Dag 21 – Wees eensgesind en nederig

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Vader,
In Miga 6:8 sê U: 
“Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”
Vandag kies ons om nederig voor U te leef,
Sodat ons eensgesind met mekaar kan leef.
Help ons om u stem duidelik te hoor.
(Stilte)
Laat u wil geskied.
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: Familiefoto of tekening van julle familie


Ons bid vir ons familie, vir hulle wat ver van ons af woon en aan wie ons nie naby kan wees in hierdie tyd nie. 

Ons sê dankie vir die liefde van almal wat vir ons kosbaar is.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie – Romeine 12:16.
Vir Paulus was dit baie belangrik dat ons as gelowiges eensgesind moet wees. Eensgesind in die sin dat ons een doel nastreef – om God te verheerlik. Paulus vra nie dat ons almal presies dieselfde moet dink en optree nie. In die praktyk sou dit immers daarop neerkom dat ons een persoon se gedagtes slaafs sou navolg. Paulus vra eerder dat ons as geloofsfamilie onder leiding van God se Gees sal streef na eensgesindheid oor presies wat ons roeping in God se koninkryk is. Paulus gee drie praktiese riglyne wat dit vir gelowiges moontlik maak om só eensgesind te wees. Eerstens, ons moenie hooghartig wees deur te dink ons weet altyd beter as ander nie.  Tweedens, ons moet moeite doen om te hoor wat die opinie is van mense wie se mening gewoonlik nie gereken word nie. Daarom moet ons ons by die nederiges skaar. Derdens, ons moet bereid wees om deur ander oortuig te word. Daarom mag ons nie eiewys wees nie. Al hierdie eienskappe het Jesus vir ons kom demonstreer. Hy was nederig (Fil 2:5-11); Hy het Hom by die nederiges geskaar (Luk 5:30; 15:1-2), en Hy was nie eiewys nie (Matt 26:39).
Here, gee vir ons as u geloofsfamilie een hart en een verstand om U saam te dien. Maak ons vry van hoogmoed en selfsug. Bewaar ons van alles wat ons van mekaar kan vervreem. Amen.

Sakkie se sepie

Sien die gewone dinge wat jy in en om die huis doen as tekens van God se omgee. 

Liturgie van die Lewe

Ons is nie eiewys nie, ons leer nog …

En daar is ons eerste drie weke van grendeltyd verby! Ons het die geleentheid gehad om baie van mekaar te leer. Om nuut na mekaar te luister. Om mekaar te ondersteun.

Dink vandag hoe jy hierdie sin sou voltooi: Ek het hierdie laaste drie weke geleer dat …

Gee vanaand vir elkeen in die huis die geleentheid om hulle sin met die ander te deel. Vra dan vir mekaar wat julle graag in die volgende twee weke sou wou ervaar of leer.

Om nie eiewys te wees nie beteken ons is ontvanklik om meer te leer en ons verwelkom nuwe ervarings. Ons leer nog, by mekaar …

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Kan julle nog onthou wat die verskil tussen eensgesind en eenders is? Die verskil tussen eensgesind en eenders is so belangrik dat ons op ’n hele paar plekke in die Bybel lees dat ons eensgesind moet wees. Vandag se vers herinner ons weer daaraan dat eensgesind nie beteken dat almal een mens se planne en opdragte moet uitvoer nie, maar dat ons almal moet saam werk om een doel te bereik.

Water opdragte hoor julle in vandag se vers?

Wat beteken elk van hierdie woorde?

Aktiwiteit

Speel saam Snap, Visse of enige ander kaart speletjie. Wanneer ons kaart speel, het ons almal een doel gemeen: Ons wil wen. Tog gebruik ons verskillende strategieë om te wen. Net so het ons as gelowiges een gesamentlike doel: om Jesus te dien, al doen ons dit op verskillende maniere.

Kreatiewe gebed

INSTRUKSIES

 

• Kies jou kunsmateriaal, soos kleurpotlode, kleurpenne en koki’s. Enige van hierdie materiale kan werk.
• Kleur die prent in en doen die aktiwiteit.

WENKE

 

• Kies nie meer as vyf kleure nie. As jy onseker is oor watter kleure om te gebruik, haal al die kleure uit en pak dit op die tafel. Maak jou oë toe en tel vyf op.
• Dit sal dalk vir jou makliker wees as jy die groot spasies eers nie inkleur nie, of net die rande daarvan inkleur.
• Moenie halfpad ophou nie, veral nie as die rede hiervoor is dat jy dink jou prent lyk lelik nie. Dit is juis die doel van die oefening – om jou aandag weg te trek van onnodige gedagtes soos “Doen ek dit reg?” en jou aandag eerder te fokus op die mense vir wie jy lief is.
• Wanneer jy die prent klaar ingekleur het, sit die prent neer op ’n prominente plek in die huis, soos in jou kamer of teen die kombuismuur.
Oorweeg dit om jou prent op sosiale media te deel en te merk met #afsonderingskalender #saamkerk

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.