Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender
———————————
Elke dag moet ons duisende besluite neem. Daar is die klein en vinnige besluite soos wat ons gaan aantrek en hoe ons ons hare gaan vasmaak. Daar is ook moeilike besluite, besluite wat lank kos om te neem, soos hoe ons gaan reageer nadat iemand lelik met ons was. Soms raak ons so vasgevang in die onbelangrike dinge of besluite wat ons moet neem dat ons die belangrike besluite afskeep of eenkant toe skuif. Ons kan vir God vra om ons te help om altyd te onthou wat belangrik is en ons te help om die regte besluit te neem.
Vertel van ’n keer toe jy ’n belangrike besluit moes neem.
Wat het jou gehelp om hierdie besluit te maak?
Aktiwiteit
Skryf ’n paar aktiwiteite waarvan jy hou op aparte stukkies papier neer. Vou elke papiertjie toe en gooi dit in ’n houer. Elke keer as jy verveeld is, kan jy een papiertjie uithaal en daardie aktiwiteit gaan doen.
Probeer vandag vir 5 minute (jy kan ’n alarm stel as jy wil) iewers alleen en in stilte sit. Gesels in hierdie 5 minute met Jesus oor alles wat in jou hart aangaan. Dalk moet jy moeilike besluite neem of dalk is jy spyt oor ’n besluit wat jy geneem het. Gesels met Jesus daaroor.