Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Genadegawes is ’n groot woord wat eintlik iets eenvoudigs beteken. Dit beteken dinge wat ons uit genade van God ontvang het soos ons talente en gawes, maar ook ons besittings. Hierdie genadegawes het ons nie ontvang om vir onsself te hou nie, maar om ander mense mee te dien en te help.
Watter genadegawes het jy alles ontvang?
Wat moet ons doen met ons genadegawes?
Aktiwiteit
Sorteer al jou speelgoed uit. Besluit wat jy nie meer nodig het nie. Gooi die stukkende speelgoed weg en pak die bruikbare speelgoed in ʼn boks om weg te gee wanneer jy weer die kans kry.
Watter talente het jy ontvang? Dalk kan jy goed teken, sing, gediggies skryf of opsê. Kies een van jou talente en berei iets voor. Jy kan ’n mooi prentjie teken of ’n liedjie oefen. Laat iemand daarvan ’n foto of video neem en stuur dit dan aan iemand wat in hierdie tyd alleen voel. Julle kan selfs vir julle predikant vra vir die telefoonnommers van ’n paar eensame mense.