Dag 10 – Groet mekaar hartlik

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Tel my op, Here, en hou my in u liefdevolle arms vas.
Beskerm my teen die druk van die dag,
en neem die swaar dinge uit my hart weg.
Inspireer my met die wete dat ek en U
saam alles kan hanteer.
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen.

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Koffiebeker

 

Ons bid vir alle ouers en versorgers wat na kinders en kleinkinders omsien. 

Mag hulle vreugde vind in die tyd wat hulle saam deurbring – tyd wat hulle andersins dalk nie saam sou kon geniet het nie.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Groet mekaar met ’n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete – Romeine 16:16.

Al die broers stuur vir julle groete. Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap – 1 Korintiërs 16:20.

Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete – 2 Korintiërs 13:12.

Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is! – 1 Petrus 5:14.

Die eerste Christene was lief vir soen. Hulle – mans én vroue – het mekaar elke keer met ’n soen van liefde gegroet as hulle bymekaargekom het. Dit was ’n algemene gebruik in die kerk (Rom 16:16; 1 Kor 16:20; 2 Kor 13:12; 1 Tess 5:26) en by Jesus (Luk 7:45). Hierdie soene het getuig van hulle opregte liefde en sorg vir mekaar. Paulus is byvoorbeeld met sy afskeid van die gemeente in Efese byna deur die ouderlinge met soene versmoor (Hand 20:37).

Wat die verskillende opdragte om mekaar met ’n soen te groet uniek maak, is dat ons nêrens in die antieke wêreld ’n soortgelyke oproep kry om ander mense wat nie gelyke status gehad het nie, in die openbaar te soen nie. Dit was daarom ’n kragtige getuienis van die vroeë kerk dat hulle mekaar werklik as broers en susters liefgehad het.

Om mekaar te soen is vandag nie meer die manier waarop mense mekaar groet of verwelkom nie. Ons behoort egter steeds die gebruik om mekaar altyd hartlik te verwelkom in die openbaar uit te leef om só van ons eensgesindheid te getuig, nie net teenoor mekaar nie, maar ook die wêreld.

Here, dankie vir elke broer en suster wat deel van ons geloofsfamilie is. Bind ons in liefde aan mekaar. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Begin en eindig elke dag met …

 

Hoe groet julle mekaar in die oggend, wanneer julle die ander mense in die huis vir die eerste keer sien? Hoe sê julle vir mekaar nag? Wat is die laaste ding wat julle vir mekaar sê voordat julle gaan slaap? Is hierdie tyd van afsondering nie die ideale geleentheid om ’n nuwe gewoonte of gebruik in julle huis te vestig nie?

In ons huis het ons die kinders nou al sover gekry om, voordat hulle vir iets vra om te eet of vir ons vra om hulle te help om iets te kry wat hulle misplaas het, eers te sê: “Goeiemôre, Pappa, ek het lekker geslapies. Het Pappa lekker geslapies? Kan ek …”

Dalk kan ons ’n tree verder gaan deur aan die begin van die dag die ander mense in die huis te groet met ’n hoop of verwagting vir die dag soos: “Ek groet jou en hoop dat ons vandag beter na mekaar gaan luister.” En wanneer ons mekaar aan die einde van die dag groet, kan ons mekaar groet met iets waarvoor ons dankbaar is, met iets wat ons vir mekaar beteken het. So kan ons die manier waarop ons mekaar groet nog meer spesiaal maak.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Die eerste Christene was lief vir soen. Hulle – mans én vroue – het mekaar elke keer met ’n soen van liefde gegroet as hulle bymekaargekom het. Om mekaar te soen is vandag nie meer die manier waarop mense mekaar groet of verwelkom nie. Tog moet ons steeds mekaar welkom laat voel daar waar ons saam is. Hierdie welkom is ook nie net vir mense wat jy ken nie, maar vir almal wat daar is.

Op watter maniere wil jy graag gegroet word?

Verbeel jou jy stap in die straat en iemand glimlag vir jou en sê hallo terwyl julle verby mekaar stap. Hoe sal dit jou laat voel en hoekom sal jy so voel?

Aktiwiteit

 

Dink ’n spesiale groet vir julle huis uit. Dit kan verskillende bewegings wees, soos high-fives of fist bumps, wat julle aanmekaarryg. Maak net seker dit is maklik genoeg sodat almal in die huis dit kan doen.

Trek ’n paar hande op papier af, versier dit en knip dit uit. Hierdie hande lyk nou amper soos hande wat “hallo” waai. Plak hierdie hande dan aan mekaar vas om ’n sirkel te vorm, amper soos ’n krans. As jy klaar is, gaan plak jou Hallo-hande-krans op julle voordeur as herinnering dat ons mense moet laat welkom voel.

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Gister se getuienisse:

Ek het my man sewe maande gelede verloor en is alleen. Hierdie kalender is vir my kosbaar en baie bemoedigend. So in my alleenheid wens ek hier was iemand met wie ek dit kan deel. My man sou dit verskriklik geniet het. Dankie vir die daaglikse inspirasie. Ek het al gewonder wat ek sal doen na dié 21 dae. Gaan so voort!
  – Alta
Dankie vir hierdie kalender. Dit het nou my Bybelstudie vir die aand geword. Vandag kan ons net deel wat ons ontvang het, al is dit nie altyd kos nie. Woorde wat bemoedig is dalk baie meer werd. Ons dien die genadige God.
– Elize Otto
Ons as gesin is elke dag opgewonde om die volgende dag se venster oop te maak en saam te groei in God se Naam. Die kinders (Karlia, 10, en Divan, 7) sien vreeslik uit daarna om die volgende simbool op ons gebedskring te soek en uit te pak. En dan natuurlik … die aktiwiteite is te lekker na ’n skooldag tuis! Baie dankie vir julle ondersteuning in hierdie tyd.
– Ronel Saayman

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.