Dag 15 – Moet mekaar nie veroordeel nie

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Vader, u Seun het so swaar gely, soveel bloed gestort.
Ek is gebore met soveel foute en my menslike aard is so vol swakhede.
Tog het u Seun vir my aan die kruis gesterf.
Ek weet u genade het die krag om my van soveel sondes te reinig
en my al hoe meer soos u Seun te maak.
Dankie vir u goedheid en liefde vir my.
Help my, Vader, om dit na ander mense te laat vloei.
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Sagte speelding

 

Ons bid vir kinders en vroue wat bang is en onveilig voel wanneer hulle by die huis is. 

Laat ons gereeld kontak maak met ons vriende en familie en hulle vra hoe dit met hulle gaan, selfs al kan ons nie by hulle gaan kuier nie.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ’n val kan bring nie – Romeine 14:13.

Dit is nie moeilik om met ander fout te vind nie. Alle mense het immers foute. As ons daarom onsself as regters oor ander aanstel, sou ons elke dag genoeg rede kry om hulle te veroordeel.  Maar dikwels is ons kritiese ingesteldheid teenoor ander net ’n manier om ons eie gedrag te verskoon. Deur ander af te breek voel ons beter oor ons eie tekortkomings.

Paulus roep ons, saam met die Christene in Rome, op om ander nie te veroordeel oor hulle foute of sondes nie. Hy vra dat ons eerder só sal leef dat hulle nie meer foute maak of sondig nie. In plaas daarvan dat ons onsself verlekker as ander struikel, moet ons ons eerder afvra of ons nie dalk iets doen wat daartoe aanleiding gegee het nie. Daarom moet ons onsself daagliks verootmoedig voor die Here deur ons af te vra of daar iets in ons lewe is wat ons lewensmaats, kinders of vriende kan laat struikel in hulle geloofslewe. Anders gestel: Bou ons woorde, dade en gesindheid ander se geloof op, of breek dit hulle geloof af?

Here, weerhou my daarvan dat dit wat ek doen of sê ander se verhouding met U negatief sal beïnvloed. Leer my hoe ek deur my woorde en dade ander se geloof kan versterk en verdiep. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Tyd staan stil

 

Dit is Paasfees. Omdat ons wêreld so op sy kop gedraai is, is dit ongelukkig moontlik dat hierdie baie spesiale tyd net by ons kan verbygaan, sonder dat ons veel aandag aan die betekenis daarvan gee. Dit is wel vir ons moontlik om met gebruike in ons huise herinner te word aan waaroor Paasfees gaan. Ek wil julle nooi om moeite te doen met elke dag van Paasfees om God ook in hierdie besonderse tyd te ervaar.

Jesus is op Goeie Vrydag gekruisig. Markus vertel soos volg wat gebeur het:

“Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloi, Eloi, lema sabagtani? Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?’ … Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas” – Markus 15:34, 37.

Stel al julle wekkers en alarms (die selfone s’n ook) om net voor 15:00 af te gaan. Jesus het om 15:00 sy laaste asem uitgeblaas. Staan of sit dan vir 5 minute stil en dink daaraan dat Jesus van God verlate was, sodat God jou nooit sal verlaat nie.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! 21 dae van afsondering. 21 dae waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Dis baie maklik om ander mense se foute uit te wys, maar as dit kom by ons eie foute is dit nie altyd so maklik om dit te erken nie. Ons vier vandag Goeie Vrydag, die dag waarop Jesus gekruisig is, juis om ons sondes weg te neem sodat ons nie meer vinger hoef te wys na mekaar se sondes nie. Jesus het gekom sodat ons fokus kan wegskuif van al die dinge wat ons verkeerd doen na dinge wat Jesus sal eer en verheerlik. Daarom behoort ons elke dag daarop te fokus om ander se geloof op te bou met ons woorde, dade en gesindheid.

Hoekom dink jy het Jesus vir ons aan die kruis gesterf?

Wat beteken dit om iemand se geloof op te bou of af te breek?

Aktiwiteit

Kry ’n paar boublokkies of Lego-blokkies bymekaar. Probeer ’n hoë toring met die blokkies bou, maar voor jy die volgende blokkie pak, moet jy eers ’n voorbeeld noem van iets wat iemand se geloof in Jesus sal opbou, soos om vir iemand te bid.

Bou verder aan julle kruistoneel. Sorg dat daar 3 kruise by julle toneel is. Versier die middelste kruis met woorde wat beskryf wat Jesus alles vir ons doen.

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

 

Gister se getuienisse:

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.