Dag 23 – Dra mekaar se laste
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Oggendgebed
Begin jou dag met hierdie gebed.
Here, U weet dat ons swaar dra aan ons laste,
soms voel dit asof dit ons rûe gaan breek.
Maar ons vergeet dat ons hierdie laste nie alleen hoef te dra nie.
Neem daagliks ons hand deur die liefde van ander
en laat ons u liefde aan ander wys
deur hul laste te help dra.
(Stilte)
Amen
Voorbiddingstasie
Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.
Simbool: Blaar
Here, ons dank U vir die seisoene wat aan die verander is: vir herfs se koeler dae en langer nagte.
U is die Skepper en U hou die ganse heelal vas in u hande. Amen.
Oordenking
Lees hierdie teksuitleg vir die dag.
Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus – Galasiërs 6:2.In God se geloofsfamilie dra niemand alleen aan hulle laste nie. Almal help mekaar met hulle unieke laste. Die laste waarvan Paulus hier praat, dui letterlik op ’n swaar gewig, maar verwys figuurlik na geestelike laste, dit wil sê, sondes wat dreig om gelowiges te laat struikel (v 1). Ons sondes, volgens Paulus, plaas ’n las op ons wat ons kan vergruis. Die Galasiërs, en ons vandag, moet mekaar help en ondersteun om hierdie laste te dra. As die een val, moet die ander hom of haar ophelp. Ons moet egter baie versigtig wees dat ons self nie ook struikel en begin sondig nie. Hoe dra ons mekaar se geestelike laste? Deur mekaar te waarsku en te vermaan teen daardie aspekte van ons lewe wat nie volgens God se wil is nie. As ons dit doen, sê Paulus, gee ons uitvoering aan die wet van Christus. Liefde is immers die vervulling van die wet en een manier om liefde aan iemand anders kan bewys is om hulle te waarsku teen die gevare van sonde in hulle lewe nie. In die lig van Paulus se woorde sal dit goed wees as jy ’n oomblik kan nadink oor watter laste jy met jou saamdra, en oor wie jou kan help om hierdie las ligter te maak.
Here, dankie vir elke medegelowige wat my help dra aan my geestelike laste. Help my om ook ander se laste vir hulle ligter te maak. Ek eer U omdat U vir al ons geestelike laste gesterf het. Amen.
Liturgie van die Lewe
Geen mens is ’n eiland nie … Ons het mekaar nodig!
John Donne het in 1624 al geskryf: “No man is an Island, entire of itself; every man is a piece of the Continent, a part of the main.” Hierdie woorde beteken nie een van ons kan op ons eie funksioneer sonder om ’n impak op ander mense te hê nie. Ons is deel van ’n groter geheel. As jy dit ooit betwyfel het, het die koronavirus dit vir ons baie duidelik gemaak. ’n Siekte wat aan die uithoeke van die wêreld ontstaan het, het ’n baie groot impak op waar ons in gemeenskappe in Suid-Afrika leef.
Dieselfde geld vir hoe ons in ons huise leef: Ons optrede en dade het ’n invloed op die mense rondom ons. As een lid van die huisgesin ly, ly die res saam. As een lid vreugde beleef, beleef die ander dit saam. As een mens in ons huis swaar dra, kan die res van ons hierdie las ligter maak deur saam daaraan te dra.
Maar hoe weet ons van mekaar se laste? Ons moet vir mekaar daarvan kan vertel. Twee vrae wat ons gereeld vir die ander in ons huis kan vra, is: Wat maak jou bang? Wat het jy nodig? Skep vandag ’n geleentheid om hierdie vrae te vra en te beantwoord sodat julle mekaar se laste kan dra en op hierdie manier uitvoering aan die wet van Christus gee.
Kinderaktiwiteit
Pret vir jou en jou kinders.
Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Het jy al gevoel hoe iets wat swaar is, ligter raak as iemand jou help dra daaraan? Dit werk ook so met die dinge in die lewe wat sleg is en ons onderkry. Ons noem hierdie dinge “laste”. Om liefde en omgee te wys, beteken dat ons mekaar ook deur slegte tye sal help en so mekaar se laste sal help dra.
Watter dinge kry julle op die oomblik onder?
Hoe kan julle mekaar help dra aan julle laste?
Aktiwiteit
Hou ’n sterk-persoon-kompetisie. Kyk wie die swaarste voorwerp kan optel. Werk nou saam en kyk watter swaar voorwerpe julle saam kan optel.
Verbeel jou ...
Kyk na vandag se illustrasie. Wat val jou op? Gesels met die mense in jou huis of met jou vriende oor WhatsApp oor die beeld.
– Let op na die dinge wat jy raaksien, maar ook na die dinge wat nie in die prentjie teenwoordig is nie en wat jy graag sou wou bysit. Wat is daardie dinge?
– Hoe skakel hierdie illustrasie in by vandag se teks, en hoe nie?
– Skep jou eie interpretasie van vandag se illustrasie deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer.
Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies.
Dankies en getuienisse
Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia
Gister se getuienisse:
Ek sê dankie vir ds Derick Claassen van NG Rensburg in Heidelberg wat op ons kerkgroep laat weet het van KiesKerk. Dankie vir hierdie 21 dae. Ek waardeer dit uit die diepte van my hart dat ek van hierdie 21 dae kon deel wees. Ek kon nie wag om by die dag se stukkie uit te kom en saam met my jare lange vriendin, Elmarie Ferreira, die aftelkalender te doen nie. Ons het so baie gedeel met mekaar.
Geseënd sal julle wees wat ons deur die 21 dae gedra het. Ek hoop van harte dat julle verder met ons die pad sal stap terwyl ons nog in lockdown is.
– Karin-Louise Beukes
Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.
Slaaptydstorie
Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.