Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Die groot woord in vandag se teks is eensgesind. Eensgesind en eenders klink baie dieselfde, maar dit beteken nie dieselfde nie. Eenders beteken dinge of mense is dieselfde, maar eensgesind is wanneer dinge of mense dieselfde doel het. Jesus se volgelinge hoef nie almal eenders te wees nie; ons mag verskillend lyk en van verskillende dinge hou. Tog gee Jesus vir ons die opdrag om eensgesind te wees. Ons moet almal dieselfde doel hê: om Jesus se liefde uit te leef.
Wat is die verskil tussen eensgesind en eenders?
Hoekom moet ons eensgesind wees?
Aktiwiteit
Gaan soek voorwerpe in julle tuin en huis wat eenders is, wat dieselfde of amper dieselfde is. Gesels waarom hierdie dinge eenders is. As julle klaar is, gaan sit alles terug en gaan soek dan voorwerpe wat “eensgesind” is, wat dieselfde doel het. Gesels oor watter doel daardie voorwerpe het en gaan sit dan weer alles terug op hulle plek.