Dag 35 – Ons daaglikse porsie

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Oggendgebed

Begin jou dag met hierdie gebed. 

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen

Voorbiddingstasie

Gebruik hierdie simbool om jou gebed te rig vir die dag.

Simbool: ’n Broodrolletjie

Gesels saam oor hoe julle al God se voorsiening in julle lewe ervaar het. 

Sê dan vir God dankie dat Hy ons Vader en Voorsiener is.

Oordenking

Lees hierdie teksuitleg vir die dag. 

Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval – Numeri 11:8-9.

God se goedheid en voorsiening neem nie ons verantwoordelikheid om te werk weg nie, maar God verwag ook nie dat ons soos slawe van sonop na sonsondergang, jaar-in en jaar-uit, moet werk nie. So ’n lewe is ’n lewe waarin ons verby God leef, en verby almal vir wie ons lief is.

God vra van ons om vandag se manna op te tel, en môre se porsie vir môre te los. Daar sal immers môre ’n porsie vir ons gereed wees. God gee vir ons alles wat ons nodig het (werk, brood, klere, noem maar op) en ons hoef nie daaroor bekommerd te wees nie.

Kleingeloof sluip in wanneer ons bekommerd raak oor of ons môre genoeg sal hê om van te oorleef. En kleingeloof wen wanneer ons hierdie vrees toelaat om ons lewe te regeer en rigting daarin te gee, in plaas van die genade van God.

Dit is ’n mosie van ongeloof in God om te werk asof alles wat ons nodig het om te oorleef net van óns afhang. God is die Voorsiener, en Hy doen dit op natuurlike (en soms bonatuurlike) maniere.

God sorg. Wanneer ons naby aan God leef en van Hom afhanklik is vir lewe, kan ons nie anders as om Hom oral raak te sien en raak te leef nie. Die daaglikse hemelse manna herinner ons hieraan.

Here, ek kies vandag om stadig te leef sodat ek sal raaksien wat U vandag vir my voorsien. Amen.

Liturgie van die Lewe

Stil my honger, Here

 

Vertel vir mekaar van ’n geleentheid toe julle baie honger was. Hoe voel dit om honger te wees? Watter emosie sal jy daaraan koppel? Dink jy mense is gelukkig of ongelukkig wanneer hulle honger is?

Om honger te wees, beteken jy weet iets is nie soos dit moet of kan wees nie. Jy mis iets, jy verlang na iets. Dit is ’n ervaring wat ons elkeen ken. Werklike honger verander ons optrede. Daar is iets waarna jy soek en die meeste van ons sal nie stop voordat daardie honger gestil en die holte in ons maag gevul is nie. 

God sorg vir ons in tye van honger. Nie net liggaamlike honger nie, maar ook wanneer ons Hom emosioneel nodig het. Sit ’n sny brood in die middel van die tafel neer wanneer julle vandag saameet. Voor julle eet, breek vir elkeen ’n stukkie van die brood af en herinner mekaar daaraan herinner dat God vir ons sorg. God stil ons honger. Wanneer dit goed gaan en ons lewe voel soos die land van melk en heuning én wanneer ons swaarkry en ons wêreld voel soos ’n woestyn.

Onthou hoe God vir julle gesorg het in hierdie afgelope 35 dae en weet dat Hy julle in die volgende tyd ook sal bewaar en help.

Kinderaktiwiteit

Pret vir jou en jou kinders.

Sjoe! Afsondering. Inperking. ’n Tyd waarin ons eintlik net in ons huise (of tuine) mag wees en net vir die nodigste dinge soos kos of mediese behandeling mag uitgaan. Dit kan nogal ’n rowwe tyd wees. Al die dinge wat normaalweg in ’n dag gebeur, soos skool, sport en eredienste, gebeur nou nie meer nie. Dit kan ’n mens deurmekaar maak en ook verveeld laat voel. Hierdie dagstukkies sal ons help om steeds elke dag op ’n kreatiewe en lekker manier tyd saam met Jesus deur te bring. Jy kan hierdie dagstukkie op jou eie doen, saam met jou boeties of sussies, of sommer saam met jou hele huisgesin. Vra een van die grootmense in die huis om elke dag jou aktiwiteit op Facebook te deel sodat almal dit saam met jou kan geniet. Merk dit met #afsonderingskalender 

———————————

Toe die Israeliete uit Egipte gevlug het en 40 jaar lank deur die woestyn moes trek, het God elke dag vir hulle gesorg. God het gesorg dat hulle genoeg kos en water kry in die woestyn. God het hulle egter beveel om elke dag net genoeg kos vir daardie dag op te tel, behalwe op die sesde dag. Dan moes hulle dubbel soveel kos optel sodat hulle op die sewende dag kon rus, maar steeds genoeg kos sou hê om te eet. God roep ons om elke dag getrou te werk, maar God weet ook hoe belangrik dit vir ons is om te rus.

– Wat doen jy graag wanneer jy wil rus?

– Hoekom dink jy is dit vir God belangrik dat ons rus?

Aktiwiteit

Help vandag iemand in jou huis om langer te rus. Dalk kan jy Mamma of Pappa se voete vryf terwyl hulle TV kyk. Of miskien kan jy vir jou boetie of sussie ’n glas koue koeldrank ingooi.

Maak vir jouself ’n heerlike broodjie. Terwyl jy die broodjie eet, maak ’n lys van hoe God vir jou sorg. Jy kan dit in woorde neerskryf of prentjies daarvan teken. 

Verbeel jou ...

– Hoe lyk “genoeg” vir jou? Genoeg kos, genoeg klere, maar ook genoeg spasie, veiligheid, vriende, liefde, sekuriteit, stiltetyd, vrye tyd, familietyd, en so meer.

– Dink aan kere toe dit vir jou gevoel het jy het nie genoeg nie, of dalk dat jy nie genoeg is nie. Watter emosies kom by jou op?

– Hoe voel en lyk dit om “genoeg” te he?

– Illustreer “genoeg” deur enige medium te gebruik: dans, fotografie, videografie, musiek, digkuns, teken, skilder, kortverhaal, en so meer.

Neem dit op en deel dit met ons op sosiale media met die hutsmerk #aftelkunsies

Dankies en getuienisse

Dit sal vir almal wat die aftelkalender doen ‘n geskenk wees as jy ‘n foto van jou ervaring van die aftelkalender deel. Hoe doen ek dit?
Deur ons te “tag” op Facebook of Instagram: @bybelmedia

Deel jou getuienis met ons. Gebruik die aanlynvorm onder.

Slaaptydstorie

Slaaptydstorie deur storieman Ewald van Rensberg.