerder te maak. Amen.
INSPIRASIE VIR VANDAG
Donderdag 15 Oktober 2020
Die waarde van omgee
“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee … Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat, is daar sal julle hart ook wees” (Lukas 12:27-34).
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Overduin skryf dat ons met hierdie ons alle mense in ons gebed betrek. Dit sou vloek wees, en nie gebed nie, as ons dade nie op hierdie gebed sou volg nie. Die ons is daarom baie betekenisvol. Dit gaan nie net oor my brood nie. As ek regtig die koninkryk van God eerste stel, as ek wil dat sy Naam geheilig sal word, as ek wil sien dat sy wil ook hier op aarde sal geskied, net soos in die hemel, word brood vir ander ’n prioriteit in my lewe. Vergifnis is dan nie ’n opsie nie, maar deel van God se heiligheid, sy wil en ’n koninkryksgesindheid op aarde. Bevryding van die Bose word ’n koninkryksprioriteit.
Maar laat ons ’n paar oomblikke nadink oor die ons van “ons daaglikse brood”. Mense wat selfgesentreerd is, dink net aan hulle eie behoeftes. Mense wat net hulle eie wil laat geskied, dink nie aan mense wat elke dag sukkel om weens hulle armoede te bestaan nie. Die kerk van Jesus Christus, ek en jy, sê Overduin, bid dat daar ’n wêreldgewete sal ontwaak wat armoede daadwerklik sal probeer verlig. As hierdie gebed ons erns is, sal ons nie omgee as ons een tree in ons welvaart teruggee sodat hulle wat niks het nie ’n paar treë vorentoe kan gee op die skaal van welvaart nie.
Van die hartseerste uitsprake van Jesus in die Bybel gaan oor ryk mense. Dis nie hartseer dat hulle ryk is nie. Dis nie hartseer dat hulle genoeg brood het nie. Dis hartseer dat hulle prioriteite verkeerd is. Want wanneer jou prioriteite verkeerd is, kan jy die ewigheid misloop.
Lees weer wat Lukas 12:34 oor jou hart en jou skat sê. Dink dan oor hoe jy oor hierdie woorde van Augustinus voel: “Ontvang wat God jou gee met vreugde. Gebruik daarvan wat jy nodig het. Die res word deur jou naaste benodig.”
Dankie Here, dat U my met meer seën as wat ek nodig het. Maak my hart en my hande oop vir ander. Gebruik my en my besittings om hulle te seën. Alles behoort aan U. Amen.
Ons is lief vir God as ons doen wat Hy vir ons sê. En dit is maklik om te doen wat God vir ons sê, want elke kind van God oorwin die wêreld. Ons oorwin die wêreld wanneer ons in Jesus glo. Ja, as ons glo dat Jesus die Seun van God is, dan oorwin ons die wêreld. – 1 Johannes 5:3-5
Jesus help ons om te leef soos Hy van ons vra. Hy vra dat ons vir Hom sal lief wees. Hy vra ook van ons om vir ander mense lief te wees. Wanneer ons leef soos Jesus van ons vra, sien ander mense ons is kinders van God.
Dankie, Jesus, dat U so lief is vir my dat U my u kind noem. Ek is ook lief vir U. Help my om vir alle ander mense lief te wees. Amen.
Ewige en genadige God,
Bron van alle geluk,
ek loof U dat U Uself bekendgemaak het as
my goeie Herder.
Here, wanneer ek van die kaart van die lewe af
tot in die donker dieptes marsjeer,
help my om al my vrese weg te gooi.
Met gekruiste vingers, my Herder, weet ek
alle lewende dinge – ook ek self –
is veilig in u groot hande.
U kostafels kreun onder u hartlikheid, goedheid en liefde.
En ek sal by U tuis wees vir altyd en altyd en altyd …
Amen.
Woensdag 14 Oktober 2020
Die brood wat lewe gee
“Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe” (Johannes 6:48-51).
Ons ouers en grootouers het dikwels gebid: “Voed ons met die Brood van die ewige lewe, want ons leef nie van brood alleen nie” (Deut 8). As gelowiges in Christus het ons die Brood wat lewe gee, ontmoet en God voed ons hierdie Brood van die lewe.
Die “brood” in die Ons Vader-gebed is dan ook baie meer as die eetbare brood vir elke dag. Die Nuwe Testament gebruik die brood-beeld op so ’n manier dat dit moeilik is om dit los te maak van Jesus, die Brood wat lewe gee, en van die nagmaal wat ons aan hierdie Brood herinner.
JC Ryle herinner ons dat ons gedurig moet nadink oor die grootste gawe van almal – ons verlossing deur God se genade. Ek dink nie ons doen dit genoeg nie. Ons verwonder ons nie meer daaroor nie. Ryle skryf: “Hy het ons vanuit die duisternis na sy wonderlike lig gebring deur ons nederig te maak en ons van ons swakheid, skuld en dwaasheid bewus te maak en ons van ons afgode te stroop. Hy het ons geplaas waar ons nou is en ons gegee wat ons het.”
Paulus skryf dat elkeen wat aan Christus behoort met dankbaarheid vervul moet wees. “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul” (Kol 2:6-7).
Miskien is ons gebrek aan dankbaarheid die gevolg van ons gebrek aan gemeenskap met die Een wat ons verlos het? Wat beteken brood op die tafel en water in ons krane sonder die Brood wat lewe gee en die lewende Water in ons binneste? Waarvoor is ons dan dankbaar?
“Seën ons, Vader, wanneer ons nou eet en laat ons u Naam nooit vergeet … Voed so ook ons siele met die brood van die ewige lewe.”
Eet en God het alles met mekaar te doen. En eet en dankbaarheid is onskeibaar. Onthou dit wanneer jy weer die Ons Vader en jou tafelgebed bid.
Dankie, Here, dat U nie net sorg vir ons daaglikse brood om ons liggame te versterk nie, maar dat U self die Brood is wat lewe gee, wat ons verlos het en wat ons geestelik voed. Ek is jammer, Here, dat ek soms hierdie geskenk as vanselfsprekend aanvaar. Ek wil my hele lewe in dankbaarheid teenoor U leef. Amen.
“Ek is die brood wat self lewe en wat ook lewe gee. Ek kom uit die hemel. As iemand van hierdie brood eet, dan sal hy altyd lewe. Die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense van die wêreld altyd kan lewe.” – Johannes 6:51
Elke keer wanneer jy brood eet, kan jy onthou: Jesus is die brood uit die hemel wat vir jou lewe gee. Hy maak vir jou ʼn woonplek in die hemel gereed sodat jy eendag vir ewig by Hom kan gaan woon.
Dankie, Jesus, dat U die brood is wat vir my lewe gee. Ek is lief vir U. Amen.
Gees van God, wees die Tuinier van my lewe.
Vir te lank het ek ʼn winter in my lewe belewe.
Maar nou, in die sterk Naam van Jesus, waag ek dit om te vra:
Snoei die dooie lote van die verlede weg.
Los die harde klonte van tradisie en roetine op.
Gooi die ryk bemesting van visie en uitdagings op my neer.
Begrawe diep in my lewe die Woord wat vrymaak.
Versorg my en gee water aan my.
Totdat nuwe lewe veelkleurig in my blom.
Amen.
– ’n verwerking van ʼn gebed van Richard Foster
Dinsdag 13 Oktober 2020
Die waarde van dankbaarheid
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:4-8).
Ons hou van vra en ontvang. Gee ons vandag ons daaglikse brood. Gee. Ons sal ontvang. Ook die wêreld sonder God hou van vra en ontvang. Die verskil lê in die reaksie wanneer die brood ontvang word. Johan Cilliers skryf: “Waar die wêreld sê: ‘Gee’ – en gryp, sê die gelowige: ‘Gee’ – en dank.”
Toe ek ’n kind was, was daar twee gebede aan etenstafel. Die eerste was ’n seëngebed: “Seën ons, Vader, wanneer ons nou eet en laat ons u Naam nooit vergeet.” Aan die einde van die ete was daar ’n dankgebed: “Dankie, Vader, dat U ons liggame met hierdie kos gevoed het. Voed nou ook so ons siele met die brood van die ewige lewe.”
Hoe meer ek hieroor nadink, hoe dankbaarder is ek dat ek só kon grootword. Ek het verstaan dat die Here ons kos aan ons voorsien het. Ons het dikwels nie baie kos gehad nie. Eers baie lank ná my kinderjare het ek uitgevind dat my ma dikwels nie geëet het nie, want as sy ook sou geëet het, sou daar nie genoeg gewees het vir ons almal nie.
Dankbaarheid vir wat ons ontvang, is ongelukkig dikwels ’n vreemde verskynsel by baie mense, selfs by gelowiges. Overduin skryf dat baie mense bloot sê hulle het gewerk vir wat hulle het en ontvang. Natuurlik is dit nodig om te werk. Paulus skryf dan ook dat mense wat nie werk nie, nie kan eet nie. As jy nie werk nie, moet jy nie verwag om te eet nie. As jy nie werk nie, is dit ook nie moontlik om te eet nie. Ons sien elke dag hoe werklose mense sukkel om ’n bestaan te maak. En dikwels is dit nie hulle skuld nie.
As jy werk het, mag dit nooit jou dankbaarheid en afhanklikheid minder maak nie. Ons het geleer om aan die etenstafel te bid: “En laat ons nooit u Naam vergeet nie.” God se voorsiening bly GOD se voorsiening, al werk jy. Ons vergeet nie sy Naam nie. Ons vergeet nie dat Hy sorg nie. En die Here sorg op so baie maniere vir ons. Hy gee kos, klere, vriende, ’n lewensmaat, kinders en kleinkinders. Ons is inderdaad geseënd. En wanneer ons met dankbaarheid oor hierdie seën leef, sien ons nog soveel meer dinge raak waarmee God ons seën. Wat ons opnuut laat dankie sê.
Dankie, Here, vir alles waarmee U my seën. Help my om in dankbaarheid te leef, ook wanneer ek swaarkry, want dan is dit vir my moeiliker om u hand en u versorging raak te sien, al weet ek U is altyd by my. Amen.
Jesus het hulle gesien en Hy het vir hulle gesê: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Toe hulle weggaan, het hulle gesond geword. God het hulle rein gemaak. Hulle het gesien hulle is gesond, maar net een van hulle het omgedraai en God geprys, so hard dat baie mense dit kon hoor. – Lukas 17:13-15
Melaatsheid was ʼn velsiekte wat mense gekry het. Hulle mag dan nie tussen ander mense gewoon of naby aan hulle gekom het nie. Hierdie mans het geweet hulle mag nie naby aan Jesus gekom het nie, maar hulle het gehoor Hy kan mense gesond maak.
Jesus het hulle gesond gemaak, maar net een van die mans het omgedraai en vir Jesus gaan dankie sê.
Dankie, Jesus, dat ek kan weet as U iets belowe, sal dit regtig gebeur. Ek moet net glo. Dankie vir alles wat U vir my doen. Amen.
O Here,
onthou nie net die goeie mense nie, maar ook die slegte mense.
Moet asseblief nie al die lyding wat hulle veroorsaak het, onthou nie.
Dink eerder aan die vrugte wat ons gedra het as gevolg van die lyding –
ons getrouheid, ons vriendskap, ons moed, ons vrygewigheid en ons geloof.
En as hulle eendag voor U staan om geoordeel te word,
laat die vrugte wat ons gedra het, hulle vergifnis wees.
Amen.
– ’n gebed wat in die sak van ʼn kind gevind is; hy het in Ravensbrueck se konsentrasiekamp gesterf
Maandag 12 Oktober 2020
Gee ons genoeg
Martin Luther het gesê: “Rykdom is die kleingeestigste en waardeloosste geskenk wat God aan die mens kan gee. Hoe vergelyk dit met God se Woord, met liggaamlike gawes soos skoonheid en gesondheid; of met geskenke van die gees soos begrip, vaardigheid en wysheid? Tog swoeg die mens om rykdom dag en nag, en neem nooit rus nie.”
Die gebed van die Here praat oor ’n nuwe orde. Dit begin waar ons sê: “Ons Vader …” Dit skep ’n familie met bepaalde waardes. Hierdie familie leef in afhanklikheid van hierdie Vader, vir vandag en môre. Ons is nie in beheer nie. Ons het God en mekaar nodig. Dis ’n mite om te dink ons kan ’n lewe sonder angs, sonder vrees en in totale onafhanklikheid leef. Die sogenaamde “moderne” wêreld is ’n hooplose wêreld, gevul met pyn, onmin en tragedies.
Helmut Thielicke verwys na die boek van Walter Flex, Reisiger tussen twee wêrelde, waarin skryf hy dat ons eintlik in gebed net om krag moet bid. Ons reik uit na die hand van God, nie na die geld in sy hand nie. Baie mense het die geld en die brood, maar nie die hand van God nie. Baie mense sien die brood en die geld as ’n doel op sigself. Mense wat deel van God se familie is, wat God “ons Vader” noem, kan nie só leef nie. Die hand van God is die bron van ons lewe. Die hand van God gee sin aan ons brood en ons geld. Dis alles Syne.
Daarom vra ons nie meer as dit wat ons vir vandag nodig het nie. God meet die porsie af. Dit is genoeg. So baie van ons kla onnodig oor ons lewensgehalte, maar die meeste van ons het ’n dak oor ons kop, ’n kombers om onder te slaap en elke dag iets om te eet. En tog bekommer ons ons so dikwels oor môre.
Daarteenoor is daar so baie mense in ons land wat net genoeg vir vandag het. Of nie eens genoeg vir vandag nie. Miskien is jy een van hulle. Of miskien is jy bang jy word een van hulle omdat jy jou werk gaan verloor.
Hans Walter Wolff, ’n Duitse teoloog, het gesê: “Liewer met God in my krisis as sonder Hom in my voorspoed.” Om God se teenwoordigheid te beleef wanneer jy nie voorspoed, geluk en besittings het nie, dít is ware geluk. As ons maar net kan leer om tevrede wees met wat God vandag vir ons gee, en môre in sy hande oor te gee.
Hemelse Vader, gee ons vandag wat ons vir vandag nodig het. Môre laat ek aan U oor! Amen.
“Vader, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Gee vir ons die kos wat ons elke dag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het, want ons vergewe ook ander mense wat teen ons verkeerd gedoen het. Help ons dat niks sal gebeur wat ons verkeerd sal laat doen nie.” – Lukas 11:2-4
Jesus het gesê ons kan met die Here praat en Hom “ons Vader” noem. ʼn Ander woord vir Vader is “Pappa”. God is ons Pappa in die hemel. Wanneer ons bid, kan ons begin deur vir ons Pappa dankie te sê vir wie Hy is en vir wat Hy alles gemaak het. Ons kan ook vir die Here dinge vra wat ons nodig het. Partykeer sê die Here ja, ander kere sê Hy nee en soms laat Hy ons eers ʼn rukkie wag. Al kry ons nie altyd die antwoord wat ons wil hê nie, weet ons die Here sal altyd vir ons gee wat vir ons die heel beste is.
Dankie, Jesus, dat ek met U kan praat. Dankie dat U my altyd antwoord en altyd vir my sal gee wat vir my goed is. Amen.
Sondag 11 Oktober 2020
Gee óns …
“Ons Vader wat in die hemel is … Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matteus 6:9, 11).
Die eerste deel van die Ons Vader-gebed begin met passiewe opdragte in die derde persoon. Nou verskuif die aandag. Jesus se gebed word ’n familiegebed. Óns is nou die ontvangers van die brood. God is óns Vader. Ons is sý kinders. Elkeen wat God Vader noem, is deel van hierdie familie. Die Ons Vader begin met die woord ons, en die tweede deel van die gebed neem hierdie ons weer op. Ons is daarom ’n noodsaaklike woord in hierdie gebed om te verstaan.
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Reinhold Ruthe skryf dat dit geensins ’n egoïstiese gebed is nie. Al gaan dit oor óns brood, gaan dit nie oor mý brood nie. Die ons verbind ons met alle mense – naastes en verstes. Ons bid vir die weerlose mense en die honger mense en bring hulle voor God. Die gebed druk daarom eenheid en solidariteit uit. Ons is deel van die mensdom wat honger en dors is. Ons neem die honger en dors van ons medemens ernstig op en verlig hulle nood. Dis nie mý brood nie. Dis brood vir óns, vir álmal! Ek en my broers en my susters deel hierdie brood. Ons sorg vir mekaar omdat God vir ons sorg. Ons kan nooit rus voordat ons broers en susters ook brood het nie.
Dis wanneer ons hierdie ons verstaan dat ons meer soos die Here word. Jesus sê immers Hy laat sy son opkom oor goeies en slegtes. Hy gee reën oor regverdiges en onregverdiges. As ons die hart van God het, as ons volmaak wil wees soos Hy volmaak is, moet ons sy karakter vertoon (Matt 5:48). Dan maak ons nie onderskeid tussen mense wanneer ons brood en lewensmiddele deel nie. Ons Vader doen dit nie. Ons doen dit ook nie, want uiteindelik is dit nie ons brood nie, maar die brood wat ons Vader gee.
As deel van die Vader se familie gaan ons uit en ons laat reën sy seën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. Ons deel ons brood met goeies en slegtes, nié net met dié vir wie ons lief is nie.
Liewe Here, dankie dat U elke dag vir my sorg. Help my om vir ander te sorg, en nie net vir die mense van wie ek hou nie, maar ook vir die onregverdige mense en selfs vir my vyande. Soos U, wil ek goed wees vir almal. Amen.
Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyfolie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.” Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin. Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyfolie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê. – 1 Konings 17:14-16
Al is iets vir mense onmoontlik om te doen, kan die Here alles doen. Vir Hom is alles moontlik. Net soos die Here vir Elia en die weduwee gesorg het, so sorg Hy ook vir ons. Ons verstaan nie altyd hoe die Here dit gaan doen nie, maar ons kan weet: Wanneer die Here iets belowe, sal Hy dit laat gebeur.
Dankie, Jesus, dat U vir my sorg en vir my alles gee wat ek nodig het. Amen.
Saterdag 10 Oktober 2020
Géé ons …
U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot. Daar vaar die skepe, en daar is die Leviatan. U het hom gemaak om mee te speel. Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit (Psalm 104:24-30).
Ons almal moet uiteindelik erken dat die skepping om God draai. Sonder God is dit klaar met die skepping, en met ons. Miskien moet ons dan ook opnuut leer dat die aarde en alles daarop aan die Here alleen behoort. En God het ons nie sommer net gemaak en so laat staan nie. Ook nie die voëls, vissie, diere en plante nie. Nee, sê die psalmdigter, elke dag is soos ’n nuwe skeppingsdaad van God.
Cat Stevens sing die bekende lied van Eleanor Farjeon “Morning has broken, like the first morning …” Maar, alles is nie meer soos daardie eerste oggend nie. Ons het so baie skade aan die skepping aangerig en soveel probleme in hierdie wêreld veroorsaak dat dit nie meer soos die eerste oggend kan wees nie. Maar dit beteken nie dat die Here nie meer vir sy skepping omgee nie. Dit beteken nie ons mag nie vra: “Gee ons vandag …” nie.
Die psalmdigter sê die hele skepping is as’t ware met oop monde, soos kuikentjies op hulle ma, op God gerig (104:27-28). En as God sy hand van ons, sy skepping, sou terugtrek, is dit klaarpraat met ons almal. Maar deur God se voortgaande betrokkenheid by ons, deur sy volgehoue liefde vir wat Hy geskep het, bly die skepping aan die gang en bly ons in die lewe.
Daarom begin hierdie psalm met ’n loflied aan dié God wie se heerlikheid die aarde oordek (104:1) en daarom sluit dit af met ’n loflied (104:33-35). Omdat die Here oor sy skepping heers, sien die digter ’n dag in die toekoms waarop ongeregtigheid ook uit hierdie skepping sal verdwyn (104:35).
Ek self sien hierdie nuwe hemel en nuwe aarde kom (Op 21). Dit sal ’n nuwe aarde wees, vry van die leed wat ons die skepping aangedoen het. Vry van die besoedeling en die oorbenutting van natuurlike hulpbronne. Vry van dood en sonde. Daar sal ons nie meer huil nie; die voëls en diere sal nie meer smag na kos nie; ons almal sal saamsing in die koor van God se skepping – tot sy lof!
Maar laat ons nie wag tot daardie dag nie. Laat ons nou al begin sing!
Hemelse Vader, dankie dat U die aarde met soveel wonder geskep het vir ons om in te woon, te speel en U te leer ken. Dankie dat U ons nie net gemaak en laat staan het nie. U onderhou ons, versorg ons. Dankie vir u liefde en sorg. Help my om vir u skepping en my medemens te sorg. Amen.
Toe sien ek ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde. Want die eerste hemel en die eerste aarde was nie meer daar nie. Die see was ook nie meer daar nie. En God wat op die troon sit, het gesê: “Kyk! Ek verander alles! Ja, Ek maak alles nuut!” – Openbaring 21:1 en 5a
Die nuwe hemel en die nuwe aarde is soos ʼn geskenk wat Jesus besig is om vir ons, sy kinders wat vir Hom lief is, toe te draai. Hy sal dit vir ons gee wanneer Hy ons weer kom haal. In die nuwe hemel en op die nuwe aarde sal daar nie meer sonde wees nie. Mense sal nie mekaar meer hartseer maak nie. Niemand sal siek word nie. Alles sal splinternuut wees. Dit sal ʼn baie lekker plek wees, want Jesus sal by ons wees en ons sal die hele tyd vir Hom kan sê hoe lief ons vir Hom is.
Dankie, Jesus, dat U belowe het om alles nuut te maak. Ek sien daarna uit om eendag vir altyd by U te woon. Amen.
Heilige Een,
ongetem deur die name wat ek U gee,
in die stilte het U my vir U gemerk,
sodat ek kan weet wie ek is,
die waarheid sal hoor wat U in my geplaas het,
die liefde wat U vir my het, sal vertrou,
ʼn liefde wat U aan my gegee het
om uit te leef
tussen u aardse familie, my broers en susters.
Amen.
– ’n gebed van Ted Loder
Vrydag 9 Oktober 2020
God bly betrokke by sy skepping
U laat fonteine in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom. Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les. Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke. Uit die hemel laat U dit op die berge reën, die aarde word versadig deur die reën wat U gee. U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee (Psalm 104:10-15).
“Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt 6:11). Wat vra ons wanneer ons hierdie bede bid?
Ons vra dat God sal uitdeel. In die eerste deel van die Ons Vader-gebed bely kinders van God dat God se Naam, sy koninkryk en sy wil hulle hoogste prioriteit is. Hulle vertrou God om sy Naam heilig te hou, om sy koninkryk te laat kom en sy wil op aarde te vestig. Ons is egter ook betrokke by wat God doen. Ons heilig sy Naam, ons leef onder sy koningskap en heerskappy en ons doen sy wil op aarde.
Met hierdie bede verskuif ons aandag egter na ons afhanklikheid. Brood is ’n gawe, ’n geskenk. Wanneer ons in totale oorgawe aan God leef, wanneer sy wil ons wil is, weet ons dat elke stukkie brood op die tafel Syne is. Elke beker water is ’n geskenk van God. Ons weet dat ons nie noodwendig ryk gaan wees nie, want ons gee van ons brood weg sodat ander ook kan eet.
Psalm 104 benadruk dat die hele skepping van God afhanklik is. Die Here was en is aktief betrokke by sy skepping. Hy het nie net die aarde en die hemel gemaak nie (104:2, 5-9); Hy is steeds aktief betrokke by die skepping en onderhou dit. Deur beelde te gebruik wat ook in die godsdienstige geskrifte van die Ou Nabye Ooste voorgekom het (soos dat God op die wolke ry en in die wind en weerligstrale is 104:3-4), bevestig die digter sy ervaring van God se betrokkenheid by sy skepping. Die Here het nie die aarde gemaak en dit toe laat staan nie. Hy hou aan om vir sy skepping te sorg.
Doen gerus die moeite om die woord “U” in Psalm 104 te tel. Dit staan verstommend baie kere daar. Só stel die digter dit duidelik dat daar maar een oorsprong, een rede, vir die bestaan en voortbestaan van die aarde is.
Maar so dikwels dink ons die skepping draai om ons, behoort aan ons. Nee, sê die digter, die skepping draai om God. Hans-Joachim Kraus wys pragtig daarop hoe die digter van verskillende beelde gebruik maak om God se betrokkenheid by sy skepping uit te beeld: God is soos ’n pa wat die tentdoek van die hemel span (104:2). God is soos ’n veldgeneraal wat bevele aan die waters uitroep en hulle gehoorsaam Hom (104:7-9). God is soos ’n plaasbestuurder wat sorg dat die waters by die regte plekke uitkom sodat almal versorg kan word (104:10-12). God is so ’n versorgende vader wat sy gawes aan elke lewende wese regverdig uitdeel (104:13-22). Dit alles is ’n teken van God se wonderlike skeppingsmag en wysheid (104:24).
En hierdie God is jou hemelse Vader wat jou van jou daaglikse brood voorsien.
Dankie, hemelse Vader, dat U steeds by u skepping én by my betrokke bly. Dankie dat U vir my sorg. Gebruik my as u hande en u voete om vir ander te gaan sorg. U is ons oorsprong en die rede vir ons bestaan. Ek staan verwonderd voor U en u skeppingsmag. Amen.
Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyfolie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.” Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin. Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyf-olie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê. – 1 Konings 17:14-16
Al is iets vir mense onmoontlik om te doen, kan die Here alles doen. Vir Hom is alles moontlik. Net soos die Here vir Elia en die weduwee gesorg het, so sorg Hy ook vir ons. Ons verstaan nie altyd hoe die Here dit gaan doen nie, maar ons kan weet: Wanneer die Here iets belowe, sal Hy dit laat gebeur.
Dankie, Jesus, dat U vir my sorg en vir my alles gee wat ek nodig het. Amen.
Here, U is die ewige, drie-enige God.
U is die tafel, U is ons voedsel en U bedien aan ons die voedsel.
U, ewige Vader, is die tafel waar die Lam, u eniggebore Seun, vir ons aangebied word.
U, Jesus Christus, is vir ons die kosbare voedsel.
Wat U ons leer, voed ons met kennis van die Vader se wil.
U voedsel versterk ons terwyl ons as pelgrims en vreemdelinge
deur hierdie wêreld gaan.
U, Heilige Gees, bedien vir ons die voedsel.
U deel met ons die kennis van u liefde.
U verlig ons verstand.
U inspireer ons om God te dien.
U gee ons liefde vir ons medemens.
En wanneer U ons so oorvloedig voed,
dring U ons om die verlossing in Christus aan die hele wêreld te bedien.
Laat u Naam verheerlik word.
Amen.
– ’n gebed van Catherina van Siena
Donderdag 8 Oktober 2020
Die fokus van Jesus se bediening
Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Openbaring 21:1-4).
Die Matteusevangelie benadruk ’n paar maal waarop Jesus se bediening gefokus was. Matteus 4:23 sê Jesus se bediening het uit twee fasette bestaan: die verkondiging van die evangelie, en die doen van wonderwerke. Twee verse later begin die Bergpreek (Matt 5–7). Dis die verkondiging. Daarna volg die wonderwerke (Mat 8–9). Ná die Bergpreek en wonderwerke word die woorde van Matteus 4:23 byna woordeliks herhaal: “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak” (9:35).
Jesus se bediening het nie net bestaan uit die verkondiging van die evangelie nie. Hy het ook omgesien na die mense se behoeftes. Hy vir honger mense brood gegee. Hy het bose geeste uit mense gedryf. Hy het siekes genees.
En dan begin Jesus met ’n volgende reeks “preke”. Matteus 10 is sy sogenaamde “uitsendingsrede”. Die dissipels word opgeroep om dieselfde “program” te volg. Verkondig die evangelie, en bedien mense met die wonder van God se omvattende hulp in elke vorm van nood.
God se plan vir die wêreld is nie ’n geheimenis nie. God se hart brand met liefde vir die wêreld. God se uiteindelike doel is om hierdie wêreld en hierdie skepping heel te maak (Op 21:1, 4). Die vraag is: Waar pas ons by hierdie plan in? Wanneer ons vra hoe ons kan inskakel by God se wil vir die wêreld, word ons met ons unieke menswees deel van hierdie plan. Wanneer dit ons vraag is, hoef ons nie langer te wonder en te spekuleer oor God se plan vir ons lewe nie. Ons kan net aan die werk spring.
Ons kan begin om draers van sy liefde, sy genesing, sy sorg en sy deernis te wees. Die Here het ons soveel genadegawes gegee, en élke mens in élke beroep kan die gordyn op God se koninkryk ooptrek sodat meer van sy koninkryk sigbaar sal raak. Selfs net ’n vriendelike woord kan iemand vandag genees. Ons kan vir honger mense kos gee, die evangelie deel met dié wat moedeloos is, gratis behandeling bied vir ’n pasiënt in ’n finansiële krisis, ’n arm kind se skoolklere en skoolfonds betaal, ’n pensioenaris uitneem vir ’n lekker ete, ophou om die wêreld te besoedel, vir die natuur en diere sorg … Jy kan self die lys voltooi.
God se plan is vol avontuur en geleenthede. Word deel daarvan! Gebruik jou kwalifikasies en jou vaardighede en jou talente om die wêreld ’n beter plek te maak. Laat jou gebed eenvoudig wees dat die Here jou vandag sal gebruik om sy koninkryk sigbaar te maak, waar jy ook al is.
Hemelse Vader, dankie vir u liefde, sorg en omgee waardeur U besig is om die wêreld nuut te maak. Ek wil graag in Jesus se spoor volg en u koninkryk verkondig met woord en daad. Wys my dan ook hoe ek die mense wat U elke dag oor my pad stuur met u liefde kan dien en versorg. Amen.
Maar die Here het vir haar gesê: “Marta, Marta, jy is bekommerd oor so baie dinge en jy maak jou moeg daaroor. Maar daar is een ding wat belangriker is as alles, en Maria het hierdie een ding gekies, en niemand sal dit wegneem van haar nie.” – Lukas 10:41-42
Toe Jesus hier op aarde was, het Hy dikwels vir die mense vertel wat reg en wat verkeerd is. Hy het die mense geleer hoe kinders van die Here leef. Party mense het graag na Jesus geluister; ander was te besig om by Hom te gaan sit en te luister wat Hy hulle wou leer. Partykeer is dit belangrik om iets te gaan doen, maar ander kere moet ons rustig raak en net luister. As ons te besig is, kan ons nie mooi hoor wat die Here deur ander mense vir ons wil sê nie. Dit is belangrik dat ons goed sal luister om Jesus beter te leer ken.
Dankie, Jesus, dat ek ore het om te kan luister en dat ek meer van U kan leer wanneer ek goed luister. Amen.
In die helder sonskyn, warm lug en soel aande,
in seisoene van kleur en moed,
is U, Here, in ons midde.
In die heuwels afgeëts teen die oggendlig
en in die getemperde klanke van vroegoggendstappers,
is U, Here, in ons midde.
In die gesigte van families en alleenlopers,
in die gesigte van haastiges en dagdromers,
is U, Here, in ons midde.
In die lewe wat ’n ander lewe raak,
in die oomblikke van welwillendheid, gedeelde vreugde en omgee vir ander,
is U, Here, in ons midde.
Amen.
– uit Psalm 123.
Woensdag 7 Oktober 2020
Bou die koninkryk
Wat help dit … as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (Jakobus 2:14-17).
In sy boek Praying the Lord’s prayer skryf Herman Waetjen dat Matteus die enigste Evangelieskrywer is wat die bede “laat u wil geskied” by die Ons Vader insluit. Waarskynlik hou dit verband met Jesus se gebed later in dié Evangelie toe Hy in Getsemane gebid het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt 26:39). Dit is juis omdat Jesus God se wil gedoen het dat die koninkryk van God gevestig is. Deur Jesus se dood en opstanding staan God se koninkryk vas!
Die bede dat God se koninkryk moet kom, is op die lippe van elkeen wat God hulle Vader noem. Dit beteken ons wat God ons Vader noem, staan saam om só te leef dat God se heerskappy en sy wil duidelik sal word. Ons lewe, ons gesindhede, ons aksies en ons denke trek die gordyn op God se koninkryk oop sodat dit vir almal sigbaar sal raak. Ons kan immers nie bid dat God se koninkryk sal kom en dat sy wil sal geskied sonder om aktief daarby betrokke te raak nie.
Daarom is die Ons Vader-gebed ook ’n gebed wat ons integriteit uitdaag. Hoe leef ons? Wys ons vir ander mense hoe God se koninkryk lyk? Wanneer mense na ons kyk, sien hulle God regeer oor ons lewe? Waetjen skryf dat ons bid dat God se wil geskied “sodat ons verantwoordelik hande en voete aan God se heerskappy kan gee”.
Dis geweldige woorde. Dit is egter ook iets wat ons gereeld in die Evangelies lees. Jesus selfs sê aan sy dissipels: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan” (Joh 14:12).
Mag die Heilige Gees ons bemagtig om Jesus se bediening op aarde voort te sit deur die goeie nuus van God se heerskappy te verkondig.
Ons Vader, gebruik my in diens van u koninkryk. Ek wil met integriteit leef sodat my woorde en dade die gordyn op u koninkryk sal ooptrek en ander U kan sien en U kan loof. Amen
Ons is lief vir God as ons doen wat Hy vir ons sê. En dit is maklik om te doen wat God vir ons sê, want elke kind van God oorwin die wêreld. Ons oorwin die wêreld wanneer ons in Jesus glo. Ja, as ons glo dat Jesus die Seun van God is, dan oorwin ons die wêreld. – 1 Johannes 5:3-5
Jesus help ons om te leef soos Hy van ons vra. Hy vra dat ons vir Hom sal lief wees. Hy vra ook van ons om vir ander mense lief te wees. Wanneer ons leef soos Jesus van ons vra, sien ander mense ons is kinders van God.
Dankie, Jesus, dat U so lief is vir my dat U my u kind noem. Ek is ook lief vir U. Help my om vir alle ander mense lief te wees. Amen.
Hemelse Vader,
U saai opnuut u lewende Woord onder ons
in hierdie sondige en gebroke oord.
Ons meng so dikwels in met u werk,
want ons is bang dat méér nodig is
as om u Woord bloot te ontvang.
En dan is daar nog ons vrees dat die Bose sal steel
van die saad wat U uit liefde met ons kom deel.
En tóg weet ons, Here,
dat u Woord kragtig kom werk en al verdien ons dit nie,
laat dit u lewe in ons versterk.
Wanneer ons in eenvoud u Woord kom ontvang,
is dit U wat die vrugte aan hierdie bome laat hang.
Waarlik, u Woord is kragtig, en selfs onder gevaar
kan U die lewe van Christus in ons kom baar.
Amen.
Dinsdag 6 Oktober 2020
Gehoorsaam ten spyte van die gevolge
Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” … Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. Toe het Isebel ’n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug (1 Konings 18:36-39; 19:1-2).
Die verhaal van Elia en die profete van Baäl is een wat jou hart wil laat stilstaan. Eerstens lyk dit of Elia iets onsinnig doen – om ’n “kompetisie” tussen Baäl en God te reël. Dit was egter geen risiko nie. Wanneer ons iets ter wille van die eer van die Naam van die Here aanpak, is die Here self aan die werk. Daarom kan ons vreesloos in sy diens staan.
Tweedens sien ons dat gehoorsaamheid aan die Here soms buitengewone gevolge het. Elia se ywer vir die Here bring nie net oorwinning oor die profete van Baäl nie, maar lei ook ’n hele volk, wat tot nou toe aan Baäl getrou wat, om te erken dat die Here die enigste God is (18:39).
Maar wat gebeur dan? Elia moet vir sy lewe vlug.
Alle verhale van gehoorsaamheid aan die Here het nie altyd ’n positiewe uitkoms op kort termyn nie. Jesus was volgens mense se mening nie “suksesvol” nie. Mense het Hom doodgemaak. Hulle het nie geskreeu dat die Here God is nie, maar: “Kruisig hom!” Tog is die uiteindelike uitkoms van Jesus se gehoorsaamheid ons wonderbaarlike verlossing.
In sy boek The Tyranny of the Urgent skryf Charles E Hummel dat Jesus nie alle dringende sake in Palestina opgelos het nie. Hy het ook nie alles gedoen wat Hy graag sou wou gedoen het nie. Wat Hy wel gedoen het, was om die werk wat God aan Hom gegee het klaar te maak.
Dit is die geheim wat ons moet ontdek. Hy skryf: “Niks vervang die wete dat ons op hierdie dag, op hierdie uur, op hierdie plek die wil van die Vader gedoen het nie. Slegs dan kan ons met kalmte aan die ander onvoltooide take dink en dit aan God oorlaat.”
Wat beteken dit alles? Daar is sekere dinge wat óns wil is. Ons wil graag dit bereik, daardie probleem oplos of hieraan ons aandag gee. Intussen raak ons besig met dinge wat God self nie op ons tafel geplaas het nie. Ons moet daarom gedurig vra wat God se agenda vir vandag vir ons is. Wat wil God deur ons doen?
Dit is wat die psalmdigter in Psalm 25:4-5 gevra het. Leer my u wil, Here! Dit is wat Jesus gedoen het – God se wil. Al het dit op sy lyding en dood uitgeloop, het Jesus gehoorsaam gebly.
Vir Francois de Sales is die suiwerheid van geloof wanneer ons op net een begeerte gefokus is: om die wil van God te ken en te doen. As dít ons lewensfokus is, verwelkom ons enigiets wat hierdie doel kan dien: voorspoed of teëspoed. Hy skryf in die 16e eeu: “As ek net skoon water wil hê, maak dit tog nie saak of dit in ’n kruik van goud of ’n glas na my toe gebring word nie. Wat maak dit saak of die wil van God in swaarkry of in my vertroosting aan my gebring word? Al wat ek begeer en soek, is die wil van God.”
Here, help my om gehoorsaam te wees aan U, ongeag of die onmiddellike gevolge gemaklik of ongemaklik is. Niks vervang die wete dat ek vandag, op hierdie plek en op hierdie oomblik, besig is om u wil te doen nie. U bring vir my vreugde en vervulling. Amen.
Toe hoor ek die Here praat. Hy het gevra: “Vir wie sal Ek stuur? Wie sal vir Ons ʼn boodskap bring na die mense van Juda toe?” Ek het gesê: “Hier is ek, stuur my.” – Jesaja 6:8
Het jy ore om te luister wat Jesus in die Bybel vir jou sê? Het jy ʼn mond om Jesus se boodskap oor te vertel? Het jy voete om te loop na mense wat van Jesus moet hoor? En is jou hart gewillig om te doen wat Jesus van jou vra?
Steek dan jou hand op en sê: “Hier is ek! Stuur my! Ek sal gaan.”
Dankie, Jesus, dat U vir my lief is. Ek wil graag doen wat U van my vra. Amen.
Maandag 5 Oktober 2020
Lewenslange gehoorsaamheid
En nou doen ek ’n beroep op julle … op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:1-2).
John Newton, die skrywer van die lied “Amazing grace”, het lank sy eie pad gestap. Sy eie wil was die kompas vir sy lewe. Hy was betrokke by slawehandel en later die kaptein van ’n skip wat slawe vervoer het. Vroeër in sy lewe was hy self ’n slaaf in Wes-Afrika en is erg mishandel deur ’n slawehandelaar se vrou, prinses Peye van die Sherbo-stam. In 1748 is hy bevry.
As kaptein van ’n slaweskip was hulle eenkeer op terug na Engeland toe die skip naby Donegal in Ierland in ’n geweldige storm beland. Daar was ’n gat in die skip en water het die skip begin binnestroom. Die skip sou duidelik sink. Newton het na God geroep en die gat in die boot is toegedruk deur vrag wat onverklaarbaar geskuif het. Só het hulle veiligheid bereik.
Dit was die begin van Newton se pad na bekering. Hy het sy lewe lank 10 Maart 1748 as sy bekeringsdag gevier. Dit was egter nie die einde van sy pad nie, maar die begin van ’n lang proses van verandering in sy lewe.
Soos baie van ons bly in die werk wat ons doen wanneer ons tot bekering kom, het Newton nie opgehou om slawe te vervoer nie, maar sy gesindheid teenoor die slawe het verander. Verskeie gebeure in sy lewe het sy geloof verdiep, soos toe hy in Wes-Afrika baie siek was, maar uiteindelik gesond geword het.
Dit was eers 34 jaar ná sy bekering, nadat hy ’n geruime tyd predikant in die Anglikaanse Kerk was, dat Newton openlik begin praat het oor sy betrokkenheid by die slawehandel. In ’n boek Thoughts Upon the Slave Trade wat aan elke parlementslid gestuur is, het hy geskryf oor sy hartseer omdat sy belydenis te laat is. Hy was ’n instrument van iets wat sy hart nou bedroef.
Terwyl die oortuiging dat slawerny verkeerd is in hom gegroei het, het Newton ander mense na die Here gelei. Sy lewe is ’n getuienis van iemand wat op die Here vertrou het, maar jare lank bly worstel het om rigting en totale oorgawe aan God te vind. Later in sy lewe skryf hy: “Wat U wil, wanneer U dit wil, en hoe U dit wil. Ek wil liewer hierdie drie sinne uit my hart in my moedertaal sê as wat ek al die ander tale in Europa bemeester.”
Dit behoort ook ons diepste begeerte te wees wanneer ons in ons gebrokenheid bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied.”
Teach me, O God, so to use all the circumstances of my life to-day
that they may bring forth in me the fruits of holiness rather than the fruits of sin.
Let me use disappointment as material for patience.
Let me use success as material for thankfulness.
Let me use suspense as material for perseverance.
Let me use danger as material for courage.
Let me use reproach as material for longsuffering.
Let me use praise as material for humility.
Let me use pleasures as material for temperance.
Let me use pains as material for endurance.
– ’n gebed van John Baillie
“Ek is die enigste God. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak en voor hom buig en hom dien nie, nie ʼn beeld wat lyk soos iets bo in die hemel of soos iets onder op die aarde of soos iets in die water onder die aarde nie. Ek is jou God die Here, jy moet net vir My dien.” – Eksodus 20:3-5
Die tien goue reëls wat die Here vir ons gegee het, help ons om reg te leef. Dit beskerm ons teen slegte dinge. Dit help ons ook om die lewe te geniet soos God wil hê ons moet dit geniet.
Dankie, Jesus, dat U so lief is vir my dat U reëls gegee het om my te beskerm. Ek is lief vir U. Amen.
U Woord, Here, is volmaak:
dit gee lewe.
U onderwysing, Here, is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
U bevele, Here, dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
U gebod, Here, is helder:
dit gee insig.
U eise vir u diens, Here, is goed:
dit staan altyd vas.
U bepalings, Here, is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
Ek laat my daardeur leer.
Mag wat ek sê en dink tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.
Amen.
– uit Psalm 19:8-12
Sondag 4 Oktober 2020
Aanneemlike offers
Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe” (Psalm 40:7-9).
Met alles wat ons doen, bereik ons een van twee dinge: óf ons skep ’n hel op aarde óf ons bring ’n voorsmaak van die hemel na vore. Óf ons dra by tot die gebroke toestand van die wêreld óf ons werk saam met God om die wêreld radikaal te verander sodat sy geregtigheid sigbaar sal wees. Óf ons bevorder Satan se beheer óf ons maak die koningskap van God bekend (Charles Colson).
Die skrywer EB White merk op dat as die wêreld bloot verleidelik was, dit maklik sou gewees het om tussen goed en kwaad te onderskei. As dit bloot uitdagend was, sou dit geen probleem gewees het nie: “Ek staan egter elke oggend op, verskeur tussen die begeerte om die wêreld beter te maak en die begeerte om die wêreld te geniet. Dit bemoeilik my taak om ’n dag te beplan.”
So dikwels hoor of sê ons: “Nie nou nie. Later. Dan sal ek rustiger wees en meer tyd hê. Die kinders sal groter wees en ek sal meer geld hê.” Ons almal ken hierdie woorde. Ons gebruik dit wanneer ons uitstel om God se wil te doen. Ongelukkig sal daar nooit ’n geleë tyd vir mense wees om God se wil te doen nie. Daar is altyd iets wat vir ons belangriker is, wat meer aandag verg, wat ’n groter prioriteit is. Dan is daar ook ons menslike natuur. Dit kos te veel om God se wil te doen. Dis baie makliker om ons gewete te sus met ’n goeie maandelikse bydrae aan die kerk of ’n verdienstelike organisasie. Ek sal enigiets doen, maar moet my net nie vra om meer tyd of meer geld of meer van myself te gee nie.
Wanneer ons naby aan God se Woord leef, sal ons sy hart leer ken. Ons sal sy wil, sy koninkryk en die eer van sy Naam ons hoogste prioriteit maak. Ongelukkig moet ons erken dat ons nie altyd naby aan God se hart leef nie. In sy boek With open hands skryf Henri Nouwen omdat ons so graag in beheer van ons eie lewe en eie toekoms wil wees, sluit ons ons af van wat werklik kan gebeur. Ons word soos dwergies in ’n wêreld van klein dingetjies. En soms gebruik ons gebed net om vir God te vra wat ons wil hê.
Nee, sê Nouwen, gebed beteken dat ons geen waarborge vra nie, geen voorwaardes stel nie en geen bewyse vereis nie. Al wat ons doen, is om alles van God te verwag sonder om God in enige opsig te bind. Bowenal moet ons God dan onvoorwaardelik vertrou met die toekoms.
Wat is jou planne? Wat is jou toekomsdrome? Het jy die vrymoedigheid om vandag die seën van God daarvoor te vra? Meer nog, om God te vra wat jy moet doen wat Hy wil seën? Vra God om jou deur sy Gees te lei sodat alles wat jy doen vir Hom ’n aanneemlike offer sal wees.
Hemelse Vader, my begeerte is om volgens u wil, u Woord, te leef. Ek is jammer dat ek soms te gefokus raak op ander dinge en dit bo-aan my prioriteitslys skryf, bokant u wil en u koninkryk. Help my om met oop hande te leef en U met die toekoms te vertrou. Amen.
Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.” – Markus 1:15
Jy is Jesus se kind. In sy oë is jy ʼn wenner. Oefen elke dag om te leef soos Jesus van jou vra. Dan sal jy al hoe meer soos Jesus word.
Dankie, Jesus, dat ek saam met U ʼn wenner is. Ek is lief vir U. Leer my om elke dag al hoe meer soos U te word. Amen.
Ek gee myself as offer aan U, Here.
Dit is die wesenlike van die godsdiens wat ek beoefen:
dat ek my aan U oorgee.
Ek behoort nie aan myself nie,
maar aan U, die ewige God,
Vader, Seun en Gees.
Laat my nie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar verander my deur my denke te vernuwe.
Verander my, Here,
want ek behoort aan U.
Wanneer U my verander, sal ek kan onderskei
wat u wil is en wat vir U goed en aanneemlik en volmaak is.
Vernuwe my denke, Here,
want ek behoort aan U.
Amen.
– uit Romeine 12
Saterdag 3 Oktober 2020
Regeer ons deur u Woord en Gees
Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad (Psalm 119:103-105).
Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting (Psalm 25:4-5).
God se wil, sy pad, sy waarheid, is nie iets wat ons van nature doen nie. Tog is dit redelik eenvoudig om God se wil te ken. Daar is drie maniere hoe ons God se wil kan ken:
1. Vra na God se wil. Dit beteken ons sal bid soos die digter van Psalm 25.
2. Hoor God se wil deur na sy Woord en Gees te luister. Die psalmdigter sê: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps 119:105). Ons ontneem ons van die genade om God se wil te kan ken as ons nie sy Woord lees en bestudeer nie.
3. Die derde manier lê op ’n ander vlak. Nadat Paulus oor die wonder van God se genade vir Jode en nie-Jode gepraat het, sê hy vir die mense in Rome dat ons God se wil eers kan ken as ons onsself in sy liefde verloor. Ons word uitgenooi om ons aan God te offer omdat God vol liefde en omgee is (Rom 12:1). Wanneer ons dit doen, sal ons só deur sy liefde verander word dat ons sy volmaakte wil vir ons lewe sal ken.
Al drie hierdie aspekte druk eintlik een gedagte uit: Ons kan God se wil net ken wanneer ons in ’n hegte verhouding met Hom leef. Om na God se wil te vra is nie ’n noodoproep in noodgevalle nie, maar ’n lewe van voortdurende oorgawe en gehoorsaamheid aan God se wil. Dit is ’n lewenslange proses. Robert Pierce, die stigter van World Vision, het iets hiervan verwoord: “Ek vra God nie om te seën wat ek doen nie. Ek vra dat Hy my sal help om te doen wat Hy seën.”
Die psalmdigter herinner ons daaraan dat die Here nie in uiterlike tekens van toewyding belangstel nie. Sy woord in ons harte, in ons lewe van elke dag, sy wil as ons hoogste prioriteit – dít is waaroor ’n lewe van toewyding gaan. Daarom roep Jesus ons om ons kruis op te tel en met die kruis van die evangelie op ons rug agter ons Koning aan te stap.
Dankie, Here, dat ek u wil kan ken. U Woord is die lig op my pad. Lei my deur u Woord en Gees sodat ek my lewe in volle toewyding deur u liefde kan leef. Amen.
Jesus het toe al die mense wat daar was, saam met die dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg.” – Markus 8:34
Jesus nooi jou om Hom te volg. Hy sal jou wys hoe Hy wil hê jy moet leef sodat jy al hoe meer soos Hy kan word. Dan sal ander mense vir Jesus in jou sien. Hulle sal Hom dan ook begin volg.
Dankie, Jesus, dat U vir my lief is. Help my om so te leef dat ander vir U in my sal sien. Amen.
“Ek loof U, Vader,
Here van hemel en aarde,
dat U u evangelie, u wil.
vir slim en geleerde mense verberg het,
maar dit aan kindertjies bekendgemaak het.
Ja, Vader, want so het U dit goedgevind.
U het alles ook aan my toevertrou.
Maak my waardig.
Lei my nou, Here,
en laat u Seun, u Gees, u Woord,
my lei om U te ken.
Amen.
Vrydag 2 Oktober 2020
Wat is God se wil vir my lewe?
Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar (Psalm 25:4-10).
Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied …
Dis nie ligtelike versoeke hierdie nie. Dit kom nie sommer in ons gedagtes op nie. Dit gaan teen ons natuurlike neiging in. Normaalweg kies ons ons eie wil. Selfs in ons verhouding met God hou ons daarvan as God se wil met ons wil ooreenstem. Eintlik is dit die beste as ons koninkryk en ons wil geskied – met die Here se goedkeuring.
Dis hoekom ons hierdie gebed so moeilik bid. Ons rammel dit te maklik af. Ons doen dit sonder om dit regtig te bedoel. Die woorde van Samuel Rutherford uit die 17e eeu is daarom vandag nog so belangrik: “God bestuur nie volgens die kompas van jou hart nie.” God se rigting is nie noodwendig die rigting wat jy kies nie. Dis hoekom so baie van ons verdwaal en wegraak. Ons verwar ons wil met God se wil. Ons dink God se koninkryk staan in diens van ons koninkryk.
Wat is God se wil vir my lewe? Ek dink ons mis die punt met hierdie vraag. Ons soek na en hoop op antwoorde op die verkeerde vrae. Wanneer ons die verkeerde vraag vra, sal ons nooit die regte antwoord kry nie. Terwyl ons na God se wil vir ons lewe vra, sal ons ook nooit die regte antwoord kry nie as ons nie reg vra nie. Hoe dikwels wanneer ons God se wil vir ons lewe vra, vra ons eintlik dat God se wil by ons planne sal inpas.
Dié vraag moet daarom anders gestel word. As ons die regte vraag vra, sal ons die regte antwoord kry. Die vraag behoort eerder te wees: “Hoe pas ek in by God se plan vir die wêreld?” Of: “Wat kan ek doen om God se plan vir die wêreld te help uitwerk?” Die vraag: “Wat is God se wil vir my lewe?” plaas my in die middelpunt, maar die vraag: “Hoe kan ek by God se plan vir die wêreld inpas?” plaas God in die middel.
God is nie geroep om in ons diens te staan nie. Ons is geroep om in God se diens te staan. God hoef nie by ons planne in te pas nie. Ons is geroep om by sy planne vir die wêreld in te pas. Die oomblik wanneer ons dit begin doen, help ons om iets van hemel op aarde ’n werklikheid te maak. Dan werk ons saam met God om die wêreld te verander.
Maak my u wil bekend, Here! Leer my u paaie. Wys my waar ek by u plan vir die wêreld inpas. Ek wil graag u skeppingsdoel met my vervul. In U vind ek my grootste vreugde. Amen.
Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie … Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar (Psalm 25:4, 8-10).
Deel van God se wil is dat God van ons vra om gasvry te wees. Dit beteken ons moet mekaar welkom laat voel. Wanneer jy welkom voel, voel jy mense is lief vir jou en jy voel tuis.
– Vertel van ’n keer toe jy baie welkom en tuis gevoel het.
– Wanneer is dit vir jou moeilik om gasvry teenoor iemand te wees?
Aktiwiteit
Hoe kan jy gasvry teenoor ander mense wees? Dink aan paar dinge wat jy kan doen. Hier is ’n paar voorbeelde:
– Bel iemand wat 70 jaar of ouer is en vra hoe dit met hulle gaan.
– Sit niebederfbare produkte op julle vullisdrom saam met ’n dankiesêbriefie.
Here, U ken my.
U sien dwarsdeur my.
Wanneer ek sit, opstaan, op reis gaan, oorbly – U weet dit.
U ken my gedagtes.
Nog voordat ek aan iets gedink het,
nog voordat ek plannetjies gemaak het,
weet U dit al.
Here, U omsluit my van alle kante.
Net om daaraan te dink is oorweldigend.
Ek sukkel om dit te verstaan – dit is net te hoog vir my begrip.
Waar ook al ek gaan – U is daar.
Ek kan nie van U af wegvlug nie!
Al sou ek in die diepste, donker hoekie wegkruip,
om te vlug van U af,
sal U my sien,
want dieptes en donkerte kan niks vir U wegsteek nie.
Here, U het my aanmekaargeweef.
Sorgvuldig. Versigtig.
Berekend en beraamd.
Elke haartjie, beentjie, kliertjie, kurwe.
Here, U ken my goed. Baie goed.
U het my al gesien, geken, toe ek nog ongebore was.
Here, U sien ook al my onrus raak.
U sien hoe maklik ek op die verkeerde paaie gaan.
Deurgrond my o Heer, deurgrond my.
Sien my raak en laat ek altyd doen wat vir U welvallig is.
Amen.
– uit Psalm 139
Donderdag 1 Oktober 2020
Onder nuwe bestuur
“Ons Vader wat in die hemel is … laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matteus 6:9-10).
PT Forsyth skryf dit is nutteloos om die koninkryk van God te verkondig as ons nie die beheer van die Koning oor ons lewe aanvaar nie. Die eerste plig van elke mens is nie om vryheid te ontdek nie, maar om die Koning te ontmoet. En die eerste plig van elke kerk is om dit te bemiddel.
Ons moet ook onthou die koninkryk van God is Gód se koninkryk. Ons dink so dikwels die Here se koninkryk is iets wat in ons hande is of wat van ons afhang.
Nick Earle skryf in sy boek What’s wrong with the church? dat die koninkryk van God nie iets is wat deur menslike pogings “bevorder” of “gebou” kan word nie. “Ons word uitgenooi om dit te herken as iets wat reeds teenwoordig is in die lewe en werk van Jesus. Dit is iets wat gelowiges sal beërf of binnegaan.”
Ons taak, skryf Earle, is daarom nie om die verhoog vir ’n beter wêreld as die huidige voor te berei nie. Ons taak is om die gordyn op die koninkryk oop te trek sodat iets wat reeds daar is duidelik gesien kan word.
Dit klink baie passief, nie waar nie? Dis egter glad nie ’n passiewe gesindheid nie. Hy benadruk dat die kerk as’t ware die wêreld se aandag moet trek. Ek wonder dikwels hoe die kerk van Jesus Christus regtig die aandag van die wêreld sal kan trek. Sal dit gebeur wanneer iemand uit die dood opstaan? Nee, allerhande wonderwerke of bonatuurlike tekens sal nie noodwendig enige effek hê nie. Hoe dan?
CS Lewis beskryf in sy boek The Screwtape Letters hoe ’n duiwel aan sy neef, Wormwood, in ’n reeks briewe verduidelik hoe hy mense met subtiele tegnieke kan verlei. Die duiwel skryf dat sy neef mense nie slegte mense moet maak nie – daarvoor sal hy self sorg. Hy moet mense net gewoond maak aan hulle gemak. As hulle aan enigiets belangrik dink, moet hy hulle aan hulle middageteplanne laat dink, nie aan die belangrike dinge nie. Dan skryf hy: “Jou werk, my liewe Wormwood, is om aan my mense te gee wat nie omgee nie.”
Ons trek die gordyn op God se koninkryk oop wanneer daar iets in en deur ons gebeur. Wanneer ons omgee. God roep ons op om om te gee, om so passievol oor die wêreld te wees dat ons ons gemak sal agterlaat om die gordyn oop te trek en sy koninkryk sigbaar te maak.
Here, ek stel my lewe onder nuwe bestuur – u bestuur! Vul my met u passie vir die wêreld sodat ek bereid sal wees om ongemaklik te wees ter wille van ander. Ek wil graag die gordyn ooptrek en vir dié wat dit nodig het met vreugde aankondig: God se koninkryk is naby! Amen.
“Ons Vader wat in die hemel is … laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matteus 6:9-10).
Dikwels dink ons ’n mens moet iemand belangrik soos ’n skoolhoof, ’n dominee, ’n sendeling of ’n ouderling wees om vir mense van Jesus te kan vertel. Maar dit is nie waar nie. Ons almal is gekies om vir ander mense van God te vertel, want God het ons almal as God se spesiale leiers gekies.
Jy kan vir ander mense van Jesus gaan vertel en vir hulle hierdie gebed leer wat Jesus ons geleer het, die Ons Vader-gebed.
– By wie het jy die eerste keer van Jesus gehoor?
– Ken jy die Ons Vader-gebed? Vir wie kan jy hierdie gebed leer?
Aktiwiteit
Maak vir jou ’n medalje waarop jy skryf: “Ek is spesiaal gekies.”
Kyk, die Koning kom.
Halleluja!
Laat ons neerbuig en Hom dien.
Halleluja!
Juig en wees bly, want Christus is ons Koning.
Aan Hom behoort die eer en die heerlikheid en die aanbidding.
Lofwaardig is U, Here, Koning van die konings,
want U het ons van sonde en die dood verlos.
Deur u bloed het U mense deel gemaak van u koninkryk.
Daarom het God Hom tot die hoogste eer verhef.
Hom die Naam gegee wat bo elke naam is
sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig
en elke tong sal erken:
Jesus Christus is die Here.
Kyk, die Koning kom.
Halleluja!
– Bertus van der Westhuizen, aangepas uit Woord en Fees 2017-2018
Woensdag 30 September 2020
Die wilde voëls en die veldlelies
“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?” (Matteus 6:26-30).
Jannie du Preez skryf dat die hele Ons Vader-gebed in werklikheid ’n koninkryksgebed is, nie net die een bede nie.
Waar God se Naam geheilig word, kom sy koninkryk. Waar God se wil geskied, kom sy koninkryk. Waar ons bid vir brood, kom sy koninkryk. Waar mense God vir brood dank, kom sy koninkryk. Waar God ons sonde vergewe, kom sy koninkryk. Waar mense mekaar vergewe, kom sy koninkryk. Waar die Bose weerstaan en mense van die Bose bevry word, kom sy koninkryk.
Ons bid dat God se koninkryk sal groei – dat die kerk sal groei. Maar ons bid nie net nie; ons doen ook. Deur elke dag God se wil te doen en deur betrokke te raak, maak ons God se koninkryk en sy geregtigheid en sy omgee al sigbaarder. Ja, dit is ’n pynlike betrokkenheid, want ons moet baie opofferings maak. Ons koninkryke moet tot niet gemaak word. God se wil en koninkryk moet dit vervang. Dit is egter ook ’n salige betrokkenheid, sê Hans Bouma, want ons neem deel aan ’n projek van globale belang.
Hierdie gebed vra dus totale oorgawe en radikale gehoorsaamheid aan God se plan. Wat sal met ons gebeur as ons so radikaal gehoorsaam is? Dié wat op God gefokus is, word getroos. Jesus neem ons na die voëls in die lug en die blomme van die veld. Die voëls saai, oes of maak nie in skure bymekaar nie (mans het dit tradisioneel gedoen). Die blomme swoeg nie en maak nie klere nie (tradisioneel was dit vroue se werk). Die voëls en die blomme vervul net hulle skeppingsdoel. En God sorg vir die voëls en die blomme. Hy gee om vir hulle.
Wat van ons wat hierdie gebed bid? Wat is ons doel? Ons skeppingsdoel is om ons oë gerig te hou op God, sy koninkryk, sy wil en sy geregtigheid. Wat sal met ons gebeur wanneer ons ons oorgee aan God se wil en koninkryk, aan ons skeppingsdoel? God sal voorsien (Matt 6:33). God sal individue en kerke met die regte fokus en toewyding seën, want hulle volg sy agenda. Daarom moet ons bid dat die fokus, waardes en ingesteldheid van God se koninkryk en wil deur Jesus Christus ook ons lewe sal vul.
Here, dankie dat U die goeie Vader is wat selfs vir voëls en die blomme sorg. Leer my om op U te vertrou, Here, en nie bekommerd te wees nie. Om op U en u koninkryk te fokus maak my juis sorgvry en help my om my skeppingsdoel te vervul. Amen.
“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? … Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie …?” (Matteus 6:26-30).
Het jy al ’n klippie in die water gegooi en gesien hoe die water uitkring rondom die plek waar die klippie die water tref? Dit word ’n rimpeleffek genoem. Baie dinge in die lewe werk met ’n rimpeleffek. Jy doen een ding, maar daardie een ding laat ’n hele paar ander dinge ook gebeur.
Ons is God se familie. Ons moet mekaar met ons woorde herinner en met ons dade wys dat God ons liefhet en vir ons sorg. Ons liefde en sorg vir mekaar sal ’n rimpeleffek hê. Al hoe meer mense sal hoor en sien dat God vir alle mense lief is en vir hulle wil sorg.
– Hoe kan jy vandag ’n rimpeleffek aan die gang sit met wat jy sê en doen?
– Wat sal jou help onthou dat God vir jou sorg, en van jou vra om vir ander mense te sorg?
Aktiwiteit
Gaan tel ’n paar groterige klippe iewers op en verf dit. Skryf die woorde: “God sorg vir my” en “Ek sorg vir ander mense” op die klippe en sit dit iewers neer waar jy dit elke dag sal kan sien. As jy nie klippe kan kry nie, knip harte uit papier en skryf die woorde op die papierharte neer.
Ek wil U met my hele hart loof.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord bo alles gestel.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
Die Here sal vir my alles goed laat afloop.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
– uit Psalm 138
Dinsdag 29 September 2020
Soos in die hemel
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. Die Heilige Gees sal by julle bly. As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer” (Johannes 14:12-15).
As die Ons Vader-gebed beteken ons eie koninkryke word vernietig, beteken dit ons bid terselfdertyd vir die vestiging van ’n ander koninkryk. Ons bid dat die koninkryk en die wil van God al meer op aarde gestalte sal vind.
Daar is ’n rusteloosheid in ons harte as God se koninkryk nie groei nie. Ons gebed is daarom dat God se koninkryk sal uitbrei. Ons bid dat sy kerk sal groei. Ons bid dat ons en ander deel van sy koninkryk en sy kerk sal word. Ons is ontevrede solank daar honger, dors, pyn, siekte, lyding en onbekeerde harte is. Ons rus nie voordat God se wil in die hemel ook op die aarde geskied nie. O, hoe wens ons dat alles anders sal wees!
William Booth, die stigter van die Heilsleër, het dit verstaan: “Terwyl vroue huil soos nou, sal ek die stryd voortsit. Terwyl kindertjies honger is, sal ek die stryd voortsit. Terwyl daar nog een dronkaard oorbly, nog een verlore arm dogtertjie op straat is, nog een persoon sonder die liefde van God is, sal ek die stryd voortsit. Ek sal aanhou stry tot die laaste oomblik!”
Dis hoekom ons bid dat die kerk sal groei en bewaar sal word, want dit is deur gewone Christene wat elke dag God se wil doen dat sy koninkryk en sy geregtigheid al sigbaarder sal word. Al vra dit dat ons wil ondergeskik aan sy wil sal wees, al beteken dit sy wil sal alles bepaal, sal ons bid dat ons lewe al meer deur God se wil en koninkryk beheers sal word.
Hans Bouma skryf: “As ons die Koning met integriteit en doeltreffend wil verteenwoordig, sal ons ons voor al ons doen en late konsekwent aan Hom oriënteer. Hy bepaal die koers. In sy Gees sal ons ons gang moet gaan.”
God loop voor in die uitbreiding van sy koninkryk en die vestiging van sy wil. Wat ’n lewensveranderende ervaring! En wat ’n voorreg dat Hy saam met ons wil werk om sy koninkryk te vestig en sy wil te laat geskied.
Here Jesus, dankie dat U saam met my wil werk om die koms van u koninkryk aan te kondig. Ek kan amper nie dink dat U my wil gebruik om nog groter dinge as U op aarde te doen nie. Ek verlang daarna dat die aarde soos die hemel sal wees. Kom genees ons wêreld se gebrokenheid. Deur u Gees is ek tot u diens. Amen.
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. Die Heilige Gees sal by julle bly. As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer” (Johannes 14:12-15).
Verbeel jou jy is op die atletiekbaan besig om resies te hardloop, maar daar is niemand om jou aan te moedig of te ondersteun nie. Dit sal mos nie lekker wees nie. Net soos dit jou help wanneer mense jou aanspoor terwyl jy ’n wedloop hardloop, net so het ons mekaar nodig om mekaar in die lewe van elke dag aan te spoor.
– Dink aan drie komplimente wat jy vir elkeen in jou huis kan gee. Gee hierdie komplimente in die volgende dae vir jou huismense.
– Wanneer voel dit vir jou of ander mense vir jou omgee of jou ondersteun?
Aktiwiteit
Gaan tel ’n hele paar stokkies buite op of kry ’n hand vol sosatiestokkies. Probeer nou een stokkie middeldeur breek. Maklik, nè? Neem nou ’n hele hand vol stokkies en probeer dit middeldeur breek. Nie so maklik nie, of hoe? Ons is net soos hierdie stokkies: Ons het mekaar nodig. Saam is ons sterker.
God, ons Ouer,
U het ons gemaak,
U het ons lief,
en U nooi ons uit om in gemeenskap met U te wees.
Jesus, die Woord wat mens geword het,
U het ons verlos,
U het ons heilig gemaak,
en U het ons in staat gestel om in gemeenskap met U en ander te wees.
Heilige Gees, lewegewende wind wat in ons bly,
U het die woorde van die Skrif geïnspireer,
U lei die woorde van die boodskap
en U transformeer ons.
Drie-enige God, dankie vir u Woord aan ons.
Mag dit ons geloof verdiep, ons vertroos en uitdaag
sodat ons kan groei in ons liefde vir U en mekaar.
In die Naam van Jesus bid ons deur die werking van die Heilige Gees.
Amen.
Maandag 28 September 2020
’n Vernietigende gebed
“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matteus 6:33-34).
Gister het ons Hans Bouma se treffende woorde gelees: “Met die woorde ‘laat u koninkryk kom’ bid ons vir ’n ramp.” Vir die vernietiging van ons eie koninkryke.
As Jesus se gebed dan vernietigend is, kan ons verstaan hoekom Gerrit Berkouwer skryf dat mense meestal nie bewus is van wat hulle werklik sê wanneer hulle bid dat die koninkryk van God sal kom nie. Hierdie gebed ontketen kragte ver bo wat ons begrip. Hierdie koninkryk, hierdie geregtigheid, hierdie wil van God, is deur Jesus Christus aarde toe gebring. In Hom sien ons die koningskap van God. Jesus sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt 4:17). Dan sien ons hoe Hy mense genees en die boodskap van God se evangelie van liefde verkondig (4:23-24). Iets van die nuwe hemel en die nuwe aarde breek deur wanneer Jesus tussen mense kom staan.
Hoekom moet ons menslike koninkryke tot niet gaan? Want al ons koninkryke begin in ons harte. Ons plaas onsself op die troon. En Jesus maak dit duidelik in die Bergpreek dat moord, egbreuk, onvrede, vergelding en haat ook in ons harte begin. Gedagtes soos “Ek sal jou terugkry,” “Ek is beter as jy” of “Ek hou my besittings vir myself” sê dat ons koning van ons eie lewe is. Laat óns wil geskied! Ongeregtigheid, die vernietiging van menselewens, aanvalle op immigrante, diskriminasie, besoedeling, vlugtelingkampe, diefstal, moord, gebroke kinders en huwelike, leuens, verdeeldheid, noem maar op, is die spoor van verwoesting wat deur ons eiewilligheid en eie koninkryke nagelaat word.
Frederick Brotherton Meyer skryf in sy boek The secret of guidance (1896) dat terwyl daar nog enige gedagte aan persoonlike voordeel, enige idee om die lof en goedkeuring van mense te ontvang of enige doel van selfverheerliking bestaan, dit eenvoudig onmoontlik is om God se doel vir ons te ontdek.
Ons weet hoeveel pyn ons eie koninkryke en ons eie wil veroorsaak. Ons sien dit rondom ons en in ons omstandighede. Jesus se bediening is die radikale teenoorgestelde. Dit bring heling, versoening, vrede, barmhartigheid en onvoorwaardelike liefde. Só breek die koninkryk van God op aarde deur. Só sal die nuwe hemel en die nuwe aarde lyk. En wanneer ons bid dat God se koninkryk sal kom, bid ons dat ons soos Jesus sal leef en hierdie koninkryk sigbaar sal maak.
Hemelse Vader, ek is jammer dat ek so dikwels self op die troon van my lewe wil sit. Ek weet wanneer ek self oor my lewe regeer, kry ek en ander seer. Wees U koning oor my lewe. Ek wil my heel eerste vir u koninkryk en u wil beywer, want net U weet wat ek en die wêreld nodig het. Amen.
“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matteus 6:33-34).
In die koninkryk van God gaan dit heel eerste oor liefde. Liefde vir God en liefde vir ander mense.
Op baie plekke in die Bybel lees ons verhale waarin Jesus ons leer hoe om sy liefde vir ander mense te wys. In party van hierdie verhale doen Jesus vreemde dinge, soos die dag toe Jesus sy dissipels se voete gewas het.
Om te verstaan wat dit beteken het dat Jesus hulle voete gewas het, moet ons onthou dat mense se voete in daardie tyd baie vuil was omdat hulle met sandale op stofpaaie geloop het. Om ander se voete te was, was daarom nie ’n lekker werk nie. Jesus het vir sy dissipels gewys dat Hy hulle so liefhet dat Hy selfs ’n slegte taak vir hulle sal doen, soos om hulle voete te was.
– Hoekom dink jy wou Jesus vir sy dissipels wys dat liefde beteken om ook bereid te wees om slegte dinge vir ander mense te doen?
– Wanneer voel dit vir jou dat ander mense vir jou lief is?
Aktiwiteit
Bederf vanaand iemand in jou huis deur sy of haar voete met room in te smeer.
Here, ons staan voor U as ontevredenes.
Ons is arm wanneer ons vergeet dat ons niks in die wêreld ingebring het nie.
Ons vergeet ons kan ook niks daaruit wegneem nie.
Ons is ontevrede met ons kos en ons klere.
Ons loop ons vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes.
Geldgierigheid is ook die wortel van die kwaad waaraan óns deel het.
Ons vergeet wie ons is as mense van minsaamheid;
mense van opregtheid, geloof, liefde, volharding.
Jesus, maak ons opnuut bewus.
Amen.
– 1 Timoteus 6:6-19
Sondag 27 September 2020
God se koninkryk en wil
“Ons Vader wat in die hemel is … laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matteus 6:9-10).
Hans Bouma begin sy nadenke oor die bede “laat u koninkryk kom” met hierdie treffende woorde: “Met die woorde ‘laat u koninkryk kom’ bid ons vir ’n ramp.”
Wat is hierdie ramp? Die vernietiging van ons eie koninkryke: “Ons koninkryke moet van die tafel afgevee word. God móét ons ’n nederlaag toedien. Onophoudelik moet ons die onderspit delf.” Só skryf Hans Bouma.
Net soos die eerste bede van die Ons Vader-gebed in ’n passiewe bevelsvorm geskryf is, is hierdie bede en die een wat volg (“laat u wil geskied”) ook ’n passiewe bevelsvorm. Ons vra dat God ons koninkryke sal vernietig. Ons vra dat God ons wil met sy wil sal vervang. Wanneer ons in God se koninkryk kom, is daar geen plek vir ons wil nie – slegs vir sy wil!
Hoe gebeur dit alles? Die Bergpreek, waarvan die Ons Vader deel is, gee die sleutel. Die Bergpreek skets ’n prentjie van ’n geloofsgemeenskap wat deur ’n spesifieke fokus en spesifieke waardes beheer word. Ons kan dit ook anders stel. Dit beskryf hoe mense wat in God se koninkryk leef en deur sy wil beheers word sy Naam heilig.
Die burgers van hierdie koninkryk se fokus is eenvoudig: God staan in die middelpunt van ons bestaan. Ons honger en dors na dié dinge wat vir God belangrik is. Ons sê nie net “Here, Here” nie; ons doen die wil van God (Matt 7:21-23). Ons lojaliteit aan Jesus is vir ons die heel belangrikste, selfs al bring dit vir ons vervolging (5:11). Ons waardes is die teenoorgestelde van die waardes wat ons in die wêreld aantref. Ons is lief vir ons vyande en neem nie wraak nie. Ons is getrou aan ons lewensmaats en ons kom ons beloftes na.
’n Baie ou belydenisskrif vra wat ons met hierdie bede in die Ons Vader van God vra. Deel van die antwoord lui: “Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word.”
Hierdie gebed is gevaarlik as jy self in beheer van jou lewe wil wees. Dit sal jou koninkryke sloop en jou planne vernietig.
Hemelse Vader, laat u koninkryk kom en laat u wil geskied in my lewe, al beteken dit my eie koninkryk word vernietig. My hele lewe is U s’n. Trek my elke dag nader aan U en tot in u wil. Amen.
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matteus 6:9-10).
Sê nou maar vandag is jou laaste 24 uur op aarde, wat sal jy alles doen? As kinders van die Here hoef ons nie bekommerd te wees dat vandag dalk ons laaste dag kan wees nie. Tog moet ons elke dag voluit leef om die Here se Naam te verheerlik, om sy koninkryk te laat kom en sy wil te laat geskied. Ons moenie uitstel of wag tot môre nie.
– Hoe kan jy vandag God se Naam verheerlik?
– Hoe kan jy vandag wys dat jy deel van God se koninkryk is?
– Hoe kan jy vandag doen wat Jesus van jou vra?
Aktiwiteit
– Is daar dalk iets wat jy nou al lank uitstel of afstel? Dalk kan jy dit vandag doen.
– Daar is 24 uur in elke dag. Dink aan 24 woorde waarmee jy vir Jesus kan beskryf. Hier is solank twee voorbeelde: Redder en Koning.
Daar was ’n tyd, o God,
toe ek na aan U was;
toe my geloof sin gemaak het;
toe ek gereeld in die kerk gekom het;
toe ek hartlik met ander gelowiges saam kon wees.
Toe was sekerheid oor U nie eens ’n vraag nie.
Maar nou het ek in diep twyfel geval.
Waar ek eers gedink het ek kan dalk sonder U
en “georganiseerde godsdiens” klaarkom
– sterk en op my eie aangewese –
besef ek nou ek kan nie.
Maar ek kan ook nie sommer na U toe terugkeer nie,
want diep binne-in my weet ek nie meer soos vroeër nie.
Nou is ek vasgevang tussen weet en nie-weet-nie;
tussen glo en nie-glo-nie;
tussen sekerheid en twyfel.
Dit maak my gek!
Ek draai dus na U toe sonder vaste grond:
U is my rots.
Ek draai na U toe sonder geloof:
U is my vertroue.
Ek draai na U toe sonder selfgenoegsaamheid:
U is my Helper.
En ek vermoed dat U mense soos ek steeds liefhet.
U los ons nie uit nie.
U kyk met deernis hoe ons stry met die lewe en met U.
Ek weet as ek twyfel en nie weet nie:
U is my God.
Amen.
– Piet Naudé
Saterdag 26 September 2020
Mense in konfliksituasies
Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra. Julle geloof is ’n offer in diens van God (Filippense 2:15-17).
Omdat ons heilige mense is en die heiligheid van God se Naam so belangrik is, behoort ons ’n lig in die wêreld aan te steek sodat die Naam van Christus verheerlik en geheilig sal word. Dit is natuurlik nie altyd so maklik nie, want die wêreld hou nie van die lig nie (Joh 1:9-11). Hans Bouma skryf dat elkeen wat ernstig werk maak daarvan om God se Naam in hierdie wêreld te heilig voortdurend in konflik sal leef. Dit sal ons iets kos. Dit het Jesus sy lewe gekos. Maar in hierdie stryd om God se heilige Naam is God is aan ons kant, skryf Bouma ook. Ons stryd is sý stryd.
Met die voorbereiding vir die Olimpiese Spele ’n klompie jaar gelede het dié wat die Olimpiese fakkel in verskillende wêreldstede gedra het teenkanting ervaar. Menseregtegroepe het probeer om alles te ontwrig. Dit laat my dink aan Christene wat as ligdraers deur die wêreld met God se fakkel hardloop. Ons hardloop met die waardes van die koninkryk. Die mense in die wêreld hou nie daarvan nie.
Paulus noem hierdie wêreld ’n plek waar korrupte en ontaarde mense woon. Die wêreld is ’n donker plek. Ons weet dat dit waar is. Daar is baie bose mense, strukture en magte in die omgewing waar ons ons elke dag bevind. Dit voel soms of die hele rigting waarin die wêreld beweeg ’n doelbewuste poging is om van God los te kom. Ons dra egter die lig wat lewe bring. Ons staan op vir die regte van ander. Ons gee om vir die welstand van mense. Ons gee om vir die omgewing. Ons gee om as mense die Here nie ken nie.
As ons ons aan die wêreld sou onttrek, sou die wêreld ’n donker plek bly. God laat ons egter soos die Olimpiese fakkeldraers deur elke dorp, elke werksplek, elke verhouding beweeg. Ons dra die fakkel van sy liefde na ontaarde en korrupte mense. Die woord van die lewe sal lewe bring! Lees weer wat skryf Paulus in Filippense 2:15-17. Moenie toelaat dat die omgewing waarin jy beweeg ’n bedreiging vir jou word nie. Laat dit vir jou ’n uitdaging wees om as God se ligdraer sy lig en liefde te versprei.
Dankie, Here, dat U my gekies het om ’n fakkeldraer te wees wat u lig versprei. Help my sodat konflik en uitdagings die beste in my na vore sal bring, want dit is juis dan wanneer u lig die helderste deur my sal skyn. Amen.
Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra (Filippense 2:15-16).
Het jy al ooit ’n masker opgesit en gespeel dat jy iets of iemand anders is? Wanneer jy so ’n masker aan het, is dit maklik om voor te gee dat jy iets of iemand is wat jy nie werklik is nie. As jy mooi daaraan dink, is dit eintlik baie maklik om verskeie dinge voor te gee. Daarom vra Paulus vir die gelowiges in Filippi dat hulle altyd as ligdraers in die wêreld sal optree en vir almal sal wys hoe die liefde van God lyk. Ons moet mekaar dus regtig liefhê en nie net maak of ons mekaar liefhet nie.
– Hoe kan ons vir mekaar wys dat ons opreg lief is vir mekaar?
– Hoe kan jy ’n ligdraer in jou omgewing wees wat Jesus se liefde versprei?
Aktiwiteit
Maak ’n masker van ’n papierbord of van karton. Wanneer jy jou masker dra, onthou dat jou liefde vir die Here en vir ander mense altyd opreg moet wees.
Vrydag 25 September 2020
Mense wat betrokke is
Moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:13-17).
In 1974 het verteenwoordigers van kerke uit meer as 150 nasies by die internasionale kongres oor wêreldevangelisasie in Lausanne ’n “verbond” met mekaar aangegaan. Hulle het erken dat ons van God ’n roeping ontvang het “om sy dienaars en getuies vir die uitbreiding van sy koninkryk, vir die opbou van Christus se liggaam en vir die verheerliking van sy Naam te wees”. En dan kom die belydenis: “Ons bely met skaamte dat ons dikwels hierdie roeping verloën het en in ons sending misluk het, omdat ons aan die wêreld gelykvormig geword het, of ons daaraan onttrek het.”
Dis hierdie laaste woorde wat my opval: “omdat ons aan die wêreld gelykvormig geword het, of ons daaraan onttrek het.”
Heiligheid is nie wat ons dink nie. Natuurlik beteken dit dat ons anders is. Ons is nie soos die wêreld nie. Dit beteken egter nie ons is onbetrokke by die wêreld nie. Dit beteken nie ons onttrek ons van die wêreld nie. Ons vertaal heiligheid dikwels met “afsondering”, maar dit, sê Ferdinand Deist, is nie reg nie. Heilig het nog nooit “eenkant” beteken nie. Deist verwys dan na die heiligheid van God in Jesaja 6, wat so stralend is dat die hemelwesens dit nie kon aanskou nie. “As God sê ons moet heilig wees soos Hy heilig is, beteken dit die nuwe lewe wat Hy ons gegee het, moet sigbaar word vir almal om te sien. Die nuwe lewe in ons moet soos ’n lig van ons uitstraal.”
Die heilige God staan nie eenkant nie. Deur sy Seun raak Hy by ons betrokke, maak Hy sy hande en voete vuil met die stof en probleme van hierdie wêreld. Net so word Christene opgeroep om opsigtelik heilig te leef. JR Michaels skryf dat heiligheid die dag tot dag optrede van Christene altyd en oral moet kenmerk. Ons daaglikse lewe van liefde, sorg, diens en toewyding gee hieraan uitdrukking. Heiligheid is betrokkenheid.
JP Versteeg verwys in ’n meditasie oor die begrip “heilig” na Sint Nikolaas (die Heilige Nicolaas = Sinterklaas). Hierdie man van Mira wat in die vierde eeu geleef het, het bekendheid verwerf vir sy uitsonderlike liefde en goeie dade teenoor die minderbevoorregtes. Op 5 Desember elke jaar vier mense in Europa steeds Sint Nikolaas-dag. Hulle gee geskenke vir mekaar om hulleself en ander te herinner dat ons goeie dade en liefde aan mekaar verskuldig is.
Ons voel dikwels ongemaklik daaroor, maar tog noem die Bybel ons heiliges (1 Kor 1:2). Dit is dis ’n titel wat God self aan ons gegee het. Maar, net soos Sinterklaas sy heiligheid verstaan het as toewyding aan die wêreld, word ons geroep om dieselfde te doen. Ons moet mekaar en ander van harte en vurig liefhê, en dit wýs.
Here, ek is jammer dat ek soms u opdrag om heilig te wees verkeerd verstaan. Help my om nie skynheilig te wees of my van die wêreld te onttrek nie, maar om met toewyding uitsonderlike liefde, sorg en diens aan ander te bewys sodat ek u lig op aarde kan weerkaats. Amen.
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê … Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:16-17).
Het jy geweet die hele Bybel kan in een woord opgesom word? Kan jy raai wat hierdie woord is? Liefde! Die heel belangrikste ding wat ons kan doen, is om vir God en ander mense lief te wees..
Maar wie is ons naaste? Is dit ons bure, die mense wat saam met ons in die huis woon of ons beste maats? Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan help ons onthou dat ons naaste enigiemand is wat ons pad kruis, of ons hulle ken of nie, of ons van hulle hou of nie.
Laat iemand vir jou die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees. Die Jode en die Samaritane het nie baie van mekaar gehou nie. ’n Mens sou dus nie verwag dat ’n Samaritaan ’n Jood sou help nie. Tog het hierdie Samaritaan besef dat die beseerde man sy hulp nodig gehad het en dat dit ’n bewys van sy liefde vir God en mense sou wees om hom te help.
– Wat dink jy sou jy gedoen het as jy die Samaritaan was wat ’n beseerde man langs die pad gesien het?
– Vir wie kan jy vandag ’n naaste gaan wees?
Aktiwiteit
Vra een van jou ouers of jy ’n pleister kan kry om voor in jou Bybel te plak. Verduidelik vir hulle dat hierdie pleister jou sal help onthou om liefde aan jou naaste te bewys.
U alleen is heilig, Here my God,
Bewerker van wonders.
U is almagtig. U is groot. U is die Allerhoogste.
U is alomteenwoordig, my heilige vader,
Koning van die hemel en aarde.
U, Here my God, Drie én Een, is vir my alles wat goed is.
U, Here my God, U is die alleroorvloedigste fontein van goedheid.
U is barmhartigheid en liefde. U is wysheid.
U is nederigheid. U is geduld.
U is sekuriteit. U is vrede.
U is blydskap en vrolikheid.
U is gister, vandag en môre dieselfde.
U is skoonheid. U is sagmoedigheid.
U is die beskermer. U is my sterkte.
U is my lafenis soos koue water op ’n warm dag.
U is my ewige lewe,
groot en bewonderenswaardige Here,
alomteenwoordige, alsiende, alwetende God,
my genadige Vader.
Amen.
– ’n Verwerking van ’n gebed van Carlo Carreto (1910-1988) uit Ewald van Rensburg, God seën Afrika: Stories, gebede en wyshede
Donderdag 24 September 2020
Mense wat heilig leef
As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:14).
Jan Overduin, die bekende Nederlandse predikant, vertel hoe hy na ’n “goeie” kerk beroep is. Die mense daar was simpatiek, vrygewig en vreedsaam. Een nag is hy ontbied na ’n man wat op sterwe gelê het. Die man het sonder God en kerk geleef. Overduin het die man gevra of hy al van God gehoor het. Die man het geantwoord: “Ja, dit is ’n woord wat ons gebruik om te vloek.” Overduin vra hom toe of hy weet wie Jesus is. Die man het geantwoord: “Dit is ’n skildery in die kerk.” Tot sy ontsteltenis het Overduin ontdek dat hierdie man jare lank skouer aan skouer saam met ’n leier in sy gemeente gewerk het en steeds só oor God en Jesus gedink het.
Die volgende Sondag het Overduin aan sy gemeente gesê: “Julle is sulke gawe mense, maar julle is wreed! Hoekom? Want mense gaan vir ewig verlore omdat julle hulle nie van Jesus vertel nie.”
Heiligheid is nie ’n gunsteling-woord nie. Dis ietwat oud. Dit het selfs ’n sarkastiese klank gekry. “Hulle dink hulle is heiliger as ander.” Ons dink net ’n paar supergelowiges kan heilig genoem word. Hierdie opvattings oor heiligheid pas nie by wat die Bybel sê nie. Die oproep om heilig te wees is nie iets wat ons kan wegredeneer nie. Dis daar! In die Woord van God.
Petrus se lesers is dikwels deur hulle gemeenskap bespot en eenkant toe geskuif (1 Pet 4:4). Hoekom? Omdat hulle Christene was. Hoe het mense dit geweet? Hulle was anders as die res van die samelewing. Hulle lewe het gewys wat hulle glo. Voorheen was hulle heidene (4:3); nou was hulle heiliges. Hulle leefwyse was so anders dat hulle onmiskenbaar opvallend was (4:4). Petrus se lesers is beswadder omdat hulle nie meer saam met die stroom wou gaan nie.
Ek wonder of dit nog die geval is. Word ons nie deesdae eerder beswadder en beskinder omdat ons voorgee dat ons Christene is, maar nie so leef nie? Heiligheid is nie vir ons ’n opsie nie. Die heilige God roep sy mense op om heilig te wees. “Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God. Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My” (Lev 20:7-8).
Dalk moet ons ons vandag afvra: Is ons gawe mense, maar wreed? Wys ons lewe dat ons aan ons Vader in die hemel gewy is? Vertel ons met woord en daad vir ander mense van Jesus sodat hulle ook gered kan word?
Here, dankie dat U my radikaal verander het om al meer soos U te wees. Help my om heilig te leef, anders te leef, sodat my lewe lig en sout vir die aarde sal wees en U daardeur verheerlik sal word. Amen.
As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:14).
Mense hou daarvan om dinge te meet, partykeer om te weet hoe lank iets is, of hoog iets is, of hoe lank iets gaan aanhou. Soms hou ons daarvan om dinge te kies wat die grootste is, soos ’n stuk sjokoladekoek. Ander kere wil ons die kleinste opsie kies, soos wanneer ons take in die huis moet doen. So meet ons eintlik die hele dag lank verskillende dinge, al besef ons dit nie altyd nie.
Een ding wat ons nooit hoef te meet nie, is hoe lief God ons het. God het ons oneindig lief. Sy liefde vir ons sal nooit opraak nie. Om vir God te wys hoe dankbaar ons is omdat Hy so oneindig lief is vir ons, kies ons om elke dag aan Hom gehoorsaam te wees.
– Wat beteken die woord oneindig?
– Hoe sal jy vir iemand verduidelik dat God ons oneindig liefhet?
Aktiwiteit
Kry ’n paar dinge waarmee jy voorwerpe kan meet, soos ’n liniaal, ’n maatband, ’n horlosie of ’n koppie wat milliliters kan afmeet. Meet dan ’n paar dinge, soos hoe groot almal in die huis se voete is, hoeveel melk jy oor jou pap gooi, of hoe lank jy jou asem kan ophou. Wat kan jy nog meet? God het jou meer en langer lief as al hierdie mates bymekaargetel. God het jou oneindig lief.
Christus met my, Christus voor, Christus agter my,
Christus in my, Christus onder my, Christus bo my,
Christus aan my regterkant,
Christus aan my linkerkant,
Christus waar ek lê, Christus waar ek sit,
Christus waar ek opstaan,
Christus in die hart van elkeen wat aan my dink,
Christus in die mond van elkeen wat van my praat,
Christus in elke oog wat na my kyk,
Christus in elke oor wat na my luister.
Verlossing kom van die Here.
Verlossing kom van Christus.
Mag u verlossing, Here, vir altyd met ons wees.
Amen.
– ’n Gebed van Sint Patrick
Woensdag 23 September 2020
Nuwe mense
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (2 Korintiërs 5:17-19).
Dis eers wanneer ons verstaan wat God vir ons gedoen het dat ons waardes, gewoontes en dade by die heilige God sal pas. “Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ Dit beteken: Vader! Toe die tyd ryp was, het God se Seun na ons toe gestuur” (Gal 4:3-7).
Slawe word kinders van God deur Jesus Christus! Soos iemand ’n slaaf vrygekoop het deur ’n bedrag geld te betaal, het Christus sy lewe gegee om ons vry te koop. Ons is egter nie net slawe wat nou vry is nie. In God se huishouding word ons kinders. Die verlore seuns en dogters van God word in die huis van die Vader verwelkom. En die Gees van Jesus Christus leer ons om die Naam van die Vader te gebruik waarmee die Ons Vader-gebed begin: “Abba!”
Omdat God ons aan Christus verbind het, is ons ook heilig. Ons dra nuwe klere: Christus beklee ons met sy heiligheid en sy vryspraak. Dit beteken ons is radikaal verander. Paulus sê ons ou lewe bestaan nie meer nie. Christus leef nou in ons, want ons is saam met Christus gekruisig (Gal 2:20). Die ou lewe en alles wat daarmee saamgaan, alles wat uit ons harte gekom het, is nou dood. Die lewe van Christus het vlam gevat in ons.
Hierdie oorgang van slaaf na kind, van dood na lewe, van duisternis na lig, beteken God doen nie halwe werk nie. Ons is buitengewone mense, God se buitengewone kinders – heilige mense (1 Pet 2:9-10). Dit alles is genade en dit alles saam vorm ons identiteit.
En met hierdie identiteit ontvang God ons wanneer ons tot Hom nader in gebed. Richard Foster skryf in Prayer: Finding the heart’s true home: “God is big enough to receive us with all our mixture. We do not have to be bright, or pure, or filled with faith, or anything. That is what grace means, and not only are we saved by grace, we live by it as well. And we pray by it.”
Dankie, Here Jesus, dat ek deur U ’n nuwe mens is. Ek is deur u genade gered en wil vanuit u genade bid en leef, volgens u wil. Ek hoef u genade nie te probeer verdien nie, ek kan ook nie, maar in dankbaarheid wil ek leef soos ’n nuwe mens in Christus. Amen.
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God (2 Korintiërs 5:17-18).
Onthou jy die storie van Marta en Maria? Marta wou vir Jesus wys dat sy vir Hom lief is deur te sorg dat die hele huis netjies is en dat daar genoeg kos en drinkgoed is. Maria het net by Jesus gaan sit en geluister na alles wat Hy hulle wou leer. Marta het so baie tyd gebruik om dinge vir Jesus te doen dat sy nie tyd saam met Jesus self deurgebring het nie.
Jesus het ons nuwe mense gemaak, mense wat vir ander mense omgee. Hy stuur ons om namens Hom sy liefde op aarde uit te deel. Maar terwyl ons dit doen, mag ons nie van Jesus vergeet nie. Ons moet altyd tyd maak om na Hom te luister en met Hom te praat.
– Hoe bring jy graag tyd saam met Jesus deur?
– Is daar soms tye dat jy so besig raak en dan van Jesus vergeet?
– Wat kan jy doen om altyd van Jesus te onthou?
Aktiwiteit
Neem drie toiletpapierrolletjies en teken op elkeen ’n figuur om die volgende mense voor te stel: Jesus, Marta en Maria. Gebruik nou die toiletpapierrolletjies en vertel vir iemand die storie van Marta, Maria en Jesus.
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om aanvalle op jou af te weer.
Die Here is onder jou om jou te dra wanneer jy val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is ín jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Só seën die drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees – jou;
nou en tot in ewigheid.
– Ou Ierse seënbede
Dinsdag 22 September 2020
Wat is in ’n naam?
Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem” (Eksodus 3:4-6).
Soms vernoem ons ons kinders na onsself of na ons ouers. Soms breek ons weg van die tradisie en gee ons kinders ’n totaal ander naam. Name het nie altyd soveel betekenis in ons Westerse wêreld nie. In die Ou Nabye Ooste was dit egter anders. Name het getel. Name was belangrik. ’n Naam was die uitdrukking van ’n persoon se diepste wese. Net so sê God se Naam vir ons wie God is.
’n Oosters-Ortodokse teoloog, Colov, gebruik die uitdrukking: Nomen Dei est Deus ipse: God se Naam is God self. En in Eksodus 3 openbaar God sy Naam aan ons. Só openbaar Hy ook sy wese, hoe God is, aan ons. God se Naam en sy Persoon is een. En ons God stel Homself bekend as die God van Abraham, Isak en Jakob (3:6). Hy is die God van die verbond, die God wat getrou is aan sy beloftes. Hierdie God loop saam met sy mense. Hy is vir hulle ’n metgesel. Hy kry seer wanneer hulle seergemaak word. Daarom is God met deernis gevul wanneer sy mense ontsteld is en verdruk word (Eks 2:23-25; 3:7).
God se Naam beteken ook dat Hy geen onreg duld nie. Daarom bevry Hy sy mense uit Egipte. Hierdie God van Abraham, Isak en Jakob is vandag steeds ons Vader, ons metgesel, die Een wat ons bevry. Sy Naam is ’n belofte, en in sy Naam is daar openbaring en misterie, nabyheid en afstand. Hy is immers die Vader “in die hemel”, so gans anders as ons!
Toe Moses meer oor God se Naam wou weet, sê die Here vir hom: “Ek is wat Ek is” (3:14). Ons kan dit ook vertaal met: “Ek sal wees wat Ek sal wees.” Dit is wie God is. En hierdie God is vír ons en bý ons.
Ons ken ons God se Naam. Ons mag Hom aanroep. Ons mag tot Hom bid. Want sy liefde vir ons brand sterk. Hy is die Heilige wat by ons is (Hos 11:8-9).
Here, dankie dat U die Vader van Abraham, Isak, Jakob is, en dat U ook my Vader is. Dankie dat U getrou en genadig is en as my metgesel saam met my deur die lewe gaan. Soos Moses wil ek antwoord: “Hier is ek!” en saam met U die avontuur van die lewe aanpak. Amen.
Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob” (Eksodus 3:4-5).
Wat is die belangrikste ding wat jy elke dag doen, daardie een ding waarsonder jy net nie kan klaarkom nie? Dalk is dit TV kyk, sport oefen of saam met maats kuier. In elke 24 uur gebeur daar baie dinge in ons lewe. Party dinge gebeur outomaties, soos asemhaal, maar ander dinge moet ons doelbewus doen, soos skottelgoed was. Party dinge wil ons graag doen, soos TV kyk, en ander dinge moet ons doen, soos tande borsel.
Ons moet altyd oppas dat ons ons dae nie propvol maak met dinge wat nie regtig so belangrik is dat ons die heel belangrikste vergeet nie. En die heel belangrikste is om tyd by die Here deur te bring. Soos Moses, kan ons vir die Here sê: “Hier is ek!” En ons kan met die Here praat oor alles wat in ons lewe gebeur.
– Hoe kan jy weet wat belangrik en wat minder belangrik is?
– Hoe kan jy seker maak jy het elke dag genoeg tyd om met die Here te praat?
Aktiwiteit
Dink aan een belangrike ding wat jy vandag nog moet doen. Staan sommer nou dadelik op en gaan doen dit. Het jy geweet jy kan met die Here praat terwyl jy dit doen?
Kom o Lig, en verlig die duister in my.
Kom, o Lewe, en wek my uit die dood.
Kom, groot Geneesheer, en heel my wonde.
Kom, Vuur van Goddelike liefde, en verteer my sonde …
Verwarm my hart met u liefdesvlam.
Kom, my Koning, kom sit op die troon van my hart en regeer my lewe.
Want U alleen is my Koning en my Heer.
Amen.
Maandag 21 September 2020
Gebed gee ons ’n identiteit en plek
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:12-14).
Die Ons Vader word elke sekonde van elke dag deur iemand in sy of haar taal iewers gebid. Dis die eerste gebed wat baie mense leer en die laaste een wat baie mense op hulle sterfbed bid. Dit vorm en rig lewens, gesinne en gemeenskappe, skryf Steven Croft. Dit is ten diepste wat gebed is. Dit vorm en omvorm ons lewe. As ons die Ons Vader met ons hele hart bid, sal ons lewe verander.
Reeds die eerste woorde van Jesus se gebed staan lynreg teenoor ons verbruikerskultuur. Croft skryf: “First, this prayer gives to those who pray it an identity and a place in the world and a countercultural community. ‘Our Father in heaven, hallowed be your name.’ It opposes the myth that we are random specks of matter floating through space and time. It opposes the myth that our lives do not matter. It opposes the myth of fragmented humanity. We are created and loved and called into friendship with God who is our father and into community with our fellow human beings who are therefore our sisters and brothers. Only someone who has found this new identity can stand against the advertising culture which night and day seduces us to define who we are by what we spend.”
Ons identiteit word nie deur ons sosiale status of ons besittings of ons bankbalans bepaal nie. Ons identiteit word bepaal deur God se genade wat ons in sy familie opgeneem het. God se familie word ons familie – selfs al verskil ons van mekaar, al verskil ons kultuur en ons sosiale stand. Die Ons Vader leer ons dat gebed nie net ’n privaat saak is nie; ons bid ook vir en saam met ander. Ja, daar is tye wanneer ons alleen met ons Vader praat, maar daar is meer tye wanneer ons as familie saam tot Hom bid. Ons praat saam met ons Pa en ons bid saam met mekaar oor die dinge van die wêreld – oor wat ons bekommer en wat ons bly maak, oor wat ons vier en waaroor ons rou.
As ons nie ook saam met ander bid nie, ignoreer ons ons nuwe identiteit en ons plek in God se familie. Dan loop ons gevaar dat ons gebede liefdeloos sal word. Laat ons dan bid tot ons Vader in die hemel, wanneer ons alleen is én wanneer ons saam is.
Dankie, liewe Vader, dat U my deel gemaak het van u familie. Herinner my gereeld aan my identiteit as u kind en help my om al meer saam met my broers en susters in u familie te bid en in liefde te leef. Amen.
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:12).
Het jy al vir iemand gesê: “Jy skuld my”? Of het iemand dit al vir jou gesê? Ons wat kinders van die Here is, het almal ’n skuld om te betaal, en dit is liefdeskuld. Dit is gelukkig nie ’n moeilike skuld wat ons moet betaal nie. Al wat dit van ons vra, is dat ons vir almal rondom ons lief sal wees: vir die mense wat ons goed ken, maar ook vir die mense wat ons dalk nie so goed ken nie of van wie ons dalk nie so baie hou nie.
– Hoe kan jy jou liefdeskuld aan ander mense betaal?
– Wat beteken dit vir jou om ’n kind van God te wees?
Aktiwiteit
Gebruik stokkies, blare of klippies wat in julle tuin rondlê (moenie iets afbreek of uittrek nie) en bou op verskillende plekke in julle tuin ’n hartjie-simbool. Nooi iemand in jou huis om al die hartjies te gaan soek wanneer jy dit klaar gebou het. Los die hartjies vir die volgende paar dae in julle tuin om jou te herinner dat ons mekaar moet liefhê.
As julle nie ’n tuin het nie, teken hartjies op papier en knip dit uit. Sit dit op verskillende plekke in julle huis neer. Dit sal julle herinner om mekaar lief te hê.
Sondag 20 September 2020
Gebed is nie ’n opsie nie
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? (Romeine 8:31-35).
Ons kan baie skryf en praat oor die gebed wat Jesus ons geleer het. Maar, het Karl Barth gesê, as ons nie bid nie, sal ons nie besef dat ons in die teenwoordigheid van God is nie.
Jesus het hierdie gebed nie vir ons geleer sodat ons die diep teologiese betekenis agter elke woord en sin sou verstaan nie. Jesus het hierdie gebed vir ons geleer sodat ons sal bid en leef wat ons bid.
Die kerkvader Cyprianus het in die derde eeu na Christus opgemerk: “As Hy wat sonder sonde was dit nodig geag het om te bid, hoeveel te meer behoort ons, wat sondaars is, te bid. As Hy aanhoudend gebid het, dwarsdeur die nag ononderbroke tot God geroep het, hoeveel te meer behoort ons aanhoudend en herhalend te bid!” As ons nie gereeld en aanhoudend bid nie, leef ons asof ons nie ’n Pa in die hemel het nie.
Natuurlik moet ons na die konteks van Jesus se gebed kyk om seker te maak dat ons nie die pad verlaat en in ’n vreemde omgewing beland nie. In Matteus 6 verwys Jesus na die gevaar om op ’n heidense of ’n skynheilige manier te bid. Hy verwys na drie pilare van die Joodse lewe voor God – gebed, vas en om die armes te help. Ons moet dit nooit doen om mense te beïndruk nie. Ons hooffokus is nie wat die mense sal raaksien nie. Ons gebed, vas en hulp aan ander is ’n persoonlike saak tussen God en ons.
Daar is ook ’n tweede baie belangrike punt wat Jesus spesifiek met verwysing na gebed maak. Hy sê ons moenie dink God sal ons gebed verhoor omdat ons baie woorde gebruik nie. Dis wat die heidene doen. Hulle dink hulle baie woorde sal hulle gode oorhaal om te hoor. Die beeld wat hieragter skuil, is dat die gode nie gewillige gewers is nie. Ons weet egter ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra, en Hy sal dit vir ons gee.
David Head skryf in sy boek Shout for joy dat gebed nie in die eerste plek ’n pleitrede is nie. Dit gee eerder uitdrukking aan die goedgesindheid van die Vader. God gee. God vergewe. Dit was God se idee om ons sonde te versoen. Dit was God se idee om Jesus as die Lam van God te stuur. Dit was God se idee om Jesus as ons oudste broer te stuur en ons in te trek in die familiekring van sy vaderlike liefde. God se Seun tree vir ons in by die Vader, en die Vader hoor sy Seun se gebed. Wanneer ons bid, kan ons weet die Seun van God staan in ons plek voor die Vader en sy Vader, ons Vader, is ons goedgesind!
Dankie, Here, dat U my goedgesind en genadig is. Help my om, soos Jesus, herhalend en aanhoudend te bid, omdat U my goeie Vader is wat graag na my luister. Jammer dat ek soms so besig raak en so fokus op myself dat ek vergeet om met U te praat. Amen.
God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? (Romeine 8:31-32).
Het jy ’n gunsteling-speelding? Wat sou jy doen as jou gunsteling-speelding wegraak? Gewoonlik sal jy alles los en jou speelding gaan soek, of hoe? Jy gaan nie sommer daarvan vergeet nie. Jy sal soek totdat jy dit kry. Dit is presies wat die Here met ons doen.
Die Here is baie lief vir elke mens op aarde, maak nie saak wie ons is of wat ons gedoen het nie. Soms gebeur dit dat mense wegdwaal van God se liefde. God los dan nie daardie mense omdat daar nog baie ander is wat vir God lief is nie. Nee, God sal daardie een mens gaan soek en roep en hom of haar herinner dat God vir almal ewe lief is.
– Hoe kan jy ander mense herinner dat God ook vir hulle lief is?
– Wat help jou om te onthou dat God vir jou lief is?
Aktiwiteit
Speel soek-soek. Kies ’n paar dinge wat jy kan gaan wegsteek. Maak ’n lys van hierdie items en steek dit dan in ’n vertrek weg. Vra nou iemand in jou huis om al die items te soek. Gee vir hom of haar die lys van dinge wat jy weggesteek het. Kyk op jou horlosie hoe lank dit hom of haar kos om al die items te vind. Onthou die hele tyd hoe lief God vir jou is.
Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen wat moeg en afgemat is.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen wat genesing vir stukkende verhoudings soek.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen wat sukkel met spanning in hulle lewe.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen vir wie geloof ’n moeilike stryd is.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen wat hulle dag na dag met moeisame werk afsloof.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen wat heling soek vir ’n stukkende verlede.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Daarom bid ons vir elkeen wat liggaamlik siek is.
U is die Een wat ware rus en genesing bring.
Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
Neem, seën, breek en deel Uself aan ons uit.
Neem, seën, breek en deel ons ook uit.
Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
Amen.
Saterdag 19 September 2020
Die Ons Vader-leefstyl
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het (1 Johannes 3:18-23).
’n Man het na ’n Oosters-Ortodokse monnik gegaan omdat hy onseker was wat God se wil vir sy lewe was. Hy het gehoop dat die geestelike wysheid van hierdie man hom sou help om rigting te kry. Die monnik het na hom geluister en toe geantwoord: “Elke keer as jy wonder wat God se wil is of daaroor onseker is, bid die Ons Vader.” Die man was redelik afgehaal. Wie ken immers nié hierdie gebed nie? Dit was nie die wysheid, leiding en insig wat hy wou gehad het nie.
Die man het hierdie eenvoudige raad egter aanvaar en elke keer die Ons Vader gebid wanneer hy onseker was. Stelselmatig het hierdie gebed deel van sy lewe word. Dit was meer as ’n ritueel. Dit was meer as woorde. Dit het sy lewe begin vul. Hy het al meer besef dat God se wil baie duidelik is. Hierdie gebed van Jesus was die leiding, die insig en die wysheid wat hy nodig gehad het om God se wil vir sy lewe te doen.
Hierdie storie bring een van die belangrikste aspekte van ons lewe na vore. Die ou reëls van lex orandi (die reël/wet van gebed), lex credendi (die reël/wet van geloof) en lex (con)vivendi (die reël/wet van lewe of saamlewe) beteken dat ons gebed, ons geloofsbelydenis en ons lewe – ook ons lewe saam met ander – ’n eenheid vorm. Ons kan nie die een ding bid en bely en dan ’n lewe leef wat in stryd daarmee is nie. Ons kan ook nie ’n lewe leef sonder dat dit begrond is in wat ons bid en bely nie. Ons gebed, ons belydenis en ons lewe is ’n eenheid.
Die Ons Vader is ’n gebed en ’n belydenis en ’n leefstyl. Ons gaan vervolgens diep nadink oor hoe ons hierdie gebed bid en leef. Nee, ons kry nie altyd alles reg wat ons behoort reg te kry nie. Ons begeer egter met ons hele hart om te leef wat ons bely, om ons gebedslewe en ons daaglikse lewe in pas met mekaar te bring. En hiermee help Jesus ons deur ons te leer bid.
Ons Vader, help my om dit wat ek leef, bid, glo en sê met u wil in pas te bring. Ek wil graag die Ons Vader-gebed wat Jesus ons geleer het nie net met my lippe bid nie, maar dit veral leef. Laat u koninkryk kom, ook in my. Amen.
Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid …Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het (1 Johannes 3:18, 23).
God se storie met die mens begin by liefde. Deur die hele Bybel lees ons hoe lief God ons het. Liefde is amper soos God se kenteken, want liefde kom van God af. Jesus stuur ons, sy beelddraers, nou ook uit om ander mense lief te hê.
– Wat beteken liefde vir jou?
– Hoe kan jy vandag ander mense liefhê?
Aktiwiteit
Teken ’n reënboog en kleur dit in. Plak jou reënboog in ’n venster in julle huis op sodat mense die reënboog van die straat af kan sien. Dit sal hulle herinner dat God vir hulle lief is.
God van vreemdelinge en vlugtelinge,
maak die deure van hierdie kerkgebou
wyd genoeg oop sodat almal sal welkom voel
en ’n huis, ’n toevlug, ’n hart sal vind.
Christus van dié wat naby is,
asook van dié wat ver weg is:
maak ons harte wyd genoeg oop
sodat almal ’n tuiste sal vind
in hierdie geloofshuis.
Verwelkomende Gees van heiliges en sondaars,
maak ons arms wyd genoeg oop sodat almal –
die gaste, bure, kinders, weduwees,
politici, haweloses,
susters en broers –
deur u liefde en genade
omhels sal word.
Drie-enige God, heilige, enige Here,
mag u arms wyd genoeg oop wees
om ons in u hart toe te vou.
Ons bid nou soos Jesus ons geleer het …
Here, ons wat u mense is,
is oor die aarde versprei,
maar as ons rondom u tafel saamkom,
word ons een.
Genees ons gebrokenheid,
neem alle dinge weg wat ons van mekaar skei,
en maak van ons saamwees hier
’n viering van ons eenheid met Christus
en van ons eenheid met mekaar,
sodat die wêreld kan glo.
Amen.
Vrydag 18 September 2020
So moet julle bid …
“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie” (Matteus 6:9-15).
Een van beste samevattings van eerste woorde van die Ons Vader kom van Johann Bader. Hy skryf:
Wanneer ons sê God is ons Vader, praat dit van geloof. Dit gee uitdrukking aan ons vertroue en afhanklikheid van die Een wat ons liefhet en vir ons sorg.
Wanneer ons sê God is ons Vader, gee dit uitdrukking aan liefde. Ons sien ons broers en susters en besef dat ons ander broers en susters het wat deel van dieselfde familie is. Ons omhels hulle. Ons verwelkom hulle. Ons vier ons saamwees.
Wanneer ons sê God is ons Vader in die hemel, hoor ons hoop. Hierdie Vader ken ons. Hy is in beheer. Ons is nie uitgelewer aan die magte van die natuur en die willekeurigheid van die een of ander vreemde god nie. God weet wat ons nodig het. Ons kan Hom vir die toekoms vertrou.
Om God ons Vader in die hemel te noem, beteken ons neem sy belofte in Matteus 7:7-11 ernstig op: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Geloof, liefde en hoop. Dít is die groewe en punte en lengte van die sleutel wat ons in die eerste woorde van Jesus se gebed hoor. Hiersonder kan ons nie bid nie.
Here Jesus, dankie dat U die Vader aan my geopenbaar het en my leer hoe om te bid. Ek kan rustig wees in u arms, want U is almagtig en U sorg vir my in liefde. U het my so baie al vergewe, help my om ook ander te vergewe en in u voetspore te leef. Amen.
“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie” (Matteus 6:9-15).
Jesus was baie gewild toe Hy op aarde geleef het. Wanneer Jesus in ’n dorp was, het die nuus baie vinnig versprei en baie mense het dan saamgekom om Hom te sien en na Hom te luister. Jesus het hierdie geleenthede gebruik om die mense van God se koninkryk te vertel en hulle dinge te leer, soos om te bid.
Maar Jesus het geweet Hy kan nie net vir mense van God vertel en hulle leer bid nie; Hy self moet ook alleen tyd saam met God deurbring en tot God bid.
– Wat beteken dit om te bid?
– Hoe bid jy graag tot die Here?
Aktiwiteit
Skryf almal in jou familie se name op ’n vel papier neer. Probeer om in die volgende week vir almal op jou lysie te bid.
Vader,
u Heilige Gees woon in ons.
Ons word nie deur ons sondige natuur beheers nie,
maar deur u Gees.
Omdat Christus in ons is,
gee die Gees aan ons die lewe
op grond van u vryspraak.
Vader,
U wat vir Christus uit die dood opgewek het,
sal ook ons sterflike liggame lewend maak
deur u Gees wat in ons woon.
Ons laat ons deur u Gees lei
omdat ons kinders van God is.
Die Gees wat U aan ons gegee het,
maak ons nie tot slawe nie
en laat ons nie in vrees lewe nie.
Die Gees wat ons ontvang het,
maak ons kinders van God
sodat ons U “ons Vader” kan noem.
En omdat ons u kinders is,
is ons ook u erfgename,
erfgename saam met Christus.
Aangesien ons deel het aan sy lyding,
het ons ook deel aan sy heerlikheid.
Amen.
– op grond van Romeine 8:8-17
Donderdag 17 September 2020
Dit gaan oor troos en verwondering
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word …” (Matteus 6:5-9).
Om God ons Vader te noem het amper te algemeen geword. Sommige goeie kerkmense vervang dan sommer die Naam “Vader” met “die Man daar bo”, wat eintlik maar net die produk van ons wensdenkery is. Hierdie Man daar bo moet net ons wense vervul. Die Vader wat ons uit genade sy kinders gemaak het, wat meer vir ons omgee as wat enige ouer ooit vir ons kan omgee, het in baie mense se denke verdwyn.
Ons Vader wat in die hemel is, laat ons dalk ’n effense afstand aanvoel. Hoe sal Hy ons kan verstaan? Wanneer ons sê dat ons Vader in die hemel is, druk dit egter nie afstand uit nie, maar andersheid. God is nie van ons stoffasie gemaak nie. God dink nie soos ons nie. God is nie beperk soos ons nie. God staan nie magteloos en toekyk hoe alles tot niet gaan nie.
Toe die Christene ná Jesus se dood en opstanding hierdie gebed begin bid het, het hulle besef een van die grootste wonderwerke van alle tye het plaasgevind. Die hemel is oopgeskeur en God het tussen mense kom woon. Matteus beskryf Jesus dan ook as “Immanuel”, God by ons (1:23).
Iemand skryf op Facebook dat hy dit moeilik vind om te bid vir dinge soos reën wanneer dit droog is. Sal God somer in winter verander in winterreënvalgebiede? Ek onthou goed hoe moeilik dit vir my in my eerste gemeente in die Noord-Kaap was. As die skaapboere reën nodig gehad het, het die ander boere gebid dat dit nie sou reën nie omdat hulle lusern kon natreën en die oes kon bederf.
Die gebed wat Jesus ons leer bid, is deel van die Bergrede (Matt 5–7). Dit begin met die woorde: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” (5:3). Wanneer ons sê ons het ’n Pa in die hemel, staan ons in verwondering voor die Een wat weet wat ons op die regte tyd nodig het. Twee keer in Matteus 6, waar die Ons Vader voorkom, word dit benadruk dat ons Pa weet wat ons nodig het. Ons moenie soos die heidene dink nie. “Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (6:8). Dan leer Jesus ons hierdie gebed, die Ons Vader (6:9-13).
Later in die hoofstuk praat Jesus van ons Vader wat sorg vir die blomme van die veld en voëls van die hemel. Hy sê ons moet die bekommernis oor die toekoms uit ons harte verban, want “julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het” (6:32).
Wanneer ons dit verstaan, staan ons in verwondering voor ons Vader in die hemel wat met hemelse majesteit beklee is en steeds vir ons, nietige wesens, omgee en sorg.
Hemelse Vader, dankie dat U vir my sorg. Ek is totaal afhanklik van U. U wonderdade vul die hele wêreld. Help my om elke dag lank genoeg stil te raak om dit te waardeer. Dankie dat ek tot U kan bid, maar meer nog, dat U weet wat ek nodig het nog voordat ek kan vra. Amen.
“As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon … julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word …” (Matteus 6:5-9).
Het jy al gesien hoe lyk ’n plantjie wat te min water kry? Die blare is droog en dit lyk nie soos dit moet lyk nie. Jy kan nie vir ’n plantjie een keer water gee en hoop dat daardie water genoeg sal wees nie. ’n Plantjie kan nie groei as dit nie gereeld versorg en gevoed word nie. Net so kan ons nie in ons verhouding met die Here groei as ons nie gereeld geestelike kos en water kry nie.
– Op water maniere kan ons geestelike kos en water kry?
– Op watter maniere bid jy graag tot die Here?
Aktiwiteit
Plant vandag ’n saadjie. Elke keer as jy die saadjie en later die plantjie versorg en water gee, onthou om ook tyd saam met die Here deur te bring en tot Hom te bid sodat Hy vir jou geestelike kos en water kan gee.
O God van geregtigheid en vrede,
in ’n wêreld waar daar soveel konflik en geweld is,
laat daar lig wees,
laat daar hoop wees,
laat daar vrede wees.
In ons land waar daar soveel spanning en verdeeldheid is,
laat daar lig wees,
laat daar hoop wees,
laat daar vrede wees.
In ons kerke waar ons meermale liefdeloos is as ons met mekaar verskil,
laat daar lig wees,
laat daar hoop wees,
laat daar vrede wees.
In ons huise en vriendekringe waar daar soms misverstande en verwydering is,
laat daar lig wees,
laat daar hoop wees,
laat daar vrede wees.
In ons harte waar daar soveel onrus en onsekerheid is,
laat daar lig wees,
laat daar hoop wees,
laat daar vrede wees.
In ons verhouding met U waar dit soms voel asof U so ver van ons af is,
laat daar lig wees,
laat daar hoop wees,
laat daar vrede wees.
Ons vra dit in die Naam van ons Here Jesus Christus,
die Lig vir die wêreld,
die Bron van ons hoop,
die Gewer van ons vrede.
Amen.
Woensdag 16 September 2020
Dit gaan oor genade
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:8-10).
Ek was vroeër betrokke by die opleiding van mense wat ’n meer permanente rol in die gemeente wil vervul. As deel van die opleiding doen hulle ’n kursus in prediking. Een van die modules is op die sogenaamde “fallen condition focus” gegrond. Kortom kom dit daarop neer dat elke gedeelte in die Bybel die een of ander tekort in ons lewe blootlê. Kom ons noem dit “gebrokenheid”. Die sonde van die mens het alles radikaal verander. Ons ly, ervaar pyn, verlatenheid en eensaamheid en baie ander swaarkry as gevolg van die sonde. Die skepping is stukkend. Alles is stukkend. Ons is stukkend.
Jan Overduin skryf hieroor dat ons posisie, naam en status vir ons so belangrik is. Ons dink dat dit by God baie tel. Ons loop so selfgenoegsaam rond. Met ’n groot sigaar in ons mond en ons duime in ons onderbaadjiesakke gesteek, staan ons voor God en sê: “Hier is ek!” Ons arrogansie ken geen perke nie. Dít is ons gebrokenheid. Overduin skryf dan verder dat God ons sou kon vernietig, want Hy is God, maar God doen dit nie, want God is God. God sou ons kon verwerp, want Hy is God, maar God doen dit nie, want God is God. Dít is die genadige verrassing van God se Vaderskap, want as sy kinders het ons ons besonder sleg gedra.
Só lyk God se Vaderskap: Hy het ons in Christus lief, ten spyte van ons liefdeloosheid. Wanneer ons God dus “ons Vader” noem, is dit nie net omdat Jesus ons geleer het om God só te noem nie. Dis die gevolg van die kragtige werk van God se genade in ons lewe. Die gebed “ons Vader” is die erkenning dat ons God se kinders geword het. Dit is nie ’n opsê-gebed op Sondae of by formele byeenkomste nie. Dit praat van ’n nuwe verhouding met God wat deur God se genade tot stand gebring is.
Ons stem saam met ’n ou geskrif uit die 17de eeu wat sê dat dít die grond van ons gebed moet wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het. Hierdie geskrif vra hoe ’n gebed moet wees wat God behaag en deur Hom verhoor sal word. ’n Deel van die antwoord is: “Ons het hierdie vaste grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor.” Johannes Calvyn vra: “Met watter vertroue sou iemand God sy Vader kon noem? Wie sou so vermetel wees dat hy homself sou aanmatig dat hy kind van God is, indien ons nie in Christus tot kinders aangeneem is nie.”
Ons God is ons Vader, deur sy genade alleen.
Here, dankie dat U so vrygewig is met u genade en dat U ten spyte van al my gebrokenheid altyd lief bly vir my. Jammer dat ek soms arrogant en selfvoldaan rondloop, al is ek net deur u genade gered. Help my om my lewe te wy aan die goeie dade wat U vir my bestem het sodat ek U daardeur kan verheerlik. Amen.
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:8-10).
Hoogmoed is ’n vreemde ding, want dit gebeur baie maklik met ’n mens. Voor jy jou kom kry, dink jy jy is beter of belangriker as iemand anders. En wanneer ons dink ons is belangriker of beter as ander mense, gebeur dit maklik dat ons hulle sleg behandel.
Jesus roep ons om nie neer te sien op ander mense nie, maar juis om ander mense te help en te ondersteun. Jesus roep ons om nederig te wees. Nederigheid is om nie te dink jy is beter of belangriker as ander mense nie.
– Wanneer is dit vir jou moeilik om nie te dink jy is beter as ander mense nie?
– Wat kan jou help om nederig te wees?
Aktiwiteit
Maak ’n lys, in jou kop of op papier, van alles wat mense gelyk en ewe belangrik maak. Terwyl jy hierdie lys maak, dink daaraan dat Jesus ons almal gelyk gemaak het. Niemand is beter as iemand anders nie.
O God, soggens roep ek na U.
Help my om te bid
en om my gedagtes na U te draai;
ek kan dit nie alleen doen nie.
Daar is ’n donkerte binne my,
maar by U is daar lig;
ek is alleen, tog laat U my nie alleen nie;
ek is moedeloos, maar by U is daar hulp;
ek is rusteloos, maar by U is daar vrede.
Daar is bitterheid binne my,
maar by U is daar geduld.
Ek verstaan nie u weë nie,
tog ken U die weg vir my …
Herstel my vryheid
en stel my in staat om nou te lewe
dat ek in my soeke myself en U sal vind.
Here, wat ook al hierdie dag inhou,
mag u Naam vereer word.
Amen.
– ’n Gebed van Dietrich Bonhoeffer
Dinsdag 15 September 2020
Dit gaan oor familie
Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Efesiërs 2:16-19).
God is my Vader, maar nie net myne nie. Jesus leer ons bid: “Ons Vader …” Dit dui op gemeenskap. Daar is baie ander mense wat God ook “Abba” noem. Ek sit in Noord-Ierland. Jy is in Suid-Afrika, Namibië of dalk in ’n ander land. Ek noem God “Abba”. Jy noem hom “Abba”. ’n Gelowige in Noord-Korea noem God “Abba”. Dit maak ons familie. Ons is broers en susters in die familie van ons Vader in die hemel.
Om God ons Vader te noem is ’n afwysing van enige eksklusiewe siening van God. God is nie die God van wit of swart, ryk of arm, mooi of lelik, slim of dom, man of vrou nie. God is nie die God van ’n bepaalde kerk of groep nie. God is nie die God van ’n bepaalde volk nie. As Hy die God van ’n volk sou wees, sou Hy niks anders as ’n stamgod wees nie.
Nee, God is God! Daarom is hierdie eerste woorde van die Ons Vader-gebed ’n beklemtoning van die eenheid van die kerk. Paulus praat uitvoerig hieroor in Efesiërs 2:11-22. Hy benadruk dat dinge nou anders is as in die verlede. Daar was ’n tyd toe hierdie gelowiges nie aan God se gesin behoort het nie. Dit alles het verander toe God hulle uit genade gered het (Ef 2:1-13). Met hierdie woorde wou Paulus sy lesers oortuig dat hulle nou een nuwe mensheid is, deel van ’n nuwe familie. Hy skryf in Efesiërs 2:18-19: “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God” (klem bygevoeg). Die eenheid van hierdie gesin met hulle verskillende agtergronde word mooi beskryf in Galasiërs 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Griek of Jood, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een.”
Een Vader. Een gesin. Broers en susters. Dit is wat ons sê wanneer ons “Ons Vader” bid. Elkeen wat hierdie gebed op sy of haar lippe neem, sien die wêreld en vat hande met die gelowiges oor die hele wêreld heen.
Iemand het glo eenkeer vir die Switserse teoloog Karl Barth gevra of ons in die hemel ons geliefde familie sal sien. Sy antwoord was baie mooi in pas met wat hierdie gebed ons leer: “Ja, maar die ander ook!” In God se gesin, die gemeente, die kerk, die stukkie hemel op aarde, tel ons voorkeure en afkeure nie. Miskien kan die hemel vir sommige van ons ’n skrikwekkende gedagte wees as ons hierdie beginsel van Jesus se koninkryksgebed, sy gesinsgebed, nie reg verstaan nie.
Ons Vader, dankie dat U my deur u Seun deel gemaak het van u huisgesin. Dankie ook vir my baie broers en susters in hierdie huisgesin. Help my om in liefde ’n seën vir hulle te wees en die eenheid tussen ons te versterk, veral met dié van wie ek nie so baie hou nie. Amen.
Toe Hy [Jesus] gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Efesiërs 2:17-19).
Het jy al opgelet dat elke sportspan ’n spandrag het sodat mense kan sien aan watter span hulle lede behoort? Mense wat vir Jesus volg, het ook so ’n spesiale spandrag. Dit is nou wel nie soos klere wat jy by ’n winkel kan gaan koop en aantrek nie, maar wanneer jy hierdie spandrag aan het, sal mense kan sien jy behoort aan Jesus se span, jy is deel van God se familie.
Jesus se volgelinge se spandrag is liefde. Wanneer ons lief is vir die mense wat elke dag oor ons pad kom, sal almal weet dat ons Jesus se dissipels is. In Jesus se span is almal welkom en almal is goed genoeg.
– Wat beteken dit om deel van Jesus se span te wees?
– Hoe kan jy vir ander mense wys jy is deel van Jesus se span?
Aktiwiteit
Ons weet Jesus se dissipels se spandrag is nie regtig klere nie, maar as jy ’n T-hemp moes ontwerp vir Jesus se dissipels om te dra, hoe sou dit lyk? Ontwerp gerus so ’n T-hemp en wys dit vir die mense in jou huis.
God vir ons, ons noem U Vader,
God by ons, ons noem U Jesus,
God in ons, ons noem U Heilige Gees.
U is die ewige Geheimenis
wat bemagtig, toevou, omarm, insluit,
en alles tot lewe wek,
ook vir ons, ook vir my.
Elke naam skiet ver tekort
om u goedheid en grootsheid te omvat.
Ons kan slegs deur dit wat bestaan,
sien hoe U is.
Ons bid dat ons oë
vir ’n volkome kyk geopen word.
Soos dit in die begin was, so ook nou,
en tot in ewigheid.
Amen.
Maandag 14 September 2020
Dit gaan oor intimiteit
Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien (Psalm 103:8-12).
Ek lees dat AB de Villiers in sy outobiografie seker gemaak het die titel wat eers vir Shaun Pollock gebruik is weens sy senioriteit in die Suid-Afrikaanse krieketspan, ná Pollock se uittrede op Jacques Kallis sou val. Hulle albei is “Oupa” genoem. Uiteraard was Pollock en Kallis nie regtig die span se oupas nie. Hulle het hierdie twee buitengewone krieketspelers Oupa genoem as ’n teken van respek en waardering.
Om iemand Pappa of Oupa te noem is nie sommer net ’n naam of titel nie. Dit beteken daar is ’n verhouding, en dié verhouding is een van intimiteit en liefde. “Pappa” is ook die naam wat Jesus gebruik om die Ons Vader-gebed mee te begin: Ons “Abba” wat in die hemel is …
Die Aramese woord Abba druk die intieme verhouding tussen ’n kind en sy of haar pa uit. My kinders noem my steeds Pappa, al is hulle al groot. ’n Mens raak moeilik moeg daarvan dat iemand jou so noem, want, soos “Mamma”, is “Pappa” een van die eerste woorde wat kinders sê wanneer hulle begin praat.
Vir sommige mense is titels baie belangrik. Hier op die Britse Eilande, waar ek nou hierdie stukke sit en skryf, is daar baie meer titels as in Suid-Afrika. Ons het MBE’s (Member of the British Empire), OBE’s (Officer of the British Empire), Lords, Sirs en dan ook nog al die ander wat ons in Suid-Afrika het. Maar daar is afstand in titels. Daar is afstand in “dominee”, “pastoor”, “dokter”, “doktor” en “professor”. Herman Veldkamp skryf dat hy dit soms moeilik vind om na mense se gebede te luister. Hy skryf: “Wanneer iemand bid: ‘Ewige, volsalige, barmhartige God’, dink ek: Man, hou op, jy verstaan nie wat jy sê nie. Jesus leer ons om eenvoudig ‘Vader’ te sê.”
Dís die troos van God se Vaderskap: Ons hoef nie vir Hom bang te wees nie; ons hoef nie groot name vir Hom te gebruik nie – net maar Vader.
Sommige mense voel dalk ongemaklik met hierdie woord in ’n gebed. Hulle kan voel dit wys nie genoeg respek nie. Ons noem immers ons aardse pa’s “Pappa”, nie die God van hemel en aarde nie. Ja, dit is vreemd, maar dit is ook wonderlik. Dit troos ons. Ons Vader in die hemel is ons pa, en ons mag Hom “Pappa” noem.
Dis natuurlik soms moeilik om God ons Vader te noem. Vir baie mense is dit onmoontlik. Die wêreld is immers vol slegte pa’s. Ons pa’s misluk, verlaat ons, verloor beheer oor hulleself, beskerm ons nie altyd nie en hou ons nie altyd so veilig soos pa’s moet nie, verstaan nie altyd nie en is dikwels baasspelerig. So is God nié.
Jan Overduin skryf dat ons oor God net kan stamel in kinderlike brabbeltaal. Wanneer ons God ons Vader noem, sê dit dan 1 000 maal meer as baie gebede. Dit is ten diepste ’n geloofsbelydenis. Hierin vind ons die hoogtepunt van God se liefde. Dis eenvoudig. Dis totale afhanklikheid.
Hemelse Vader, dankie dat U verkies om in familietaal aan ons geopenbaar te word. Dankie vir die voorreg om ’n intieme verhouding met U, die Skepper van die heelal, te kan hê. Maak my oë oop om in my alledaagse lewe die tekens van u liefde en barmhartigheid te kan ervaar en te deel. Amen.
Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien (Psalm 103:8-12).
Het jy al ooit gewonder of die son in die oggend gaan opkom nadat dit in die aand gesak het? Nee, ons is mos nie bekommerd daaroor nie, want ons weet die son kom elke dag weer op. Net so hoef ons nie bekommerd te wees of God vir ons gaan sorg nie. God sal elke dag vir ons sorg, want so lief is God vir ons.
– Hoe kan jy sien dat God vir jou sorg?
– Hoe kan jy vir ander mense sorg?
Aktiwiteit
Wanneer jy vanaand in die bed lê, voordat jy aan die slaap raak, dink aan vier dinge:
1. Waarvoor was jy vandag dankbaar?
2. Wat het jou vandag bekommerd gemaak?
3. Waar het jy vandag gesien dat God vir jou gesorg het?
4. Vir wie kan jy môre gaan sorg?
Here, ek is ’n leë kruik wat gevul moet word. Vul dit, Here, want my geloof is swak.
Versterk my, want my liefde is koud.
Maak my warm en ywerig sodat my liefde ook kan uitgaan na my naaste.
Ek beskik nie oor ’n sterk en stewige geloof nie, Here.
Soms twyfel ek en is ek glad nie in staat om U te vertrou nie.
O Here, help my. Versterk my geloof en vertroue in U.
In U alleen het ek al my skatte verseël.
Ek is arm; U is ryk en betoon u genade aan die armes.
Ek is ’n sondaar; U is regverdig.
By my is daar ’n oorvloed sonde; in U is daar die volheid van geregtigheid.
Daarom sal ek by U bly,
die Een van wie ek kan ontvang, maar vir wie ek niks kan gee nie.
Amen.
– ’n Gebed van Martin Luther
Sondag 13 September 2020
Die koms van die Verlosser
Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Lukas 4:16-21).
Nadat die mens tydens die sondeval hulle unieke rol as beeld van God onherroeplik skade aangedoen het, het die getroue Skepper-God sy Seun gestuur om die verhouding te herstel. Jesus het gekom om God se koninkryk – sy heerskappy – te proklameer: God is Koning!
In gedeeltes soos Lukas 4 sien ons hoe Jesus sy koms verduidelik, met verwysing na onder meer Jesaja, as ’n herstel van God se aanvanklike bedoeling met sy volk. Soos God reeds vir Abraham gesê het, sou Hy vir Abraham seën om tot seën vir alle volke te wees. Hierdie boodskap is in Jesaja (en op ander plekke in die Ou Testament) aan Israel oorgedra, en deur God se volk sou Jesus al die nasies van die wêreld seën. Met Jesus se koms het die roeping van Israel op Hom oorgegaan: in Hom word alle nasies en mense geseën. In Hom ontdek ons lewende water wat ewige lewe bring.
As noodwendige uitvloeisel van hierdie herstel word ook die mens in hulle geskape rol herstel. 1 Petrus 2:9 verwys tereg na gelowiges as koninklike priesters: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.” As konings het ons die verantwoordelikheid om die goedheid en majesteit van God in die wêreld te weerspieël, en as priesters het ons die verantwoordelikheid om die noodkrete en prysliedere van gelowiges bymekaar te maak en in gebed voor God bring.
Here Jesus, dankie dat U die bron van lewende water is wat ook vir my as u eiendom afgesonder het. Dankie vir die voorreg om u verteenwoordiger te wees. Help my om soos ’n koninklike priester u majesteit en verlossingswerk in die wêreld te weerspieël, tot seën van ander. Amen.
Hy [Jesus] het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig” (Lukas 4:16-19).
Hoekom sê ons mooi dinge oor Jesus? Een van die redes is dat Jesus mooi en goeie dinge gedoen het. Ons werk as Jesus se dissipels is nie net om die mooi dinge wat Jesus gedoen het te onthou en vir ander mense daarvan te vertel nie; ons moet dieselfde mooi en goeie dinge gaan doen.
– Kan jy dink aan ’n paar mooi en goeie dinge wat Jesus gedoen het?
– Hoekom dink jy moet ons vir ander mense vertel van hierdie mooi en goeie dinge wat Jesus gedoen het?
– En hoekom moet ons dit self dan ook gaan doen?
Aktiwiteit
Dink aan drie sinne of woorde wat jy sal gebruik om iets moois oor Jesus te sê.
Here, ons wil U loof omdat U goed is. Daar is geen einde aan u liefde nie.
Baie van ons is verdwaal en kan nie aldag ons pad kry nie. Daar is ook baie mense in die wêreld wat honger, dors en uitgeput is. Ons eie verdwaaldheid en die nood van die wêreld bring ons nou na U toe.
Ons vra dat U ons uit die ellende sal red en op die regte pad sal bring. Ons glo u Woord praat oor ons geestelike en ons materiële nood.
Leer ons bid, Here.
Praat nou met ons, Here.
Amen.
Saterdag 12 September 2020
Gebed is wegkyk van jouself
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ’n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie (Jakobus 1:5-8).
Die groot ontdekking wat ons maak, is dat gebed en veral die dinge waaroor en waarvoor ons bid, nie hoofsaaklik oor ons gaan nie. Ons gebede is ten diepste ingebed in ons verhouding met God en met ons naaste. Lynreg teenoor ons samelewing waarin ons die middelpunt van ons eie sonnestelsel geword het, vra ware gebed dat ons sal wegkyk van onsself en die grootheid van God en die wêreld rondom ons sal raaksien. Daarom kan dit nie anders nie as dat ons gebede se inhoud ’n weerspieëling word van dit waarmee ons in navolging van Jesus besig is. Dit gaan ten diepste oor die koninkryk van God en hoe elke deeltjie van die geskape werklikheid daarin ’n ruimte vind.
Hiermee is reeds baie gesê oor wat gebed is en wat gebed beslis nié is nie. Gebed is allermins ’n selfgesentreerde lysie van behoeftes en begeertes. Gebed is allermins ’n soeke na ons wil wat moet geskied. Gebed is nooit ’n manier om God se arm te draai nie. Ons bid nie om God te verander nie, maar om Hom toe te laat om ons te verander. As burgers van die koninkryk van hemel staan, sit en lê ons in gebed al soekend na God se wil en die koms van sy koninkryk. Tog wonderlik hoe die rigting van ons kommunikasie dan verander van wat ons vir God kan vra vir ons situasies na wat ons van God kan vra vir die situasie waarin Hy ons geplaas en waartoe Hy ons in sy diens geroep het.
Gebed word hiermee die uitroep na God om wysheid en insig om Hom te volg en sy werke te doen waar ons werk, waar ons ontspan, waar ons saam met vriende verkeer, maar ook waar ons in die hospitaal by die bed van ’n geliefde staan, waar ons voorbidding doen en, helaas, waar ons aansit voor ’n bord kos.
Helmut Thielicke vertel in sy boek Het gebed dat de wereld omspant van ’n kort opmerking in ’n tydskrif van jare gelede waarin die noodsaaklikheid van gebed benadruk is. Volgens die skrywer waarna Thielicke verwys, is die wêreld waarin ons woon so erg dat ’n mens kwalik anders kan as om te bid. Aangesien omstandighede gedurig verander, is voortdurende gebed die gelowige se erkenning dat ons daagliks soek na insig, wysheid en God se wil. Ons gebede moet aanpas by veranderde en veranderende omstandighede. Namate ons groei in die geloof en in ons begrip en insig behoort ons gebede dit te weerspieël.
Here, help my om weg te kyk van myself, ook in my gebede, sodat ek u grootheid kan raaksien. Gee aan my u wysheid sodat ek U en ander in my alledaagse lewe sal dien, op die voetspoor van Jesus. Amen.
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (Jakobus 1:5).
Het jy al gewonder hoe jy besluit wat die regte of die verkeerde ding is om te doen? Soms is dit maklik om die regte ding te doen, maar ander kere is dit moeilik of nie lekker om die regte ding te doen nie. Een ding is seker, as Jesus se volgelinge moet ons altyd probeer om die regte ding te doen, al is dit moeilik of nie lekker nie. Jesus is gelukkig elke dag by ons om ons daarmee te help. Hy sal vir ons sy wysheid gee.
– Hoe laat dit jou voel om te weet Jesus help jou elke dag om die regte ding te doen?
– Wanneer laas moes jy ’n moeilike besluit neem? Wat was die besluit was jy moes neem?
Aktiwiteit
Speel “kop of stert” met ’n muntstuk. Vra iemand om saam met jou te speel. Een persoon moet die kop (bokant) van die muntstuk kies, en die ander persoon die stert (onderkant). Skiet dan die muntstuk in die lug op, vang dit, draai dit om op jou hand en kyk watter kant van die muntstuk na bo wys. Die persoon wie se kant na bo wys, wen.
Daar word soms gespot dat mense belangrike besluite neem deur ’n muntstuk in die lug op te skiet. Ons hoef gelukkig nie ons besluite so te neem nie, want Jesus is elke dag by ons om ons te help met ons besluite.
Kom, Here Jesus, kom as Koning;
beheer ons harte, kom as liefde;
beheer ons gedagtes, kom as vrede;
beheer ons dade, kom as krag;
beheer ons dae, kom as vreugde;
beheer ons nagte, kom as lig;
beheer ons liggame, kom as genesing;
beheer ons arbeid, kom as hoop.
Laat u koninkryk kom,
hier by ons en oral in die wêreld.
Amen.
Vrydag 11 September 2020
Gebed – ’n probleem vir baie
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Johannes 14:12-14).
Die Engelse uitdrukking “many a true word is spoken in jest” wil dit hê dat ons dikwels groot waarhede met humor kan verwoord. Die volgende het nogal baie oor gebed te sê:
Daar word vertel dat ’n dogtertjie een oggend dinge in die kerk so gesit en dophou het. Toe die predikant inkom en die kansel bestyg, het hy oudergewoonte op die tweede trappie gaan staan, sy hoof gebuig en saggies gebid. Die dogtertjie was gefassineer. Sy het oorgeleun na haar ma en gevra: “Mammie, wat doen die dominee nou?” Haar ma het saggies gefluister: “Hy vra liewe Jesus om hom te help.” Waarop die dogtertjie heel hoorbaar gevra het: “Nou maar hoekom help liewe Jesus hom nie?”
Miskien het jy ook al gewonder hoekom ons bid. As dit waar is dat God weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra, hoekom dan vra?
Ons bid omdat die Bybel op soveel plekke sê ons moet bid. Ons lees: “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid” (Jak 5:13), en: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking” (5:16b). Hiermee saam sê Jakobus: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie” (4:2b), en: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (1:5). Lees hiermee saam Jesus se woorde in Johannes 14:13: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”
’n Mens hoef egter nie ver te soek om selfs gelowiges te kry wat uiters skepties teenoor gebed staan nie. En laat ons maar eerlik wees, vir talle is hulle gesindheid gebore uit die pynlike ervaring van gebede wat “teen die plafon vasgeslaan het”. Ander se gebede is nooit verhoor nie of het dit geen (waarneembare) verskil gemaak nie. Ons dink (te) maklik oor gebed op ’n pragmatiese manier. As gebed “werk”, is dit goed en gaaf. As dit (skynbaar) nie “werk” nie, is dit allermins goed en gaaf.
Maar is dit werklik die regte maatstaf vir gebed? Allermins! Lees ons Jesus woorde in Johannes 14 wanneer Hy oor gebed praat, vind ons ’n geweldige belofte in vers 12: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” Jesus het Hom nie hier verspreek oor gebed nie, maar hier vir ons die raamwerk gegee waarbinne ons oor gebed moet dink. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (14:13-14).
In die volgende paar weke gesels ons dan binne hierdie raamwerk oor gebed.
Here Jesus, leer my om volgens u wil te bid en om in u voetspore te leef. Ek het wysheid van U nodig om U ook deur my gebedslewe te verheerlik en te dien. Amen.
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Johannes 14:12-14).
Het jy al gehoor hoe mense bid en aan die einde sê: “In Jesus se Naam. Amen”?
Om te bid is nie net om woorde op te sê nie. Dit is ’n baie spesiale gesprek wat ons met God het. Wanneer ons bid, moet ons elke woord bedoel. En wanneer ons iets in gebed vra, moet ons dit so vra dat dit God sal verheerlik. Dit is hoekom mense bid “in Jesus se Naam”.
Ons uitdaging is om mooi na te dink oor alles wat ons bid, en om dan so te bid dat ons God se hart bly sal maak.
– Hoe bid jy gewoonlik?
– Wat beteken dit vir jou om te bid?
Aktiwiteit
Wanneer jy vanaand bid, fokus op elke woord wat jy sê sodat jy kan seker maak jy bedoel dit.
Ons Vader, wat hier op aarde deur u Gees in ons lewe,
laat u Naam geheilig word wanneer ons ons brood deel met hulle wat minder het as ons;
laat u koninkryk kom deurdat ons ander se lewe aanraak met stukkies van u hemel op aarde;
laat u wil geskied deurdat ons opstaan vir wat reg is wanneer almal bly sit; deurdat ons ons stem laat hoor wanneer almal gerieflik stilbly.
U gee ons vandag ons daaglikse brood aan die tafel, in die lied van die voëls en die wonder van blomme wat oopvou.
Vergeef ons ons skuld omdat ons verbygeloop het waar ander met woorde of wapens seergemaak is; omdat ons ons oë gesluit het vir onreg; omdat ons ons diepste oortuigings en uitgesproke beginsels met ons optrede verloën het; omdat ons nie ons brood en wyn, ons voorregte en grond, met ander wou deel nie.
Laat ons nie in die versoeking kom om uit vrees nie ons deure oop te maak vir ander se nood nie; om te sê daar kan tog niks gedoen word aan armoede en korrupsie en geweld nie; om met dieselfde wapens as die vyand te veg nie.
Verlos ons van die Bose. Gee ons die moed en die deursettingsvermoë om dag na dag liefde te lewe – selfs op paaie waarop niemand voorheen geloop het nie, selfs al val ons, want so sal ons u koninkryk beleef en help uitbrei, u koninkryk wat nou reeds gebou word – en tot in alle ewigheid.
Amen.
– ’n Gebed uit Suid-Amerika
Donderdag 10 September 2020
Dít is dissipelskap
Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:57-58).
Toe ek gesnap het dat die evangelie regtig vir gewone mense bedoel is, het ek gekies om die res van my lewe hier op aarde anders te laat verloop. Vandag kies ek om elke dag saam met Jesus te loop asof ek dit vir die heel eerste keer doen. Ek weier om gewoond te raak aan my kosbare verhouding met die Here, en met familie, vriende, die kerk en mense in nood. Ek streef daarna dat elke gebed, elke Bybelreis, elke aanbiddingsgeleentheid, elke gesprek oor die Here ’n ontdekkingsreis sal wees. Ek streef daarna om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
En hoe lyk die lewe van ’n ware dissipel van Jesus? Die beste samevatting hiervan kom van Theo Geyser, ek deel dit graag met jou vandag. Maak dit jou eie in jou lewe as dissipel van Jesus.
– Dissipels laat toe dat ander hulle blinde kolle aan die lig bring.
– Dissipels weet wie hulle vandag liefgehad het.
– Dissipels leef met die regte vrae, nie met die regte antwoorde nie.
– Dissipels ken stilte voor woorde.
– Dissipels weet die koninkryk van God is binne-in hulle.
– Dissipels weet hoe om elke dag dood te gaan.
– Dissipels is gedurig besig om balke te saag sodat die splinters hulle nie pla nie.
– Dissipels kies transformasie bo informasie.
– Dissipels offer nie net gebede aan God nie, maar wórd die gebede.
– Dissipels weet dat elke goeie somer deur ’n goeie winter moontlik gemaak word.
– Dissipels leef vanuit die oorvloed van eenvoud.
Here Jesus, dankie dat ek u dissipel kan wees. Maak my dapper om soos ’n kind met verwondering te leef en oorvloedig te wees in my diens aan U, sodat ander ook u liefde en genade deur my kan ervaar. Dankie dat ek waagmoedig en voluit kan leef omdat ek weet U is altyd by my. Amen.
Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:57-58).
Soms is mense draadsitters. Dit beteken hulle kan nie besluit aan watter kant hulle is nie. Dit gebeur dikwels met sportwedstryde. Mense skree vir die een span, maar as hulle sien die ander span gaan wen, verander hulle sommer van opinie en raak die ander se ondersteuners.
Die eerste Christene het ook met hierdie probleem gesukkel. Hulle het geleef in ’n tyd toe ander mense hulle dikwels probeer oortuig het dat om ’n Christen te wees nie ’n goeie besluit is nie. Mense wat nie in Jesus geglo het nie, het die Christene banggepraat en afgepers sodat hulle teen Jesus sou kies.
Tog is dit nie waar hierdie storie eindig nie. God het gelowiges na mekaar toe gestuur om mekaar moed in te praat en mekaar te herinner aan wie Jesus is. So stuur God ons ook elke dag om ander gelowiges te ondersteun en moed in te praat, veral wanneer ons sukkel om aan Jesus se liefde vas te hou.
– Hoekom dink jy sukkel ons soms om aan Jesus se liefde vas te hou?
– Hoe kan jy ander Christene ondersteun en aanmoedig om aan Jesus se liefde vas te hou?
Aktiwiteit
Maak ’n kaartjie waarop staan “Jesus is lief vir jou”. Jy kan selfs ’n Bybelvers daarby skryf. Gaan gooi die kaartjie in iemand se posbus.
O Heilige Gees,
dit is dikwels moeilik om in God se liefde te glo
as ons al die pyn en geweld in die wêreld sien.
Dit is moeilik om te glo dat sy liefde
sterker is as die haat in en om ons.
Help ons om aan te hou soek daarvoor, o Gees:
om aan te hou glo dat U al hierdie dinge
tog uiteindelik ten goede kan laat saamwerk.
Amen.
– Alan Gaunt
Woensdag 9 September 2020
Klein stappe, maar stappe wat tel
Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word (1 Korintiërs 10:31-33).
Almal wil vrede hê. Almal smag na herlewing en vernuwing. Tog doen min mense iets daadwerkliks om hulle wense waar te maak. Volgens George Barna se navorsing sal 90% van kerkmense byvoorbeeld nooit in hulle lewe een mens tot geloof in die Here lei nie.
Ten spyte van hierdie statistiek kan doodgewone mense egter ’n ongewone lewe leef. Ons kan elke dag se 24 uur doelbewus vir Jesus leef. ’n Lewe van vryheid is regtig vir doodgewone dissipels beskore. Ons moet net ons stukkie pad saam met Jesus oorsteek. Ons moet diep verhoudings met ’n paar mense bou, en verkieslik met mense wat anders as ons is. Só kom God se koninkryk teen die regte spoed, een dag op ’n slag.
Geen roete word ooit voltooi sonder die heel eerste tree nie. Of sonder ’n tweede tree, en ’n derde tree kort daarna nie. Tree vir tree kom alles uiteindelik klaar. Maar dan moet hierdie klein stappe weer en weer herhaal word. Net só kom God se koninkryk in hierdie wêreld. Dit gebeur stil, maar aanhoudend, deur een liefdesdaad op ’n slag. Deur een gebed, een woord van bemoediging, een koersaanduiding in God se rigting, of een tree saam met iemand wat geestelik dood is.
My pa het altyd vir my gesê: “What is worth doing, is worth doing well.” Dit geld ook vir gewone dissipels. Ons doen dinge die eerste slag reg. Uitnemendheid is ons wagwoord. Ons wil uitblink in ons lewe tot eer van die Here. Soos Oswald Chambers gesê het: “My utmost for His Highest.”
Want wat help dit ons wil die hele wêreld verander, maar ons verander nie die besonderhede van ons lewe nie? Wat help dit ons is nie betroubaar in ons werk, vriendskappe en huwelik nie? Wat help dit as ons noodleuens vertel en saam skinder? Of as ons ja nie ons ja is nie? Dan mis ons die hele punt. Juis deur doelgerigte en doelbewuste klein stappe te gee, groei die koninkryk van God alle ander koninkryke uit die pad. Woord vir woord, daad vir daad, gebed vir gebed, omgee vir omgee … só laat God sy koninkryk kom.
Dankie, Here, dat ek met my doodgewone lewe ongewone dinge vir U kan doen. Help my om alles wat ek doen na my beste vermoë te doen om U te eer. Gee aan my die waagmoed om saam met U die pad oor te steek na my naaste in nood. Een klein tree op ’n slag. Amen.
Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word (1 Korintiërs 10:31-33).
Het jy al probeer om twee dinge gelyk te doen, soos om jou maag te vryf terwyl jy saggies op jou kop klap, of om in te asem terwyl jy lag. Dis moeilik! Dan is daar weer dinge wat jy altyd doen terwyl jy ook iets anders doen, soos jou hart wat klop terwyl jou longe lug inasem. Jy moet doelbewus besluit om op te hou asemhaal, anders hou dit net aan gebeur.
Daar is ’n Bybelvers wat praat van twee dinge gelyk doen. Dit sê vir ons dit maak nie saak wat ons doen nie, ons moet alles altyd tot eer van die Here doen.
– Hoe dink jy kan ons die Here eer as ons gewone dinge doen soos eet of drink?
– Wat beteken dit om God altyd en in alles te eer?
Aktiwiteit
Dink aan paar doodgewone dinge wat jy elke dag doen, soos om jou tande te borsel of TV te kyk. Kies drie dinge uit jou lys. Hoe kan jy die Here eer terwyl jy dit doen? Maak ’n spesifieke plan vir elk van hierdie dinge.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie
of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
Amen.
– Psalm 139:1b-6
Dinsdag 8 September 2020
Dissipelskap-storie: ’n Feesmaal waar die harte van mense warm word
Toe sê Jesus vir hom: “Daar was ’n man wat ’n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het ’n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ ’n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ Nog ’n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’ “Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.’ Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie” (Lukas 14:16-24).
Norma Rossouw, leraar van NG gemeente Vaalrivier en moderator van die NG Kerk, Wes-Transvaal, vertel:
Terwyl ek een aand rustig in die teenwoordigheid van die Here lê, kom hierdie crazy idee in my kop: Gee hierdie Kersfees (wat oor drie weke was) vir die behoeftiges ’n bord kos en vier saam hulle fees. Eers het ek al die goeie redes uitgedink hoekom dit nie sou kon werk nie, maar die dringendheid en die opgewondenheid van so ’n moontlikheid het net al groter in my hart geword. Uiteindelik het alles net in plek geval, ’n borg het na vore gekom, lidmate het borde kos aangedra, die tafels is gedek, gereed vir ons gaste. Almal wat behoeftig is, is genooi. Ná die diens het ongeveer 30 mense opgedaag – en ons het reggemaak vir 200 gaste.
Teleurgesteld vra ons: Wat doen ons met al die kos? Al wat ons kon vra, was: Wat leer die Woord ons?
Lukas 14 vertel die gelykenis van die groot maaltyd. Opgewonde het die lidmate van Vaalrivier met hulle karre gery en mense in die strate gaan haal. Die wonderlikste moment het aangebreek, want in ons omgee vir ander het ons meer ontvang as wat ons kon uitdeel. Skielik het mense hulle gemak, karre en sekuriteit opgeoffer en hulle ontferm oor enigeen wat honger lyk of in nood was. Almal het begin dien.
Daardie dag het ek weer iets verstaan van die nuwe familie wat ons in Christus is. Oor kultuur- en rassegrense heen is mense aangery, en daardie dag het die trane oor my wange geloop omdat ek iets van die koninkryk sien kom het. Ek het so klein gevoel in die teenwoordigheid van die Here.
Ná drie dae wat hy en sy seun nie geëet het nie, het ’n verwer daardie oggend gebid en gevra dat God vir hom verfwerk sou gee sodat hulle kon eet. Wie gebruik ’n verwer oor Kersnaweek? Maar hy het geglo God sal voorsien, en God het!
Drie vriende het opgedaag sonder kennis van wie God is, en ná die ete en ’n gesprek met hulle, groet hulle waardig met oë wat blink: “Now we know who God is, who Jesus is and who the Holy Spirit is.”
’n Boemelaar wat gedink het God het van hom vergeet, het daardie oggend vir ’n laaste keer probeer bid: “Here, as U my nie vergeet het nie, wys my vandag dat U my raaksien.” Toe kry dié verlore seun ’n vetgemaakte Sondagfeesmaal.
Daardie dag het God al die afsprake wat Hy gemaak het, nagekom. Seën het daardie dag nuwe betekenis gekry, en vir my was dit die heel beste Kersfees ooit!
Dankie, Here, vir alles waarmee U my seën. Maak my ore en my oë oop sodat ek die mense na wie toe U my roep, sal raaksien om hierdie seën aan hulle uit te deel. Ek is bereid om ver te ry en nog verder te gaan soek, want u seën en teenwoordigheid is te wonderlik om nie te deel nie. Amen.
Toe sê Jesus vir hom: “Daar was ’n man wat ’n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak … Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word’” (Lukas 14:16-24).
Verbeel jou jy reël die heel beste partytjie op aarde. Wat sal alles daar wees? Wat gaan jy bedien om te eet? Hoe gaan die versierings lyk? Watter vermaak gaan daar wees?
Uiteindelik breek die dag van die partytjie aan, maar nie een van jou gaste daag op nie. Wat sal jy doen?
Jesus het ’n gelykenis vertel wat amper so klink. Iemand het ’n groot ete gehou, maar nie een van die genooide gaste het opgedaag nie. Die man nooi toe ander mense, nie belangrike mense nie, maar arm, kreupel, blinde en verlamde mense. Hy het nie omgegee wie die mense was nie; almal was welkom by sy partytjie.
Hierdie gelykenis help ons om te onthou dat almal by Jesus welkom is, maak nie saak wie jy is nie, en dat daar altyd plek vir nog mense is by Jesus.
Ons wil so graag ons lewe vol maak met belangrike mense, maar Jesus herinner ons dat Hy gekom het om almal uit te nooi om deel van sy koninkryk te wees.
– Is daar iemand by die skool wat jy kan nooi om saam met julle te speel?
– Hoekom dink jy stuur Jesus ons om plek te maak vir alle mense in ons lewe, maak nie saak wie hulle is nie?
Aktiwiteit
Beplan om ’n lekker ete by julle huis te hou. Lees aan tafel hierdie verhaal in die Bybel en gesels oor hoe lief Jesus vir almal is.
O Here,
u goedheid is groter as die grootste boosheid;
u liefde is sterker as al die haat in ons land;
u lig skyn helderder as die donker in ons harte;
U het op aarde kom lewe om die dood te oorwin.
Daarom is ons meer as oorwinnaars
deur U wat vir ons liefhet.
Amen.
– uit ’n gebed van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu
Maandag 7 September 2020
Dissipelskap-storie: Eietydse dissipelskap
Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” (Lukas 24:13-17).
Pierre Engelbrecht van ekerk vertel:
Toe Stephan my vra om ’n paar gedagtes neer te skryf oor my verstaan van eietydse dissipelskap, het ek dadelik aan my werk en leerskool saam met ekerk gedink. Die tweede gedagte wat by my opgekom het, was Lukas 24:13-35. Die konneksie? In Lukas 24:13-35 vertel Lukas vir ons hoe die opgestane Here wegloop van sy oorwinningsfeesmaal in Jerusalem, en twee verlore dissipels, Kleopas en sy vriend, raakloop op hulle pad na Emmaus.
Jesus moduleer die volgende drie momente van dissipelskap hier vir ons:
1. Jesus is “die Weg” van dissipelskap. In Handelinge word die eerste Christene gesien as mense van “die Weg” (Hand 9:1-2; 22:4, 1953-vertaling). Hulle is mense wat die pad van Jesus volg. Dit is mense wat Jesus leef. Om op reis te wees saam met Jesus word “die weg” van Jesus wat “die weg” van dissipelskap is.
2. Jesus is én openbaar die Skrif. Jesus besluit om met die twee dissipels oor die Skrif te gesels. Hy ken die Skrifte goed, en Hy leef dit. Jesus ís die Skrif! Hy verduidelik dan vir hulle vanuit die Skrif wat dit beteken om as dissipel op “die weg” van Christus te wees.
3. Jesus eet saam. Dit is Jesus se oorwinningsmaal: droë brood saam met twee mense wat hoop verloor het. Jesus kon in Jerusalem ’n groot feesmaal gehou het, maar Hy ag dit belangriker om droë brood te eet saam met twee wanhopige dissipels.
Wat Lukas 24 ons oor dissipelskap leer, probeer ons elke dag by ekerk as eietydse dissipels uitleef: om Jesus elke dag na te leef deur ander mense “raak te leef”; om die Bybel as ons koersaanduider te leef; om saam met mense te eet. So probeer ons Jesus elke dag meer sigbaar, voelbaar en verstaanbaar maak.
Here Jesus, dankie dat U bereid is om u oorwinningsmaal te los om agter twee dissipels aan te loop en hulle terug te bring na die feesmaal. Help my om ook só ’n dissipel te wees, wat 12 km agter ander mense sal aanloop om hulle na u feesmaal uit te nooi en saam met hulle (en U) te eet. Amen.
Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” (Lukas 24:13-17).
Het jy al ’n speurverhaal gelees? Daar is ’n klomp kinkels in die verhaal, en dinge gebeur nie altyd soos jy gedink of voorspel het nie. Een lekker ding van hierdie speurverhale is om te raai hoe die storie gaan uitdraai. En dan, iewers in die storie, is daardie “aha”-oomblik wanneer al jou vrae beantwoord word en jy kan sien hoe die verhaal gaan eindig.
Dit is amper hoe die verhaal van die Emmausgangers verloop. Hierdie twee mans was op pad terug na Emmaus nadat hulle in Jerusalem was. Hulle het gedink Jesus het gekom om hulle te red, maar toe draai die storie nie uit soos hulle gedink het dit sou nie. Nie net is Jesus gekruisig nie; sy liggaam was ook weg uit die graf. Hulle het nie verstaan wat aangaan nie.
Wanneer jy hierdie verhaal verder lees, sal jy sien dat die Emmausgangers ’n “aha”-oomblik beleef het toe Jesus hulle oë laat oopgaan het. Hulle het Jesus herken. En toe maak alles vir hierdie twee mans sin. Hulle het dadelik gegaan om vir ander die wonderlike nuus van Jesus se opstanding te vertel.
– As Jesus nou by jou was en soos ’n mens met jou kon gesels, wat sou jy vir Hom vra?
– Hoekom dink jy het die mans van Emmaus dadelik die nuus aan ander gaan vertel?
Aktiwiteit
Dink terug aan die dag toe jy besef het wie Jesus is. Gaan vra iemand in jou huis om vir jou te vertel van die dag toe hulle werklik besef het wie Jesus is.
Here, ons God,
in ’n wêreld waar daar soveel eensame mense is
– op straat, in enkelkamertijies, in aftreeoorde –
dank ek U vir die weelde van vriende.
In ’n wêreld waar daar soveel gevangenes is
– in tronke, weens armoede en oorloë –
dank ek U vir die weelde van vryheid.
In ’n wêreld waar daar soveel hongerlydendes is
– in arm lande, in geweldsituasies, in plakkerskampe –
dank ek U vir die weelde van voedsel.
Ek bid dat U my empatie met ander groter en dieper sal maak;
my hartseer oor ander se swaarkry tot dade sal bring.
En dat U my oë oop en my hart dankbaar sal maak
vir die voorregte waarmee U my begenadig.
– Terry White, predikant en vredesonderhandelaar wat maande lank in Sirië en Libanon as gyselaar aangehou is
Sondag 6 September 2020
Stap doelbewus oor die digitale hoofweg
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matteus 5:16).
Die evangelie hoort tuis in die www-wêreld. Ons moet doelbewus daar aanwesig wees as Jesus se eietydse dissipels anders raak ons irrelevant. Hierdie webruimtes is nie ’n luukse vir gelowiges nie, maar ’n roeping. God se nuutste treë gebeur ook in die digitale wêreld, want die digitale wêreld gaan ook oor konneksie, ervarings, gevoelens en sigbaarheid.
Ek het vir myself hierdie “tien gebooie” vir sinvolle konneksie in die digitale wêreld uitgestippel. Mag dit jou help om opbouende digitale vingerafdrukke op jou sosialemediaplatforms neer te sit en ’n gesonde spiritualiteit rondom die gebruik van die digitale wêreld te ontwikkel.
1. Onthou, die web onthou. Post met wysheid sodat jou plasings tydloos in die kuberruim kan lê.
2. Vermy lang monoloë. Die gemiddelde persoon hou ná 19 sekondes op lees.
3. Dateer op. Gereelde sinvolle opdaterings van jou digitale aanwesigheid is ’n bewys van jou doelbewuste aanwesigheid.
4. Wees aanwesig as ’n Jesus-navolger. Dit kan ’n eietydse geloofsgewoonte word om ander só te dien en die Here in nuwe ruimtes te verheerlik.
5. Wees eg.
6. Minder is meer.
7. Benut privaat ruimtes in die digitale wêreld vir verhoudingsgroei.
8. Wees betekenisvol en relevant sodat mense aanklank sal vind by wat jy plaas.
9. Resonansie voor getalle. Vriende is belangrik, maar resonansie en goeie interaksie met ’n kleiner groep is selfs belangriker.
10. Steek die grense tussen verskillende digitale ruimtes gereeld oor.
Here, help my om ook op die web en in virtuele ruimtes ’n lig te wees wat U verheerlik. Ek wil my dissipelskap ook op sosiale media uitleef en met wysheid en integriteit optree, tot opbou van ander en tot eer van U. Amen.
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matteus 5:16).
Het jy al gesien hoe ver een liggie kan skyn wanneer dit donker is of as daar beurtkrag in die aand is? Die lig skyn ver en almal in die omgewing kan dit sien.
Wanneer ons goeie werke doen, moet dit wees soos ’n liggie wat in die donker skyn. Almal kan daardie liggie sien. Mense wat naby is, kan die lig baie goed sien, en selfs mense wat baie ver is, kan die liggie in die verte sien skyn.
Die goeie werke wat ons doen, hoef nie net vir die mense naby aan ons te wees nie. Die impak van ons goeie werke kan so ver strek dat mense wat nie naby aan ons is nie dit ook kan sien.
– Kan jy dink aan ’n paar voorbeelde van hoe mense wat nie naby aan ons is nie ook die impak van ons goeie werke kan voel?
– Wat dink jy is die doel van goeie werke?
Aktiwiteit
Wanneer dit weer donker is, of as julle beurtkrag het in die aand, neem ’n flits en stap buitentoe as dit veilig is. Kyk hoe ver jy die flits se lig kan laat skyn.
Here,
u Gees staan ons in ons swakheid by:
ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,
maar u Gees self pleit vir ons met versugtinge
wat nie met woorde gesê word nie.
God, U wat die harte deurgrond,
weet wat die bedoeling van die Gees is,
want Hy pleit,
volgens die wil van God,
vir ons elkeen.
Here God, U is vír ons,
wie kan dan teen ons wees?
Amen.
Saterdag 5 September 2020
Kreatiwiteit en Konneksies: Konneksies
Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie (Jakobus 1:17).
In The Salmon of Doubt: Hitchhiking the Galaxy One Last Time sê Doug Adams: “Everything that’s already in the world when you’re born is just normal. Anything that gets invented between then and before you turn thirty is incredibly exciting and creative … Finally anything that gets invented after you’re thirty is against the natural order of things and the beginning of the end of civilization as we know it until it’s been around for about ten years when it gradually turns out to be alright really.”
Teen 2010 was net meer as 2 miljard van die beraamde 7,1 miljard mense op ons planeet digitaal gekonnekteer. ’n Paar jaar gelede, toe die internet kleiner was, het mense nog gedink in terme van die digitale wêreld en die regte wêreld. Dit is egter, soos Clay Shirky in sy boek Cognitive Surplus sê, “an accident of history”. In 2013, sê The Radicati Group in ’n verslag, sal 154,6 miljard e-posboodskappe daagliks uitgestuur word. In Junie 2013 was daar reeds 1,1 miljard Facebook-gebruikers en 555 miljoen Twitter-gebruikers. Intussen het 2,2 miljoen boeke die afgelope jaar die lig gesien. Amazon sê vir elke papiereksemplaar daar tans 1,4 boeke elektronies verkoop word. Mense bring boonop sonder moeite 40 uur per week voor die TV deur, terwyl tieners tot 50 uur per week aan rekenaarspeletjies afstaan.
Digitaliteit het die wêreld onherroeplik ingesypel. Of ons in die stad of op die platteland bly, die wêreld is plat en vloeibaar. Die grense tussen privaat en publiek is weg. Alles en almal is onderling verbind. Nuwe digitale platforms verander die eenrigtingroete van inligting in interaktiewe multirigtingverkeer. Van kerk tot sport tot akademiese studies, noem dit en daar is interaksie op die sosialemediaplatforms van ons tyd.
Die nuwe media verander ons manier van dink, interaksie en menswees. In The Shallows haal Nicholas Carr vir John Dyer aan wat sê: “Technology is the means by which we transform the world as it is into the world that we desire … what we often fail to notice is that it is not only the world that gets transformed by technology, we too are transformed.” Ook verwys Carr na die neurowetenskaplike Merzenich wat sê: “When culture drives changes in the ways that we engage our brains, it creates different brains.”
Ons as dissipels van Jesus kan hierdie nuwe digitale tydperk gebruik om die Goeie Nuus te verkondig, in ons geloof te groei en ons gawes met ander te deel. Moenie wegskram daarvan nie; gebruik dit!
Here God, dankie dat U ’n wêreld geskep het wat altyd aan die verander en ontwikkel is. Leer my hoe om ’n dissipel van Jesus in ’n digitale wêreld te wees sodat ek ander nog meer doeltreffend kan dien, U kan eer en die goeie gawes wat U vir my gegee het, kan geniet. Dankie dat al verander alles rondom my, U altyd dieselfde sal bly. Amen.
Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie (Jakobus 1:17).
Wat is die wonderlikste ding wat jy al ooit gesien het? Dis redelik moeilik om aan net een ding te dink, want daar is soveel wonderlike dinge rondom ons. Dink byvoorbeeld aan skulpe, ’n babahondjie, nuwe tegnologie, die sonsopkoms, iemand wat hulle talente gebruik, en so meer.
God gee al hierdie dinge vir ons as geskenk omdat God vir ons lief is. Al hierdie dinge wat ons van God kry, kan ons gebruik om vir ander mense iets te verduidelik van wie God is en hoe lief God ons het.
– Watter goeie dinge het jy van God gekry?
– Hoe kan jy hierdie dinge gebruik om vir God dankie te sê?
Aktiwiteit
Maak vandag vir iemand ’n mooi geskenk om vir hulle te wys hulle is spesiaal. Vertel dan vir hulle dat God vir ons wonderlike en mooi dinge gee om vir ons te wys dat Hy ons liefhet.
Genadige God,
ons weet dat U ons gekies het,
maar ons vergeet so dikwels dat U ander óók gekies het.
U roep ons om navolgers van Christus te wees,
tog is ons meestal navolgers van die wêreld.
U daag ons uit om weg te draai van ons afgode af,
maar ons is in die versoeking om weer en weer na hulle terug te draai.
Verlos ons, Here, van onsself.
Wys vir ons ú pad.
Lei ons dade sodat ons sal leef soos U ons roep om te leef.
– Amy Loving, “Prayer of Confession”, vry vertaal; beskikbaar by https://re-worship.blogspot.com/2017/10/confession-1-thessalonians-1-1-10.html
Vrydag 4 September 2020
Kreatiwiteit en Konneksies: Kreatiwiteit
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:27-28).
Kreatiwiteit en Konneksies is die vierde geestelike leefritme wat ons daagliks kan inoefen.
God is die heel grootste kunstenaar. Hy het die heelal geskep. Onder die geklank van hemelse musiek het God die hemelliggame met glans beklee. Hy het die mens as hoogtepunt van sy skepping aanmekaargeweef.
As herskepte mense deel ons in hierdie kreatiwiteit van die lewende God. As sy beelddraers besit ons ook hierdie kreatiewe DNS. Ons is gemaak om kreatief te wees. Prakties beteken dit ons moet ons herskepte kreatiwiteit as sangers, handearbeiders, fotograwe, sportmense, entrepreneurs, tegnici, onderwysers, afgetredenes, werkloses, werkvolles, noem maar op, vir die Here en ander laat werk. Ons nuwe kreatiwiteit is mededeelsaam en ruimteskeppend.
Kreatiwiteit gaan ook saam met leergierigheid. Om op te hou leer, is om op te hou leef. Later wil ons hê niks moet die eentonige reëlmaat van ons lewe versteur nie, nie eens God se Woord nie.
John Gardner vertel in Self-Renewal: The Individual and the Innovative Society dat namate ons ouer word, ons voorliefde vir uitdagings en verandering al minder word. Geykte roetines word ’n leefstyl en ons wil nie meer nuwe dinge waag nie. “By middle life,” sê Gardner, “most of us are accomplished fugitives from ourselves.” Hoe tragies, hierdie verlies aan kreatiwiteit, leergierigheid en waagmoed.
Hoe keer ons dat dit gebeur? Deur nie op te hou vrae vra en leer nie. ’n Oop, leergierige kop is die lanseerplatform vir nimmereindigende nuuskierigheid, avontuurlustigheid en kreatiwiteit. ’n Oop kop gee jou die vermoë om met teenstrydighede en uitdagings saam te leef. Dit open nuwe roetes na God en ander. Dit is die enigste teenvoeter vir geestelike stagnasie.
Om kreatiewe dissipels te bly, moet ons lewenslange studente van die Woord en die lewe wees. Lees minstens een kreatiewe boek per maand. Laat leergierige vriende jou onderwysers wees. Laat verwondering oor God jou lewe oorstroom. Maak nuwe ontdekkings oorkant van die pad saam met Jesus. Dan word jy nooit oud nie.
Here, dankie dat ek die voorreg het om u beeld te dra en saam met U kreatief te wees. Help my om altyd leergierig te bly. Gee aan my waagmoed om nuwe dinge aan te pak en my lewe op vars maniere te sien. Ek wil my kreatiwiteit gebruik in diens van U en my naaste. Amen.
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:27-28).
Het jy dalk jou pa se ore of jou ma se oë? Dalk het jy jou ouma se tone en jou oupa se hare? Hoor jy gereeld jy lyk net soos jou boetie of sussie?
Families is geneig om na mekaar te lyk, want hulle deel hulle DNS. God se familie, al sy kinders, is na die beeld van God geskep. Tog werk dit effens anders as met aardse families wat na mekaar lyk.
Wanneer ons sê ons is na God se beeld geskep, beteken dit nie ons lyk soos God nie. Niemand weet hoe God lyk nie. Wanneer die Bybel sê ons is na God se beeld geskep, beteken dit God het ons elkeen spesiaal gemaak sodat ons dieselfde hart as God vir God se skepping en God se mense sal hê.
God het ons na sy beeld gemaak sodat ons sy hande en voete op die aarde kan wees en sy werk op aarde kan voortsit.
– Hoekom dink jy het God ons na sy beeld geskep?
– Hoe laat dit jou voel om te weet dat God jou spesiaal gemaak het?
Aktiwiteit
Kyk na ’n paar foto’s van jou familielede. Wie lyk baie na mekaar?
Here, ons bely dat,
alhoewel U daagliks …
vir ons lewe gee,
en ons onderhou,
en ons genees,
en ons red,
ons dikwels vergeet om U hiervoor te dank
en aan U die lof te gee wat U toekom.
Vergeef ons dit, en help ons, leer ons, en lei ons,
om in dankbaarheid teenoor U te leef.
Alles wat ons het, en alles wat ons is, is slegs genade uit u hand.
Amen.
Donderdag 3 September 2020
Werk en Weggee: Weggee
“Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Handelinge 20:34-35).
Hoe jammer dat baie verhale vandag gaan oor gelowiges wat twee stelle leefreëls het, een vir die kerk en een vir die werk.
Onlangs gesels my vrou met iemand wat jare lank reeds van sonop tot sononder as ’n temp werk teen ’n salaris van R1 600 per maand. Haar werkgewer, wat graag Sondae kerk toe gaan en wyd sy “getuienis” deel, ry met ’n grênd kar, maar het nooit geld om haar salaris te verhoog nie. Hierteenoor vertel Jaco Strydom van ’n mentor in een van hulle Echo-huise wat ’n goeie bevordering by sy werk gekry het. Een van sy byvoordele was ’n nuwe motor. Hy kon ’n sportmodel uitsoek, maar toe kies hy ’n people carrier, want dit sou die kinders in sy huis beter dien.
Christus se hele lewe spel vrygewigheid. Jesus self het sy heerlikheid in die hemel ter wille van ons prysgegee, en op aarde is Jesus gereeld aangegryp deur vrygewigheid. Wanneer die weduwee in Markus 12 stilweg haar laaste sente vir God gee, jubel Jesus kliphard. En toe die vrou van Markus 14 kosbare reukolie op sy kop uitgooi, vertel Hy vir almal dat al die geslagte van nou af oor haar sal praat.
Handelinge 20:35 is waarskynlik een van die belangrikste verse in die Bybel wat die minste uitgeleef word. Die Here se beginsel dat ons vrygewig moet leef, is vir ons almal bedoel. Of ons nou twee stelle klere op ons naam het, of net een, of ons baie geld het, of min. Ons almal is bestuurders van God se fondse. En alles is God s’n. Ons roeping is om sy goedheid, genade en gawes op verskillende maniere met ander te deel.
Ons hoef nie baie te hê voordat ons mededeelsaam kan wees nie. Dit gaan daaroor dat ons onsself aan God en ander gee met wat ons in ons hart en hande het. Nie ’n enkele beker water wat ons weggee, gaan ongesiens by die hemel verby nie. Weggee laat God se koninkryk op ongewone maniere aanbreek.
Hemelse Vader, dankie dat U aan my meer voorsien as wat ek nodig het. Gee my die wysheid om geleenthede raak te sien waar ek ander hartlik daarmee kan seën. Maak my net so vrygewig soos U. Amen.
“Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Handelinge 20:34-35).
Partykeer is jy nie lus om van jou goed vir ander te gee nie, want jy is bang dit raak minder of selfs op. Maar Jesus roep ons om dit wat in ons harte en in ons hande is, dit is, ons gawes en ons besittings, aan God en ander gee.
Ons hoef nie baie te hê voordat ons mededeelsaam kan wees nie. Ons hoef ook nie alles wat ons het weg te gee nie, maar ons kan dit wat ons het, deel met die mense rondom ons, veral met dié wat dit nodig het.
Dink gou aan ’n pizza. As jy een pizza het, sal jy dit moeilik weggee. Tog kan ’n pizza in ’n klomp skywe gesny word en almal kan dan saam van die pizza eet.
Jesus roep ons om dit wat ons het met ander te deel.
– Waarom dink jy stuur Jesus ons om ander te help?
– Wat het jy om met ander mense te deel?
Aktiwiteit
Maak ’n omgee-pakkie op, sommer uit dinge wat reeds in julle huis is. Jy kan seep, nie-bederfbare kos, ’n serp of mus wat jy nie dra nie, en so aan, in die pakkie sit. Hou dit in julle motor. Wanneer julle weer verby iemand ry wat hulp vra, deel dit met daardie persoon.
Vir ’n vullisverwyderaar, straatveër, herwinnaar
Here, U sien almal raak.
Vir U is elke mens kosbaar
en U gooi niemand weg nie.
Ek sien elke dag hoe mense mors en vermors.
Hoe mense dinge opgebruik en weggooi.
U weet, Here, dat ons dieselfde met mense doen.
Here, help ons mensdom om raak te sien wat waardevol is.
Help ons om mense se waarde raak te sien.
Help ons om mense te ag, lief te hê, te beskerm en te versorg,
omdat almal vir U kosbaar is.
Dankie dat ook ek vir U kosbaar is.
Amen.
Woensdag 2 September 2020
Werk en Weggee: Werk
En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kolossense 3:17).
Werk en Weggee is die derde geestelike leefritme wat ons daagliks kan inoefen.
Ek het grootgeword met die idee dat gelowiges hard moet werk en spaarsamig moet leef. Ons leuse was: “Plig voor plesier.” En: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet.”
Maar is werk regtig net swaar? Nee! Ons leef, werk en speel immers vir die Here. Ons is dissipels van Jesus vermom as mense met ’n alledaagse werk.
Wat sê die Nuwe Testament vir ons oor werk?
– Werk is ’n gegewe; nie ’n luukse of ’n straf nie (1 Tess 4:11).
– Ons werk hard en met integriteit sodat ons nie vir ander ’n las sal wees nie (1 Tess 2:9).
– Luiheid vermom as geestelike vroomheid is verkeerd (2 Tess 3:10-12).
– Harde werk is tot voordeel van die swakkes en armes (Hand 20:35).
– “Beter” beroepe met meer geld en status is nie gelyk aan bevordering in God se koninkryk nie (1 Pet 2:18).
Ons as dissipels van Jesus dans op die maat van ander musiek, ook wat ons werk betref. Ons werk nie voltyds vir ’n maatskappy en na ure as vrywilligers by ons kerk is nie. Ons is heeldag in Jesus se diens. Daarom skryf Petrus in 1 Petrus 2:18 vir huisslawe om hulle onindrukwekkende werk goed te doen, veral as hulle slegte aardse eienaars het. Hulle doen hulle werk vir die Here, nie vir mense nie. Ons almal werk vir ’n gehoor van Een.
Natuurlik bring ons ons kant vir ons aardse werkgewers, maar meer geld of hoër posisies is nie ons lewensdoel nie. Ons is ook nie verslaaf aan ons werk nie, want dit vervreem ons van ons familie en vriende. Ons is bereid is om ons doodgewone werk op buitengewone maniere te doen. Dit beteken nie ons is gekant teen bevorderings en verhogings nie. Glad nie. Die Here wil sy kinders ook in bestuursposisies en leiersrolle in die wêreld ontplooi. Maar vir Christene is sulke poste net nuwe platforms om vir die Here te leef en ander te dien.
Watter werk ons ook al doen, ons as dissipels van Jesus werk hard tot voordeel van ander. Ons is regverdig en vol deernis. Ons sien om na ander mense. Ons lei deur te dien. Ons bestuur deur om te gee en die mooiste en die beste in ander te voorskyn te bring.
Here, dankie dat ek heeldag vir U kan werk, my gehoor van Een. Ek wil elke dag my bes gee omdat U oor my regeer, nie my geld of my horlosie nie. Help my om regverdig en met deernis te werk, sodat ek die mooiste en beste in ander te voorskyn kan bring en vir hulle kan sorg. Amen.
En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kolossense 3:17).
Wanneer jy jou dag opdeel, sal jy sien dat party dele van die dag spesifiek opsy gesit word vir sekere dinge. Daar is tyd vir skool, tyd vir sport, tyd vir eet, tyd vir huiswerk, tyd vir ontspan, tyd vir slaap …
Die meeste van hierdie tye meng nie met mekaar nie. Jy kan byvoorbeeld nie slaap by die skool nie, en jy kan nie huiswerk doen terwyl jy sport oefen nie. As jy slaap, slaap jy; as jy by die skool is, doen jy skoolwerk.
Alhoewel skool en slaap of huiswerk en sport nie met mekaar meng nie, is daar een deel van ons lewe wat nie so in afdelings opgedeel kan word nie, en dit is die tyd wat ons by God deurbring.
God is altyd by ons, of ons eet, skool toe gaan, sport oefen, slaap, ontspan of huiswerk doen. Ons tyd by God kan nie ingedeel word in ’n sekere tydgleuf van ons dag nie. Vandag se Bybelvers herinner ons daaraan dat God altyd by ons is.
– Hoe laat dit jou voel om te weet dat God altyd by jou is?
– Hoekom dink jy herinner die Bybel ons daaraan dat God altyd by ons is?
Aktiwiteit
Teken ’n groot horlosie en verdeel dit in jou dag se aktiwiteite, byvoorbeeld 7:30-13:00 is skooltyd, en 14:00-:15:00 is sporttyd. Trek dan ’n sirkel rondom die hele horlosie en skryf daarin: “God is altyd by my.”
Vir mense wat werk in die regswêreld
Here God,
U het die reg lief en haat onreg.
Heilige Gees,
U is die Advokaat wat vir ons intree,
wat ons help en troos.
Drie-enige God, U laat reg geskied aan brose en kwesbare mense.
Gebruik my as instrument om reg te laat geskied,
as die laaste linie teen onreg.
Laat my altyd op die weg van geregtigheid wandel,
altyd aan u kant van die reg staan.
Laat die reg in wie se diens ek staan,
u geregtigheid wees.
Amen.
Dinsdag 1 September 2020
Saamwees en seën: Seën
Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan (2 Korintiërs 2:14-15).
Toe iemand eendag vir my sê hy wil my met ’n geskenk seën, was ek sprakeloos. Toe gaan dink ek diep en besef dis presies wat die Here van ons verwag. Ons moet ’n lewende seën vir mekaar wees. Ons moet mekaar seën met ons talente en gawes. Ons teenwoordigheid moet suurstof vir ander wees.
Paulus het dit gereeld gedoen. In Romeine 1 skryf hy dat hy op pad is Rome toe om die gelowiges daar met geestelike geskenke te oorlaai. Tog sien hy ook uit om die geestelike geskenke wat die Here in hulle lewe weggebêre het by hulle te ontvang. In 2 Korintiërs 2 skryf Paulus dat ons die aroma en aangename geur (of wierook) van God is wat die reuk van Christus afgee. Kortom, ons is ’n geur wat lewe bring. Ten diepste is ons bedoel as ’n seën vir die wêreld en vir mekaar.
Dissipels van die Here seën ander met hulle daar-wees, met ’n gebed, met ’n snytjie brood, met ’n beker water, deur op te staan teen onreg, deur namens die stemloses te praat. Dissipels doen tydig en ontydig goeie dinge vir ander, soos Paulus in Romeine 12 skryf.
Dit herinner my aan oom Con, ’n wonderlike man in ons gemeente toe ek ’n kind was. Ons jeuggroep het een jaar met Kersfees ’n ete vir gestremde kinders gehou. Oom Con het daardie dag saam met ons kom werk. Toe kos dit ’n outjie van die kinderhuis om woorde aan hierdie man se impak te gee. Tydens die ete het die seuntjie uit die bloute gevra: “Is Oom se naam dalk Jesus?”
Ek sal dit nooit vergeet nie. Mense wat ’n lewende seën word, vergeet van hulle eie behoeftes. Hulle kies om dag vir dag doodgewone dinge vir ander mense tot eer van die Here te doen. Dit is juis in die alledaagse dinge wat ons vir ander doen dat die Here se nabyheid sigbaar word.
Here Jesus, gebruik my as ’n aangename geur in die wêreld. Ek wil ander mense seën, soos U my seën. Mag U sigbaar word in my alledaagse dade en optrede in die wêreld. Al my tyd, besittings en vermoëns behoort aan U. Gebruik my. Amen.
Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan (2 Korintiërs 2:14-15).
Wierook is ’n soort parfuum wat ’n mens aan die brand steek, dan vul die geur die hele vertrek. Oral in die vertrek, waar jy ook al staan, sal jy die geur kry.
Wanneer ons volgens Jesus se voorbeeld leef, moet ons lewe wees soos die geur van wierook wat ’n hele vertrek vul. Die manier hoe ons leef, gaan nie heeltemal soos wierook werk nie, want mense sal nie kan ruik dat ons volgens Jesus se voorbeeld leef nie. Maar almal sal kan raaksien dat ons soos Jesus leef, en almal sal die goeie en die liefde van Jesus deur ons kan aanvoel.
– Wat dink jy bedoel die Bybel wanneer dit sê ons is soos wierook wat vir God brand?
– Hoe kan ons leef sodat ander mense die goeie en die liefde van Jesus in ons kan raaksien?
Aktiwiteit
Brand ’n wierookstokkie as julle het, of trek ’n vuurhoutjie en blaas dit dood. Kyk hoe lank en hoe ver jy die geur kan ruik.
Vir mense wat opknappings- en herstelwerk doen, soos loodgieters, elektrisiëns en vakmense
Here, U is die Een wat alles in stand hou,
wat heelmaak wat stukkend is.
Soos water deur pype,
soos elektrisiteit deur drade,
so vloei u krag deur ons lewe.
Terwyl ek vandag besig is met opknappings- en herstelwerk,
bid ek dat u krag deur my sal vloei,
dat U my sal gebruik
om die herstel wat U bring
te deel met almal wat ek vandag ontmoet.
Mag u heelheid die aarde vul.
Amen.
Maandag 31 Augustus 2020
Saamwees en seën: Saamwees
Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My” (Matteus 26:36-38).
Saamwees en Seën is die tweede geestelike leefritme wat ons daagliks kan inoefen.
Saamwees is koinonia; dit word gebore in God se hart. God het ons ontwerp vir verhoudings met mekaar, want die lewende God is die God van verhoudings.
In my boek Hijacked by Jesus vertel ek van God se soeke na koinonia (lewensgemeenskap) met ons:
“The story of God is the story of love. Once again, it’s all about community! That’s why God had to learn to walk. Yes, Genesis 3 tells us that God spent his late afternoons in the garden walking at a leisurely pace with Adam and Eve. In order to talk to them God first had to learn to walk with them. Up till that moment when God created the first humans he lived at eternal speed. But now he had to slow down. God slowed down enough to share himself with small human beings and the rest of creation. The first humans learned about God’s extraordinary kindness through their initial walks with him … God’s presence was the syllabus. (It still is!) The first people learned to synchronise their own lives with the rhythm of God’s footsteps. Harmony reverberated throughout creation as God and his ultimate works of art did the slow walk of life together.”
Ons kan koinonia beleef met almal wat oor ons pad kom, maar ons moet ook nie almal in ons leefruimte probeer indwing nie. Dan brand ons uit. Koinonia gebeur nie net op ’n intieme vlak nie. Jesus het net ’n klein groepie dissipels in sy intieme en persoonlike ruimte toegelaat. Meestal het Hy mense in die publieke ruimtes van die lewe ontmoet, hulle daar geseën en hulle nood verlig.
’n Gesonde ritme om jou leefruimte te bestuur is 1/2/4/8: Vir elke een mens in jou intieme ruimte, kan daar twee in jou persoonlike ruimte wees, vier in jou sosiale ruimte en agt in jou publieke ruimte. Dan gebeur koinonia op gesonde maniere. Dan brand ons nie uit omdat ons te veel verhoudings in stand probeer hou nie.
Dankie, Here, dat U bereid is om ingeperk te word sodat U saam met ons kan loop. Dankie dat U in ’n verhouding met ons wil wees. Trek my al nader aan U. Ek wil graag saam met U wandel en al my aardse verhoudings só inrig dat dit U sal verheerlik. Amen.
Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My” (Matteus 26:36-38).
Wanneer jy iets swaars soos ’n tafel moet dra, help dit altyd as iemand saam met jou dra. Dit maak die swaar tafel ligter en jy hoef nie alleen te sukkel nie.
Dit werk dieselfde wanneer jy deur ’n swaar en moeilike tyd gaan. As iemand jou help, jou ondersteun en saam met jou deur die moeilike tyd gaan, maak dit die swaar las ligter. Dan voel jy dat jy nie alleen sukkel en swaarkry nie.
Jesus het dit goed verstaan. Toe Hy in ’n moeilike tyd was, net voordat Hy gekruisig is, het Hy sy vriende gevra om by Hom te wees en Hom te ondersteun.
Ons hoef nie alleen te sukkel en swaar te kry nie. Ons kan Jesus se voorbeeld volg en ons vriende en familie vra om ons te help en te ondersteun in moeilike tye.
– Hoekom dink jy help dit as iemand jou ondersteun in moeilike tye?
– Vir wie kan jy ’n vriend wees wanneer hulle deur ’n moeilike tyd gaan?
Aktiwiteit
Stuur vir iemand ’n kaartjie of ’n WhatsApp om vir hulle te sê jy dink aan hulle.
Sondag 30 Augustus 2020
Bid en Bybel: Bid
“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose” (Matteus 6:9-13).
Gebed gaan oor die verheerliking van die lewende God. Gebed is om in verwondering voor die drie-enige God neer te val. Dit is om oor sy grootheid te juig.
Gebed is om in Jesus se Naam voor God te verskyn. Dit is om by Hom tot rus te kom.
Gebed is om God se teenwoordigheid met eerbied te betree. Dit is om stil te wag op die Here totdat Hy ons genadig is.
Gebed is aanbidding, verwondering, nederigheid en rus. Dit is om God toe te laat om ons te seën.
Gebede is woordeloos én vol woorde. Dit vloei vanuit ’n rein hart.
Gebed sluit die deure na die skatkamers van die Allerhoogste oop.
Gebed is om voor God se wil te buig. Gebed is om weer en weer saam met Jesus uit te roep: “Nie my wil nie, maar u wil, o Heer!”
Gebed laat ons ontdek hoe om ons nood en dié van ander aan die Here se voete neer te sit.
Gebed is om in die teenwoordigheid van die Een te wees wat tyd en ewigheid in sy hande vashou. Stilte is dan meer gepas as woorde. Soms is ’n sug die mees opregte gebed.
Gebed is ’n lewenslange leerskool. Ons moet dit daagliks ingeoefen, ’n geloofsgewoonte maak, want gebed is die uitdrukking van ons lewende verhouding met God.
Here Jesus, leer my bid. Nie met baie woorde nie, maar om in u teenwoordigheid te rus, U in verwondering te aanbid en voor u wil te buig. Amen.
“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose” (Matteus 6:9-13).
Het jy al ooit gewonder waarom mens bid? Ons dink dikwels oor wat en hoe ons moet bid, maar nie juis waarom ons moet bid nie. Ons bid, want dit is ’n manier om met God te gesels, maar is dit al?
Waarom bid ’n mens? Die rede hoekom hierdie vraag so moeilik is om te beantwoord, is dat daar ’n klomp verskillende antwoorde is. Ja, gebed is wanneer ons met God praat, maar dit is ook soveel meer. Gebed is wanneer ons vir God hulp vra, wanneer ons God prys of wanneer ons God vra om ons te beskerm. Gebed is wanneer ons vir God jammer sê oor die verkeerde dinge wat ons doen, en wanneer ons met God gesels oor die dinge in die lewe wat vir ons lekker of sleg is.
Gebed is nie net ’n vinnige rympie of iets wat ons doen voordat ons eet of slaap nie. Jesus het geweet ons sal soms nie weet wat om te bid nie; daarom het Hy vir ons die Ons Vader gegee om te bid. Ons moet hierdie woorde nie net soos ’n rympie opsê nie; ons moet regtig dink oor wat dit beteken om hierdie woorde te bid.
– Waarom bid jy?
– Hoe laat dit jou voel wanneer jy bid?
Aktiwiteit
Vra iemand om saam met jou die Ons Vader te lees en te gesels oor wat elke bede in hierdie gebed beteken.
Vir mense in begrafnisdienste
Here, U is die God van lewe.
Ook deur die dood, anderkant die dood,.
is daar lewe by U.
Dankie vir die voorreg om mense te begelei deur hierdie broosste oomblikke.
Gebruik my, Here, sodat mense by my lewe sal sien,
die lewe wat daar in U te vind is,
ook na die dood.
Mag elkeen met wie ek vandag in aanraking kom,
u liefde en troos beleef.
Amen.
Saterdag 29 Augustus 2020
Bid en Bybel: Bybel
Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.” Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig” (Openbaring 10:8-11).
Bid en Bybel is die eerste geestelike leefritme wat ons daagliks kan inoefen.
Ons reddingstou hemelwaarts is gebed en die Woord. Hiersonder kan ons nie leef nie.
Gebed en die Bybel hoort tuis in ons elkeen se normale ritme. Om te bid en die Woord te lees en te oordink, is lewensbelangrike momente in ons wandel met God. Dit is ons rustyd, ons etenstyd, ons groeityd, ons gimnasiumtyd, ons simfoniesaaltyd.
Sonder om die Woord as stapelvoedsel in te neem is ons op ’n geestelike hongerstaking. Ons moet die Woord eet, soos Johannes in Openbaring 10. Ons moet dit dag en nag oordink, soos Psalm 1 ons leer.
Ek wonder hoe party mense dit regkry om die Bybel net voor slaaptyd sommer op enige plek oop te slaan en ’n paar verse vinnig te lees. Hoe gemaak as hulle die slag ’n gedeelte soos Lukas 14 raaklees? Of Markus 3? Of Jesaja 58? Hulle sal nie kan slaap as hulle hierdie tekste eerlik lees nie.
Die Bybel is allermins ’n “stil” boek. Nog minder is dit ’n susmiddel of ’n slaappil. In die Gees se hande is die Bybel altyd lewend, lewensgevaarlik én lewensveranderend. ’n Tweesnydende swaard.
Die Woord daag jou uit om God met jou hele hart lief te hê. Dit vra keer op keer van jou om die prioriteite van jou lewe te heroorweeg en aan te pas in die rigting van God se wil en ter wille van ander.
Die Bybel is nie ’n slaaptydstorie nie. Die Bybel is die Woord van die heilige God wat ons wakker en waaksaam hou, wat ons voed en ons onderhou op ons pad saam met God deur hierdie lewe.
Hemelse Vader, dankie dat U my seën met u Woord wat soet is in my mond soos heuning, maar bitter in my maag, wat my verander en roer om in liefde op te tree. Help my om u Woord as deel van my lewensritme te eet en nie toe te laat dat die besige lewe my op ’n geestelike hongerstaking sit nie. Amen.
Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.” Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee. Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.” Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig” (Openbaring 10:8-11).
Ons lees dikwels vreemde verhale in die Bybel, soos vandag se Bybelverse. Wanneer ons vreemde dele in die Bybel lees, moet ons onthou dat die Bybel op verskillende maniere geskryf is.
Party dele van die Bybel vertel vir ons van geskiedkundige gebeure, van dinge wat regtig gebeur het. Ander dele is gedigte of liedere. Dan kry ons ook metafore of beelde wat gebruik word, wyshede en spreuke, en gedeeltes wat oor die toekoms praat. Daar is ook briewe in die Bybel wat mense aanmoedig en ondersteun, en dele wat mense aanpraat oor die verkeerde dinge wat hulle doen of toelaat om te gebeur.
Die Bybel is op ’n hele klomp verskillende maniere geskryf, maar een boodskap bly dieselfde deur die hele Bybel heen. Hierdie boodskap is dat God ons ongelooflik baie liefhet, en dat ons vir ander mense van God se liefde moet vertel.
– Hoekom dink jy is die Bybel op verskillende maniere geskryf?
– Wat is jou gunsteling-Bybelvers?
Aktiwiteit
Skryf ’n gedig, liedjie of storie oor wie God vir jou is.
Vir skrywers, redakteurs en uitgewers
Here Jesus,
U is die Woord wat ewig is en wat ewig sal wees.
Dankie vir die gawe van woorde,
om te kan deel in die skep van woord-wêrelde.
Mag die woorde waarmee ek elke dag besig is
lig en lewe bring,
en getuig van u goedheid en genade.
Here, seën die werk waarmee ek besig is.
Amen.
Vrydag 28 Augustus 2020
Nuwe leefritmes en gesonde karakter
Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan my hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys … Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom. Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam. In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord. Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe (Psalm 119:34-37, 145-149).
Dit is een ding om die wêreld te wil verander, maar dit is iets heeltemal anders om dit prakties te begin doen. Nie dat uitstel altyd sleg is nie. Goeie besluite het immers met goeie tydsberekening te doen. Hoe bemeester ons hierdie vaardigheid sodat ons later intuïtief kan weet wat ons moet doen en wat nie? In geloofsterme vra dit dat ons die regte geloofsdissiplines voltyds sal inoefen. Ons moet oefen en nogmaals oefen totdat ons aanvoel hoe die Here se ewige ritmes in ons lewe neerslag vind. Hierdie ritmes moet ons karakter vorm, tot eer van ons Heer.
Karaktervorming is nie oral ewe hoog op Christene se prioriteitslys nie. In ons tyd het dit veels te maklik geword om sonde onder ’n godsdienstige kombers toe te gooi. ’n Vinnige askies hier en ’n publieke traan daar, en siedaar! Alles is weer reg. Almal maak tog foute. En mense oordeel so vinnig. Maar voordat ons klippe bymekaarmaak om te gooi, moet ons dalk vra: Hoe lyk mý karakter nou? Kan ek steeds saamsing: “It is well with my soul”? Hoe lyk mý lewe voor God? Is die mens wat ek is wanneer ek alleen is en die mens wat ek tussen ander is, dieselfde mens? Of is dit alles net voorgee?
Vir gesonde karaktervorming moet ons klei, sagte klei, in die Pottebakker se hand wees. Dit vra dat ons nuwe leefritmes saam met Hom sal vind. Ek is geen kenner van die klassieke Christelike geloofsdissiplines wat deur die eeue heen in die kerk tot stand gekom het en miljoene mense se lewe tot eer van God gevorm het nie. Maar ek leer graag by vriende soos Tom Smith hoe om sulke geloofsgewoontes in lewensritmes te omskep.
Onlangs het ek die voorreg gehad om die manuskrip van sy nuwe boek te lees. By hom en ander het ek geleer om meer gefokus te leef. Tog moet ek ook my eie storie leer skryf en uitleef aan die hand van geestelike leefritmes. Wie weet, dalk werk my geloofsgewoontes en leefritmes ook vir jou. Hier is hulle:
1. B & B (Bid en Bybel)
2. S & S (Saamwees en Seën)
3. W & W (Werk en Weggee)
4. K & K (Kreatief en Konneksies)
Ek hoor so dikwels: “Eendag gaan die wêreld anders wees.” Maar met ons leefritmes kan ons kies om die wêreld nou al te verander, hoe gering ook al.
Liewe Here, dankie dat U besig is om my te vorm en meer aan u beeld gelyk te maak. Help my om met Bybelse leefritmes te leef sodat ek sagte klei sal wees in U, die Pottebakker, se hand. Amen.
Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan my hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys … Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom. Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam. In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord. Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe (Psalm 119:34-37, 145-149).
Om in God te glo is nie iets wat ons net met woorde moet sê nie; ons moet ook met ons lewe wys dat ons in God glo.
Partykeer is dit maklik om te praat, maar as dit by die doen-deel kom, is dit nie so maklik nie. Dit is soos om te sê jy kan 5 km draf, maar jy trek nooit jou tekkies aan en gaan draf daardie 5 km nie.
Ons kan vir God vra om ons te help om Hom te verheerlik met die manier waarop ons leef.
– Hoekom dink jy kan ons nie net sê ons glo in God nie, maar dat ons dit ook moet wys?
– Hoe kan jy met jou lewe wys jy glo in God?
Aktiwiteit
Dink aan een gewoonte wat jy deel van jou lewe kan maak om te wys jy glo in God. Oefen hierdie week dié gewoonte sodat dit deel van jou lewe kan raak.
Vir vlugkelners
Here, in u hande is ons veilig,
ons is beskut onder u vlerke (Ps 91).
Daarom bid ek dat U my
en almal wat vandag op reis gaan wees,
sal beskerm.
Help my om vriendelik te bly,
om moeilike passasiers met liefde ferm te hanteer.
Mag mense in my diens en beskerming
iets weerspieël sien
van u liefde en sorg.
Amen.
Donderdag 27 Augustus 2020
Volgelinge van Jesus doen die lewe saam
Onverwags kom daar mense met ’n verlamde man op ’n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur ’n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe” (Lukas 5:18-20, 24).
Uit ervaring het ek geleer die beste plek vir mense om te groei, om beter mense te word, om geestelik te groei, om meer soos Jesus te word, goeie “ou-skool” vriendskappe is. In my vriendekring is ons diep in mekaar se lewens gewortel. Ons praat amper elke dag, eet saam, drink saam wyn, lag saam en huil saam, en praat mekaar aan. Ons maak mekaar se yskaste oop en help onsself. Ons weet wat mekaar se inkomstes en begrotings is. Ons raak kwaad vir mekaar en praat daardeur. Ons is lief vir mekaar, en ons sê dit vir mekaar.
Ons deel alles. Ons beskerm mekaar teen onsself en red mekaar gereeld. Ons daag mekaar uit om te lees, te doen, vrygewig te wees en lief te hê. Ons groep is soos die vier vriende wat hulle vriend deur die dak tot voor Jesus se voete laat sak het. Soms is jy die een op die mat, en ander kere is jy een van dié op die dak. Jesus vergewe die sonde van die een op die mat op grond van die geloof van sy vriende. Ons redding is letterlik van ons vriendskappe afhanklik.
Die uitdaging vir ons elkeen, en vir elke geloofsgemeenskap, is om mense te wees wat doelbewus sulke vriendskappe bou. Niemand kan jou indeel in so ’n groep nie, want die beste dissipelskapvriendskappe is juis dié wat spontaan ontwikkel.
Die waarheid is, die meeste van ons het reeds sulke vriende, ons moet net meer na mekaar toe leef en aan die verhouding bou, van albei kant af. Want ’n dissipelskapvriendskap is nie eensydig nie.
Wie is hierdie groep vir jou? ’n Vriend van ons gemeenskap het my eendag ’n vraag gevra as antwoord op hierdie vraag. En nou gebruik ek gereeld sy vraag om mense te help identifiseer wie hulle hegte vriende is: “Wie is die eerste persoon wat jy sal bel as jy laat die nag by jou motor kom en jy vind die lyk van ’n prostituut in jou kattebak?”
Daardie eerste paar gesigte wat deur jou gedagtes flits, dít is die mense wat jou deur die dak tot voor Jesus se voete sal laat sak.
Dankie, Here, dat ons nie alleen deur hierdie lewe hoef te gaan nie, maar dat U ons seën met vriende wat saam met ons groei en aan ons skaaf. Help my om ’n getroue vriend te wees, wat bereid sal wees om ander deur dakke te laat sak om by U uit te kom. Amen.
Onverwags kom daar mense met ’n verlamde man op ’n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur ’n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe” (Lukas 5:18-20, 24).
Jy kry verskillende soorte vriendskappe. Vriende wat jy baie sien, vriende wat jy min sien, vriende by die skool, vriende by jou sport, en so kan jy nog baie voorbeelde opnoem. Een ding van vriendskappe wat baie belangrik is, is dat vriende mekaar moet ondersteun en goed wees vir mekaar.
Die verhaal van die vriende wat hulle verlamde vriend na Jesus toe gebring het, wys vir ons hoe belangrik dit is. Hierdie vriende het baie omgegee vir hulle verlamde vriend en hulle het geweet Jesus kan wonderwerke doen. Daarom het hulle nie moed opgegee totdat hulle vriend by Jesus was nie. Ons werk as volgelinge van Jesus is om ook sulke goeie vriende vir ander te wees.
– Hoekom dink jy is vriendskappe belangrik?
– Wat kan jou help om ’n goeie vriend vir iemand anders te wees?
Aktiwiteit
Dink aan iemand wat al vir jou ’n goeie vriend was, maar met wie jy nie so gereeld praat nie. Skryf ’n spesiale briefie vir hierdie vriend om vir hom of haar dankie te sê vir julle vriendskap.
Vir almal in die informasietegnologie-bedryf
Here, U is die God van konneksies en verbindings.
Daarom kan ons in ’n hegte verbintenis met U leef,
en in verbindings met mekaar leef.
Here, gebruik my stelsels en kodering en ontwerpe
om mense aan mekaar te verbind,
om werk en pligte vlot en vinnig te laat verloop,
en veral om mense in digitale wêreld te laat onthou
dat rekenaars en stelsels nooit mense sal vervang nie.
Want U het ons die kroon van u skepping gemaak.
Amen.
Woensdag 26 Augustus 2020
Groei reg
In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” (Matteus 18:1-5).
In die lig van Dunbar se navorsing oor die getal mense met wie ons hegte verhoudings kan bou, stel gelowiges dalk soms onrealistiese eise aan mekaar en aan geestelike leiers? Beteken dit groter kerke moet ontbind, en kleiner groepe wen?
Nee, glad nie. Selfs groot organisasies kan op die Dunbar-beginsel funksioneer. Die skrywer Malcolm Gladwell vertel in sy boek The Tipping Point van ’n multimiljoendollar-maatskappy in Amerika, Gore Associates in Newark, Delaware, wat ingekoop het in hierdie beginsel van sowat 150 mense per eenheid. Hulle het dit getoets deur hulle reuse-hoëtegnologie-besigheid in kleiner groepe te verdeel. Hier werk almal sonder titels. Hulle het geen begrotings of strategiese planne nie. Base is vervang met mentors. Groot kantore vir uitvoerende personeel is verruil vir eenvoudig gemeubileerde ruimtes. Gore Associates is reusagtig, maar hulle funksioneer in groepe wat nooit groter as 150 is nie. Hierdie reusagtige “klein” organisasie, wat in 2012 aangewys is as een van die beste maatskappye in die VSA om voor te werk, kom uitstekend reg sonder veelvoudige bestuurstrukture. Groepdruk en spanwerk lewer volgens hulle veel beter resultate as hiërargiese strukture. Lojaliteit en die uitdaging om aan mekaar se verwagtings te voldoen en topprodukte te lewer, maak Gore ’n verhoudingaangedrewe maatskappy.
As groot besighede snap dat verhoudings meer doeltreffend in kleiner groepe werk, en as individue op sosiale netwerke dit snap, moet ons as volgelinge van Jesus dieselfde roete volg. Dan sal daar veel minder uitbranding wees. Dan sal gelowiges verantwoordelikheid aanvaar vir hulle stukkie lewe en hegte verhoudings met ’n groepie mense rondom hulle bou.
“Small is the new big and tall.” En tog, as groot of klein nie doeltreffend is in terme van die sterker en dieper vloei van God se koninkryk nie, is dit steeds die verkeerde grootte. Die regte grootte vind ons in Matteus 18:1-5. Willem Badenhorst het gesê: “Jy word nie gedefinieer deur jou uiterlike nie; daarom hoef jy nie mense te beïndruk deur wat jy doen of hoe jy lyk nie. Beïndruk hulle eerder deur wat jy glo en hoe jy leef.”
Laat ons dan vandag ons stukkie leefruimte anders laat voel en anders inrig, in Jesus se Naam.
Vader, help my om “kleiner” te groei en baie waarde aan my verhoudings te heg volgens die beginsels van u koninkryk. Ek wil soos ’n kind in my stukkie leefruimte uitbundig met liefde en vrede leef, saam met my medemens. Amen.
In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” (Matteus 18:1-5).
Wanneer jy ’n babatjie is, kan jy niks vir jouself doen nie. Al wat jy kan doen wanneer jy iets nodig het, is om te huil en te vertrou dat die mense wat na jou kyk vir jou sal gee wat jy nodig het. ’n Baba is heeltemal afhanklik van sy of haar ouers of die mense wat na hom of haar kyk.
Die manier waarop babas heeltemal afhanklik is van die mense wat hulle versorg, help ons om te dink oor hoe ons verhouding met God behoort te wees. Al kan ons al hoe meer dinge vir onsself doen hoe ouer ons raak, moet ons onthou dat ons altyd van God afhanklik is om vir ons te sorg.
– Wat beteken dit om afhanklik van iemand te wees?
– Hoe laat dit jou voel om te weet God sorg vir jou?
Aktiwiteit
Sing die liedjie “Hy hou die hele wêreld in sy hand”. Kyk hoeveel verse met verskillende dinge wat God in sy hand hou, kan jy uitdink en sing. Hier is ’n paar voorbeelde: Hy hou vir Oupa en Ouma in sy hand. Hy hou vir boetie en sussie in sy hand. Hy hou my liewe juffrou in sy hand.
Vir wetenskaplikes
Skepper-God,
watter genot om in die skepping rond te krap,
te soek en te ondersoek,
te leer hoe dinge inmekaarpas.
Dankie dat U aan die mens die verstand gegee het
om hierdie dinge te kan ondersoek,
om nuwe dinge te ontdek,
om te verstaan.
Here, gebruik my werk
om die mens se lewensgehalte,
ons impak op die skepping
en ons verstaan van die wêreld
te verbeter.
Mag my werk ons help om elke dag
in verwondering en met ontsag
voor U te leef.
Amen.
Dinsdag 25 Augustus 2020
Dissipels leef vrygewig
Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: “Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word (2 Korintiërs 9:6-11).
Ek omring ek my graag met mense soos die wonderlike ekerk-span. Om saam met hulle op Jesus se pad te stap, vra dat ek gereeld my kinderskoene sal aantrek. Ons is mekaar se lewende agendas. Daarom verskyn daar nie juis formele punte op ons agendas nie. Ons maak tyd om saam met mekaar koffie te drink en te eet. Ons vergaderings, as ’n mens dit so kan noem, gebeur veral in koffiewinkels. Ons kuier ook gereeld op ’n Vrydagoggend saam rondom die Woord. Dit gebeur in ’n restaurant met goeie koffie en die Here as ons eregas.
Om te detoks van ons voorliefde vir geld, dwing die ekerk se raad ons om ons inkomste ruim weg te gee en sonder ’n begroting te leef. Ons doen dit waagmoedig en intuïtief.
Die ongeveer agt mense wat ekerk se koninkryk-aangedrewe span uitmaak en wat Jesus sigbaar, voelbaar en verstaanbaar probeer uitleef, werk en speel saam as ’n familie sonder formele werkkontrakte. Ons woord is ons etiese verbintenis aan mekaar. Nee, dis nie ’n idilliese familie hierdie nie. Inteendeel. Ons raak soms omgekrap met mekaar. Maar tot eer van die Here word mense oor die wêreld heen deur hierdie span gedien, deur ’n webblad, noodprojekte en leierskapopleiding.
Hoe lank sal hierdie droom aanhou? Wel, so lank as wat dit die Here pas. Intussen is ons te besig om elke dag uit te koop in sy Naam om aan ophou te dink. Ons wil nuwe koninkrykstories beleef en help skryf. Ons wil dissipels wees in die woorde van my vriend Pieter Badenhorst: “Om sommer net iemand anders se hand te vat en die lewe se berge en valleie saam met hom of haar te loop – dis dissipelskap. Om sommer net iemand anders se trane af te vee, salf op sy seer te smeer, haar motor aan die brand te stoot, uit jou maag uit saam te lag, ’n glasie te klink op sy oorwinnings, vir haar en jouself te bly bid – dís dissipelwees … ”
Ek stem!
Hemelse Vader, dankie dat U my van meer voorsien as wat ek nodig het. Help my om klein genoeg te groei om ’n goeie dissipel van U te wees. Ek wil vrygewig en oorvloedig my besittings uitdeel, om ander ook te seën met dít wat U aan my geleen het. Mag U daarvoor die dank kry. Amen.
Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk (2 Korintiërs 9:6-9).
As jy R1 000 sou kry, wat sou jy daarmee doen? Jy het sekere baie planne vir daardie R1 000! Nou wonder ek, is een van daardie planne om van die geld vir iemand anders te gee?
Vandag se Bybelverse herinner ons dat dit deel van ons werk as Jesus se dissipels is om van ons geld en besittings weg te gee, sonder om iets terug te verwag. Ek dink nie dit is so vreemd nie, want ons gee gereeld van ons geld en besittings weg. Wat wel vreemd is, is hóé die Here van ons vra om te gee. Ons moenie net ’n bietjie gee of dit wat oorbly nie. Ons moet baie gee, en ons moet heel eerste gee, voordat ons enigiets anders doen. En ons moet met ’n vrolike hart gee.
– Hoekom dink jy moet ons van ons geld en besittings vir ander mense gee?
– Wanneer ons iets gee, dink jy ons kan iets terugverwag? Hoekom, of hoekom nie?
Aktiwiteit
Neem ’n muntstuk en laat dit op die tafel spin. Kyk hoeveel plekke waar jy van jou geld of besittings vir ander mense kan gaan gee, kan jy opnoem voordat die muntstuk plat val.
Vir almal wat gemeenskapsdiens lewer en vir niewinsgewende organisasies werk
Here, ek weet U gee om oor wat met ons gebeur
wanneer ons doodgaan,
maar mense, lewens, die aarde
maak ook nou reeds vir U saak.
U wil vir ons elkeen ’n goeie lewe.
Dankie dat ek kan meewerk tot die bou van hierdie goeie lewe.
Maar U ken my frustrasie.
U ken mense se pyn.
U weet hoe oorweldigend alles kan raak,
hoe dit soms voel of ons nie genoeg ’n verskil maak nie.
Here,
help ons,
gebruik ons,
seën die werk wat ons doen,
laat dit vrug dra,
sodat mense in hierdie lewe u goedheid, genade en bevryding kan beleef.
Amen.
Maandag 24 Augustus 2020
Nuwe kinderverhale
Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ’n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af” (Matteus 13:34-35).
“Vertel my ’n verslag.”
Het jy al ooit ’n kind so iets hoor vra? As jy ’n ouer is, weet jy kinders wil boeiende stories hoor, nie verslae of akademiese verhandelinge nie.
Kinders se lewe is vol stories. Grootmense s’n ook. Geen wonder dat stories die belangrikste tekssoort in die Bybel is nie. God leer ons sy groot lesse in die vorm van stories, en Jesus is die lewende hoofkarakter in God se heel belangrikste verhale. Boonop skryf die Heilige Gees hierdie verhale vars en nuut oor op sy kinders se harte.
Jesus self was die heel beste Storieverteller. Hy het dikwels die mense deur stories geleer. In Matteus, Markus en Lukas tref ons nie minder nie as 247 van Jesus se gelykenisse aan. Deur sy aangrypende gelykenisse het Jesus groot vensters op God se nuwe wêreld vir mense oopgemaak.
Elkeen wat bereid is om na Jesus se stories te luister, ontvang ook ’n persoonlike uitnodiging om daarvan deel te raak. Jesus se stories is immers nie bedoel as slaaptydstories nie, maar as leef-stories. Sy gelykenisse roep ons nie op om hierdie wêreld te verander nie, maar om God se nuwe wêreld tussen ons te laat grondvat, om ons gebroke wêreld met God se nuwe wêreld te vervang.
Ons kort elke dag nuwe stories, hoop-stories. Een goeie storie in God se koninkryk skakel 100 negatiewe stories uit. Een nuwe koninkryk-opskrif teen die lamppale aan die oorkant van die pad, maak nuwe vensters op God oop.
Ons kort sulke stories in ons lewe, want, soos Jeff Goins skryf in sy voorwoord tot Scott McClellan se boek Tell me a Story: Finding God (and Ourselves) Through Narrative: “The secret to telling a great story is living one.” Kom ons gaan leef Jesus se stories in ons hoekie van die wêreld.
Here, U is die groot storieverteller. U stories is nie slaaptydstories nie, maar leef- en doen- stories. Ek wil graag ’n karakter wees in u reddingsverhaal met die wêreld. Mag ander u storie van hoop in my lewe raaksien. Amen.
Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ’n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af” (Matteus 13:34-35).
Jesus het graag stories gebruik om vir mense belangrike dinge te verduidelik. Hierdie stories word gelykenisse genoem. Die rede waarom Jesus gelykenisse vertel het, is baie eenvoudig: Mense onthou stories baie maklik, en ’n storie help jou om iets beter te verstaan.
Dink aan jou gunstelingboek en -fliek. Jy onthou maklik waaroor die storie gaan, nie waar nie? Jesus het geweet dat mense graag na stories luister en dit sal onthou. Dit is hoekom Hy altyd belangrike waarhede met stories verduidelik het.
– Wat is jou gunsteling-gelykenis wat Jesus vertel het?
– Hoe dink jy sal die storie oor jou en Jesus se verhouding klink?
Aktiwiteit
Vra vir die mense in jou huis wat hulle gunsteling-gelykenisse is.
Vir kinderoppassers en au pairs
Hemelse Vader,
dankie dat ek u kind kan wees.
Dankie dat ek vir hierdie kinders ’n voorbeeld kan wees,
dat ek hulle kan leer van die lewe
en van u liefde.
Ek bid dat U my sal gebruik,
dat ek hulle sal liefhê,
hulle sal begelei op só ’n manier,
dat hulle deur my vir U sal liefkry.
Amen.
Sondag 23 Augustus 2020
Verhoudings bly belangrik
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar (Kolossense 3:12-15).
Robert Dunbar, ’n Britse akademikus en navorser, het interessante navorsing gedoen oor die maksimum hoeveelheid mense met wie ons in sinvolle verhoudings kan staan. Hy het in sy ondersoeke onder verskillende kulture ’n interessante tendens opgemerk: Mense het ’n kapasiteit vir sosiale verhoudings met ongeveer 150 mense. Vanaf primitiewe groepe, klein nedersettings tot by antieke weermag-eenhede het Dunbar die getal 150 aangetref.
Hierdie groepe het sowat 42% van hulle tyd aan sosiale verhoudingsbou afgestaan. Nooit deur die loop van die geskiedenis was dit, volgens Dunbar, vir iemand moontlik om meer as 150 mense op ’n slag persoonlik te ken of doeltreffend met hulle in ’n span saam te werk nie. Persoonlike lojaliteit, asook onderlinge sorg vir mekaar, kan nie sinvol in groter groepe gebeur nie. Sodra ’n groep die “towergetal” van 150 oorskry, vind afsplitsing en spontane onderverdeling plaas.
In ’n studie van 2002 het Dunbar ook na sosiale netwerke in die Westerse samelewing gekyk. Weer het hy bevind dat die gemiddelde netwerk van moderne mense 153,5 mense insluit. Baie navorsers het intussen Dunbar se teorie ondersoek en met ander getalle na vore gekom, enigiets vanaf 100 tot 290. Selfs op digitale sosiale netwerke soos Twitter geld hierdie getalle vir sinvolle persoonlike netwerke. In ’n studie van Gonçalves, Perra en Vespignani in 2011 het hulle die aktiwiteite van 1,7 miljoen Twitter-gebruikers oor ses maande gemonitor en bevind dat Dunbar se teorie ook hier geld. Die gemiddelde Twitter-gebruiker kan ’n maksimum van 100-200 stabiele verhoudings op hierdie platform handhaaf.
Wat sê dit vir ons as gestuurdes van Jesus? Verhoudings is deurslaggewend, ook vir ons. Die dilemma is dat baie van ons aan verhoudingsuitbranding ly. Ons probeer te veel verhoudings bou en in stand hou. Die uitkoms hiervan is dat ons kortaf, onvriendelik en geïrriteerd raak. Daar is net te veel mense aan wie ons aandag moet gee. Ons dagboeke is oorvol en ons tyd te min.
Ons uitdaging is om sinvolle verhoudings te bou wat gekenmerk word deur meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, geduld, vergifnis en vrede. En om ons aanpasbaar te wees in ons menseverhoudings om ons groep te laat krimp of groei namate ons omstandighede verander.
Liewe Vader, help my om my verhoudings volgens u wil in te rig. Ek wil graag u liefde deur my optrede na alle mense weerspieël. Ek wil diep en betekenisvolle verhoudings bou met die mense wat U as my naaste oor my pad stuur, al beteken dit ek moet aanpassings in my dagboek maak. Amen.
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar (Kolossense 3:12-15).
Wanneer jy oefen, raak jy fiks en sterk. Hoe meer jy van ’n sekere soort oefening doen, hoe makliker kry jy dit reg. Dink aan gewigte optel: Jy begin by ’n ligte gewig en oefen dan om al hoe swaarder gewigte op te tel, totdat jy ’n baie swaar gewig kan optel.
Gelowiges het ook ’n paar dinge, eintlik eienskappe, wat hulle moet oefen. Nie om fiks en sterk te word nie, maar om al hoe meer soos Jesus te word.
Vandag se Bybelvers noem ’n hele lys van hierdie eienskappe. Ons gaan dit nie altyd regkry om al hierdie eienskappe uit te leef nie, maar as ons aanhou oefen om dit reg te kry, sal dit al hoe makliker word.
– Kyk of jy vyf eienskappe in vandag se Bybelverse kan raaksien waarmee jy nog sukkel en wat jy nog meer sal moet oefen om te kan uitleef.
– Hoekom dink jy is dit belangrik dat gelowiges hierdie eienskappe moet oefen?
Aktiwiteit
Kies een van die eienskappe waarmee jy nog sukkel en oefen hierdie week om dit beter reg te kry. Jy kan sommer die woord groot op ’n vel papier neerskryf en dit opplak waar jy dit gereeld sal sien. Dan sal jy onthou om te oefen.
Vir almal in die vervoerbedryf, logistieke bestuurders, vragmotorbestuurders, treindrywers, koeriers
Here, U ken my.
Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend (Ps 139).
Dankie dat ek kan weet U is altyd by my.
Op die pad of by die huis,
ek is nooit alleen nie.
Daarom bid ek dat U my sal beskerm.
Mag ek veilig reis
en veilig by my eindbestemming aankom.
Amen.
Saterdag 22 Augustus 2020
Vreemde oorwinning
“Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in …” Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is” (Lukas 10:3, 17-20).
Jesus gee nie vir sy gestuurdes ’n paar vinnige resepte om ander mense tot bekering te lei nie. Daar ís geen kortpaaie nie. Nee, hulle moet vir regte mense met regte name en regte adresse van God se koninkryk gaan vertel en die evangelie tussen hulle gaan uitleef. Hulle moet omgee vir siekes en stukkendes en vir hulle bid (Luk 10:8-10). Die koninkryk gebeur wanneer hierdie gestuurdes aan die oorkant van die pad tot seën van ander leef, werk en feesvier.
Gestuurdes is lammers, maar hulle het ook groot gesag. Om hulle boodskap te verwerp is om die Here te verwerp (10:13-16). Hulle gesag setel in Hom. Die lammers self is swak, maar die Here is saam met sy lammers op reis. Daarom ken hulle groot oorwinnings en uitbundige vreugde (10:17-24). Die blydskap borrel oor hulle lippe in Jesus se teenwoordigheid. Hulle is kinderlik opgewonde oor die nuutste hoofnuus in die koninkryk van God: siekes word gesond; duiwels vlug; mense kom tot inkeer, en die koninkryk van God groei.
Wat ’n wonderwerk dat God lammers gebruik om duiwels te verslaan en wolwe te verwilder. Hoor weer: Lammers verjaag duiwels en troef wolwe! Kleintjies oorwin groot teenmagte. Wat ’n vreemde en verrassende taakmag! Tog sê Jesus hulle grootste vreugde moenie die oorwinnings wees nie, maar dat hulle name in die hemel opgeskryf is (10:20). Dáárheen is elkeen op pad wat die goeie nuus van Jesus omhels.
Here, U werk so verrassend in die wêreld. U stuur ons soos lammers tussen wolwe in, maar dan is dit juis die lammers wat die oorwinning behaal, want U is by ons. Hier is ek, Here, stuur my volgens u wil. Amen.
“Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in …” Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “… En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is” (Lukas 10:3, 17-20).
Dit is lekker om ’n resep te volg wanneer jy iets bak. Die resep gee vir jou die presiese instruksies en stappe hoe jy te werk moet gaan.
Wanneer ons vir ander mense van Jesus vertel, is daar ongelukkig nie sulke presiese instruksies en stappe nie. Jesus het vir ons ’n paar leidrade gegee van wat en hoe ons dit kan doen, maar dit is al. Daar is geen perfekte resep wat ons kan gebruik nie, want elke mens is anders. Ons taak is om met mense oor Jesus te gesels op ’n manier wat vir hulle sal werk en wat hulle nader aan Jesus sal bring.
– Hoekom dink jy is daar nie spesifieke instruksies om vir ander mense van Jesus te vertel nie?
– Wat help ons om vir ander mense van Jesus te vertel?
Aktiwiteit
Vra toestemming om vandag iets te bak. Volg die instruksies van die resep baie goed.
Verveeldheid
Nog ’n dag.
Dieselfde goed.
Niks waaroor ek opgewonde raak nie.
Here, almal praat oor “passie” en “roeping”,
maar ek doen maar net elke dag wat ek moet doen
sodat ek brood op die tafel kan sit.
Ek geniet dit beslis nie.
Dis vervelig.
Niks wat my uitdaag nie,
niks nuuts nie,
niks van waarde nie,
dieselfde rompslomp oor en oor.
Here, help my om sin te vind,
ook in die werk wat my verveel.
Help my om ook in hierdie werk,
wat vir my so sinloos voel,
my bes te doen,
om U te eer.
Help my om my waarde raak te sien,
om te beleef dat ek kosbaar is in u oë,
al is ek nie besig om die wêreld te verander nie.
Mag my lewe, my gesindheid, altyd van u grootheid getuig.
Amen.
Vrydag 21 Augustus 2020
Gestuurdes
Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in” (Lukas 10:1-3).
Lukas 10 is ’n aangrypende gedeelte. Hier word drie pilare van die navolging van Jesus prakties uitgespel. Jesus leer ons hier dissipels is:
– gestuurdes in Jesus se Naam (10:1-20)
– gestuurdes wat oor die pad stap om ’n naaste vir ander in Jesus se Naam te gaan wees (10:25-37)
– gestuurdes wat rus gevind het aan Jesus se voete (10:38-42).
Jesus self stuur sy mense uit. Die 72 gestuurdes na wie Lukas hier verwys, verteenwoordig ons almal. Hierdie groepie wat voor Jesus uitgegaan het op sy reis na Jerusalem, was deeglik bewus van die oormag teen hulle. Daarom hoor hulle dat hulle moet bid vir nog werkers. Ware gestuurdes van Jesus leef hulle geloof in die voorste loopgrawe van die lewe uit en nooi ander werkers in gebed saam met hulle daarheen. Hulle leef soos Wilhelm Leuschner gesê het: “Moenie net weet nie, doen dit! Moenie net doen nie, leef dit!”
Hierdie gestuurdes weet hulle sending kan gevaarlik wees. Jesus self sê Hy stuur hulle soos lammers tussen wolwe in (10:3). Praat van ’n brose rolbeskrywing! Nee, hulle is nie leeus wat brul nie. Of olifante wat vreesloos deur die bos stap nie. Jesus se mense is lammers. Nie skape nie, maar lammers. Daarom kan hulle slegs op die Here vertrou vir die oorwinning. Hulle self is te swak om enigiets reg te kry.
Jesus sê ook daar is geen byvoordele vir sy gestuurdes nie. Geen geld, gerief of gewildheid wag op hulle nie. Omdat die Here hulle uitstuur, is daar egter ’n dringendheid en ’n opgewondenheid in hulle harte. Soos kindertjies is hulle op ’n groot avontuur saam met hulle Heer. Daarom het hulle nie tyd het vir sinlose praatjies langs die pad nie (10:4). Jesus se gestuurdes het reeds die straat oorgesteek (10:5-7). En aan die oorkant van die pad is hulle voltydse verhoudingbouers. Voltyds ’n naaste vir ander.
Here Jesus, hoe wonderlik is dit dat U saam met my en deur my wil werk in hierdie wêreld. Dankie dat U my ook stuur. Help my om rus te vind by u voete en dan oor die pad te stap na my naaste toe. Dit is die grootste avontuur om saam met U hierdie pad te stap. Amen.
Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in” (Lukas 10:1-3).
In vandag se Bybelverse lees ons dat Jesus van sy eerste volgelinge uitgestuur het om sy boodskap van liefde en genade te gaan verkondig.
Net so stuur Jesus ons vandag nog uit om sy boodskap van liefde en genade aan ander mense te gaan vertel. Jesus waarsku ons dat dit nie altyd maklik gaan wees. Eerstens herinner Hy ons dat dit harde werk gaan wees, want ons sal die boodskap van liefde en genade nooit genoeg kan verkondig nie. Tweedens waarsku Jesus ons dat dit moeilik gaan wees, want nie almal gaan van hierdie boodskap hou nie.
– Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus jou uitstuur as een sy dissipels?
– Wat is dissipels van Jesus se taak?
Aktiwiteit
Oefen vandag ’n bietjie hoe jy vir ander mense van Jesus se liefde en genade kan vertel. Begin by hoekom jy lief is vir Jesus en dat Jesus almal liefhet, maak nie saak wie jy is of wat jy gedoen het nie.
Vir mense in die staatsdiens
Here, soms voel ek soos ’n rat in ’n masjien,
met nóg vorms om in te vul,
nóg regulasies om toe te pas.
Help my om te onthou dat hierdie rat ’n belangrike funksie het,
dat die masjien nie sonder my kan funksioneer nie,
dat U wil hê dat dinge gepas en ordelik gedoen moet word.
Here, gebruik my om orde te skep
sodat almal in ons land veilig en gemaklik met hulle lewe kan voortgaan.
Seën elke interaksie wat ek vandag met mense gaan hê –
met die publiek en met kollegas.
Al raak ek moeg, al raak mense ongeduldig,
mag hulle altyd in my optrede
liefde en respek beleef.
Mag u lig deur my straal.
Amen.
Donderdag 20 Augustus 2020
Vertrou die hemelse vuur in jou
Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het (2 Timoteus 1:6-9).
Ons moet ons Godgegewe intuïsie vertrou. Die Gees lei ons immers ook hierdeur. Te veel nadenke kan in die pad van die Gees staan en lei nie noodwendig tot beter besluite nie.
In ’n artikel van 29 Maart 2013 in die Britse Daily Mail Online skryf Anthony Bond oor nuwe navorsing wat wys dat blitsvinnige beslissings, daardie spur of the moment-besluite, soms net so doeltreffend is soos besluite waaroor ons lank nadink. ’n Span neurowetenskaplikes onder leiding van dr Zachary Mainen het bevind dat verskillende spesies dieselfde gunstige resultate oplewer wanneer perseptuele besluite onder druk geneem moet word. Mainen se gevolgtrekking was: “There are many kinds of decisions, and for some, having more time appears to be of no help.”
Wyse dissipels talm nie as die vuur in hulle binneste begin brand om saam met Jesus die pad oor te steek na waar Hy hulle wil gebruik nie. Of dit nou beteken ’n bestaande gemeente moet getransformeer word, ’n kosprojek vir honger mense moet van die grond af kom of ’n jeuggroep moet gelei word, ons rus in die Here moet daartoe oorvloei dat ons saam met Hom die pad oorsteek.
Terselfdertyd moet ons ernstig bid en die Skrif deeglik ondersoek om te sien of wel op die regte pad is. Ook moet ons ons omring met Geesgevulde mense wat die moed sal hê om vir ons te sê as ons die verkeerde koers kies. En dan moet ons koers vat. Dit help nie ons is op die regte pad, maar ons staan stil nie. Ons hoef nie te wag vir ’n groen lig nie. Die Here se lig is lankal groen. Die pad na die oorkant toe is oop. Jesus kan nie nog ’n dag langer uitstel nie. Sy verlore eiendom moet gesoek en gevind word. Daar is stukkende lewens wat die Gees se genesende aanraking kort. Daar is kos wat uitgedeel moet word. Daar is vrede wat gemaak moet word. En ja, daar is mense wat jou ook sal seën met hulle teenwoordigheid daar oorkant die pad. Jy steek immers nie net die pad oor om die Goeie Nuus met ander te deel nie, maar om self ook geseën te word. Die Here se seën wag vir jou daar aan die Samaritaan se kant van die pad.
Hemelse Vader, dankie dat U my wil gebruik om die pad na ander toe oor te steek. Laat brand die vuur in my hoog sodat ek U met oorgawe en passie sal dien. Dankie dat U deur u Gees vir my die krag sal gee om op die hemelse vuur in my binneste te vertrou en nie onnodig te talm om ander te gaan dien nie. Amen.
Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie (2 Timoteus 1:6-9).
Wanneer jy ’n vuur wil maak en die hout sukkel om vlam te vat, kan jy liggies daarop blaas om die vlamme aan te help. Het jy al gesien dat iemand dit doen?
Die Heilige Gees werk ook so in ons lewe. Wanneer ons sukkel om God se boodskap van liefde en genade aan ander mense te verkondig, “blaas” die Heilige Gees die vuur in ons aan. Die Heilige Gees blaas nie regtig oor ons nie, maar die Gees gee vir ons die ekstra krag wat ons nodig het om aan die gang te kom en God se boodskap van liefde aan die hele wêreld te gaan vertel.
– Hoekom dink jy gee die Heilige Gees vir ons ekstra krag om God se boodskap te gaan vertel?
– Hoe dink jy doen die Heilige Gees dit?
Aktiwiteit
Wanneer julle weer vuur maak, vra of jy die vlamme kan aanblaas.
Vir geestelike leiers
Here God,
hierdie roeping wat U my opgelê het,
is ’n voorreg en ’n las,
’n dure plig.
Ek sidder oor die verantwoordelikheid wat U aan my toevertrou het.
Uit eie krag kan ek dit nie doen nie.
Help my om altyd aan U getrou te bly,
om U te volg met onderskeiding en gehoorsaamheid.
Gee my die krag en wysheid om hierdie werk te doen.
Here, seën my werk.
Laat dit vrug dra.
Laat dit u Naam eer.
Amen.
Woensdag 19 Augustus 2020
Die verskil tussen intuïsie en dwaasheid
Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het” (1 Samuel 17:45).
Dries Lombaard het gesê: “If you stand for something you will have opposition and support. If you stand for nothing you won’t have any opposition. And no support.”
Gewone mense wat ongewone dinge vir Christus doen, laat die wêreld sentimeter vir sentimeter omswaai. Hulle weet wat hulle moet doen, en hulle doen dit, al ervaar hulle teenkanting. Hulle beplan ook, want hulle is nie dwaas nie en storm nie blindelings in ’n situasie in nie. Hulle ken immers die verskil tussen waagmoed en dwaasheid.
– Waagmoed gebeur op Jesus se pad; dwaasheid gebeur op mensgemaakte roetes.
– Waagmoedige mense is leerbaar; dwase is impulsief en onleerbaar.
– Waagmoedige mense is Gees-aangedrewe; dwase is egosentries.
– In waagmoedige dissipels brand daar ’n vuur om God se verlore eiendom op te spoor; dwase is net op hulle eie eer en behoeftes ingestel.
– Waagmoed is intuïtief; dwaasheid lei tot vrees.
Intuïsie is daardie diep wete of oortuiging wat in ons posvat en groei, en wat ons vinnig en doeltreffend laat optree. Dit is anders as oorhaastigheid of onnadenkende dwaasheid. Natuurlik moet intuïsie getoets word saam met ander gelowiges. Nogtans gee dit aan ons die innerlike oortuiging en vaste wete van watter koers ons moet inslaan, selfs al is die besonderhede van hierdie roete nog nie bekend nie. Dwaasheid is om alle intuïsie te ignoreer en gedurig mense se vrese te besweer en te bestuur voordat daar tot aksie oorgegaan word.
Die jong Dawid wat geweet het die Here is by hom in sy stryd teen Goliat, is vir ons ’n goeie voorbeeld van waagmoed en Godgegewe intuïsie. Elke dag kan ons ons afvra: Wat kan ek vandag uit waagmoed vir die Here aanpak?
Here, help my om met waagmoed te reageer op u Godgegewe intuïsie. Ek wil dapper wees, soos Dawid, omdat ek weet dat U by my is en my geroep het. Ek wil nie oorhaastig en dwaas optree nie. Ek wil ook nie sloer om u wil te gaan doen nie. Gee my daarom die onderskeiding om u wil te ken. Amen.
Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het” (1 Samuel 17:45).
As jy na helde kyk, het hulle almal een ding gemeen: dapperheid. Party helde wat ons op die TV sien, het dalk die een of ander superpower, maar sonder dapperheid beteken daardie superpower nie veel nie.
Wat maak ’n mens dan dapper? Waar kom dapperheid vanaand? Ek dink jy word dapper as jy weet hoekom jy vir ’n saak veg of opstaan. Dawid, van wie ons vandag gelees het, het geweet hy is in die Naam van die Here gestuur om teen Goliat te gaan veg. Daarom het hy ook geweet hy kan maar dapper wees. Die Here sal hom laat wen.
Net so stuur die Here ons elke dag in sy Naam uit om op te staan teen die dinge in die lewe wat nie reg is nie. En omdat God altyd by ons is, weet ons ons kan dapper wees.
– Wat dink jy beteken dit om dapper te wees?
– Kan jy aan nog voorbeelde uit die Bybel dink van mense wat dapper was?
Aktiwiteit
Jy is deel van God se dapperheidspan. Maak vandag vir jou ’n superheld-badge om jou te herinner dat die Here vir jou die krag gee om dapper te wees.
Dinsdag 18 Augustus 2020
Geloofswaagmoed
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (Handelinge 20:24).
Hoe kan swak gelowiges enige uitwerking in hierdie groot wêreld hê? Wat kan doodgewone dissipels doen om die wêreld tot eer van God te verander?
Dit was ook die skoenmaker William Carey (1761-1834) se uitdaging. Toe word hy ’n deeltydse leraar in die Engelse dorpie Leicester om ’n verskil te probeer maak. Maar sy pyn oor die wêreld se God-nood het al hoe feller geword. Tydens ’n plaaslike byeenkoms van godsdiensleiers in Northampton vra Carey toe of dit nie alle gelowiges se roeping is om die wêreld met die Goeie Nuus van Christus te dien nie. ’n Bekende kerkleier het skynbaar geantwoord: “Sit down, young man. If a sovereign God wants to convert the heathen, he doesn’t need you to do it.”
Carey het hierdie “raad” geïgnoreer, sy moue opgerol en ’n sendeling in Indië geword. Daar het hy in moeilike omstandighede gaan werk. Sy een kind het gesterf, ’n paar jaar later is sy vrou ook oorlede, en sy heel eerste bekeerling is vermoor. Tog het Carey groot werk in Indië gedoen en die Bybel in ’n paar belangrike Indiese dialekte vertaal. Sy werk het soveel impak gemaak dat hy vandag die vader van die moderne sendingwese genoem word.
Wat het hierdie doodgewone skoenmaker-leraar van Engeland aangevuur om die aarde te oorkruis? Drie lewensbelangrike dinge: 1) Hy het trompop in Jesus vasgeloop. 2) Hy het aan Jesus se voete rus gevind. 3) Hy het saam met Jesus oor die straat gestap.
Carey het nie voor die tyd ’n glashelder plan vir sy sending in Indië gehad nie. Al wat hy gehad het, was ’n onwrikbare visie van Christus se liefde vir God se verlore eiendom. Dit het soos ’n vuur in sy binneste gebrand. In die eerste ses jaar van Carey se moeilike bediening, terwyl hy ’n vriend se fabrieke in Indië bestuur het om te oorleef en die Nuwe Testament in Bengalees begin vertaal het, het hy sy sendingstrategieë in plek gekry. Hy wou plaaslike geloofsgemeenskappe vorm, hulle leer om finansieel selfversorgend te wees en inheemse kerkleiers oplei.
Praat van geloofswaagmoed! Carey het nie gewag totdat hy eers al die nodige hulpmiddels, planne en fondse in plek gehad het nie. Hy het geweet waar die straat was wat hy in geloof moes oorsteek – en dit het hy gedoen. Die res was in die Here se hande.
My God, U is my kompas en rigtinggewer. Help my om U so te vertrou dat ek die pad sal oorsteek na ander toe, selfs al het ek nog nie al die besonderhede uitgewerk nie. Ek wil my lewenstaak vir U met alle ywer voltooi. Dankie dat ek kan weet dat U elke tree saam met my sal gee. Amen.
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (Handelinge 20:24).
Baie rekenaarspeletjies werk so dat jy eers ’n sekere aantal take moet voltooi, voorwerpe versamel en vlakke moet bereik voordat jy na die volgende vlak van die speletjie kan beweeg of kan wen. Jou doel is dus om al hierdie uitdagings klaar te maak so vinnig en so goed as wat jy kan.
Dikwels dink ons dat die lewe ook bestaan uit ’n klomp take wat ons moet doen en dinge wat ons moet bereik voordat ons na die volgende vlak kan aanbeweeg. Met party dinge werk dit tog so. Jy moet byvoorbeeld eers graad 4 deurkom voordat jy na graad 5 toe kan gaan.
Met geloof werk dit egter glad nie so nie. Daar is nie ’n stel take of doelwitte wat ons eers moet bereik om te kan sê ons is kinders van God nie. God het ons sy kinders gemaak omdat Hy vir ons lief is. Nou het ons net een doel, een taak en een uitdaging, maak nie saak hoe oud ons is, waar ons gaan of wat ons doen nie: Ons moet vir ander mense van God se genade en liefde vertel.
– Hoekom dink jy voel ons soms dat ons eers baie dinge moet bereik of voltooi voordat ons kan sê ons is kinders van God?
– Wat is ons een opdrag as gelowiges?
Aktiwiteit
Leer hierdie week een nuwe gewoonte aan: Elke keer as jou skoene aantrek, dink daaraan dat jy nou uitgaan om God se liefde en genade met ander mense te deel.
Vir leiers, politici en regeringsamptenare
Here God, die Een wat op die troon sit,
ek wil my aan U onderwerp.
U regeer. Aan U kom alle eer toe.
Ek bid om u leiding.
Help my om mense werklik te dien,
om nederig te bly,
om nie my eie voordeel te soek nie,
om nie op my eie krag staat te maak nie,
om nooit u weg te verlaat nie.
Gee my die wysheid om besluite te neem
wat mense sal help,
wat u koninkryk sal laat kom.
Ek staan in afhanklikheid voor U.
Ek gee my en my werk aan U oor.
Gebruik my soos u wil.
Amen.
Maandag 17 Augustus 2020
’n Geleier van God se krag
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Korintiërs 4:7).
God se krag werk deur swak menslike houers. Paulus moes op die harde manier leer hy is nie ’n eindverbruiker of ’n persoonlike vertoonvenster van die Here se krag nie. Hy is ’n swak menslike geleier daarvan. Ook moes hy ontdek hy kort nie krag nie, maar genade.
Ons menslike swakhede is God se geleenthede. Hierteenoor is menslike kragvertonings geleenthede vir spog oor wie die sterkste is. In Jesus se kring gaan dit nie oor hierdie soort krag nie. Dit gaan oor kindwees en oor genade. Wanneer krag wel ter sprake is, soos in Handelinge 1:8, gaan dit oor die krag om oor Jesus te praat. En in 2 Timoteus 1:7-8 gaan dit oor die krag om te volhard op die lydenspad van Christus. Kortom, geestelike krag lyk heeltemal anders as krag in die wêreld.
Gelowiges ervaar nie aldag die Here se groot krag nie. Net soos ’n dun elektriese draadjie nie die krag voel wat daardeur vloei nie, hoef ons nie eers sterk te voel voordat ons die Here kan dien nie. Ons is swak geleiers van aardskuddende hemelse krag na ander menslike eindverbruikers. Ja, ons self is nooit die eindverbruikers van God se krag nie. Daar oorkant die pad is die ware eindverbruikers. Ons moet die hemelse kragkabels oor die pad aanlê na dié mense wat God se liefde kortkom. En die hele tyd kan ons krag put uit God se genade.
Ek hou so baie van wat Jaco Strydom gesê het: “I’d rather go to God with my brokenness than with my promises.” Ons is nie superdissipels nie. Dissipels is breekbare erdekruike, soos Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. Ons kry soms diep seer. Dikwels is ons broos en breekbaar. Ons struikel soms. Menigmaal is ons oor raad verleë. Soms stel ons ander mense teleur. Nogtans is die Here vol genade en ontferming. Hy hou nooit op om Hom oor elk van sy kinders te ontferm nie. God se genade is in alle omstandighede vir ons genoeg.
Vader, dankie dat ek nie ’n super-dissipel hoef te wees nie, want die krag kom van U af. Help my om ’n goeie geleier van u krag te wees. U krag in my is soos ’n skat in ’n kleipot. Dankie dat ek elke dag u genade ontvang sodat ek dit kan laat oorvloei na ander wat u genade ook so nodig het. Amen.
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Korintiërs 4:7).
Wanneer jy ’n leë plastiekbottel met jou hande druk, duik die bottel in. As jy dit aanhou druk, sal dit buig en breek en onbruikbaar wees. Maar wanneer jy die bottel vol water maak, die proppie opsit en dit dan weer tussen jou hande probeer inmekaardruk, gaan daar nie veel gebeur nie.
Sonder God in ons lewe is ons soos die leë waterbotel wat maklik induik, buig en breek. Maar wanneer God in ons en deur ons leef, maak Hy ons sterk. Die goeie nuus van wat Jesus vir ons gedoen het, is die skat wat binne-in ons is. En dit maak ons sterk en gee vir ons krag om bruikbaar te wees in God se koninkryk.
– Hoekom dink jy sit God hierdie groot skat in ons?
– Wat moet ons met hierdie skat maak?
Aktiwiteit
Probeer ’n waterbottel vol water en met die proppie opgedraai met jou hande induik. Onthou, God wat in jou woon, maak jou so sterk soos hierdie bottel.
Bevoegdheid
Here, dit voel die hele tyd vir my asof ek uitgevang gaan word.
Asof iemand gaan agterkom ek is nie goed genoeg nie,
dat ek eintlik ’n imposter is.
Imposter syndrome, noem mense dit.
Here, help my om die gawes wat ek van U ontvang het, te erken en te gebruik.
Help my om my werk na my beste vermoë en tot u eer te doen.
Bevry my van hierdie onsekerheid.
My krag kom U af.
Staan my by in my swakheid.
Amen.
Sondag 16 Augustus 2020
Eerlikheid verander nie swakhede in deugde nie
Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:6-10).
Eerlikheid oor jou onvermoëns en swakhede is nie ’n nuwe uitdaging nie. Die apostel Paulus moes destyds al eerlik wees hieroor. In 2 Korintiërs vertel hy ons ’n paar keer van sy swakhede. In 2 Korintiërs 4 erken Paulus hy is soms oor raad verleë. Dikwels word hy op die grond neergegooi en vertrap. Vervolging, spot, misverstand en swaarkry is deel van sy lewe, soos hy in 2 Korintiërs 6 en 11 skryf. Drie maal het Paulus gebid dat die Here ’n doring van swakheid uit sy vlees sal verwyder. Toe moes hy hoor God se genade is vir hom genoeg. Juis in sy swakheid is hy sterk.
Doeltreffende dissipels van Christus steek nie hulle swakhede weg nie. Maar ons weerloosheid mag ook nie ’n nuwe Christelike deug word nie. Nog minder ’n skuiwergat vir moedswillige sondes. Of ’n verskoning vir middelmatigheid.
Eerlikheid, soos dié van Paulus, is ’n diep besef by navolgers van Christus dat hulle nie die “groot” antwoord is nie. Dat hulle nie altyd weet nie. Hulle is breekbare houers wat gedurig hemelse genade nodig het. As ons nie bewus is van ons swakhede nie, raak ons verstrik in ons ego’s. Dan poets ons ons eie beeld. Dan is ons soos die keiser in Hans Christian Andersen se sprokie wat gedink het hy dra die “onsigbare klere” wat twee kleremakers vir hom gemaak het. Sy onderdane het uit vrees stilgebly. Maar toe praat ’n kind hardop die waarheid: “Die keiser is dan kaal!”
Wanneer Jesus se navolgers vergeet van hulle eie belangrikheid, rol, vermoëns of invloed, is hulle reg geklee vir diens aan die Here. God kan leë houers vol maak. God kan mense wat klein genoeg is om nie meer hulle eie belange te beskerm nie, of wat nie selfbehep veg vir posisies en erkenning nie, doeltreffend gebruik. Hierdie bruikbare instrumente vir God neem hulleself nooit te ernstig op nie. Tog is hulle doodernstig oor God en sy koninkryk. Hulle is spontane en doeltreffende geleiers van God se krag na dié wat hemelse kragonderbrekings beleef. En die hele tyd is God se genade vir hulle oorgenoeg. Hulle loop regtig nie kaal rond nie!
Here, dankie dat u genade ook vir my genoeg is. Help my om ’n bruikbare instrument in u diens te wees, ’n leë houer wat deur u krag gevul word. Gee dat ek nie my eie belange sal beskerm of erkenning sal najaag nie. Soos Paulus, weet ek ek is juis sterk wanneer ek swak is. Amen.
Drie maal het ek die Here gebid dat dit [die doring in my vlees] van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees (2 Korintiërs 12:6-10).
Daar is iets in ons elkeen waarvan ons nie hou nie. Hierdie iets maak soms dat ons nie van onsself hou nie. Dan vra ons dikwels vir God om dit weg te neem, net soos Paulus in vandag se Bybelverse gedoen het.
Tog het God ander planne vir ons. God het ons lief, en Hy wil ons gebruik net soos ons, al is daar dinge wat deel is van ons of ons lewe waarvan ons nie hou nie. God herinner ons dat Hy ons goed en wonderlik gemaak het. God het elke mens gemaak net soos Hy hom of haar wou hê.
Jy is uniek. Dit is hoe God jou gemaak het. Gebruik daarom al jou eienskappe, selfs al hou jy nie baie daarvan nie, om God te verheerlik.
– Is daar iets aan jouself of in jou lewe waarvan jy nie jou nie?
– Hoe kan jy dit gebruik om God te verheerlik? Hier is ’n voorbeeld: As jy oor iets gespot word, weet jy dit is glad nie lekker nie. Jy kan dan vriende maak met ander kinders wat ook gespot word en die lewe vir hulle beter maak.
Aktiwiteit
Kyk vandag na jouself in ’n spieël. Sê vir God dankie dat Hy jou so spesiaal gemaak het. Vra die Here om vir jou te wys hoe jy Hom op jou unieke manier kan verheerlik.
Vir ’n akteur
God van lewe en vreugde en vrede,
van hoop en drome,
dankie vir die gawe wat ek het
om ander wêrelde te betree
en ander met my saam te neem.
Wanneer ek vir mense kans gee om in hulle verbeelding te ontsnap,
mag dit hulle opbou en moed gee.
Wanneer ek my kuns gebruik om ’n spieël op te hou
en ongemaklike waarhede bloot te lê,
mag dit die waarheid laat seëvier
en bydra tot die bou van u koninkryk.
Ek bid om u seën op my werk,
op seën wat uitkring
tot eer van u Naam.
Amen.
Saterdag 15 Augustus 2020
Wees eerlik oor jou swakhede
Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Romeine 3:23-26).
In sy voorwoord vir Steven Snyder se boek Leadership and the Art of Struggle vertel Bill George van die Harvard Business School van ’n ambisieuse studie wat hy eenkeer onderneem het. Hy wou vasstel wat die karaktereienskappe van suksesvolle leiers is, en hoe hulle hulle leierskap ontwikkel.
Ná onderhoude met 125 topleiers tussen die ouderdom van 23 en 93 was hy moedeloos. Geen spesifieke kenmerke was opvallend nie. Toe gaan lees George nogmaals deur al sy notas van sowat 3 000 bladsye. Skielik sien hy dat al hierdie leiers een gemeenskaplike deler het: hulle mislukkings en tekorte. Hulle almal het erken dat hulle iewers misluk het as gevolg van ’n groot ego, foute of dwaasheid. Omdat hulle nie getrou aan hulleself gebly het nie, het hulle koers verloor. Hulle moes leer om hulle trots te sluk en eerlik te wees oor hulle swakhede. En om uit hulle terugslae te leer.
Steven Snyder self dan skryf in sy boek dat te veel leiers bang is hulle sal “uitgevang” word, dat iemand sal agterkom hulle is toe nie so goed of bekwaam of slim of sterk soos almal gedink het nie. Daarom worstel die meeste leiers met geheime gevoelens van onegtheid en onsekerheid. Hulle is bang om eerlik te wees oor hulle ware self of om hulle tekorte te erken. Hulle is bang mense hou dan nie meer van hulle nie of is ontnugter.
Die teendeel is egter waar. Eerlikheid oor ons stryd en onbekwaamheid werk magneties. Meer nog, dit is Bybels. Dit is ook die dissipelskaproete wat Jesus ons geleer het. God word nie deur ons swakhede ingeperk nie. Hy kan dit juis tot voordeel van sy koninkryk gebruik.
Here, dankie dat U nie deur my swakhede beperk kan word nie. Help my om uit my terugslae en foute te leer en eerlik te wees oor my tekortkominge. Ek wil ’n egte dissipel van U wees, klein genoeg om nie na my eie ego te luister nie. Amen.
Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo (Romeine 3:23-24).
Die lewe werk gewoonlik so: As jy iets wil hê, moet jy daarvoor werk of dit verdien. As jy vinnig wil hardloop, moet jy oefen. As jy iets wil koop, moet jy geld spaar. Dit is maar twee voorbeelde.
Een ding in die lewe werk egter nie so nie: God se genade. Ons kan niks doen om God se genade te kry of te verdien nie. God gee dit vir ons, sommer net so, verniet, omdat Hy vir ons lief is.
– Wat dink jy beteken die woord genade?
– Hoekom dink jy gee God sy genade vir ons, sonder dat ons enigiets daarvoor hoef te doen?
Aktiwiteit
Skryf met ’n grys potlood liggies op ’n vel papier die woord sonde. God se genade neem al ons sondes weg. Vee nou die woord sonde uit en skryf die woord genade groot op die vel papier neer.
Vir atlete en professionele sportmense
Skepper-God,
terwyl ek elke dag oefen
en my liggaam druk om meer en beter te presteer,
wil ek U loof,
want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering (Ps 139:14).
Ek wil bid soos in Hebreërs,
dat ek die wedloop wat vir my voorlê, met volharding sal hardloop,
die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12:1-2a),
sodat ek nie geestelik moeg sal word en uitsak nie (v 3).
Mag dit wat ek doen,
of ek nou wen of verloor,
altyd getuig van die krag en lewe
wat van U af kom.
Amen.
Vrydag 14 Augustus 2020
Nie groot of klein nie
Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen (1 Timoteus 1:15-17).
Ons beskryf dinge graag in terme van groot en klein. Jy kyk eers of daar S, M, L, XL of XXL op ’n etiket staan voordat jy die klere aanpas. Die verbruikersmedia beïnvloed ons verder om ook mense in terme van groot en klein te beskryf. Baie mense glo dan ook groter is beter. Tog is die nuwe sakpas-grootte in God se koninkryk kleiner. In Jesus se omgewing word groot en klein altyd in familieverband gebruik. Dit gaan oor kleinwees in sy nuwe aardse familie. In Jesus se familie verloor groot en klein triomfeer. God se groeiprogram gaan oor kindword en kindwees voor Hom en tussen ander.
Omdat ons Jesus hieroor nie ernstig opneem nie, is groot steeds vir ons beter. Gedurig pas ons hierdie meetinstrument verkeerdelik toe. Ons dink groter getuienisse, groter bedienings, groter skrywers, groter predikers, groter geestelike sangers of groter kerke is belangriker as die kleiner weergawes. Groot fout! Die Here meet met ’n ander maatstaf. Dit gaan nie oor groot of klein nie. Dit gaan oor ’n nuwe kinderhart in elke dissipel.
Party dissipels moet reuse in die openbaar verslaan terwyl ander die wapens hiervoor agter die skerms bou. Party moet elders op aarde aanmeld en sommige moet plaaslik relevant wees. Ons elkeen moet maar net daardie stukkie pad oorsteek wat Jesus reg voor ons oopmaak. Of dit nou in Indië of in ’n kinderbediening in Suid-Afrika is, die vraag is of ons klein genoeg is om gehoorsaam genoeg te wees.
Eers wanneer ons kinders geword het in ons Vader se huis sal ons nie verlei word deur groot en flambojante dinge nie. Dan sal ons ophou om mense met mekaar te vergelyk. Dan sal ons ophou om gedurig soos daardie groot kerk of bediening te wil wees en vrede maak met ons eie roeping en bediening. Dan sal ons verstaan dat elke dissipel ’n voltydse bediening het, maak nie saak hoe “groot” of “klein” dit is nie. Dan sal die koninkryk op wonderlike maniere voor ons oopgaan.
Here, help my om klein te wees in u familie. Selfs Paulus het homself as die minste beskou en tog het U hom kragtig gebruik. Ek wil nie meet volgens wat ek dink groot of klein is nie, maar eerder net myself inspan om u getroue kind en dissipel te wees. Amen.
Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen (1 Timoteus 1:15-17).
God is onbeskryflik lief vir ons, maak nie saak wie ons is of wat ons gedoen het nie. Paulus, wat vandag se Bybelverse geskryf het, het verstaan hoe groot God se liefde vir ons is. Voordat Paulus vir Jesus begin volg het, het hy regtig aaklige dinge gedoen. Paulus het geweet dat hy gereeld foute maak en sonde doen, maar hy het ook geweet hoe groot God se liefde en genade vir hom is.
Jy kan glo soos Paulus. Niks wat jy doen, sal ooit God se genade en liefde vir jou wegvat nie. Niks kan jou skei van die liefde wat God vir jou het nie.
– Hoekom dink jy is dit belangrik om te weet dat God vir jou en ander mense lief is?
– Wat beteken onvoorwaardelike liefde?
Aktiwiteit
Maak vandag spesiaal tyd om met God te gesels. Sê vir God dankie vir al die liefde wat Hy aan jou bewys. Vra die Here om jou te help om uit te gaan in die wêreld en ander mense lief te hê soos die Here jou liefhet.
Vir ’n tuisteskepper of ouer
Hemelse Vader,
dankie vir die voorreg en luuksheid om voltyds ouer te kan wees.
U ken my bekommernisse, vrese, onsekerheid en frustrasie wat hiermee saamgaan.
U weet hoe mense my soms misken, nie my harde werk raaksien of waardeer nie.
U weet hoe bekommerd ek oor my kinders is,
hoe gefrustreerd ek dikwels raak.
Here, gee my die wysheid,
geduld,
liefde,
en krag
wat ek nodig het om hierdie lewenstaak te vervul.
Amen.
Donderdag 13 Augustus 2020
Groei jonger
In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” (Matteus 18:1-5).
Die probleem met die meeste van ons is dat ons grootword. En dan bly ons groot. Geen wonder nie dat Dr Seuss sê: “Adults are obsolete children!” Grootmense is anders as kinders. Grootmense het min vrae, maar baie antwoorde. Ons het die lewe klaar uitgesorteer. Kinders, daarenteen, het baie vrae. Kinders is leergierig. Hulle wil alles weet. Die meeste grootmense se kreatiewe leervaardighede het ongelukkig lankal in onbruik verval.
In ’n aanlyn weergawe van The Telegraph word vertel van ’n nuwe studie wat bevind het dat die gemiddelde Britse ma meer as 300 vrae per dag moet beantwoord, veral as sy ’n vierjarige dogtertjie het. Skynbaar is hulle die mees aktiewe vraagvraers. Grootmense is meer beskeie as dit by vrae kom. Grootmens-wees kos ’n prys, ook in die kerk. “Volwasse” Christene doen dinge veilig en voorspelbaar. Tog sê Jesus ’n paar maal helder en duidelik dat ons weer soos kinders moet word. Ons moet agteruit grootword. Jesus verwag dat ons sal terugkeer na ’n tweede naïwiteit van kindwees in ons Vader se teenwoordigheid.
In Matteus 18 sê Jesus as ons nie verander en weer soos kinders word nie, sal ons nooit die koninkryk van God sien nie. Egte groei vir Jesus se dissipels gebeur agterstevoorom. Groei maak ons kleiner. Dit maak ons broos. Dit maak dat ons weer in onbelangrike, eenvoudige dinge ons vreugde vind. Dit maak ons naïef en sorgvry. Sonder groot ego’s wat “gevoer” moet word deur vleitaal, aandag, komplimente, titels, posisies en besittings. Wanneer ons naby Jesus loop, groei ons kleiner en ander mense rondom ons groter. Dan word Paulus se woorde in Filippense 2 waar. Dan sien ons in verwondering God se handewerk in ander mense raak. Dan is dit nie meer so moeilik om ander te dien nie, want ons sien hulle deur nuwe oë.
Daar word vertel dat die eertydse Amerikaanse president Franklin Roosevelt soms saans saam met ’n wetenskaplike, William Beebe, na die sterrehemel gekyk het. Nadat Beebe dan verskillende sterrestelsels aan hom verduidelik het, het Roosevelt gesê: “Nou is ek klein genoeg. Nou kan ek gaan slaap.” Niemand is regtig groot nie, nie eens die grootste leiers nie. God alleen is die Een wat gister, vandag en tot in ewigheid groot is en bly. Eers as ons klein genoeg in onsself gegroei het om voor Hom te kan buig, begryp ons iets van sy grootheid én sy genade wat na ons toe neerdaal.
Hemelse Vader, help my om weer die verwondering van ’n kind te beleef. Ek wil net so leergierig, sorgvry en broos leef soos ’n kind, want dit is al hoe ek u koninkryk kan beleef. Dankie dat ek rustig en vol vertroue in u arms kan wees, my Vader. Amen.
In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ’n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My” (Matteus 18:1-5).
Ons het dikwels ’n prentjie in ons kop van wie of wat ’n belangrike persoon is. Dalk dink jy iemand wat belangrik is, dra ’n das of mooi pêrels of ry met ’n groot kar.
Jesus herinner ons dat om belangrik te wees nie gaan oor wat ons het nie, maar oor hoe ons in Hom glo. Jesus sê in vandag se Bybelverse ons moet soos ’n kindjie wees om in die koninkryk van die hemel te kom. Dit beteken nie wat ons dink dit beteken nie. Ons dink dalk dit beteken ons moet nooit grootmense word nie, maar Jesus bedoel eintlik ons moet altyd soos ’n kindjie leef.
Ons moet nooit vergeet hoe nodig ons vir Jesus het nie. Ons moet nooit ophou om meer oor en by Jesus te leer nie. Ons moet nooit ophou vrae vra nie. Ons moet nooit ophou om al meer soos Jesus te word nie.
– Wat is die beste ding wat jy al oor Jesus geleer het?
– Wat is die snaaksste ding wat jy al van Jesus geleer het?
Aktiwiteit
Vra iemand om jou te help soek na ’n paar vreemde feite in die Bybel.
Vir ’n sjef, bakker of spysenier
Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
Wie na U toe kom, sal nooit weer honger kry nie,
en wie in U glo, sal nooit weer dors kry nie.
Terwyl ek vandag hard werk
om kunstig en kreatief
heerlike kos vir ander te maak,
bid ek vir elkeen wat daarvan gaan eet.
Terwyl dit hulle vul en voed,
mag u Gees hulle vul en voed met die kennis van die ewige brood,
van die ware lewe.
Soos met die brood en die vissies, Here,
bid ek dat U sal aanhou om vir ons te voorsien:
lewe in oorvloed, verlossing, vryheid,
tot eer van u Naam.
Amen.
Woensdag 12 Augustus 2020
“Ek het maar so grootgeword …”
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18).
“Ek het maar so grootgeword.”
Dit het al ’n cliché geword. Vir baie mense is dit die algemene verskoning om nie te verander nie. Baie meen hulle kan nie by vandag se vinnige wêreld aanpas nie. Dit is nie waar nie. In The Shallows, wat gaan oor die uitwerking van die nuwe digitale era op mense se denke, vertel Nicholas Carr van ’n studie van 2008 waarin mense wat oor geen rekenaarvaardighede beskik het nie se breine tydens internetgebruik vergelyk is met dié van rekenaarkenners.
Gary Small, ’n psigiatrieprofessor van die VSA, en twee van sy kollegas het 24 vrywilligers vir die studie gekies. Die vrywilligers is gelykop verdeel tussen rekenaarkenners en -niekenners. Ná die eerste eksperiment, waarin almal soektogte op Google moes doen, was die breinaktiwiteit van die kenners veel meer as dié van die niekenners. Toe het die navorsers laasgenoemde groep vyf dae lank een uur per dag op die internet laat rondsoek. Op dag ses is dieselfde toets met die 24 kandidate herhaal. Toe bevind hulle dat presies dieselfde dele van die brein in albei groepe aktief was. Navorser dr Gary Small vat dit soos volg saam: “Five hours on the internet, and the naive subjects had already rewired their brains.”
Daar is geen verskoning vir relatief gesonde mense om nié tot en met ’n hoë ouderdom te bly leer en groei nie. Ons brein is leerbaar en aanpasbaar. Alhoewel hierdie plastisiteit, soos dit genoem word, in later jare ietwat afneem, gaan dit nooit heeltemal weg nie. Dit is net ons eie skuld as ons koppe bly vassteek in uitgediende denkpatrone. Al het ons op ’n sekere manier grootgeword, hoef ons nie so oud te word nie. Ons brein is deur die Here bedraad om lewenslank te bly groei.
Dit is hieruit dat my “neurologiese” gebed ontstaan het: “Rewire me, o Lord.” Die geheim is om Godwaarts te bly groei, en nie selfwaarts nie. Gelukkig is ons onder permanente konstruksie van die Heilige Gees. Hoe meer ons die Here se skatkamers besoek, hoe meer verander ons na sy beeld. In die taal van 2 Korintiërs 3:18: Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.
Hemelse Vader, dankie dat U my geskep het met die kapasiteit om altyd nuut te leer dink en doen. U is aanhoudend besig om my te verander om al hoe meer soos U te wees. Dankie dat u Gees permanent ’n “onder konstruksie”-bordjie by my lewe gehang het. Amen.
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18).
Wanneer jy na iemand se babafoto’s kyk, kan jy sien hoe hulle deur die jare verander het. Party mense se voorkoms verander nie baie nie.Jy kan hulle sommer maklik herken van hulle babafoto’s af. Maar ander mense lyk heeltemal anders as toe hulle klein was.
Terwyl ons die pad deur die lewe saam met Jesus stap, verander ons ook. Hoe meer ons van Jesus leer en hoe meer ons volgens sy voorbeeld leef, hoe meer sal ons verander word om aan die beeld van Jesus gelyk te word. Dit beteken ons word al hoe meer soos Jesus self. Later sal ander mense vir Jesus duidelik in ons lewe kan raaksien.
– Hoe verander ’n mens om al meer soos Jesus te word?
– Hoe kan ander mense hierdie verandering in ons lewe raaksien?
Aktiwiteit
Kyk vandag na paar van jou babafoto’s en foto’s van toe jy jonger was. Hoe het jy deur die jare verander?
Vir ’n konstruksiewerker, bouer, bou-ingenieur, bourekenaar, en enigiemand anders in die boubedryf
Skepper-God, U het die boustene van die ganse skepping opmekaar gelê,
elkeen perfek op die regte plek.
Terwyl ek ruimtes bou vir mense om te werk, te speel en te woon,
bid ek dat U aan my die wysheid sal gee
om altyd die huis van my lewe op rots te bou.
Laat my fondamente stewig staan,
gebou op getrouheid aan U,
sodat ek, wanneer die lewe se storms kom,
sterk kan bly staan.
Amen.
Dinsdag 11 Augustus 2020
Dissipelskap-stories: Toe ek kyk, sien ek; toe ek sien, skuif ek
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:16-17).
Ryno Meyer, leraar Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk, vertel:
’n Eenvoudige rit deur Sunnyside om sewe-uur op ’n Woensdagoggend in 2009 het my lewe ingrypend en onherroeplik verander. Ek was op pad huis toe nadat ek my motor vroeg ingegee het vir ’n diens. ’n Doodgewone dag …
Maar, terwyl ek en my pa in sy deftige motor deur Sunnyside ry, het my oë gesien soos nog nooit tevore nie. Letterlik asof ek ’n bril opgesit het wat alles anders laat lyk het. Ek het nuwe perspektief gekry.
Die son het begin gesig wys tussen die jakarandabome en hoë geboue deur. Maar dit was chaos: Mense wat skarrel om ’n taxi te kry om werk toe te gaan. Mense wat lê en slaap langs die pad. ’n Prostituut wat “oortyd” moet werk, waarskynlik weens ’n “stadige aand”. ’n Man en vrou wat op die sypaadjie op mekaar skree en dan uitmekaarspat. Die atmosfeer was gespanne en haastig. Iets het nie reg gevoel nie. Hier was ’n wêreld wat ek nie geken het nie. Ek het geweet dit gaan swaar met mense. Maar ek het dit net gehoor en geweet, en aangegaan soos normaal.
Ná daardie oggend kon ek dit nie meer doen nie. Ek wou nader beweeg aan hierdie wêreld waarvoor my oë oopgegaan het. Dit was tyd vir my “gewone” lewe om “ongewoon” te raak. Ek het onmiddellik van my vriende gebel toe ek by die huis kom.
“Pel, ek trek Sunnyside toe.”
“Awesome. Wat wil jy daar gaan doen?”
“Ek weet nie presies nie, maar ek wil nader wees aan mense in nood.”
“Dit klink brilliant. Kan ek saamkom?”
Teen Januarie 2010 was ons 14 jong mans wat saam in ’n huis ingetrek het om nader aan mense in nood te wees. Ons het onsself Intentional Living genoem. Dit was tyd vir ’n nuwe manier van leef:
– eenvoudig (ek het my bed en motor ’n jaar lank prysgegee)
– intensioneel (ons moes kies om ons gemaklike lewe vaarwel te roep)
– waaghalsig (kom ons kyk wat gebeur as ons éérs doen en dán dink)
– inklusief (hoe sou dit wees om ons deur vir almal oop te maak?)
– vrygewig (kom ons kyk hoe vinnig ons kan saai)
– doelgerig (ons wou naby wees aan mense in nood) en
– saam (geen mens is ’n eiland nie).
Ons het mekaar aangespoor tot hierdie soort lewe en dit saam geleef. Ons leef dit vandag nog. Ons leef nie meer in dieselfde huis nie, maar elkeen wat by Intentional Living gewoon het, se “gewone” lewe bly sedertdien ongewoon.
Here, help my om met u oë na die wêreld te kyk. Laat my deernis my dring tot aksie sodat ek U met ’n “ongewoon” waagmoedige lewe kan dien, al moet ek my eie gemak daarvoor prysgee. Amen.
Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:16-17).
Waarvoor gebruik ’n mens ’n verkyker? Om dinge wat baie ver is beter te kan sien.
Wanneer ons vir Jesus volg, gebeur daar iets in ons harte. Die Heilige Gees help ons om beter te kan sien. Maar hierdie beter sien, gaan nie daaroor om dinge wat ver is te kan sien asof dit naby aan ons is nie; dit gaan daaroor om die mense rondom ons beter te sien.
Wanneer ons vir Jesus volg, gee ons nie net meer om vir onsself nie, maar ons sien al die mense rondom ons raak. Jesus het met sy lewe betaal sodat ons kan uitgaan en vir ander mense kan gaan omgee.
Wanneer ons vir Jesus volg, kyk ons na ander mense soos Jesus na hulle gekyk het toe Hy hier op aarde was.
– Hoekom dink jy help Jesus ons om ander mense raak te sien?
– Wat moet ons doen wanneer ons nou ander mense raaksien?
Aktiwiteit
Vandag gaan jy ’n verkyker maak om jou te herinner dat die Heilige Gees jou help om ander mense beter te kan sien sodat jy vir hulle kan omgee.
Gebruik twee toiletrolletjies, gom en tou om ’n verkyker te maak. Gom die toiletrolletjies aan mekaar vas. Maak ’n gaatjie weerskante van die twee rolletjies, naby aan die punt. Ryg ’n tou daardeur en hang jou verkyker om jou nek of aan jou kamerdeur. Vra iemand om jou te help soek na hulp op die internet as jy vashaak om jou verkyker te maak.
Vir ’n winkelassistent, winkelbestuurder, kassier of pakker
Here, terwyl ek vandag in hierdie winkel werk,
of ek nou rakke pak, agter die kasregister werk, met kliënte werk of besluite neem,
help my om my oë op U gerig te hou.
Wanneer mense my miskyk, of deur my kyk,
help my om hulle raak te sien,
om diensbaar te wees.
Dankie dat ek op hierdie manier my deel kan doen.
Laat alles wat ek doen,
en die manier waarop ek dit doen,
u eer, Here.
Amen.
Maandag 10 Augustus 2020
Dissipelskap-stories: My vreemde leermeesters oor dissipelskap
Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg (Lukas 5:27-28).
Jaco Strydom van Echo-jeugbediening vertel:
By Echo woon ons saam. Sommige is dié wat kom aanklop het vir hulp – jongmense in nood. Van hulle was haweloos of uit kindersorgsisteme, sommige uit rehabilitasiesentrums of selfs die tronk. Die tweede groep is mense wat ingetrek het om te help, onder andere twee boekhouers, ’n grafiese ontwerper, ’n veldwagter, onderwysers en ’n hele paar studente. Hulle het doelbewus gekies om saam met jongmense in nood te kom woon. Vir my is een van die mooiste dinge wat gebeur wanneer dié wat aanklop vir hulp agterkom dat hulle ook kan help, en wanneer dié wat ingetrek het om te kom help ontdek dat hulle baie leer. Deur hulle het ek die waarde van nabywees geleer. Dat jy die boodskap van Jesus die beste kan oordra nie vanuit ’n posisie van mag nie, maar vanuit ’n posisie van weerloosheid.
Ek dink afstand is ’n groot struikelblok vir dissipelskap vandag. Die antieke verhouding tussen ’n dissipel en sy meester is vreemd vir ons Westerlinge. Ons dink gewoonlik aan ’n dosent en student. In die Ooste sien ’n mens wel nog tekens daarvan, soos die verhouding tussen ghoeroes en dissipels in Indië. Die dissipel sal luister na wat sy ghoeroe sê, maar ook dikwels dag en nag letterlik agter hom aanbeweeg. Die dissipels praat nie bloot oor wie hulle ghoeroe is, oor wat hy doen of sê nie, maar volg hulle ghoeroe deur te begin dink soos hy dink, deur te voel soos hy voel en uiteindelik te doen wat hy doen. Van hulle begin selfs lyk soos die ghoeroe en beweeg soos die ghoeroe.
Die wonderlike van Jesus se dissipelskapstyl was juis dit! Hy het nie net vertel nie; Hy het sy dissipels toegelaat om naby aan Hom te kom en saam met Hom te beweeg. ’n Ware dissipel het uiteindelik nie net ’n klomp inligting oor sy meester nie; hy erf ook sy meester se passie! Dissipelskap gaan daaroor dat dieselfde wat in Jesus gebeur het – wat gemaak het dat Hy sy lewe wou gee vir ’n stukkende wêreld – ook in ons gebeur. Sy boodskap aan die godsdienstiges van sy tyd was dat jy nie kan sê jy het God lief as jy nie ook lief is vir die wêreld nie. Jy kan nie jou lewe vir God gee sonder om jou lewe vir die wêreld te gee nie. Godsdiens sonder empatie is godsdiens sonder God (1 Joh 4:8).
Wat die wêreld nodig het, is meer as net Christene wat kan praat oor wie Jesus was of wat Hy gedoen het. Die wêreld het ’n kerk nodig wat doen wat Jesus gedoen het – wat is soos Jesus was. ’n Kerk wat gedurig nader beweeg, wat dit ook waag om “af” te kom.
Here, roer my hart vir dít wat u hart roer. Ek wil ook deur nabywees ’n dissipel van U wees, wat met empatie u liefde en sorg vir ’n stukkende wêreld uitdeel. Gee dan dat ek daar iets nuuts oor U, myself en die wêreld leer. Amen.
Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg (Lukas 5:27-28).
Dink net hoe dit sou voel as Jesus nou aan jou deur sou klop en sê: “Volg My!” Jy moet alles los, opstaan en vir Jesus volg. Jy kan dalk nog gou skoene aantrek, maar jy kan nie eers jou TV-storie klaar kyk of almal bel om tot siens te sê nie. Jy moet net gaan.
Dit is nogal skrikwekkend om daaraan te dink, maar ons lees in verskeie verhale in die Bybel dat dit is hoe Jesus se eerste dissipels Hom begin volg het. Die rede hiervoor is dat Jesus sy dissipels geroep het om Hom eerste te stel in hulle lewe. Hy wou hê hulle moes alles moontlik by Hom leer sodat hulle sy voorbeeld kon volg in die manier waarop hulle leef.
Jesus roep ons vandag ook om Hom te volg. Ons hoef nie alles te los nie, maar ons moet Jesus eerste stel in ons lewe sodat ons alles wat ons kan by Jesus kan leer en volgens sy voorbeeld kan leef. Dit beteken ons moenie net onthou wat Jesus alles gedoen het nie; ons moet dit self ook gaan doen.
– Wat beteken dit om Jesus te volg?
– Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus jou as sy dissipel geroep het?
Aktiwiteit
Vra iemand om jou in Matteus 4 te help soek na nog ’n verhaal van Jesus wat dissipels geroep het.
Vir ’n kelner
Here, ek is heeldag op my voete.
Ek hardloop heen en weer
terwyl ek ander mense fyn dophou
sodat ek hulle behoeftes kan antisipeer.
Dikwels word my pogings met ondankbaarheid ontvang.
Servers, noem hulle ons in Engels.
Wanneer ek met my dikwels ondankbare taak besig is,
help my om te onthou
hoe belangrik diensbaarheid vir U is,
hoe U vir ons ’n voorbeeld van diensbaarheid gestel het.
Mag almal met wie ek vandag in aanraking kom
iets van u liefde in my beleef.
Amen.
Sondag 9 Augustus 2020
Geniet die saamkuier
Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Johannes 8:3-11).
Sê nou ons snap dat ons nie geroep is om godsdienstige aanklaers te wees of regter oor ander te speel nie. Dan sou dit soveel makliker wees om vir God te leef tussen vreemdelinge, andersdenkendes en soekendes. Dan verander ons getuienis in aangename kuiers in Jesus se Naam. Dan is die juk van ons skouers af om mense te probeer verander. Dan is ons dienaars van Jesus wat Hom sigbaar en voelbaar dien en ander mense respekteer.
Jesus het nie van straf of dreigemente gebruik gemaak om mense te laat glo nie. Nog minder het Hy die teenstander gebruik om die hemel te bemark. Vuur en swael om sondaars tot bekering te dreig, was nie deel van Jesus se strategie nie. Nie eens in Matteus 10, toe Hy sy dissipels herinner het dat hulle eerder vir God as vir mense moet bang wees omdat God mense in die ewige verdoemenis kan gooi, het dit gebeur nie. Net hierna verduidelik Jesus immers dat God die Een is wat al die hare op sy kinders se koppe tel. So naby en so liefdevol is God dat Hy die moeite doen om aandag te gee aan die fynste besonderhede van sy kinders se lewe.
Slegs skynheilige godsdienstiges het by Jesus van God se oordeel gehoor. Sondaars het oor en oor by Hom van God se genade gehoor en dit eerstehands ervaar. Jesus het dié wat dors en honger was na ’n nimmereindigende fees in God se teenwoordigheid genooi. Hy het vir hulle gesê Hy self is die lewende brood en die hemelse water. Hy is lig en lewe. Al dienende het Jesus mense se oë oopgemaak om ’n nuwe lewe van vreugde en goedheid en oorvloed by God te ontdek. Sy aantrekkingskrag was Hy self, nie vrees vir straf nie.
Vandag nog stroom genade die wêreld vol uit Jesus se hand. Steeds is Hy die water vir oordeelsvure en die hoop vir soekendes. En dit bly steeds ons as sy dissipels se magnetiese lewenstaal.
Here Jesus, help my om soos U te leef. Ek wil hê my lewe sal oorloop van u genade en liefde vir sondaars en soekers. Mag dit ook my magnetiese lewenstaal wees terwyl ek u voorbeeld naleef. Amen.
Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Johannes 8:3-11).
Het jy al voor in die klas gestaan en almal wat stout is se name op die bord neergeskryf sodat die onderwyser kan sien wie nie die reëls gevolg het nie? Dikwels in die Bybelse tyd het mense gedink dit is gelowiges se taak om almal wat iets verkeerd doen uit te wys en aan te kla. Dit het gebeur in die verhaal wat ons vandag gelees het.
’n Groep gelowiges het ’n vrou na Jesus toe gebring wat iets verkeerd gedoen het en volgens hulle gestraf moes word. Maar Jesus tree toe heeltemal anders op as wat hulle verwag het. Jesus het hulle herinner dat ons almal verkeerde dinge doen en dat dit nie ons taak is om ander mense aan te kla of die vinger na hulle te wys nie.
Jesus herinner ons dit is ons taak om eerder sy genade en liefde aan ander mense te wys, net soos Hy gedoen het.
– Hoekom dink jy stuur Jesus ons om genade en liefde aan ander mense te wys eerder as om hulle aan te kla?
– Dink jy daar is wel tye wanneer ons vir iemand moet wys dat hulle verkeerd opgetree het? Wat is ’n voorbeeld hiervan?
Aktiwiteit
In vandag se verhaal lees ons dat Jesus in die sand geskryf het. Ons weet nie presies wat Hy geskryf het nie, maar dit maak nie saak nie. Gaan soek ’n stuk sand en teken ’n boodskap van Jesus se liefde daarin.
Vir ’n stadsbeplanner
Here, terwyl ek met my dagtaak besig is,
dink ek aan die orde en plan in u skepping,
hoe U alles met ’n spesifieke plek geskep het,
hoe alles by mekaar pas
sodat dit as geheel kan funksioneer.
Ek bid dat U my sal gebruik
en my werk sal seën
sodat mens en natuur elkeen ’n plek sal vind
waar almal kan floreer
tot u eer.
Amen.
Saterdag 8 Augustus 2020
Moet dit nie afdwing nie
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit (2 Timoteus 4:1-4).
Party gelowiges dink hulle moet die evangelie op ander afdwing. Hulle verstaan Paulus se woorde aan Timoteus dat ons tydig en ontydig moet getuig verkeerd. Paulus sê eintlik hier ons het nie die luukse om te besluit waar en wanneer ons vir die Here wil leef of werk nie. Ons is altyd aan diens, tydig en ontydig. Ons het egter nie die vryheid om ongenooid in mense se lewe in te storm en die evangelie op hulle af te dwing nie.
Paulus skryf juis vir die Kolossense en die Efesiërs dat ons nadenkend moet leef. Ons moet respek hê vir ander se menswees. Ons moet vriende met hulle maak en die reg verdien om die evangelie met hulle te deel. Vriendskap en respek, saam met kuier, koffie en kos, is gesogte roetes na mense se harte.
Natuurlik skep God spesiale oomblikke tussen ons en onbekendes en vreemdelinge sodat ook hulle Hom as Here kan ontmoet. Dit het ek al telkens beleef, soos onlangs toe ek by ’n wonderlike plattelandse gemeente gaan preek het. Elke aand gedurende hierdie week van gebed het daar een mens in die kerk gesit wat opvallend anders as die ander gelyk het. Sy tatoeëermerke en tentpenhare was in skrille kontras met die voorkoms van die vriendelike boere van die kontrei. Die laaste aand het hierdie Engelssprekende jongman stilweg nadergestaan. Toe vertel hy my dat hy, net soos ek, ’n Oos-Rander is. Hy het sy pa, wat hy jare laas gesien het, op die platteland kom opsoek. Toe sê hy dat hy ’n agnostikus was. Van geloof wou hy niks weet nie. Maar toe stap hy vroeër daardie week by die kerk verby. Op die ingewing van die oomblik het hierdie jongman besluit om in te stap. En in die loop van die week het ’n wonderwerk met hom gebeur.
“I found Christ,” het hy dit in een sin saamgevat. Hy het trompop in Jesus vasgeloop. Jesus het hom opgespoor daar op die platteland. Daardie aand het ek saam met die engele gedans en gesing. Mense wat soms ver reis om hulle familie op te spoor, vind op ’n goeie dag oneindig meer – hulle hemelse Vader wat hulle met oop arms tuis verwelkom.
Liewe Vader, help my om nie die evangelie op ander af te dwing nie. Ek wil altyd aan diens wees vir U, maar met respek en liefde teenoor ander leef. Help my om die geleenthede raak te sien wat U oor my pad bring. Amen.
Verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig … want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie … Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie … Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit (2 Timoteus 4:1-4).
Wanneer jy die woorde “op jou merke, gereed” hoor, weet jy jy moet regmaak om te gaan. Daar is nie nog tyd om gou iets anders te doen nie. Jy moet reg wees om weg te spring.
Wanneer ons vir ander mense van Jesus vertel, moet ons ook altyd “op ons merke en gereed” wees sodat ons kan “wegspring” wanneer dit nodig is.
Ons kan nie kies wanneer ons lus is om vir ander mense van Jesus se liefde te vertel nie. Ons moet altyd bereid wees om dit te doen. Soms sal dit moeiliker as ander kere wees, maar al wat ons dan hoef te doen, is om vas te hou aan die waarheid van Jesus se liefde.
– Vertel van ’n keer toe jy onverwags met iemand oor Jesus gesels het.
– Hoe het dit jou laat voel?
Aktiwiteit
Vra iemand om saam met jou resies te hardloop. Maak seker julle sê: “Op julle merke, gereed … weg!”
Omkopery
Omkoopgeld.
Gunsies onder die tafel.
Quid pro quo.
Here, dit is standaard in my veld. Almal doen dit.
As ek dit nie doen nie, gaan my besigheid skade ly,
en daarmee saam almal wat van my afhanklik is.
Ek wil so graag die regte ding doen.
Ek wil glo dat die regte optrede beloon sal word, dat reg sal geskied,
maar, Here, ek sien elke dag hoe die skelms bevoordeel word deur hulle oneerlikheid.
Help my, regverdige God, om getrou te bly aan my waardes,
om nie te swig onder die druk
om deel te neem aan twyfelagtige besigheidspraktyke nie,
om sterk te staan en
altyd eerlik te werk en eerlik besigheid te doen.
Mag die manier waarop ek besigheid doen,
getuig van U en vrug dra.
Amen.
Vrydag 7 Augustus 2020
Praat
In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het (1 Petrus 3:15-16).
Hoe getuig ’n mens vir die Here? Ek weet nie. Net soos ek nie ’n spesifieke resep het vir hoe om oor my wonderlike vrou en kinders te praat nie, het ek ook nie ’n standaard-praatjie oor Jesus wat ek blindelings op mense loslaat nie.
As jy my oor my wonderlike vrou uitvra, sal jy wel liefdestaal oor haar op my lippe hoor. En hopelik sal jy dit ook sien wanneer ons saam is. Ek vertel graag lewensveranderende stories oor Marietjie in haar afwesigheid, en wanneer ek by haar is, geniet ek haar teenwoordigheid. So “getuig” ek oor haar. Dieselfde geld vir my kinders en vriende. Ek praat mooi oor hulle omdat ek lief is vir hulle en ek probeer ook altyd met liefde teenoor hulle optree wanneer ek by hulle is. My getuienis oor my familie is lofwoorde oor hulle tussen ander. My pogings om hulle op die hande te dra wanneer ek by hulle is, moet dit vir hulle bevestig.
Só verstaan ek ook my woorde oor Jesus en my dade vir Jesus.
Ek praat graag mooi oor Jesus tussen ander mense omdat Hy my Here is. Ook probeer ek altyd só leef in sy teenwoordigheid dat Hy met my lewe tevrede sal wees. Jesus is deel van my daaglikse woordeskat en gesprekke. Tog het ek, met respek gesê, geen beheer oor Hom met my woorde nie. Jesus is die Here. Ek is sy dienaar. Ek stap gehoorsaam agter Hom aan, oor daardie pad wat Hy vir my uitgekies het. Wanneer ek elke oggend opstaan om hierdie avontuur opnuut saam met Hom aan te pak, is die Gees my Leidsman. Hy skep geleenthede om reg te doen en met wysheid te praat, doer oorkant die straat. Hy verbind wonde wanneer dinge skeefloop.
Soms gaan daar lang tye verby sonder enige sigbare vrug op hierdie lewe in die koninkryk van God. Maar dit maak nie saak nie. Resultate is God se afdeling; myne is gehoorsaamheid en getrouheid. Ek moet maar net op die regte saailande gaan werk. Die Here sal elke saadjie wat in sy Naam gesaai word, laat groei soos Hy dit wil. Al wat ek aan my kant van die pad moet doen, is om ’n getroue navolger van Jesus te wees. Soos Johann Fourie graag sê: “Dissipelskap is ’n driestap-proses: Ontmoet die Lig; word ’n lig; laat skyn die lig.”
Liewe Vader, help my om al die geleenthede raak te sien wat U oor my pad stuur. Ek wil altyd gereed wees om U, die rede vir my hoopvolle lewe, met ander te deel. Ek wil graag die Lig in my lewe navolg en dit laat skyn in die lewe van ander. Amen.
In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15-16).
Hoekom sê ons mooi dinge oor Jesus? Een van die redes is dat Jesus mooi en goeie dinge gedoen het. Ons werk as Jesus se dissipels is nie net om die mooi dinge wat Jesus gedoen het te onthou en vir ander mense daarvan te vertel nie; ons moet dieselfde mooi en goeie dinge gaan doen.
– Kan jy dink aan ’n paar mooi en goeie dinge wat Jesus gedoen het?
– Hoekom dink jy moet ons vir ander mense vertel van hierdie mooi en goeie dinge wat Jesus gedoen het? En hoekom moet ons dit self dan ook gaan doen?
Aktiwiteit
Dink aan drie sinne of woorde wat jy sal gebruik om iets moois oor Jesus te sê.
Geen erkenning
Here, ék het hierdie projek gedoen.
Ek weet ek het dit goed gedoen,
met die gawes wat ek van U gekry het.
U weet hoe hard ek gewerk het,
hoe trots ek is op wat ek kon vermag.
Maar nou word dit beskou asof dit niks is nie.
Erger nog, ander mense ontvang die erkenning wat ek weet my toekom.
Ek weet, Here, dat die Bybel sê ons moet ons werk doen
soos vir die Here, en nie soos vir mense nie (Ef 6:7; Kol 3:23).
Ek weet dat menslike erkenning nie veronderstel is om vir my saak te maak nie.
Nou voel ek nog skuldig ook, buiten die gevoel van miskenning.
Dankie, Here, vir die gawes en geleentheid om my werk goed te kan doen.
Dankie dat U aan my krag gee en my bystaan.
Dankie dat U raaksien wanneer ek dit goed doen.
Ek bid dat U my sal vrymaak van die begeerte na menslike erkenning.
Help my om tevrede te wees met die vermoë om my werk goed te doen,
en om U daardeur te verheerlik.
Amen.
Donderdag 6 Augustus 2020
Van kos gepraat …
As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag (Jesaja 58:10).
Kort voor haar dood in 2003 het Joan Kroc, die vrou van Ray Kroc, die man wat ’n klein hamburger-kitskosbesigheid genaamd McDonald’s tot die wêreld se grootste koshandelsmerk uitgebou het, ’n volle $1,6 biljoen aan die Salvation Army geskenk. Hoekom?
Tydens ’n onlangse besoek aan Suid-Afrika het die skrywer-teoloog Leonard Sweet vertel van sy ontmoeting met die uitvoerende hoof van die Salvation Army in Londen. Dié het vir hom gesê dat Joan Kroc brandarm grootgeword het. Elke Vrydagaand het een offisier van hulle beweging stilweg twee sakke kruideniersware vir haar ma kom aflewer daar aan die verkeerde kant van die treinspoor in Chicago. Dit was Joan en haar gesin se weeklikse hoogtepunt. Ook was dit vir haar die bewys van die Here se liefde vir vergete mense soos sy en haar gesin. Vir 70 jaar het hierdie Christelike liefdesdaad in Joan se hart vasgesteek. Daarom dat sy aan die einde van haar lewe nie anders kon as om hulle in die Heer se Naam te seën om nog groter hulp aan noodlydendes te bewys nie.
Maar moenie bekommerd wees as jy nie $1,6 biljoen het om weg te gee nie. In Lukas 3:10-11 staan daar: “Die mense vra Hom toe: ‘Wat moet ons dan doen?’ Hy antwoord hulle: ‘Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.’”
Al wat jy hoef te doen, is om daar die ekstra hemp, broek of baadjie en die ekstra kos te deel met dié wat dit nodig het om te kan oorleef. Dink net wat die uitwerking sal wees as elke dissipel van die Here dit sou doen. Dink net wat kan gebeur as ons almal ons harte en hande vir ander oopmaak. Dalk selfs ons beursies …
Die hemele sal oopgaan bokant ons! Want, “dít is dissipelskap,” skryf Johan Smith, “om verhoudings te bou met verlore mense, mense in nood. Dit is om onvoorwaardelik in verhouding te tree met mense wat Jesus nie ken nie en om doelgerig ’n pad saam met hulle te stap sodat hulle die liefde van Jesus kan ontdek en kan leer ken.”
Here, my God, dankie dat U vir my sorg met meer as wat ek nodig het. Help my om dit te gebruik om ander te seën en te versorg. Maak my hart, hande en beursie oop vir ander en gee dat u teenwoordigheid en liefde tussen ons tasbaar sal wees. Amen.
As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag (Jesaja 58:10).
Het jy al gesien watter verskil een kers kan maak as jy dit in ’n donker vertrek inbring? En het jy geweet dat met elke kers wat by die eerste een kom, jy kan sien hoe die vertrek al hoe helderder word?
Soms kyk ons om ons rond en raak sommer lam as ons al die nood sien. Ons weet nie waar om te begin help nie en ons weet nie wie om te help nie. Ons dink dalk al manier hoe ons kan help, is om groot dinge te doen soos om baie geld te gee. Tog is dit nie waar nie. Al wat God van ons vra, is om die dinge wat ons het, die bietjie of die baie, te deel met ander mense wat in nood is. So kan ons ons liggies laat skyn, al is dit hoe klein. Want saam met al die ander liggies sal dit ’n verskil maak in die donkerte van die wêreld. Elke liggie wat bykom se lig sal ’n verskil maak.
– Wat het jy wat jy met ander mense kan deel?
– Hoe dink jy stuur God ons om te sorg vir mense wat honger is of swaarkry?
Aktiwiteit
Vind uit waar in die gemeenskap jou gemeente of skool betrokke is en vra hoe jy betrokke kan raak.
Werksonderhoud
Here, ek gaan vandag vir ’n werksonderhoud.
Dankie dat ek kan weet dat U by my is,
dat al my gawes en geleenthede van U af kom.
Help my om kalm te bly en ’n akkurate weergawe van myself te gee.
Veral, Here, bid ek dat u wil sal geskied,
dat U vir my die plek sal wys
waarheen U my stuur,
waar ek my gawes op die beste manier kan gebruik
en waar ek my roeping kan uitleef,
tot eer van u Naam.
Amen.
Woensdag 5 Augustus 2020
Praat deur die regte dade
Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word (1 Korintiërs 10:31-33).
Wanneer dade praat, raak woorde stil. Wanneer die kerk Christus se boodskap van verlossing uitleef deur onselfsugtige liefde vir ander, raak preke en gesprekke oorbodig. Wanneer geloofsgemeenskappe glo dis beter om weg te gee as om op te gaar, raak die kerk spontaan aantreklik. Mondelinge getuienisse teenoor ongelowiges en gesprekke is nooit onbelangrik nie. Tog is gesprekke nie die Here se belangrikste manier om die kerk te laat groei nie. Jesus se eerste taal, en daarom ook ons s’n, is nuwe verhoudings en dade van omgee. En ons doen dit alles in die Naam van Christus.
Ons rigsnoer is 1 Korintiërs 10:31 en Kolossense 3:17 en 3:23. Nogmaals is die barmhartige Samaritaan ons geestelike mentor. Hy het nie net jammer gevoel vir die misdaadslagoffer oorkant die pad en toe ’n brief vir die plaaslike koerant geskryf oor al die misdaad in sy omgewing nie. Nee, hy het iets met sy jammerte gedoen. Hy het sy dagboek opsy geskuif, sy moue opgerol en die risiko gewaag om betrokke te raak. Hierdie Samaritaan het nie voor die tyd geweet wat op hom sou wag as hy dit sou doen nie. Tog het hy geweet dis die regte ding om te doen.
Dit is dié wat praat vir doen inruil wat die regte impak vir die Here maak. Dit is hulle wat kies om hulle moue op te rol en hulle selfsugtige leefstyl vaarwel te roep wat Christus en ander mense met oorgawe dien. Nee, dit is nie so moeilik nie. Inteendeel, dit is juis doodgewone dissipels wat ongewone dinge regkry soos om ’n paar mense in nood elke maand van kos te voorsien. Of om ’n wegneemete te koop vir ’n motorwag of ’n sekuriteitswag. Of om saam met ongelowige vriende te kuier.
As Jesus soveel moeite gedoen het om saam met verlorenes én gevindes te eet, moet ons by Hom leer en Hom dit nadoen.
Here, help my om u eerste taal van verhoudings en dade van omgee vlot te praat. Ek wil in my alledaagse lewe die pad oorsteek na mense in nood en saam met hulle u koninkryk laat kom. Amen.
Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Korintiërs 10:31).
Het jy al gehoor dat iemand sê jou lewe is dalk die enigste Bybel wat iemand anders ooit sal lees? Dit beteken wanneer mense na jou lewe kyk, moet hulle vir God kan sien en leer ken.
Vandag se Bybelvers herinner ons hoe ons dit kan regkry. Dit sê, of jy nou iets eet en of jy iets drink of wat jy ook al doen, doen alles tot eer van God. Wanneer jy só leef, tot eer van God, sal mense kan sien wie God is.
– Wat beteken dit om alles tot eer van God te doen?
– Wanneer is dit moeilik om dinge tot eer van God te doen?
Aktiwiteit
Dink na oor ’n dag in jou lewe. Wat doen jy alles? Hoe kan jy al hierdie dinge tot eer van God doen?
Uithouvermoë
Onderhouer-God,
U wat alles in u hande hou,
van wie elke asemteug, elke oomblik kom,
ek wil U eer met my lewe en my werk.
Soms voel ek soos die treintjie wat sê:
“Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.”
Dan voel dit vir my ek beur teen ’n opdraand uit.
Al wat ek kan doen, is om aan te hou vorentoe beur.
Here, gee vir my die uithouvermoë
om in hierdie opdraand-tye aan te hou,
uit te hou,
totdat ek dit oor die bult maak,
en kan begin sê:
“Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan.”
Amen.
Dinsdag 4 Augustus 2020
Die pad na hulle harte
“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen’” (Matteus 25:34-40).
Nog ’n sterk faktor wat volgens Rodney Stark gelei het tot die dramatiese groei van die vroegste Christendom was die vroeë Christene wat medegelowiges en buitestanders versorg het, veral in tye toe epidemies die Romeinse Ryk geteister het.
Ons weet byvoorbeeld van ’n epidemie (dalk waterpokkies?) wat in 165 nC uitgebreek en feitlik ’n kwart van die wêreldbevolking uitgewis het. Ook in 251 nC het ’n epidemie (dalk masels?) groot vernietiging gesaai. So ingrypend was hierdie rampe dat Romeinse leërs hulle oorloë gestaak het omdat soldate links en regs gesterf het. Groot gemeenskappe het tot niet gegaan.
Tydens hierdie rampe het baie Christene nie gevlug nie, maar siekes in hulle huise ingeneem en na hulle omgesien. Terwyl die Christene teen hierdie tyd reeds daarvoor bekend was dat hulle die armes versorg, het hulle nou boonop ook dié met hoogs aansteeklike siektes versorg. Hierdie onselfsugtige diens en opofferings het derduisende mense se lewe gered en die kerk nog meer magneties gemaak. Ook het kerkleiers in daardie tyd ’n pastorale teologie in plek geplaas om lydendes te vertroos en die hoop op God se ewige nuwe wêreld vir hulle aan te bied. Die Romeinse kultusse het geen soortgelyke aksies of teologieë geken nie.
“Die pad na ’n man se hart loop deur sy maag,” sê vroue graag. Wel, die pad na stukkende en verlore mense se harte ook. Opoffering en diens en sorg in die Naam van Christus is steeds die geheim van groeiende geloofsbewegings. Die navorser Jenny Trinitapolis het in ’n studie wat in 2011 onder 3 000 mense in 1 000 Malawiese nedersettings gedoen is, bevind dat 30% van die plaaslike Christene vigsslagoffers aktief ondersteun en help. Slegs 7% Moslems doen dieselfde. Dit het tot ’n dramatiese groei in die Christelike kerke in Malawi gelei.
Kom ons maak vandag hierdie gebed van Poor Clares, ’n non in die Franciskaanse Orde, ons eie: “Here, maak my onderbreekbaar.”
My Here, Jesus, help my om alle mense te behandel soos ek U sou behandel. Ek wil U graag dien deur onselfsugtige diens aan u mense, deur hulle te versorg, kos te gee, te huisves, my tyd aan hulle af te staan en aan hulle hoop te gee. Amen.
“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek’ … ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen’” (Matteus 25:34-40).
Dink sommer so by jouself: As daar ’n glas water en ’n glas asyn langs mekaar staan, hoe sal jy weet watter een is die water en watter een is die asyn? Die vloeistof lyk dalk eenders, maar dit is nie eenders nie. Een manier om uit te vind is om aan die vloeistof te proe. Nog ’n manier is om ’n teelepel koeksoda in die glase te gooi. As jy koeksoda by water gooi, sal niks gebeur nie, maar as jy koeksoda by asyn ingooi, sal die asyn begin borrel en bruis uit die glas uit.
Dit gebeur dikwels dat mense sê hulle is lief vir Jesus, maar hulle lewe wys dit nie. Wanneer ons sê dat ons vir Jesus lief is, moet ons lewe dit ook wys. Jesus se liefde moet uit ons borrel soos die koeksoda die asyn uit die glas laat borrel. Wanneer ons ander mense help, maak ons God se hart bly, want dan weet God dat sy kinders versorg is.
– Watter voorbeelde van hoe ons Jesus se liefde vir ander mense kan wys, lees jy raak in Matteus 25:34-40?
– Hoekom dink jy vra God ons om liefde aan ander mense te bewys?
Aktiwiteit
Neem twee deurskynende glasies. Gooi ’n bietjie water in die een glas, en ’n bietjie asyn in die ander glas. Gooi nou ’n teelepel koeksoda by die water en kyk wat gebeur. Niks gebeur nie. Gooi nou ’n teelepel koeksoda by die asyn. Wat gebeur nou? Die asyn begin borrel, sommer by die glas uit.
Maandag 3 Augustus 2020
Kleurblind en status-doof
Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader (Efesiërs 2:13-18).
JB Haasbroek het gesê: “Dissipelskap is om Jesus te volg met een doel voor oë: om meer soos Hy te word.”
Jesus se gestuurdes is kleurblind en status-doof. Hulle kyk nie eers wat mense se status is voordat hulle die pad na hulle toe oorsteek nie. Hulle kyk nie eers na velkleur of geloofsoortuigings nie. Saam met Jesus stap sy dissipels die diskriminasie tussen mense uit die pad uit. Hulle behandel die weerloses en armes soos konings. Hulle ontvang mense van ander kulture en rasse soos hulle broers en susters in Jesus se Naam. Net soos die barmhartige Samaritaan wat bereid was om iemand van ’n ander kultuur te versorg, raak Christene magneties wanneer hulle dieselfde begin doen.
Klein dade van liefde is immers binne enige dissipel se bereik. In 90% van die gevalle kos dit ons niks in terme van rand en sent nie. Dit kos net persoonlike ongerief. Dit vra net dat ons uit ons gemaksone sal klim en ons hande sal vuil maak. Dit vra dat ons ons tyd sal opoffer en nuwe mense in ons lewensruimte sal innooi. Die heel beste is dat dit ’n onmisbare getuienis sal word dat Paulus se woorde in Efesiërs 2 waar is: Christus het die muur van skeiding tussen Jood en nie-Jood by die kruis afgebreek.
Toe die eerste Christene, lynreg teen alle vooropgestelde idees in, begin het om almal met dieselfde respek en waardigheid te behandel, was dit ’n reuse-getuienis. Galasiërs 3:28 het oral gestalte gekry. Jesus se mense het die wêreld omgekeer deur ander mense onvoorwaardelik te aanvaar. Hulle het niemand veroordeel nie. Hulle harte en deure en beursies was in Jesus se Naam oop vir ander.
Die vraag wat ons vandag moet vra, is: Leef óns steeds soos die eerste Christene? Volg ons die voorbeeld van die Samaritaan?
Here Jesus, dankie dat alle mense vrye toegang tot die Vader het omdat U deur u kruisdood alle skeidsmure afgebreek en ons almal deel van een liggaam gemaak het. Help my om alle mense met waardigheid en liefde te behandel en só u liefde en vrede te versprei. Amen.
Maar nou is julle een met Christus Jesus … Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het … Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader (Efesiërs 2:13-18).
Ons sien dikwels advertensies met ’n “voor”- en “na”-foto. Hierdie advertensies gebruik “voor”- en “na”-foto’s om te wys hoe iets gelyk het voordat die produk wat hulle adverteer, gebruik is en hoe iets lyk nadat die produk wat adverteer word, gebruik is. Soms is hierdie verandering baie indrukwekkend.
Christene het ook ’n “voor”- en ’n “na”-storie. Wanneer ons ons harte vir Jesus gee, verander ons. Ons ou manier van lewe wat net oor onsself gegaan het, en oor dinge wat vir ons lekker is, bestaan nie meer nie. Jesus verander ons sodat ons almal rondom ons liefhet en ook omgee vir hulle behoeftes, maak nie saak wie hulle is nie.
– Wat dink jy is “voor”-gedrag en wat is “na”-gedrag van iemand wat Jesus se dissipel is?
– Hoe dink jy help Jesus ons om te verander wanneer ons ons harte vir Hom gee?
Aktiwiteit
Neem ’n “voor”-foto van jouself. Kyk dan of jy jouself anders kan laat lyk deur byvoorbeeld ander klere aan te trek, jou hare in ’n ander styl te kam, of so iets. Neem dan ’n “na”-foto.
Diskriminasie
Here, U is genadig en regverdig.
U ontferm U oor ons.
Regverdige Here, ek weet dat U die diskriminasie raaksien.
Hoe sommige mense harder moet werk,
heeltyd moet baklei,
voortdurend oorgesien word,
weens faktore waaroor hulle geen beheer het nie,
net maar oor die manier waarop U hulle in u genadige wysheid geskep het.
Here, ek bid dat reg sal geskied.
Help my om raak te sien wanneer daar teen mense gediskrimineer word.
Help my om ’n opstander te wees, eerder as ’n omstander
wanneer mense onbillik behandel word.
En wanneer ek aan die ontvangkant van diskriminasie staan,
bid ek om wysheid en die leiding van u Gees,
sodat ek kan weet hoe om ook in hierdie situasies op te tree
sodat u geregtigheid kan geskied.
Amen.
Sondag 2 Augustus 2020
Só ontplof die kerk
Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Galasiërs 3:26-29).
Op 18 Desember 2012 het Pew, ’n internasionale navorsingsorganisasie, die resultate van ’n studie oor die religieuse landskap in die wêreld bekendgemaak. Volgens hierdie studie het 31,5% van die wêreldbevolking hulleself in daardie tyd as Christene beskou; 23,2% was Moslems, en 16,3% mense was godsdienstig onverbonde. Wat Suid-Afrika betref, het Gallup in Augustus 2012 bevind dat daar sedert 2005 ’n 19%-afname was onder dié mense wat hulleself as godsdienstig beskou het. Ons sou lank kon bespiegel oor die redes hiervoor, asook oor die redes vir die 9%-afname in godsdienstigheid oor die wêreld heen. Tog moet ons ook vra hoekom geloof steeds op vele plekke so dramaties groei.
Die vinnige groei van die Christendom in sub-Sahara-Afrika in die afgelope tien jaar het byvoorbeeld tot gevolg gehad dat bykans 25% van alle Christene daar woon. Die bekende sosioloog Rodney Stark het verskeie studies gedoen oor die groei van die Christendom vanaf die vroegste eeue. In sy boek The Rise of Christianity bereken hy dat Christene toegeneem het van 0,0017% van die wêreldbevolking in die jaar 40 nC tot 56,5% teen die jaar 350 nC. Die werk van die Gees het die vroeë kerk teen meer as 40% per dekade laat uitbrei.
Prakties het dit meegebring dat die eerste Christene al die mensgemaakte sosiale, etniese en geslagsgrense doelbewus uit die pad geleef het. In hiërargiese samelewings waar Jode en Grieke, slawe en vry mense, mans en vroue in verskillende sosiale klasse ingedwing is, was die vroegste kerk verwelkomend teenoor almal. Nee, dit het nie aldag spontaan gebeur nie, soos Paulus se briewe wys. Tog het die kerk vir die mensdom ’n venster op God se wêreld oopgemaak waar statusverskille rondom die kruis van Christus verdwyn.
Ons as volgelinge van Jesus Christus behoort vandag nog só te leef dat ons hierdie venster oopmaak vir almal wat oor ons pad kom.
Here God, dankie dat U geen witbroodjies het nie, maar dat U alle mense ewe liefhet. Help my om alle mensgemaakte sosiale “klasse” en mure tussen mense uit die pad te leef en in liefde ander mense belangriker as myself te ag. Mag ander u liefde deur my woorde en dade beleef. Amen.
Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God … Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één (Galasiërs 3:26-28).
Om ’n bestuurslisensie te kry moet jy ouer as 18 jaar wees. Om kitaar te speel moet jy ’n kitaar hê. Om ’n toets deur te kom moet jy hard leer. Om in die eerste span te speel moet jy vir die eerste span gekies word.
Met baie dinge in die lewe werk dit so dat jy eers iets moet doen, bereik, hê of wees voordat iets anders kan doen of kry of wees.
Maar om ’n kind van God te word hoef jy niks te doen, te bereik, te hê of te wees nie. God kies almal om sy kinders te wees. God het ons almal anders gemaak, maar deur God se genade word ons eenders in Jesus Christus. Ons almal word God se kinders.
– Hoekom kies God almal as sy kinders?
– Moet ons enigiets doen voordat God ons as sy kinders kies? Hoekom sê jy so?
Aktiwiteit
Elke keer wanneer jy vandag iemand sien, sê saggies vir jouself: “Hy/sy is ’n kind van God.”
Passie
Lewende Here,
ek is mal oor my werk!
Dankie vir die voorreg om te kan doen wat ek geniet,
om met passie my passie uit te leef.
Help my om hierdie passie altyd te behou.
Mag daar altyd genoeg passie wees om my ook deur die sleurwerk te dra.
Mag my passie aansteeklik wees,
en mag dit tot u eer wees.
Amen.
Saterdag 1 Augustus 2020
Hoe doen ek dit prakties?
Hierdie mense sing ’n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie. Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. Uit hulle mond het daar nooit ’n leuen gekom nie. Hulle is onberispelik (Openbaring 14:3-5).
Die vraag wat altyd oor evangelisasie gevra word, is: “Hoe doen ek dit prakties?” As mense lewelose items op ’n vervoerband was, was die antwoord hierop maklik. Of as mense bestanddele in ’n resep was, kon ons gou ’n geestelike handleiding nadertrek. Maar mense is nie items of bestanddele nie. Daarom is daar geen kitsantwoorde op hierdie vraag nie.
Om ’n sendeling te wees is om ’n gestuurde te wees sonder dat jy die besonderhede van die pad vorentoe ken en sonder om presies te weet wat om te doen. Sendeling-wees is ’n leefwyse. Elke dag meld jy aan vir jou lewe saam met Jesus. Jy vertrou Hom blindelings om die regte deure oop te maak waar jy sout moet strooi en lig moet wees. Jy volg die Lam waar Hy ook al gaan, soos Openbaring 14 sê.
Jesus sal jou doodgewone woorde en jou geringe dade seën sonder dat jy noodwendig die vrug of reaksie daarop sien. Hy sal sorg vir die oeste op sy aardse landerye, as jy maar net getrou is. Vrugdra is nie vir ons om altyd te sien of te ervaar nie. Vrugdra is ’n diens wat ons tot eer van die Here en tot voordeel van ander lewer. Ander mense wat elke dag met ons te doen kry, sal weet of ons Jesus volg.
Sendeling-wees gebeur ook nie net wanneer God se familie feestelik saamkom nie, maar veral wanneer ons voltyds ontplooi word oorkant die pad. Mense wat hulle geloof uitleef, dink nie meer in terme van voltydse of deeltydse bedienings of aan vrywilligers wat na-ure by ’n plaaslike gemeente werk nie. Hierdie kategorieë bestaan nie vir hulle nie. Hulle leef voltyds vir Christus en is sonder ophou in sy diens, of hulle nou by die werk, by die kerk of oorkant die pad is.
En hulle rolmodel is die barmhartige Samaritaan wat sy reisplanne onderbreek het om tot stilstand te kom langs ’n vreemdeling in nood.
Here Jesus, Lam van God, help my om U na te volg soos Openbaring 14 beskryf. Ek wil elke dag met my hele lewe aanmeld vir diens. Al sien ek nie die vrug daarvan nie, is dit vir my genoeg om saam met U te loop. Amen.
Hierdie mense sing ’n nuwe lied daar voor die troon … Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam (Openbaring 14:3-5).
Die meeste restaurante het ’n kenwysie en ’n treffende leuse. McDonald’s se leuse is “I’m loving it” en die Spur s’n is “People with a taste for life”. Kenwysies en leuses is so ontwerp dat ’n mens dadelik aan die restaurant dink wanneer jy dit hoor.
Wat dink jy is Jesus se navolgers se leuse? Vandag se verse gee dit vir ons: Volg in Jesus se voetspore.
Mense sal ons uitken as Jesus se dissipels wanneer ons leef volgens die voorbeeld wat Jesus self vir ons gestel het.
– Watter dade kan doen wat wys dat jy Jesus se voorbeeld navolg?
– Wat beteken dit om Jesus te volg waar Hy ook al gaan?
Aktiwiteit
Maak jou eie kenwysie op vir die leuse: “Volg in Jesus se voetspore.”
Vir ’n argitek
Here, God van ruimte en lig,
van plek en skoonheid,
ek staan daagliks verwonderd
oor die tuiste wat U vir ons geskep het.
Dankie vir die voorreg om ruimtes te kan skep
waarbinne mense kan leef en floreer,
ruimtes wat nie net funksioneel is nie,
maar wat ook u skoonheid weerspieël,
gemeenskap skep,
produktiwiteit aanmoedig.
Mag die ruimtes wat ek ontwerp,
mense help om tuis te kom.
Mag dit altyd iets van u lig en lewe weerkaats.
Amen.
Vrydag 31 Julie 2020
Voltydse sendelinge oorkant die pad
“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly” (Matteus 16:15-19).
“Hoeveel geestelike gesprekke het jy die afgelope jaar gevoer?”
Ek moet sê, hierdie vraag het my uitgeboul. “Elke gesprek wat ek voer, is geestelik,” antwoord ek.
“Jy is seker nie ernstig nie,” reageer die man.
Toe ek ’n oomblik nadink oor my intuïtiewe antwoord, besef ek dat ek 100% met myself saamstem. “Ek sien die Here as die permanente Eregas in my lewe. Daarom sluit ek Hom nooit uit van enige gesprek nie.”
“Ja,” sê die man, “maar praat jy gereeld met ander mense oor hulle geloof?”
“Nee, nie altyd direk nie,” antwoord ek. “Net so praat ek ook nie altyd oor sport of nuwe boeke of die weer nie, maar wat Jesus betref – ek is nie skaam vir Hom nie. Hy is my Here. En ek hoef nie eers eksplisiet oor Hom te gesels voordat ek van rat kan verwissel van gewone gesprekke na geestelike gesprekke nie.”
Ek probeer om my lewe nie in losstaande kompartemente te leef nie. Dit is dodelik. Ek weet, want ek het dit lank gedoen. Sondae het ek my kerkklere aangetrek en Maandae my werkklere. Ja, ek wou die wêreld bereik, totdat ek besef het ek kan die wêreld net bereik as ek in hulle skoene gaan staan.
Nou is dit my voltydse missie om Jesus te volg en ander uit te nooi na die fees van ’n ewigheid. Ek weet nou my belydenis dat Jesus die Here is, loop hand aan hand met voltydse sendeling-wees vir Hom. Sy wens is nou my bevel. En die Here se wens is dat ek aktief aan diens sal wees vir Hom … aan die oorkant van die pad. Die mentor wat Hy saamstuur, is die barmhartige Samaritaan. By hom leer ek nuwe geestelike vaardighede aan, soos hoe om my program te onderbreek, my hande vuil te maak, my beursie wyd oop te maak, nuwe verhoudings met vreemdelinge aan te knoop en nuwe prioriteite in plek te hê.
Ek is nou ’n voltydse dissipel van Jesus, vermom as iemand met ’n doodgewone dagwerk.
Here my God, dankie dat ek ’n voltydse sendeling vir U kan wees. Gebruik my om u koninkryk uit te bou. Help my om bereid te wees om onderbreek te word deur ander se nood, om my hande vuil te maak, om my beursie wyd oop te maak, om vreemdelinge in vriende te verander, omdat ek volgens u prioriteite leef, nie my eie gerief nie. Amen.
“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly” (Matteus 16:15-19)
In vandag se Bybelgedeelte gesels Jesus met sy dissipels. Hy vra vir hulle wie hulle dink Hy is. As jy hierdie vraag moes beantwoord, wat sou jy sê? Wie is Jesus?
Die Bybel gebruik verskillende woorde om Jesus te geskryf, en Jesus kan vir ons elkeen iemand anders wees, vanaf ’n Vriend tot ’n Koning. Daar is wel een waarheid oor wie Jesus is wat altyd vir almal dieselfde bly, maak nie saak wie jy is nie: Jesus is God se Seun wat ons vrygemaak het van die sonde.
– Met watter woorde kan jy vir Jesus beskryf?
– Hoe sal jy vir ander mense verduidelik wie Jesus is?
Aktiwiteit
Vra die mense wat saam met jou woon wie Jesus vir hulle is.
Vir ’n landskapargitek of tuinier
Skepper-God,
elke blaar, elke blom, elke grashalmpie, elke klip
roep u lof uit.
Terwyl ek worstel met onkruid en dissels,
bid ek dat u koninkryk sal kom,
dat ons die volle skoonheid van u skepping,
sonder swaarkry en sonde,
sal kan beleef.
Intussen, gee dat my handewerk ruimtes skep
waar mense rus kan vind,
die skoonheid van u skepping kan geniet
en U kan loof.
Amen.
Donderdag 30 Julie 2020
Stap net oor die straat
Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?” Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind … Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so” (Lukas 10:29-37).
Wanneer ons Jesus navolg, leef ons nader aan God en aan ander mense. Ons kan eenvoudig nie aan die veilige kant van die pad leef wanneer mense rondom ons swaarkry nie. Ons moet die straat oorsteek, soos die jammerhartige Samaritaan in Jesus se gelykenis. Godsdienstige mense leef meestal aan die “veilige” kant. Hulle loop vroom-vroom verby die regte lewe. Soos die priester en die Leviet wat die jongste slagoffer van misdaad geïgnoreer het.
Jesus se aardskuddende verhaal in Lukas 10 maak dit duidelik dat ons nie kan kies wanneer ons ’n naaste vir ander wil wees nie. Ons het nie die “luukse” om te kyk of dit inpas by ons besige program of begroting nie. “Omgee” kan nie in jou dagboek se volgende opening ingeskryf word nie. Om iemand se naaste te wees gebeur onverwags. Al wat ons moet doen, is om met die liefde van die Here te leef. So sal ons gereed wees vir elke nuwe geleentheid wat oor ons pad kom. Dan sal ons nooit aan die ander kant van die pad verbystap nie.
’n Ruk gelede vertel ’n leraar my van ’n welvarende boer in sy gemeente wat met ’n stokou bakkie ry. Hy vra die boer wanneer hy dan ’n nuwe bakkie gaan koop. Toe sê die boer hy sal ná die oes kyk. Lank ná oestyd ry die boer steeds met die ou bakkie. Toe die leraar hom weer oor die bakkie uitvra, sê hy die dominee moet saamry plaas toe. Daar is hy besig om nuwe huise vir sy werkers te bou. Toe hulle so na die geboue staan en kyk, sê die boer: “Hier sien jy my nuwe bakkie. Ek kan nie voor die Here vrede hê as ek in ’n nuwe voertuig ry, maar my werkers bly in stukkende huise nie.”
Hierdie boer het die straat onherroeplik saam met die Samaritaan oorgesteek. Eers aan daardie kant van die pad, wanneer jy tussen die beseerdes, armes en gieriges loop, ervaar jy wat dit beteken om ’n naaste te wees, om weg te stap van die “veilige” kant van die straat en betrokke te raak.
Here, gee vir my die waagmoed om die pad oor te steek na mense in nood, om betrokke te raak eerder as om aan die veilige kant van die pad verby te gaan. Maak my oë oop vir die geleenthede wat U oor my pad stuur om my naaste met u liefde te dien. Amen.
Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?” Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind … Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so” (Lukas 10:29-37).
Het jy geweet die hele Bybel kan in een woord opgesom word? Kan jy raai wat hierdie woord is? Liefde! Die heel belangrikste ding wat ons kan doen, is om ander mense lief te hê. Jesus beskryf dit deur te sê ons moet God liefhê met ons hele hart, hele siel en hele verstand en ons naaste soos onsself.
Maar wie is ons “naaste”? Is dit ons bure, die mense wat saam met ons in die huis woon of dalk die gesin oorkant die pad? Vandag se Bybelverhaal help ons om te onthou dat ons naaste enigiemand is wat ons pad kruis, of ons hulle ken of nie en selfs al hou ons nie van hulle nie.
Die Jode en die Samaritane het nie baie van mekaar gehou nie. Inteendeel, hulle wou niks met mekaar te doen gehad het nie. ’n Mens sou dus nie verwag dat ’n Samaritaan ’n Jood sou help nie. Tog het hierdie Samaritaan besef dat die man sy hulp nodig gehad het en dat dit sy werk was om ander mense te help.
– Hoe dink jy sou jy opgetree het as jy die Samaritaan was?
– Vir wie kan jy vandag ’n naaste gaan wees?
Aktiwiteit
Vra een van jou ouers of jy ’n pleister kan kry om voor in jou Bybel te plak. Verduidelik vir hulle dat hierdie pleister jou sal help onthou om liefde aan jou naaste te bewys.
Vir mense in die gasvryheidsbedryf
Here, dankie dat ek by U welkom is,
dat ek enige tyd mag instap en my skoene uitskop,
dat ek heeltemal myself mag wees by U.
Help my om in my werk altyd u opdrag in gedagte te hou
om gasvryheid te bewys,
om mense te verwelkom.
Mag ek elkeen met waardigheid behandel.
Mag elkeen by my iets van u genadige ontvangs,
’n spesiale tuiskoms,
beleef.
Amen.
Woensdag 29 Julie 2020
24/7
Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie” (Lukas 15:3-7).
Wanneer ek elke oggend opnuut aanmeld vir diens in Jesus se span as een van sy kelners, soos Hy my rol in Lukas 17:7-10 omskryf, rig ek my oë en my hart en my voete en my hande en my tydsbestuur en my dagboek en my rekenaar en my verhoudings en my etes en my kuiers en my motorbestuur en my huwelik en my slaap en my opstaan op God se koninkryk. Dan is ek ingestel op die instruksies van my Heer. Dan is ek heeldag op die uitkyk vir tekens van die inbreek van God se koninkryk in die wêreld rondom my. Aanduidings van waar ek moet praat, omgee, bid, feesvier, uit die pad staan, naderstaan of geld gee, is elke dag verskillend. Ek leer maar net om al meer ’n kenner van God se nuutste werke te word en my nooit blind te staar teen tydelike “oorwinnings” van teenstanders nie.
Om doelgerig en doelbewus saam met Jesus in the zone te leef, beteken al die nuwe verhale van die Here se verlore eiendom wat by Hom tuiskom, is nou baie meer opvallend in my lewe as die nuutste lamppaalopskrifte van korrupsie in die land of nog ’n krisis in die wêreld. Een mens wat in Jesus vashardloop terwyl sy of hy aan die vlug was, is vir my eindeloos kosbaarder as tien stories van sterwende kerke of krimpende bedienings. Een mens wat kies om stukkendes en vergetenes te dien is vir my hoofnuus, nie die nuutste prestasies van sporthelde nie.
Hierdie nuwe kyk verander my prioriteite, asook my lewensritme en my aktiwiteite.
My God, dankie dat ek ’n kelner in u diens kan wees. Help my om doelgerig en doelbewus te leef sodat alles wat ek doen – of ek nou slaap of wakker is, of ek motor bestuur of eet – tot eer van U sal wees. Verander my prioriteite, my lewensritme en my aktiwiteite om in pas met u wil te wees. Amen.
Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie” (Lukas 15:3-7).
Die Bybel leer ons dat ons God se skape is, en Jesus is ons herder, die Een wat ons oppas en beskerm. Tog gebeur dit soms dat ons wegdwaal van Jesus af, net soos skape soms wegdwaal uit die trop. Alhoewel dit Jesus se hart seermaak as ons wegdwaal van Hom af, sal Hy nooit moed opgee met ons nie. Hy sal ons altyd kom soek en terugroep na Hom toe, maak nie saak wat ons gedoen het nie.
Jesus herinner ons dat ons ook ander mense wat van Hom af weggedwaal het, moet gaan soek en terugroep en hulle met oop arms moet terugverwelkom.
– Op watter maniere kan ’n mens wegdwaal van Jesus af?
– Hoekom dink jy sal Jesus ons altyd weer kom soek?
Aktiwiteit
Vra iemand om saam met jou te speel. As jy ’n speelgoedskapie het, gaan steek dit iewers weg. As jy nie een het nie, kan jy een maak van karton en watte of wol. Die ander persoon moet dan die skapie gaan soek. Maak beurte om die skapie weg te steek en te soek. Dink die hele tyd aan Jesus wat jou elke keer sal kom soek.
Vir ’n maatskaplike werker
Here, U is soos ’n moederhen
wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm.
By U is almal veilig.
Maar U ken ook my frustrasie, my pyn,
oor al die stukkend in die wêreld.
Soms oorweldig dit my.
Ek bring elke mens,
elkeen in nood,
na U toe.
Ek pleit dat U vir hulle sal sorg,
vir hulle sal voorsien,
hulle sal beskerm.
Gebruik my
sodat mense in my werk
u liefdevolle sorg kan beleef.
Amen.
Dinsdag 28 Julie 2020
In the zone
“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee” (Lukas 12:22-34).
Om op ’n missie saam met Jesus te wees, is dit nodig dat ’n mens sal ontdek dat evangelisasie ’n leefwyse is, nie ’n program of ’n kursus nie. Hoor mooi, evangelisasie is ’n voltydse manier van leef. Die nuwe wagwoord wat ek myne gemaak het die dag toe ek dit ontdek het, is intensionaliteit. Die jonger geslag sal sê: “In the zone!” Dit is om doelgerig en doelbewus te leef.
Ek weet nou Jesus se missie is om die koninkryk van God te laat inbreek in ons wêreld. God se koninkryk, sy nuwe wêreld, is oral aan die gebeur. Om elke hoek en draai is daar hemelse skatte versteek in die saailande van die wêreld. Geen wonder nie dat Jesus, toe Hy op aarde was, mense se fokus gedurig verskuif het vanaf hulle eie lewe na God se ryk. Hulle moes leer om die voëls van die hemel en die blomme van die veld raak te sien as voorbeelde van God se versorging. Hulle moes leer om die ontferming van God raak te sien in die pa wat sy wegloopkind omhels en soen.
My vertrekpunt en doel sedertdien is om elke dag op ’n voltydse sending saam met Jesus en sy mense te wees. Maar – en dit is baie belangrik – die uitkomste van hierdie sending ken of manipuleer ek nooit nie. My roeping is om agter Jesus aan te stap, en dit doen ek elke dag. Hy sorg vir die res. Hy verander mense se lewe. Hy lei my op nuwe paaie. Hy lei my na daardie plekke waar ’n goeie visvangs sal plaasvind. Hy stel my oog in op mense in nood. Hy roer my hartsnare deur sy Gees.
Here, dankie dat U vir my sorg sodat ek sonder kommer op ander mense kan fokus. Help my om my geloof in U nie as ’n afsonderlike kompartement te sien nie, maar eerder as ’n leefwyse. Ek wil doelbewus en doelgerig leef met my fokus op u koninkryk gerig. Amen.
“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee” (Lukas 12:22-34).
Watter drie dinge dink jy is belangrikste om te kan oorleef? Dalk dink jy aan kos, water en klere. Of ’n huis. Hierdie dinge is wel nodig vir oorlewing, maar dit is nie al waaroor die lewe gaan nie. Deur die geskiedenis van die aarde heen sien ons dat mense baie tyd, energie en geld bestee het om genoeg kos, water, blyplek en klere te kry. Dikwels gebeur dit dat mense al hulle energie, tyd en geld aan daardie dinge afstaan en vergeet wat regtig belangrik is. Vir hulle gaan die lewe net oor mooi klere, groot huise en lekker kos.
In vandag se Bybelverse herinner Jesus ons dat die lewe oor meer as kos, klere, water en blyplek gaan. Die belangrikste in die lewe is nie om mooi klere te dra, in ’n groot huis te woon of lekker kos te eet nie. Die heel belangrikste is om na God se wil te luister en sy liefde, sy koninkryk, op die aarde sigbaar te maak.
– Hoekom dink jy is kos, klere, water en blyplek nie die heel belangrikste dinge in die lewe nie?
– God sorg vir ons. Waarvoor wil jy vandag vir God dankie sê?
Aktiwiteit
God sorg vir alles. Gaan vandag buitentoe en kyk of jy iets in die tuin of buite kan raaksien wat jy nog nie voorheen raakgesien het nie. Dalk het daar ’n nuwe plantjie opgekom. Gaan vertel vir iemand daarvan.
Vir ’n busbestuurder, ’n taxibestuurder of ’n saamryklub
Here, U is aan die stuur van die heelal.
U neem ons oor paaie van genade
om by U uit te kom.
Ek bid dat ek en almal wat ek vervoer,
vandag veilig op die pad sal wees.
Ek bid ook dat U vir my spesiale ontmoetings sal reël
sodat ek u sorg met ander kan deel.
Gebruik my
sodat elkeen wat ek vervoer,
elkeen met wie ek kontak het,
sal onthou dat U aan die stuur van die lewe is.
Amen.
Maandag 27 Julie 2020
Christenskap is ’n verhouding
Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk. Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het … Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” (Markus 5:21-34).
Ek het altyd gedink Christenskap is ’n netjies uitgewerkte program wat ek met ander mense moet deel. Ek moes niegelowiges teiken en hulle probeer oortuig hulle is verlore. Indien hulle tot bekering kom, kon ek hulle opskryf as goeie kerklike statistiek en aanbeweeg na my volgende menslike teikens. Tref en trap!
Nodeloos om te sê, dit het nie gewerk nie. Ek is nie ’n goeie verkoopsman nie. Min mense het hulle aan Jesus oorgegee of sondaarsgebede gebid. In totale moedeloosheid het ek later opgehou “evangelisasie” doen. Buiten die feit dat my styl mense meer kwaad gemaak het as enigiets anders, het ek gevoel dat ek mense verlaag tot objekte wat ’n produk genaamd die “ewige lewe” moet bekom. Boonop het min van dié wat wel hulle lewe aan Christus oorgegee het in ’n nuwe verhouding met Hom begin leef.
Vandag weet ek meer as ooit dat Jesus voltyds soek na God se verlore mense. En dat ons elkeen saam met Hom op hierdie missie is. Maar ek het geleer hierdie missie saam met Jesus gebeur minder georganiseerd, meestal onbepland, veral spontaan, grootliks binne verhoudings, dikwels informeel en meer as 90% van die tyd buite die kerk.
Ons sien baie van hierdie eienskappe in Jesus wat toelaat dat mense Hom spontaan onderbreek, soos wanneer Jaïrus Hom vra om sy dogtertjie te genees en die vrou met bloedvloeiing tussen duisende ander mense aan Hom raak. Dit was ook nie vir Jesus genoeg dat sy net genees is deur aan Hom te raak nie; Jesus wou ’n persoonlike ontmoeting met haar hê en het met haar begin gesels.
Verhoudings is vir Jesus belangrik. Hy was bereid om mense op onbeplande plekke en tye te dien. Is ons?
Here, ek wil graag die Goeie Nuus van u koninkryk met ander deel. Help my om, soos U, oop te wees om in informele en spontane oomblikke deel te word van u missie op aarde. Amen.
Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk. Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het … Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” (Markus 5:21-34).
Terwyl Jesus rondgereis en gepreek het, het baie mense van Hom gehoor. Nie almal het geglo dat Hy die Seun van God is nie, maar hulle het gehoor dat Hy wonderwerke kan doen en hulle wou sien hoe Hy dit doen.
Jesus het nie omgegee of mense uit nuuskierigheid na Hom toe gekom het of omdat hulle regtig in Hom wou glo nie. Jesus het elke geleentheid gebruik om die mense meer van God te leer, vir hulle te preek en wondertekens te doen.
Jesus stuur ons ook uit om altyd so te leef dat mense kan sien hoe God deur ons werk.
– Wat is jou gunsteling verhaal oor ’n wonderwerk wat Jesus gedoen het?
– Hoe sou jy voel as jy deel was van die skare waar Jesus die wonderwerk in vandag se Bybelverse gedoen het?
Aktiwiteit
Gaan soek in die Bybel wat Jesus se heel eerste wonderwerk was.
Sondag 26 Julie 2020
Dis nie óns wat mense bekeer nie
Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is” (Markus 4:26-29).
Die eerste sendeling in Korea van wie ons weet, was Robert J Thomas. Hy het nie ’n omvangryke sendingprogram gehad nie. Trouens, hy het gesterf nog voordat hy begin het. In 1866 was hy op die Amerikaanse skip General Sherman om in Korea vir die Here te gaan werk. Die skip het op ’n sandbank beland en hulle is deur Koreaanse soldate aangeval. Net voordat Thomas doodgemaak is, het hy ’n Bybel na sy aanvallers uitgehou en uitgeroep: “Jesus, Jesus!” Dit is al.
Sowat 25 jaar later het iemand ’n gastehuis in daardie omgewing besoek. Teen die mure was vreemde muurpapier. Die eienaar het verduidelik dat hy van die Koreaanse skrif gehou het in ’n dik boek wat hy iewers gekry het. Toe gebruik hy dit as muurpapier, soos dit in daardie tyd die gebruik was. Dit was toe al die tyd bladsye uit Thomas se Bybel wat hy vir sy moordenaars gegee het en wat as geloofsteks vir vele gaste gedien het. Wie weet hoeveel mense het God se genade teen daardie einste mure raakgelees en ontdek! Sommige navorsers reken dat 40% van Suid-Korea se inwoners vandag Christene is en dat hierdie Bybel van Thomas die eerste reuse tree in die regte rigting was.
Anders as Robert Thomas, was die prediker DL Moody wyd bekend. Een aand voor ’n optrede in Indianapolis het hy vir die bekende sanger Ira Sankey gevra om op ’n straathoek te begin sing. Spoedig het ’n groot skare om hom saamgedrom. Moody het toe met hulle oor die Here begin praat. Daar was later so baie mense dat hy hulle genooi het na die ouditorium waar hy later die aand sou optree. Kort voor die aanvang van die program het hy vir die skare mense gesê: “Now we must close, as the brethren of the convention wish to come and discuss the question: ‘How to reach the masses!’”
Die verhale van Robert Thomas en DL Moody het een gemene deler. Albei vertel iets van die ongestruktureerdheid en verrassende karakter van dissipelskap. Dit is hierdie spontane lewe wat ek self veels te lank misgeloop het. Helaas, ek het Markus 4 nie geglo wat sê die koninkryk se saad sal vanself en op onverwagte maniere opkom en groei nie. Jesus se woorde aan Petrus dat hy maar net agter Hom moet aankom en Hy sal hom ’n visser van mense maak, het by my verbygegaan. Ek het gedink ek moet sélf die visse inbring. Maar dit is nie óns wat mense bekeer nie; dit is God se werk. Ons moet net vertel.
Here, partykeer dink ek ook dat ek self die visse moet inbring en die saad moet laat groei. Help my om die verrassende en spontane karakter van u koninkryk te ontdek. Dankie dat ek U maar net moet volg en U moet toelaat om die saad te laat groei. Amen.
Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is” (Markus 4:26-29).
Wanneer jy ’n saadjie plant, kan jy nie sien wat onder die grond aangaan nie. Jy gee die saadjie water en sorg dat dit genoeg son kry, tot die dag dat jy sien daar breek ’n stukkie van die plantjie deur die grond. Veel meer as dit kan jy nie doen nie.
As Jesus se volgelinge word ons gestuur om vir ander mense te gaan vertel wie Jesus is en om vir hulle sy liefde te wys. Net soos ons nie veel kan doen om die saadjie onder die grond te laat ontkiem nie en nie kan sien hoe die saadjie onder die grond ontkiem nie, net so kan ons nie sien wat in iemand se hart aangaan nie.
Gelukkig hoef ons nie daaroor bekommerd te wees nie, want dit is nie ons werk nie. Ons werk is net om vir ander van Jesus te vertel. Jesus doen die res van die werk.
– Kan jy dink aan iemand wat vandag nodig het om te hoor dat Jesus hulle liefhet? Dalk kan jy vir hulle van Jesus se liefde vir hulle gaan vertel.
– Op watter maniere dink jy help God ons om nader aan Hom te groei?
Aktiwiteit
Vra iemand om jou te help soek op die internet na ’n video van hoe sade onder die grond ontkiem.
Oorgeslaan vir bevordering
Vandag sukkel ek om al my gevoelens te verwoord, Here.
Ek is kwaad. Teleurgesteld. Seergemaak. Gefrustreerd. Magteloos.
Iemand anders het die bevordering gekry wat ek gedink het myne was.
Here, ek verstaan dit nie.
Wys my u plan,
wys my wat ek nou moet doen.
Help my om aan te beweeg,
om nie vas te haak by hierdie teleurstelling nie,
maar om my bes te doen
en te gaan waarheen U my stuur.
Amen.
Saterdag 25 Julie 2020
Dissipels kuier graag by hulle nuwe helde
Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” … Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord (Johannes 1:43-45).
Pieter Breytenbach, gemeentebestuurder van Moreletapark, vertel:
Ek en my seun is op pad rugby toe. Groot is die opwinding toe hy sy helde, Pierre, Bryan en Morné, sien speel. Maandag, by die verkeerslig, sien ek die bekende bedelaar. Geïrriteerd begin ek met hom praat. Hy bly in die plakkerskamp daar naby. Ja, sê hy, hy ken die Here en die Here sal my seën as ek vir hom iets gee. Yeah right, dink ek, gooi ’n geestelike sousie oor jou bedel. Loop werk eerder!
Later gesels ek met die leiers van die plakkerskamp langs ons kerk. Ek doen moeite om hulle name te probeer onthou: Israel, Donald … die res is weg uit my geheue.
Tyd stap aan. Ek het ’n vergadering met van die bekendste sangers in ons land. Later gebruik ek hulle name in gesprekke en ek kan die jaloesie sien omdat my gespreksgenote dié mense nie kon ontmoet nie: Bobby, Juanita, Theuns …
Weer kry ek die naamlose bedelaar. Vandag is ek nie lus vir hom nie en kyk anderpad. Ek sit en dink aan my toer Israel toe. Ek is regtig geseënd om op Jesus se voetspore te kan gaan stap. Groot is my verbasing toe ek uitvind Nasaret was aan die verkeerde kant van die treinspoor. Jesus het in ’n grot gebly, grootgeword in ’n “plakkerskamp”. Sy pa, ’n no name skrynwerker, moes dalk ook op ’n straathoek bedel …
Toe verstaan ek die Skrifgedeelte wat sê dat niks goeds uit Nasaret, ’n “plakkerskamp”, kan kom nie. Jesus het nie eens ’n huis gehad of ’n bed om sy kop op neer te lê nie.
My gedagtes word verder deurmekaargekrap met ’n teksboodskap: “Anyone can be polite to a king; it takes a great man to be polite to a beggar.” Ek besef skielik ek is nie ’n great man nie. Al die “groot” name ken ek, maar naam van die verkeersligbedelaar en die name van die leiers van die plakkerskamp onthou ek nie. Hulle is nie my heroes nie.
Skielik besef ek dat ek in Jesus se tyd heel moontlik Pontius Pilatus, die skrifgeleerdes en die Fariseërs se name sou geken het; dat ek met die kruisiging dalk ook eerder vir húlle sou wou please en die bekende gevangene sou vrygelaat het in die plek van die onbekende man uit die Nasaret-plakkerskamp. Sê nou maar die verkeersligbedelaar of die leiers van die plakkerskamp is nie wie ek dink hulle is nie? Hoe kies ek teenoor wie ek polite is? Sê nou net … die man van die plakkerskamp is Jesus van Nasaret vandag?
Here Jesus van Nasaret, U het geen menslike eer gekies om onder ons te kom woon nie. Help my om U raak te sien in mense sonder aansien, om by hulle te leer en om almal met u liefde en respek te behandel. Amen.
Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” … Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord (Johannes 1:43-45).
“Wie is jy?” en “Waar kom jy vandaan?” is vrae wat ons dikwels vra om iemand beter te leer ken. Ongelukkig gebeur dit soms ook dat ons hierdie vrae gebruik om ander mense te oordeel en vas te stel of hulle goed genoeg is om met ons te meng. In ons kop het ons dalk ’n idee van hoe iemand wat goed genoeg is moet lyk, praat en aantrek. Maar het jy geweet dat Jesus hierdie idee van “goed genoeg” heeltemal verander het?
Jesus het van ’n klein en onbelangrike dorpie gekom; Hy het eenvoudige klere gedra en nie eens sy eie huis gehad nie. As jy vir Jesus met die mense van sy tyd sou vergelyk in terme van wie Hy was en waar Hy vandaan gekom het, sou Hy beslis nie “goed genoeg” gewees het nie.
Jesus het vir ons kom wys dat dit nie saak maak wat jy het of hoe jy lyk nie. Wat saak maak, is wat in jou hart aangaan. God se liefde vir Jesus het gemaak dat Hy goed genoeg is en dat Hy so ’n groot verskil op aarde kon maak, ten spyte daarvan dat Hy nie ryk was of van ’n belangrike dorp af gekom het nie. God stuur ons ook om ’n verskil te maak net daar waar ons is, want God se liefde vir ons maak ons goed genoeg.
– Wat laat jou soms dink dat ander mense nie goed genoeg is nie?
– Hoe kan jy anders oor daardie mense dink?
Aktiwiteit
Skryf met ’n witbordmerker op ’n spieël in julle huis: “God dink ek is goed genoeg!”
Boelies
Regverdige God,
U het u lewe vir ons afgelê.
U hoor die stem van die onderdruktes,
U sien u kinders se swaarkry raak.
U sien ook hoe ek sukkel onder die mense wat my afknou en boelie,
wat my werkomstandighede onsmaaklik maak
en dit vir my byna onmoontlik maak om my werk te doen.
Here, help my om nie te word soos my teenstanders nie,
maar om getrou te bly aan my waardes.
Lei my om met liefde en nederigheid
kreatiewe maniere te vind om te reageer
sodat reg kan geskied,
ook in hierdie moeilike omstandighede.
Mag hierdie mense hulle bekeer van hulle boelie-gedrag
sodat ons almal in vrede kan saamwerk,
tot eer van u Naam.
Amen.
Vrydag 24 Julie 2020
Om te dien
“Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ ’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Luk 17:7-10).
Ons weet nie of ons môre nog hier is nie. Die Here het wel vandag vir ons gegee om sy lig te laat skyn. Slegs vandag is tot ons beskikking, maar die son trek al weer water. Die tyd raak min om vandag ander familielede van God op die hande te dra. Iemand kort nog ’n bietjie liefde, ’n sny brood of ’n gebed voor slapenstyd. Ons kort die Here se hartklop in ons binneste om met ’n “heilige dringendheid” vandag anders te laat lyk as gister.
Solank ons oop is vir die Here se werk, vat hierdie dringendheid op onverwagte maniere in ons lewe pos, soos met Jozef de Veuster gebeur het.
Jozef se broer was ’n priester, maar hy het siek geword voordat hy in Hawaii moes gaan werk. Toe meld Josef in sy plek aan vir diens en gaan in 1864 Hawaii toe. Daar het hy vir nege jaar as priester Damien gedien. In 1873 het hy ingewillig om ’n melaatse gemeenskap van 8 000 mense op die Molokai-eiland te gaan bedien. Hy is vooraf gewaarsku dat hy nooit weer na die beskawing sou kon terugkeer nie. In hierdie tyd het Damien hospitale, klinieke, kinderhuise en skole gebou, al het hy self in 1884 melaatsheid opgedoen.
Op 15 April 1889 sterf Damien in die Here se diens. Sy lewe van onbaatsugtige diens, harde werk en opoffering het sy dood beteken. Maar Damien se vriende het by hom gehoor dat ’n splinternuwe lewe by God op hom wag. Sy visie van God se nuwe wêreld het gemaak dat hy in een van die stukkendste gebiede van die wêreld, wat as ’n “menslike ashoop” beskou is, die lig van die evangelie helder laat skyn het.
God se aardse familie is kosbare mense. Ons is Jesus se aardse liggaam. Ons is duur gekoop. Ons word gereedgemaak vir die ewige hemelse bruilofsfees. Om deur Jesus se oë na ons familie te kyk, is om hulle foute mis te kyk. Dan wil jy op blinkgepoleerde voorstoepe saam met hulle koffie drink. Dan bewaarheid jy Jesus se woorde in Lukas 17:7-10 dat die belangrikste mense by enige ete die gaste is. Kelners is daar om hulle te bedien.
Ek en jy is die kelners by elke tafel waar Jesus ons wil gebruik. Jesus vra dat ons sy geliefdes in God se aardse familie sal bedien. Net dit.
Here God, dankie dat U u lewe gegee het om my te red. My lewe is nou U s’n. Help my om ’n kelner te wees by enige tafel waarheen U my stuur om u mense te dien. Amen.
“Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ ’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Lukas 17:7-10).
Vandag se Bybelgedeelte gebruik die beeld van slawe om ons te help verstaan dat ons in Jesus se diens staan. Dit is ’n vreemde beeld, want is dit dan nie sleg om ’n slaaf te wees nie? Ons moenie hierdie verse verkeerd verstaan en dink dat Jesus ons vasvang, dat ons geen wil van ons eie het en nou hard moet werk sonder dat ons enige sê het nie.
Dit beteken eerder dat wanneer ons sê ons glo in Jesus, ons ons lewe vir Hom gee en Hy ons kan gebruik en stuur om sy liefde uit te dra soos Hy goeddink. Ons volg nie vir Jesus sodat ons erkenning of belonings kan kry nie. Ons volg vir Jesus sodat Hy ons kan stuur om sy koninkryk sigbaar te maak waar dit ook al nodig is.
– Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus jou kies om in sy diens te staan?
– Wat beteken dit om in Jesus se diens te staan?
Aktiwiteit
Gaan soek Jesaja 6:8 in jou Bybel op. Wat staan in hierdie vers? Hoe sluit dit aan by vandag se teksverse?
Uitbranding
Here, ek is moeg.
Soos Elia wil ek onder ’n bos gaan sit,
moed opgee met hierdie taak wat my so oorweldig,
wat vir my net te veel voel.
In my moegheid onthou ek dat selfs U,
Skepper en Heerser oor die heelal,
gerus het
en vir ons die opdrag gegee het om te rus.
Here, help my om te rus.
Gee vir my die gawe van ’n goeie, genesende sabbat.
Here, genees my,
gee my nuwe krag,
sodat ek, soos U belowe,
kan vlieg met arendsvlerke,
kan hardloop en nie moeg word nie.
Op my eie kan ek nie.
Moeg sit ek aan u voete,
met oop hande
en wag.
Amen.
Donderdag 23 Julie 2020
Respekteer ander
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was (Fil 2:1-5).
Hoe leef ons op Jesus se onselfsugtige pad in hierdie selfsugtige wêreld van ons?
Saam met CS Lewis moet ons leer om anders te dink voordat ons anders sal begin leef. Paulus help ons hiermee in Filippense 2:5 wanneer hy skryf dat dieselfde gesindheid wat in Jesus was toe Hy aarde toe gekom het ook in ons moet wees. Paulus se opsomming hiervan is: “Die een moet die ander een hoër ag as homself.”
Wanneer ons begin dink ander mense is regtig belangrik, ongeag wie hulle is, dink ons reg. Wanneer ons hulle ooreenkomstig behandel, leef ons reg. Wanneer ons elke dag doelbewus daarop ingestel is om reg te dink en reg te doen aan ander, raak ons vergeetagtig wat ons eie eer en regte betref. Só groei nederigheid. Só word ons dissipels wat soos Jesus met ’n onvoorwaardelike liefde vir mense lewe, sê Willem Lotter.
Alle mense het immers ’n diep behoefte om menswaardig behandel te word. Tog gun ons dit nie aldag vir mekaar nie, selfs al roep die Bybel ons daartoe op. Christene wat geleer het om vergeetagtig te leef ten opsigte van hulle belangrikheid, het al hoe meer respek vir ander. Hulle sien ander waarlik raak. Dit is soms so eenvoudig soos om eerste te groet. Of om ’n praatjie met hulle aan te knoop. Soms is small talk juis die regte ding op die regte oomblik en die kortpad na iemand se hart.
Toe emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in 1984 die Nobelprys vir vrede ontvang het, vertel hy van ’n gebeurtenis wat ’n groot indruk op hom gemaak het. As jong kind het hy eendag by sy ma in die plakkerskamp gestaan. ’n Wit man in priesterklere het by hulle verbygestap. Dit was Trevor Huddleston. Toe hy Desmond Tutu se ma raaksien, het hy sy hoed uit respek gelig en haar beleefd gegroet. “I couldn’t believe my eyes – a white man who greeted a black working-class woman.”
Hierdie een gebaar van nederigheid het die jong Desmond Tutu geleer dat egte geloof alle grense tussen mense uit die pad leef. Dit het die pad voor hom gebaan vir ’n lewe van toewyding aan die saak van geregtigheid en aan God.
Here, help my om te leef met liefdevolle respek wat brûe tussen mense bou. Ek wil graag ander hoër ag as myself, want dit is wat U vir my gedoen het. Amen.
Maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was (Filippense 2:1-5).
Wanneer jy ’n koek bak, gebruik jy ’n klomp verskillende bestanddele, maar elk van hierdie bestanddele werk saam om een heerlike koek te bak. As jy iets weglaat of te veel van iets insit, gaan die koek flop. Elke bestanddeel het ’n spesiale taak in die koekbakproses, maar die belangrikste is dat hulle een doel gemeen het: om ’n koek te vorm.
Ons het die afgelope paar dae baie gesels oor die feit dat ons nederig moet wees, Jesus se voorbeeld moet volg en moet onthou dat God ons almal gelyk gemaak het. Dit is die doel wat ons as gelowiges gemeen het. Dit is maklik om hierdie woorde te sê, maar nie so maklik om dit reg te kry en daarvolgens te leef nie.
Filippense 2:1-5 gee ons paar praktiese wenke hoe ons dit kan regkry. Die belangrikste wat ons as gelowiges moet doen, is om almal saam te werk na een doel toe: om Jesus se liefde uit te dra.
– Watter wenke vir die lewe lees jy raak in Filippense 2:1-5?
– Watter van hierdie opdragte is vir jou moeilik om te volg? Hoekom?
Aktiwiteit
Vandag se Bybelverse help ons onthou dat ons dade moet wys dat ons een in liefde, een in hart en een in strewe (dit is die dinge wat ons doen) moet wees. Om ons te help onthou dat ons so moet leef, teken ’n groot hart (wat vir liefde staan) met ’n kruis in die middel (wat staan vir ons strewe om soos Jesus te leef). Versier dan die res van die hart met tekeninge van ’n klomp verskillende mense.
Woensdag 22 Julie 2020
Dink minder aan jouself
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil 2:6-8).
In Mere Christianity beskryf CS Lewis hoe dit is om ’n werklik nederige persoon te ontmoet: “To even get near [humility], even for a moment, is like a drink of cold water to a man in a desert. Do not imagine that if you meet a really humble man he will be what most people call ‘humble’ nowadays: he will not be a sort of greasy, smarmy person, who is always telling you that, of course, he is nobody. Probably all you will think about him is that he seemed a cheerful, intelligent chap who took a real interest in what you said to him. If you do dislike him it will be because you feel a little envious of anyone who seems to enjoy life so easily. He will not be thinking about humility: he will not be thinking about himself at all.”
Nederigheid is nie om minder ván jouself te dink nie, maar om minder áán jouself te dink, in CS Lewis se woorde. Die wêreld van ons dag dwing ons in ’n ander rigting. Die media bombardeer ons met gedagtes oor hoe belangrik ons is. Geen wonder nie dat die soeklig gedurig grotendeels op onsself val, van ons Facebook-profiele tot ons persoonlike gesprekke.
Die verhaal van Jesus se lewe op aarde klink soveel anders as ons s’n met ons nimmereindigende behoeftes. In Paulus se aangrypende opsomming van Jesus se pad in Filippense 2 vertel hy hoe Jesus sy Godgelyke eer vrywillig opgeoffer het om mens te word. Hoekom? Christus het regtig minder aan Homself en meer aan ons gedink. Maar Jesus het nie net gedink nie; sy gedagtes het ook dade geword. Sy nederigheid het gemaak dat Hy sy hemelse veiligheid vir slaweklere verruil het – en vir ’n houtkruis.
Gaan ons kies om sy voorbeeld te volg?
Here Jesus, dankie dat U ter wille van my die nederige gestalte van ’n mens aangeneem het. Help my om meer van myself te vergeet, om soos U nederig te wees en ander eerste te stel. Amen.
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Filippense 2:6-8).
Titels soos dokter, meneer, koningin en klaskaptein laat ’n mens dikwels dink dat daardie mense belangrik is. Jesus het ook ’n titel, een wat belangriker as enige ander titel is: Seun van God. Tog het Jesus nie sy titel gebruik om vir ander mense te wys dat Hy belangrik is nie, want Jesus het geweet ’n titel maak jou nie belangrik nie. God het alle mense ewe belangrik gemaak.
Jesus herinner ons dat die lewe nie gaan oor ’n belangrike titel nie, maar oor hoe ons teenoor ander mense optree. Jesus, die Seun van God, het self vir ons die voorbeeld gestel dat ons nooit te goed of belangrik is om ander mense te help nie. Jesus, die belangrikste Persoon, het almal gehelp wat sy pad gekruis het, maak nie saak wie hulle was nie.
– Hoekom dink jy maak titels ’n mens nie belangrik nie?
– Hoe kan jy vir ander mense wys dat hulle vir jou belangrik is?
Aktiwiteit
Maak ’n kroon en skryf hierdie woorde daarop: “Almal ewe belangrik”.