Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Jesus het ons geleer dat liefde baie anders werk as die meeste ander dinge op aarde. Die meeste dinge werk só: As jy daarvan weggee, raak dit minder. Maar liefde kan nie opraak nie. Inteendeel, hoe meer liefde ons weggee, hoe meer groei ons liefde vir mekaar. Jesus herinner ons ook dat ons nie net dié mense wat naby aan ons is, moet liefhê nie, maar almal rondom ons.
Wanneer voel dit vir jou of ander mense jou liefhet?
Op watter maniere wys jy graag dat jy ander mense liefhet?
Aktiwiteit
Doen hierdie eenvoudige eksperiment: Neem ’n stuk papier en teken ’n hartjie in elke hoek. Hierdie hoeke staan vir liefde wat jy kan weggee. Tel hoeveel hoeke daar is. Daar is 4 hoeke. Neem nou ’n skêr en knip die een hoek af. Die afgeknipte hoek is soos liefde wat jy gaan uitdeel. Jy het 1 van die 4 liefdeshoeke weggegee. Hoeveel is daar nou oor? Is daar regtig 3? Tel gou die hoeke op jou bladsy. Daar is nie net 3 hoeke nie, maar daar is nou 5! Dit help jou onthou dat jy nie hoef te tel hoeveel liefde jy uitdeel nie, want liefde kan nie opraak nie.
Probeer die eksperiment weer doen met die ander hoeke op die bladsy, en selfs met die hoekie liefde wat jy afgeknip het.